Robert Duncan (1919 - 1988)
Die Tempel van die
Diere
Robert Duncan
Die tempel van die diere het vervalle geraak.
Die voetval van pote het vervaag.
Die luiperds vlug uit die skadu’s van die dag.
Die muskusgeur het verflou maar draal nog daar…
draal, draal. Aah, jammerlik in my kamer.
Uitgeput herroep ek die diere van verlede jaar:
die altare van die beer, die regbank van die aap,
verlatenhede van olifantagtige skemering, raar
sebragestreepte skuilplekke, professieë van hond,
toevlugte van die dwergtakbokke.
Was daar rituele wat ek vergeet het? roepgeluide van diere
waarop daardie dierestemme geantwoord het,
geroep en geroep het tot daardie oerwoud geroer het.
Was daar stemme wat ek gehoor het?
Liefde was die dier sélf wat sy lêplek gemaak het,
en sy winterslaap deurgebring het in my hart.
Het hy my hart opgesoek of ooit
daar geslaap?
Ek het die diere sien vertrek,
hulle stemme vergeet, of skaars onthou
— soos die laaste gesprek wanneer die geselskap weggaan
of die geliefde gesig wat die hart ken,
vergeet en ken —
Ek het die sterwende voetval van herfs gehoor.
Die klank het vervaag, maar draal nog hier.
Aah, jammerlik herroep ek
die diere van verlede jaar.
(Vertaal
deur Johann de Lange)