Een oggend in 2007 het Hennie my gebel & gevra dat ek by hom 'n draai moet
kom maak want hy het iets vir my. Dit was nie ongewoon nie. Ek was in die meer
as 30 jaar van ons vriendskap dikwels die ontvanger van sy bedagsame geskenke.
Dié dag was egter ’n uitsondering. Met die intrapslag het ek
die iets op sy kombuistoonbankie, die gebruiklike "geskenkstasie", sien lê. Vier bruin
lêers. Hennie was nie een wat afwagting uitgerek het nie. Dus het hy my die lêers in die hand gestop nog
voordat hy tee gaan maak het.
“Gaan sit. Ek bring sommer die tee,” het hy gesê &
beduie dat ek op my gebruiklike stoel langs syne moet gaan sit . Bo my, teen die muur,
was ‘n enorme foto-werk: die naakstudie van ’n vrou wat op haar rug lê met die heupe vooropgestel.
Die heel boonste lêer was getiteld Oopkardoes: boertige ryme, met linosneë van Theo Paul Vorster.
Onderaan het hy ’n afdruk van ’n linosnee deur Theo Paul Vorster geplak. ’n Entjie laer af het hy in swart geskryf: “versorg deur Johann de Lange”.
Toe ek opkyk, het Hennie voor my gestaan met die
tee-skinkbord. Glunderend. Ek het nie die regte woorde kon vind vir my dankie nie.
“Maak oop,” het hy beduie.
Links binne het hy ’n koevert geplak met twee briewe in. Een was 'n brief van Kerneels Breytenbach uit 1997 oor ’n ms. waaraan Hennie klaarblyklik destyds gewerk het, getiteld Modderkoekies, maar waarvoor hy nie hoopvol geklink het om ’n uitgewer te vind nie. In die brief het Kerneels egter entoesiasties reageer & belowe om plek te maak op H&R se uitgewersprogram. Waarom dit nooit gebeur het nie, kan ek nie meer onthou nie.
“Maak oop,” het hy beduie.
Links binne het hy ’n koevert geplak met twee briewe in. Een was 'n brief van Kerneels Breytenbach uit 1997 oor ’n ms. waaraan Hennie klaarblyklik destyds gewerk het, getiteld Modderkoekies, maar waarvoor hy nie hoopvol geklink het om ’n uitgewer te vind nie. In die brief het Kerneels egter entoesiasties reageer & belowe om plek te maak op H&R se uitgewersprogram. Waarom dit nooit gebeur het nie, kan ek nie meer onthou nie.
Die ander was ’n brief van Theo Paul Vorster waarin hy toestemming gee dat sy linosneë gebruik mag word in Oopkardoes.
Daar was 'n derde brief in 'n aparte koevert geplak op 'n ander bladsy, waarop hy geskryf het "'n Sakebrief", & waarin hy die ms. aan my oormaak om mee te maak soos ek goed dink. Sy enigste versoek was dat ek nie iets moet laat deurgaan wat nie op peil is nie, geen flets woord of swak rym nie.
“Dis vir jou,” het Hennie voortgegaan. “Jy sal weet wat om daarmee te maak. Ek weet nie of jy 'n uitgewer sal kry nie, maar dit maak ook nie so baie saak nie. Lees dit vir jou eie plesier. En die linosnee vir die omslag is ook joune nou."
Ons het die middag omgekuier tot dit tyd geword het vir my om te ry sodat ek die spitsverkeer kan vermy. Ek het die bruin lêers op die sitplek langs my gesit & kon nie wag om by die huis te kom & daaraan te begin lees nie.
Ons het die middag omgekuier tot dit tyd geword het vir my om te ry sodat ek die spitsverkeer kan vermy. Ek het die bruin lêers op die sitplek langs my gesit & kon nie wag om by die huis te kom & daaraan te begin lees nie.
Die manuskrip was nie net ’n versameling lukrake los gedigte nie.
Dit was ’n properse manuskrip, handgeskrewe soos al Hennie se skryfwerk, uitgelê
in afdelings met motto's, aanduidings waar die linosneë moet kom.
Voorin op die “motto-blad” soos hy dit aangedui het, was die
volgende aanhaling deur Diana Vreeland:
Vulgarity is a very important ingredient in life. I’m a
great believer in vulgarity – if its got vitality. A little bad taste is like a
splash of paprika.
Ná ek die eerste keer die manuskrip deurgelees het, het ek
besef dat die verse nog heelwat skaafwerk nodig het voordat hulle op peil sal
wees. Toe Hennie later op ’n keer na die manuskrip verneem,
het ek genoem dat ek daaraan dink om deur sy oeuvre te gaan & enige versteekte
gedigte of lirieke van boertige aard wat ook in Oopkardoes opgeneem kan word, bymekaar te maak, 'n idee waarmee hy baie
gelukkig was.
Dit was ’n gedugte onderneming & ek het dit na ‘n
jaar of twee vir eers opsy laat lê toe ek weer sélf aan die skryf gekom het na 'n droogte van byna 14 jaar, & in die periode 2009-2014 het ek elke jaar met die uitsondering van 2013 ’n boek in
die pers gehad & kon nie weer by sy manuskrip uitkom nie.
Ek het onlangs gedink om weer met Hennie te gesels & te uit te vind of hy enigiets ekstra geskryf
het in die tussentyd wat dalk ’n lêplekkie in Oopkardoes
kan kry. Daardie gesprek het nie plaasgevind nie, maar ek het wel weer my
soektog na guitige & geil verse opgeneem, & sodra ek klaar
is daarmee, sal ek die boek kan vorm gee, kan begin orden & skaaf, &
uiteindelik my belofte van 7 jaar gelede gestand kan doen & vir Oopkardoes ’n uitgewer kry.