© Brenda Veldtman
KWATRYNE VIR T. T. CLOETE
In memoriam (1924 - 2015)
Egidius, waer bestu
bleven?
Mi lanct na di, ghezelle
mijn.
Du coors die doot, du liet
mi tleven.
I
Die landskappe van sand
& sneeu
kan soos mense omdraai
& gaan lê,
rug aan rug, of na mekaar
gekeer,
soms vir 'n oogwink, of byna
'n eeu.
II
Aardig, mens, om aan jou
te moet dink roer-
loos op jou rug, oë nie
langer gerig
op die uitdyende heelal nie: lens
& hersens nie langer
liries aan’t dig.
III
Spoed jy verby kwasars, die Sewe Susters,
verby Orion se juwelekissie?
Op 'n tyd was jy God se troetelvissie,
nou nael jy lustig tussen sy ligusters.
IV
Die Vredesfortkoepel is ’n stil reuse plons:
‘n rooi lawaskild vir eons
sissend in ‘n loog,
bergriwwe & rante, soos krale vir mastodons –
als lánk voor die dink van die digterlike oog.
*
PLAASMIDDAG, VREDESFORT DISTRIK
vir T. T. Cloete
Die namiddag loop voller, &,
afgemeet in jambes
van die staanhorlosie, vol.
Die ver vaal heuwelriwwe drywe
bo die uitgewaste bekken.
Rooitong in die skadu
van ‘n lukwart lê die hond stertstil.
‘n Pietswind swiep verby & strooi
die sterredons van sade
& laat die plaasdam ligweg frons.