T. T. Cloete se gedig ‘Marilyn Monroe foto in blou’ is een van die seminale gedigte in die Afrikaanse poësie, 'n gedig wat sy plek kan volstaan langs sê nou maar Breyten Breytenbach se "Bedreiging van die siekes", gedigte wat 'n era definieer het & 'n groot invloed gehad het op generasies digters. Maar sulke seminale gedigte oefen nie slegs 'n invloed uit op ander digters nie, hulle definieer of hérdefinieer ook die kanon, verander die geestelike & kulturele landskap.
'n Huldeblyk aan die lewenskragtigheid van Cloete se digterskap, & die impak van hierdie gedig, is drie verse in Groot verseboek 2000 wat daarop inspeel: "Marilyn Monroe: foto in rou" (2000: 796) deur Joan Hambidge, "marilyn monroe foto in grou" (2000: 842) deur Tom Gouws, & "Marilyn Monroe: foto in goud" (2000: 576) deur Lina Spies.
In Augustus 1962 met die dood van Monroe maak Andy Warhol 'n reeks sy-afdrukke van haar gesig. Op dieselfde wyse kan hierdie vier gedigte as sy-afdrukke benader word, vier interpretasies van die durende mite van Monroe wat die tydloosheid van 'n ikoon kombineer met die masjinerie van die verbruikersamelewing.
T.T. Cloete se vers verskyn in sy debuut, Angeliera, in 1980, & is gebaseer op die beroemde foto deur Milton Green. Hoewel Monroe in beide Green se foto & Cloete se fotografiese vers as sekssimbool uitgebuit word (Cloete se gedig is after all 'n blou gedig), & elke detail, tot die fynste – die sogenaamde bysake wat die aandag vestig op hoofsake, dinge soos die leë wynglas, die uitgeskopte skoen, die ‘lippige mond’ – belig haar seksualiteit. (Die glas kan ook die broosheid & kortstondigheid van skoonheid suggereer (De Vries: 216)).
Cloete se vers is plasties in die kompulsiewe wyse waarop dit elke plooi & kurwe van Monroe se lyf noteer, 'n tegniek wat hy later weer gebruik in "toepassings van dante" (Idiolek). Die digter as voyeur, maak uiteindelik ook van die leser/kyker 'n medepligtige . Die vers sélf beweeg as’t ware soos 'n kameralens nader & verder, & telkens nader, zoem in op selfs die fynste besonderheid & ontbloot sodoende die weerloosheid van die vrou.
Joan Hambidge se gedig "Marilyn Monroe: foto in rou" gebruik as boustof een van Bert Stern se Last sitting foto’s. Soos Warhol se sy-afdrukke die grens tussen populêre en "hoë" kuns afgebreek het, & die produksieprosesse van kuns-maak vooropgestel het, word die produksie van die gedig belangrik: die gedig is nie net 'n ‘reproduksie’ van Monroe, maar in 'n sekere sin ook 'n reproduksie van Cloete se gedig, hoewel met 'n ander invalshoek. In Hambidge se vers word die populêre, geykte beeld van die sekssimbool verwerp & dit word 'n besinning op Monroe se sterflikheid. Monroe lag nie meer oopmond & -kont vir die kamera soos in Cloete se voyeuristiese vers nie:
jou kop skalks weg áfgedraai
jou hand voor jou mond
asof jy stil waarsku: ek word nie meer gebruik
Weg ook is die "groot... deurgefluisterde skoot", "die valsegte dubbele huid" wat "juig deur alle lippe en wange uit". Hoewel Hambidge se vers krities is op dié wat Monroe voor & na haar dood vir eie gewin gebruik het, Cloete inkluis, kan sy ironies genoeg nie vermy om Monroe sélf te "gebruik" nie. Stern se wit-& swart foto, & Monroe se blonde hare wat swart begin uitgroei, word 'n prefigurasie van haar dood.
