Sunday, April 4, 2010

Die transformasie van Tant Emily




Pieter Paul Rubens, "Venus voor 'n spieël" (1614-15)

In Die swart kombuis raak mens & gode dikwels met mekaar gemoeid; dis 'n wêreld waarin engele heel luiters maneuvreer, & waarin die mens hom speels in die gode verlustig (& andersom).

Vir André P. Brink staan die bundel in die teken van transfigurasie: “En as alles naatloos voeg – of: as dit as so ’n ondeelbare geheel belééf word in die mistieke ekstase van die brandende heilige – dan is verwisseling van gedaante ook aan die orde. Dan word dit selfs gegéwe, selfs voorwaarde. Terwyl alles uiteindelik juis wortel in die aardse ...lê die avontuur van die heiligheid daarin dat ’n voortdurende transfigurasie plaasvind. ...Maar ook waar dit nie eksplisiet genoem word nie, word prosesse van transfigurasie voortdurend in die bundel voltrek: ...in die siening van ’n Boertante as “die immer-somerse godin” (“Tant Emily van Oom Naas”)..” (Tweede Voorlopige Rapport, 115)

Die transformasie van hierdie boeretante, “Tant Emily”, tot “immer-somerse godin”, is een waarby ek 'n oomblik wil stilstaan. Die oënskynlik losse versbou verbloem 'n hegte struktuur waarbinne die transformasie van Tant Emily na Tant Em na uiteindelik net Em/M, baie subtiel voltrek word.

Tant Emily van Oom Naas

Tant Emily van Oom Naas
was 'n Juno van 'n vrou:
Rubens kon haar geskilder het –
Sy was wat mens sou mollig noem
maar statig, regop, lank,
en blakend pienk en met 'n goue kop
en altyd in “die ander tyd”:
“Dokter het gesê”, en “toe sê dok vir my”,
Tant Em was byna onbeskaamd gesond.
En elke kind was 'n seun met wye blóú oë,
ook die enetjie wat in 'n visdam verdrink het.
“Ag jong, dit lyk my dat ek sommer vanself so raak”;
sy was dus gou getroos vir die enetjie wat dood is.
“Ag Taffy,” vir my ma, “kyk tog die dahlia,
net soos 'n mooi vrou wat uit haar bad uitklim.”
Oom Naas was maer en goedig en het sy Em verwen
en sonder klagte haar diëte saamgeëet –
hy was die sterweling, die uitgekosene,
en sy die immer-somerse godin.

(Uit: Die swart kombuis, 16)

Die sleutel tot die gedig word reeds in die eerste twee reëls gegee:

Tant Emily van Oom Naas
was 'n Juno van 'n vrou

Juno is die Romeinse vorm van Hera, die godin van die huwelik & van vrugbaarheid. Sy was in haar Romeinse inkarnasie ook godin van vroue, & daar word beweer dat sy die mooiste van al die godinne was, selfs mooier as Afrodite. Die gestalte van Hera figureer weer later in Die swart kombuis, in “Kombuis van Hera”, Cussons se eie speursprokie.

Juno was ook die dogter van Saturnus, suster-&-vrou van Jupiter – vir die gode is bloedskande geen beletseling nie, & die beskermvrou van huwelik. Junie (die maand wat na haar vernoem is) word beskou as die gunstigste maand om in af te haak.

Juno het haar wél effens bo die manewales & kaperjolle van haar eggenoot-&-broer gehou. Haar skoonheid was meer afwerend as uitnodigend. Haar skoonheid & deugde is besing deur skrywers soos Pausanius, Plutarchus & Martialis. In kontras met ander gode & godinne is Juno nooit naak uit- of afgebeeld nie, maar gekleed (haar lyf net vir haar man alleen).

Pieter Paul Rubens, "Ixion, bedrieg deur Juno" (1615)

Die uitsondering hier is Rubens se skildery Ixion wat in die Louvre hang, wat twee Juno’s uitbeeld, een die ware Juno & die ander ’n replika wat Jupiter uit wolke geskep het om Ixion te toets (Artibus et Historiae, 119).

Rubens's study of the antique and of the new sciences manifests itself in this huge celebratory work which uses the story of Jupiter's love for Io and the jealousy of his wife Juno as an allegory of the cosmos and demonstrates his colour theory.

Rubens's painting represents the concluding scene from the story of Io. The giant Argus of the hundred eyes, whom Juno set to watch over Io, was murdered by Mercury. In memory of Argus Juno took his eyes and set them in the tail of her peacock.” (Pieter Paul Rubens: Early Mythological Paintings by Rubens)

Wanneer die spreker sê "Rubens kon haar geskilder het" word hierdie aardse Juno verbind met 'n skilder wie se naam sinoniem geword het met malse vrouefigure: "Rubenesk" het kortbegrip geword vir die wulpse, malse vrouefigure met hulle gloeiende, stralende velkleur wat Pieter Paul Rubens een van die beroemdste Vlaams-Europese barokskilders gemaak het.


Pieter Paul Rubens, “Juno & Argus” (1611)

Nóg 'n Rubens-skildery waarin Juno figureer, is "Juno & Argus" (1611), een van sy beroemde mitologiese skilderye & ’n besondere grusame toneel van onthoofding. Sy mitologiese skilderye is ryk aan kleur & beweging, vol sensualiteit, dikwels gekoppel aan brutaliteit. Hy was meesterlik in sy kombinasie van ’n realistiese aanslag met mitologiese & klassieke temas.

