Tuesday, April 22, 2014

Wilma stockenström - Father on son

Wilma Stockenström © Simone Scholtz

Father on son
Wilma stockenström

Ought to love the teenage torso
with shoulders brown and solid as beams,
his young flyhalf in striped sweater
and rugby shorts, the bulge in front,
flesh of sensuality, seeding
fruit of the tree of his body.

He ought to love them, those
blue candid eyes, replicas,
white apples swelling into iris, pupil
already like a sign of conception,
sign of contamination already,
my son, my son, in your eyes.


[Tr. by Johann de Lange]

Friday, April 18, 2014

Johann Lodewyk Marais - Eugéne N. Marais in die Boland (2009)


The influence of the Boland on the work of Eugène N. Marais

Eugène N. Marais (1871-1936), the famous Afrikaans poet, prose writer, journalist, lawyer, morphinist and expert on animal behaviour, spent three years in the Boland, a region in the Western Cape of South Africa, where he completed his schooling. The available information about this period introduces the reader to Marais’s Huguenot roots and crucial infl uences during his youth such as his early writing and journalism, the then debating societies and people becoming aware of language rights. A few of Marais’s short stories were set in the Boland or show traces of this background. The fact that Marais was able to become a successful journalist at a very young age shortly after he left the Boland to settle in Pretoria in the former Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), also testifies that his formative years as a pupil of the current Hoër Jongenskool Paarl were very fruitful, as was exposure to the region’s educational and cultural life.

Key words: Afrikaans and English literature, debating societies, Eugène N. Marais, French Huguenots, Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), Hoër Jongenskool Paarl, short stories

Eugène N. Marais (1871–1936), die beroemde Afrikaanse digter, prosaskrywer, joernalis, regsgeleerde, kenner van dieregedrag en morfinis, het drie jaar lank in die Boland, in die Wes-Kaap van Suid-Afrika, deurgebring en daar sy skoolopleiding voltooi. Die beskikbare inligting oor hierdie tydperk laat die leser kennis maak met Marais se Hugenote-wortels en deurslaggewende invloede soos sy vroeë skryfwerk en joernalistiek, die destydse debatsverenigings en bewuswording van taalregte. ’n Aantal van Marais se kortverhale speel ook in die Boland af of vertoon spore van hierdie agtergrond. Die feit dat Marais in staat was om op ’n baie vroeë leeftyd ’n suksesvolle joernalis te word kort nadat hy die Boland verlaat het om hom in die eertydse Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) te vestig, getuig daarvan dat sy vormende jare as ’n leerling aan die huidige Hoër Jongenskool Paarl en blootstelling aan die streek se opvoedkundige en kulturele lewe baie vrugbaar was.

Sleutelwoorde: Afrikaanse en Engelse letterkunde, debatsverenigings, Eugène N. Marais, Franse Hugenote, Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), Hoër Jongenskool Paarl, kortverhale

Inleiding
Oor Eugène N. Marais (1871-1936), die beroemde digter, prosaskrywer, joernalis, regsgeleerde, kenner van dieregedrag en morfiengebruiker, het C.J. Mieny by geleentheid gesê dat hy in die ware sin van die woord “’n seun van Transvaal” is. Net soos daardie ander groot veelsydige Louis Leipoldt se hart gelê het in die Hantam en die Sederberge van Clanwilliam, so het Marais se hart gelê in die Bosveld van Transvaal, in die Waterberg en in Pretoria.[1]

In Marais se verhale, koerantartikels en werk oor die gedrag van diere word Mieny se uitspraak ongetwyfeld bevestig. Marais se geboortestad, Pretoria, was sy lewe lank die stad waarheen hy altyd teruggekeer het. Hierdie hunkering was intens en selfs tragies. Die feit dat sy beoogde terugkeer na Pretoria op 28 Maart 1936 gefnuik is deurdat hy niemand kon kry om hom weer van Pelindaba na die stad terug te neem nie,[2] het waarskynlik ’n groot aandeel aan sy selfmoord die daaropvolgende dag gehad. In die Bosveld en die Waterberg het hy opgegaan in die natuur en belangrike waarnemings gemaak waaroor werke soos Die siel van die mier,[3] Burgers van die berge [4] en The soul of the ape [5] handel. Hy het ook deel geword van die sosiale lewe in hierdie streek en laat ongetwyfeld …a clear and irrevocable imprint on our knowledge of life in the Waterberg at a time when much of it was still a veritable wilderness.[6] Die Waterberg word immers uitgebeeld “as a striking space and introduces the reader to several people whom Marais knew there or chose to foreground”.[7]

