Sunday, April 12, 2015
J. C. Steyn - Leonardo
Dis of alles na mens aangestorm, -gegalop
kom om wonder te word, te interesseer:
perde se steier, voëls swewend, hul vlieg
wég van; dat ruspe papie word, papie mot, leer
– hóé leer in die harsings, waar?
Of die hart se pomp, die stroom van bloed,
die hele liggaam, uit elke hoek
bekyk: Hoe sou oë sien, senings span?
Hoe bult die borsspier van ‘n man?
Kyk, ondersoek (en leer Latyn!
om per boek te kan verklaar, ééndag)
ook verbeeldinge wat nog moet kom:
geluid, die Diereriem, die brein.
Die tyd vlieg. As jy alleen is,
hoort jy allenig aan jouself.
Om klaar te maak uit (dis al uitgedink uit)
brons en klei, enk’les uit die verf:
Heilige Sebastiaans, madonnas byna klaar,
een Laaste Avondmaal,
die Slag van Anghiari: onvoltooi
die doodsbleek smart – oorwonnenes
en trane verf wat alles oor die muur
Hoe boei die lewe! Hoe boeiend alles
wat maakbaar – vlermuismasjiene
kanonne met monde, bomme met vinne,
gas wat die vyand sal verlam
en die groot voël wat sy vlug
moet begin op die groot swaan Ceceri se rug.
Die natuur van die voël: Hoe vlieg
En hoe vlieg die tyd? Hoe lê ‘n fetus in
En hoe die weefselstringe in die hart?
Een wonder is daar wat mens
te wonderbaar is, ja een geheim
wat jy nimmer kan vat: die weg
van die mens se natuur, en die hart
(nie “die hart”, elke hart, enige, maar dié)
hierdie hart wat hartstarrig bemin
teen alle willens, onwilligens in –
g’n maagd, madonna of mona
maar die klein Satan van ‘n Salai
wat lieg en steel en vreet soos ‘n vark.
Vervloek is so ‘n hart
en die weg van ‘n man weg van
Maar as daar geen liefde is nie,
wat dan?
(Uit: Die verlore vader, 1985)