In kontras met die twee meer glansryke & prikkelende kleurfoto’s wat as inspirasie vir die voorafgaande verse deur Cloete & Spies gedien het, gebruik Tom Gouws in ‘marilyn monroe foto in grou’ die bekende outopsie-foto van Monroe as vertrekpunt vir sy vers. Die wit-&-swart foto wys die lyk van Monroe op die lykskouer se tafel – sonder klere, sonder grimering, met die blonde hare toutjiesrig teruggekam. Die antitese van die seksgodin.
op 'n smal tafel lê sy oop en ongetooi
en wag op die patoloog se flitsende lem
Selfs in haar dood is sy, in Cloete se woorde, "oop en bloot", "oop en openbaar... sigbaar". (En Gouws se vers soek duidelik aansluiting by Cloete s'n, onder meer deur ook te eindig met 'n slotkoeplet). Vir Gouws is dit "die naakte feite van die lyf'" wat uiteindelik oorbly. Met "die gespitste toon" sinspeel Gouws op Antjie Krog se vers "'n volk bring hulde" oor die dood van N.P. van Wyk Louw:
ek lig die kombers
en ontvang die laaste saluut van sy lyf
die dooie tone nog steeds spitsvondig orent
In Gouws se vers gaan dit oor die gestroopte Monroe,
... geen bykomstigheid of frille
hier en nou, just marilyn, op haar naakte beste onverleë
vir dié huiwerende oomblikke so binne bereik
en tog so los van kyk en ruik en van gebruik.
Ten slotte wil ek kyk na "Marilyn Monroe: foto in goud", eweneens op 'n foto gebaseer, waarin Lina Spies fokus op ander aspekte van die Monroe-mitologie. (Interessant genoeg is een van die afdrukke wat Warhol in 1962 van Monroe gemaak het bekend as ‘Golden Marilyn Monroe.) Die foto wat Spies gebruik is een van 'n reeks wat tydens 'n foto-sessie op Long Island, New York geneem is in 1956.
In hierdie vers word Monroe met Boticelli se Venus vergelyk (met die oop skulp waarop sy staan as gesublimeerde simbool van die vagina). Soos Boticelli se Venus haar naaktheid met haar lang hare & arm bedek, is Monroe in Spies se gedig eweneens nie heektemal blootgestel nie, nie so "blou" as in Cloete se gedig nie, hoewel die kleur blou wel prominent figureer in die wit en blou van die handdoek & badjas.
Die badjas gee niks bloot
wat dit bedek:
daar is tinte branderblou
waar die skuimwit handdoekstof
oor hals en skouers vou
en waar dit wegskuif is onopsigtelik
die regterbors toevallig effens oop
Waar Venus se linkerbors ontbloot is, is dit Monroe se "regterbors wat toevallig effens oop" is. Spies erken dat sy nie as kind oor Monroe geswymel het nie, dat Monroe nie vir haar 'n sekssimbool was nie, maar dat sy "vir die duur van die gedig" haar as ikoon wil huldig. Vir haar is Monroe 'n tragiese figuur, steeds maar net "'n goue meisie rossig in die son" onder al die patina wat rondom haar gestalte aangepak het met die tyd.
Goud is simbolies van vrugbaarheid, & ook van onsterflikheid. Monroe se voluptueuse figuur roep dan ook assosiasies met vrugbaarheid op, terwyl sy deur haar dood onsterflikheid verwerf het. Goud suggereer voorts ook Monroe se rykdom & roem.
De Vries noem dat goud 'n amulet is vir gewonde mense, dat dit gif uittrek – Monroe was sekerlik 'n gewonde & verwonde persoon, terwyl die gif 'n sinspeling kan wees op haar dood vanweë 'n oordosis barbiturate. Samesweringsteorieë wil dit hê dat sy vermoor is omdat sy 'n verleentheid vir Jack Kennedy begin word het, & gedreig het om hulle verhouding openbaar te maak. Die dodemaskers van die Farao’s was ook van suiwer goud, sodat die gedig, die ‘foto in goud’, op 'n manier dan ook 'n dodemasker word.
Hierdie verse is nie slegs 'n testament van die lewenskragtige & bevrugtende invloed van Cloete nie, maar ook 'n huldeblyk aan 'n tydlose ikoon.
Bronnelys
André P. Brink, Samest.. 2000. Groot Verseboek. Kaapstad: Human & Rousseau/Tafelberg.
Ad de Vries. 1984. Dictionary of symbols and imagery. Elsevier Science Publishers B.V.
(C) Johann de Lange, 2010