Maar wanneer ék aan Tant Em dink, dan sien ek eerder 'n figuur soos dié in Rubens se "Venus voor 'n spieël" met haar malse lyf, haar gloeiende vel & ligroos getinte boude & wange.

Tant Em deel dan ook baie van die kenmerke van Rubens se vroue: sy is “wat mens sou mollig noem”, sy is “blakend pienk & met 'n goue kop”. “Blakend” suggereer onder meer dat Cussons Tant Emily “in haar aardsheid as 'n gloeiende (blakende – letterlik: brandende), getransformeerde wese” sien (Gilfillan, 49). Synde godin van die vrugbaarheid is sy ook altyd in “die ander tyd”, 'n transfigurasie wat deur die gebruik van aanhalingstekens “die gesuggereerde Victoriaanse preutsheid, ironies weerspreek.” (Gilfillan, 49).

Tant Em is “onbeskaamd gesond”, & haar besoeke aan die dokter dien net om haar gesondheid & vrugbaarheid te bevestig. Daar word niks gesê oor Oom Naas se band met die kinders nie. Tant Em beweer dat sy “sommer vanself” verwagtend raak, sónder Oom Naas se hulp.

Oom Naas word dan ’n Josef-figuur teenoor haar Maria van die Onbevlekte Ontvangenis. Maria is immers deur die Heilige Gees bevrug & Josef is in 'n droom deur 'n engel opdrag gegee om hom met die verwagtende Maria in Nasaret te gaan vestig (sou Oom Naas se naam 'n toespeling wees op Nasaret?). Josef is dus deur God gekies as man vir Maria & vader vir haar kind (hy is die “uitgekosene”). Gilfillan merk trouens op dat “elke kind () 'n hemelskind” was (my kursivering).

Tant Emily se vrugbaarheid is van so aard sy is “gou troos vir die enetjie” wat “in ’n visdam verdrink het” (my kursivering). “Enetjie” sowel as die onbepaalde “’n” suggereer dat Tant Emily nie die kind se naam kan onthou nie, & ook nie in presies wátter visdam hy/sy verdrink het nie. Tant Emily het nie tyd vir trane nie, haar fokus is op haar skoonheid & haar diëte, op haar voorkoms.

Oom Naas, daarenteen, is “maer en goedig” teenoor Tant Em se “mollig” & effense onverskilligheid. Tant Em kom altyd eerste, dit word alreeds in die titel & die eerste reël van die gedig oorgedra: “Tant Emily van Oom Naas”. Selfs die Em (M) waartoe haar naam transformeer, kom voor die N van syne in die alfabet. Hy is die “uitgekosene”, m.a.w. die een uit haar vryers wat Tant Emily gekiés het, waarskynlik oor sy selfloosheid & gelate gedienstigheid. Hulle huwelik die toonbeeld van liefde & trou. Hy 'n “sterweling, die uitgekosene” & “sy Em” die onsterflike “immer-somerse godin”.

Oom Naas is soos Josef 'n sint as dit kom by sy toewyding aan Em/M. Waar Tant Emily drie direkte spreekbeurte kry, hoor ons niks van Oom Naas se kant nie, wat aansluit by die feit dat daar net skrapse inligting oor Josef beskikbaar is & dat hy nêrens in die Evangelies self praat nie.

Vir haar nugtere, tawwe vriendin Taffy beskryf Tant Em die dahlia as “'n mooi vrou wat uit haar bad uit klim”, 'n verwysing waarmee die spreker 'n verband trek tussen Tant Em & Venus, godin van die liefde. Ook in haar beskrywing van die dahlia “net soos ’n mooi vrou wat uit haar bad uitklim”, is daar ’n identifikasie met die skoonheid van die blom.

Tant Emily se transformasie, ook weerspieël in die transformasie van haar naam – van Tant Emily, tot Tant Em, tot net Em – is hiermee voltrek. Maar Em het ook “die tekenwaarde van 'n ander M, dié van Maria, heilige der vroue” (Gilfillan: 50), & dit beteken dat Oom Naas die tekenwaarde van Josef aanneem. Maria/Tant Em is ten slotte die gestalte wat hemel & aarde in haar verenig.

Bibliografie

André P. Brink. 1980. Tweede voorlopige rapport. Kaapstad: Human & Rousseau.

Sheila Cussons. 1983. Verwikkelde lyn. Kaapstad: Tafelberg.

Aneta Georgievska-Shine. “On Juno and Her Semblance in Rubens' ‘Ixion’”. Artibus et Historiae, Vol. 23, No. 46 (2002), pp. 119-126.

F. R. Gilfillan. 1984. Geel grammofoon: perspektiewe op die werk van Sheila Cussons. Kaapstad: Tafelberg.

Pieter Paul Rubens: Early Mythological Paintings by Rubens. Beskikbaar by:
http://www.moodbook.com/history/baroque/rubens-early-mythological-paintings.html#juno-and-argus


Peter Paul Rubens. Wikipedia, the free encyclopedia. Beskikbaar by: http://en.wikipedia.org/wiki/Peter_Paul_Rubens

Saint Joseph. Wikipedia, the free encyclopedia. Beskikbaar by: http://en.wikipedia.org/wiki/Saint_Joseph

(C) Johann de Lange, 2010