In sy volgehoue bemoeienis met die praktyk van skryf, is T.T. Cloete se vers “Die gedig is 'n refleks”, opgeneem in Driepas (1989: 34) 'n belangrike kode & verlei my nogmaals tot die neerkrabbel van los kanttekeninge:
die gedig is 'n refleks
in 'n enkele woord
& in dié woord hoor
die oor ineen ineens die teks
van die versamelde gedig
snel soos die byt van die lip
hom laat insuig of die knip
van die oog teen 'n naald lig
só soos die spiere by flink balspel
die hand elektrochemies vinniger prik
as wat lig trek soos angs of skrik
hoendervleis maak op die vel
dit het selfs iets weg van die vier
van 'n vinnige grap wat banaal
die bomkrag van die taal
laat vuur in le gros rire
die gedig van vreugde of pyn ontplof
uit donsklein geringhede & word
tot 'n wye stelsel uitgestort
van gloeiende asteroïede stof
Die spanning wat in hierdie vers opgestel word, kan reeds uit die titel afgelees word: die “gedig” een die een kant – dit wat 'n maaksel is, berekend, & wat 'n emosionele respons in die hoorder veroorsaak; & 'n “refleks” aan die ander kant – 'n onwillekeurige senuweereaksie op 'n prikkel, maar ook 'n terugkaatsing. Kortom: 'n teenstelling tussen iets wat die produk is van die menslike wil, 'n artefak, & iets wat ónwillekeurig is, & natuurlik. Kuns vs. natuur.
In die eerste strofe lees ons “die gedig is 'n refleks” & daarmee wil die digter sê dat die kreatiewe proses, nes die refleks, 'n natuurlike proses is:
die gedig is 'n refleks
in 'n enkele woord
Wanneer “dié woord” gehoor word:
... hoor
die oor ineen ineens die teks
van die versamelde gedig
Treffend is die wyse waarop Cloete in die afspeel van “ineen” & “ineens” dieselfde spanning wat alreeds in die titel bestaan, voortsit. Met “ineen” verwys die digter na die wyse waarop woorde in die “versamelde gedig” inmekaar voeg, tot 'n hegte struktuur ineengevoeg is (dit wil sê mááksel is, artefak), terwyl “ineens” aansluit by die gedagte van die refleks: iets wat “met een slag, skielik, opeens, plotseling, eensklaps” (2000: 438) gebeur. Daarmee suggereer die digter dat wanneer die gedig gehóór word, 'n enkele woord die totale betekenis van die gedig plotseling in die gedagtes van die hoorder kan laat “ontplof”.
In strofes 2, 3 & 4 illustreer die digter as’t ware die sentrale gedagte van die gedig aan die hand van 'n aantal beelde. 'n Refleks is:
1. vinnig soos die respons wanneer 'n lip raakgebyt word & vinnig ingesuig word;
2. of soos 'n oog wat blitssnel toeknip wanneer skerp lig daarin skyn;
3. of die “elektrochemiese” kommunikasie & koördinasie wat plaasvind by “flink balspel”;
4. of soos die onmiddellike hoendervel sensasie wat mens ervaar tydens angs of skrik;
5. dit het selfs iets weg, sê digter, van die spontane uitbars in lag die oomblik wanneer 'n banale grap begryp word, 'n proses wat “die bomkrag van die taal” ontsluit.
Uit bg. lysie behoort dit te blyk op welke wyse die gedig al die sintuie & emosies betrek. slotstrofe praat dan van “die gedig van vreugde of pyn”.
Daar is ook 'n betekenisvolle progressie van die byna primitiewe pynrespons na die meer gesofistikeerde werking van humor. Belangriker egter, is dat die geringste prikkels soms verreikende én verrykende gevolge kan hê:
die gedig van vreugde of pyn ontplof
uit donsklein geringhede & word
tot 'n wye stelsel uitgestort
van gloeiende asteroïede stof
Met die “donsklein geringhede” keer Cloete terug na die “enkele woord” van die eerste strofe, sodat die “versamelde gedig” gelees kan word as “'n wye stelsel.../van gloeiende asteroïede stof”.
Bibliografie
Cloete, T. T. 1989. Driepas. Tafelberg.
Odendal, F. F. (et al). 2000. HAT. Perskor uitgewers.
(c) Johann de Lange, 2010