Balling
Vladimir Nabokov
Hy wat toevallig ’n Franse digter is, daardie skraal,
boekdraende man met ’n stekelige grys ken;
jy loop hom
raak waar jy ook al gaan
op die helder kampus, verby klimopbegroeide mure.
Die wind wat hom rasend maak (dié herroep
’n nogal goeie
reël in Hugo),
maak aanhoudend blou gate in die watervaste glans
van kollege-geteelde populiere wat ruis en glibberige
skadu’s
gooi na die
bont
jong skoonhede, die ene bene, terwyl hulle fiets deur
sy skouer, sy oksel, sy hart, en die twee
groot boeke
wat hom seermaak in sy sy.
Verlaine was ook ’n onderwyser. Iewers
in Engeland. En wat van groot Baudelaire,
alleen in sy
Belgiese hel?
Hierdie klimop lyk soos die oë van die dowes.
Kom, blaar, noem ’n land wat begin met “v”;
byvoorbeeld,
“vergeet” of “vaarwel”.
Aldus mymer hy vaagweg en neem dromerig
kennis van sy afluisterende self soos sy lyf terugwyk,
en oplos in
sonversplinterde skadu.
L’Envoi: Daardie arme stoele in die Bois, waarvan een
bene in die lug, halfverdrink vassteek in die slym van ’n
voor
terwyl die
ander byeen geskaar is in ’n oopte.
(Vertaal
deur Johann de Lange)