Wilma Stockenström (Foto deur Liesl Jobson)
I
Onlangs was Wilma Stockenström in die nuus met die ontdekking van Skoelapperheuwel, skoelappervrou, ’n verlore gewaande gedig waarin sy met haar gebruiklike ironiese stans na die kreatiewe proses kyk.
Wilma Stockenström, Skoelapperheuwel, skoelappervrou
In die laat 80-erjare het Wilma Stockenström in opdrag van Casper Schmidt ’n gedig geskryf wat deur Judith Mason geïllustreer sou word & in ’n beperkte oplaag sou verskyn. Die boek is gedruk deur die eertydse Broederstroom Press, maar voordat dit gebind kon word, het die hele oplaag in 1988 soek geraak.
Nou, 22 jaar later, is die binnewerk van Skoelapperheuwel, skoelappervrou teruggevind in die kelder van ’n boekbinder in Johannesburg. ’n Weldoener het geld bewillig vir die bind van 30 genommerde eksemplare van dié kunsboek & kunstenaar Judith Mason het onderneem om enige ekstra eksemplare wat dalk mag opduik te vernietig & sodoende die boek se versamelaarswaarde te beskerm. Sy het ook elk van die 30 eksemplare aangevul met ’n unieke stel tekeninge, iets wat die boek nóg aantrekliker sal maak vir aanhangers van haar werk.
Elke boek het ’n verwysing na ’n spesifieke Suid-Afrikaanse skoenlapper, & is in sigself ’n kunsobjek. Dit is met ’n litografiese etsdrukker op 250g Rives BFK papier gedruk, met die hand ingenaai, in natuurlike linne gebind, & van in ’n slippekas voorsien. Die teks self is geset in Visigoth, ’n font wat spesiaal vir die boek ontwerp is in New York deur Arthur Baker in 1988.
Die boek is op Saterdag 4 September 2010 bekend gestel in die AOP Gallery in Johannesburg, waar Dawid Minnaar die gedig ook ’n eerste openbare voorlesing gegee het.
[Casper Schmidt het ’n Engelse vertaling van die gedig gemaak in samewerking met Malcolm Hacksley wat nie deel uitmaak van die huidige uitgawe nie.]
II
Casper was in daardie alreeds besig met 'n Dante Bestiarium, eweneens saam met die kunstenaar Judith Mason. Vir dié boek, wat op handgeskepte papier gedruk & in kalfsleer gebind sou word (as ek nou reg onthou), het Casper ook 'n spesiale font in New York laat ontwerp, iets wat klop met die Visigoth font wat hy gebruik het in Skoelapperheuwel, skoelappervrou. Dit is nie ’n besonder leesbare font nie, maar gee die werk ’n sekere gravitas.
Visigoth
Casper was perfeksionisties & daarom nie maklik om mee saam te werk nie. Hy het ’n visie gehad van hoe beide hierdie boeke moes lyk, & niks sou hom daarvan wegstuur nie. Ek is nie seker wat verkeerd geloop het nie, maar die Dante Bestiarium het nooit verskyn nie & in vergetelheid geraak. Ná sy dood het die boek weer by my opgekom. Ek het destyds ’n eksemplaar daarvan by Judith Mason aan huis in Broederstroom gesien, & geweet dat dit wel in die een of ander vorm moet bestaan.
Dit was sy broer, Wilhelm, wat uiteindelik die binnewerk opgespoor het & 'n klompie kopieë is indertyd gebind & verkoop teen 'n uiters billike prys. Ek glo kopers van daardie boek besit nou iets wat maklik tienvoud in waarde toegeneem het.Daar was ook los velle uit die boek te koop & ek besit ’n paar daarvan. Mason se diere was nog altyd vir my besonders.
III
In Oktober 2002 verskyn ’n bibliofiele uitgawe van drie gedigte deur Wilma Stockenström by In de Bonnefant • Banholt. Uitgewer Hans van Eijk publiseer dié gedigte onder die titel Beenwit in ’n oplaag van 99 genommerde eksemplare op handgeskepte papier.
Aangesien dié gedigte andersins moeilik agterhaalbaar is, druk ek hulle hier onder af vir liefhebbers van Wilma Stockenström se werk:
Somer
Tot rypheit gestowe in vyegeur die somer,
nou streel reën onverwags die ruite
en ’n erdwurm spoel met die slootjie af.
’n Bergie, vlammend van die soetes, hurk
oor sy gedagtes. Se poes, sê hy, vir die vaal
mis van ’n middag, opsommenderwys.
Wat van môre as die berg groen bloos?
Die bergie vee sy mond aan sy mou af.
Bruinwarm die voggies. Beenwit die einde.
Wit towery
Rus op my, skemering. Geur my drome
wit met lente. O, jy kan my met ’n wip
vang so laat jy hierdie aand glimlag.
Stippel nou met bleshoenders vergulde panne.
Gans te ver om iets te beteken hang
soos wit spinnekoppe die sterrestelsels,
maar ek wag nog dat ’n blom van ’n rank
wegfladder en mot, swaar en wit, word.
Sê ek
Waarin hang die heelal?
A, in soetdoringgeur.
En waarin hang die geur?
In homself. Die heelal, h’m?
Die heelal, sê ek, is ’n spikkel
donkerte met korreltjies lig
en alles ruik na soetdoring
nareëns langs Karooriviere.
Daar kom jy dit agter, sê ek.