Ander plekke het ook ’n rol in Marais se lewe gespeel. Dink maar aan Londen, waarheen hy in Desember 1896 vertrek het en waar hy tot 1902 gebly het om hom in die regte te bekwaam. In Londen word hy aan die Inner Temple, een van die Inns of Court wat in die 14de eeu ontstaan het, in die Engelse regstradisie ingelei.[8] In hierdie tyd is hy ook intens blootgestel aan die Victoriaanse leefwêreld en Europese intellektuele en modestrominge soos die Darwinisme, wat vir sy wetenskaplike vorming van groot waarde sou wees. Sy “wetenskaplike onderdompeling”[9] in hierdie tyd sou sterk op hom inwerk.

Oor Marais se lewe is reeds uitgebreid deur onder andere sy drie biograwe geskryf, sodat die leserspubliek ’n enigsins ‘volledige’ voorstelling van hom as skrywer, wetenskaplike en mens het met ’n gebeurtenisvolle en waarskynlik gekwelde lewe. F.G.M. du Toit se Eugène N. Marais: sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde [10] verskyn reeds in 1940 en het die grondslag vir alle toekomstige indringende navorsing oor Marais se lewe en werk gelê. In 1962 verskyn M. Nienaber-Luitingh se Eugène Marais,[11] ’n werk van beperkte omvang, wat ’n oorsig van Marais se lewe en werk bied en vandag ongelukkig byna vergete is. ’n Derde, omvattende en invloedryke biografie of biografiese ‘verhaal’, Leon Rousseau se Die groot verlange: die verhaal van Eugène N. Marais,[12] verskyn in 1974. Al drie hierdie biografie¸ het daartoe bygedra om Marais in sy historiese verband en die sosiokulturele omstandighede van sy tyd beter te verstaan.

Oor Marais se Waterbergse verblyf gee sy geskrifte baie inligting, maar oor ander tydperke en ervarings weet ons helaas minder. Een hiervan is Marais se Londense verblyf,[13] waaroor Rousseau desnieteenstaande in Die groot verlange altesaam 51 bladsye skryf.[14] Op die skamele getuienis van enkele sketse wat Marais in sy sogenaamde Londense dagboek [15] gemaak het, grond Rousseau byvoorbeeld die gedeelte oor ene Susanne met wie Marais ’n verhouding in Londen sou gehad het.[16]

’n Ander plek wat in Marais se lewe ’n rol gespeel het, is die Boland – meer spesifiek die Paarl – waar hy drie jaar as tiener deurgebring het. Marais het eweneens nie baie oor hierdie tydperk geskryf nie, hoewel daar tog meer is as wat mens sou verwag. As ’n verantwoordelike, wetenskaplike benadering nagestreef word en die bereidwilligheid bestaan om die verbeelding in toom te hou, bied die ondersoek wel uitdagings. Dit bied ook verrassings, soos wat hierdie artikel illustreer.

Vir hierdie bespreking oor Marais in die Boland word as ’t ware na sy Hugenotewortels teruggegaan voordat aandag aan die verblyf in ’n tyd vol betekenisvolle kulturele ontwikkelinge vir (toekomstige) Afrikaanssprekendes gegee word. Vervolgens word die invloede wat reeds op ’n vroeë leeftyd op hom ingewerk het, oorsigtelik bespreek en word na tekste verwys met spore van Marais se Bolandse agtergrond en/of wat daar ontstaan het. Twee verhale waarin die Boland figureer, word in meer besonderhede behandel as bewys van hoe Marais sy Bolandse ervarings in sy werk neerslag laat vind het. Hierdie klein speurtog sal leidrade gee wat verder opgevolg kan word en getuienis bied van die mate waarin nuwe kulturele ervarings in ’n ‘nuwe’ streek Marais se werk help ontwikkel het.

Marais se voorgeskiedenis

Eugène Nielen Marais is op 9 Januarie 1871 op die plaas Les Marais by Daspoort, net buite die destydse Pretoria, gebore as die dertiende en jongste kind van Jan Christiaan Nielen Marais (1822–1896) en Catharina Helena Cornelia Marais (1825–1896) (gebore Van Niekerk).

Die stamvader van die Marais’s was Charles Marais (1640-1689) van Le Plessis Marle naby Longvilliers, suid van Parys, Frankryk. Hy en sy vrou, Catherine Taboureaux (ca. 1642-1729), en hulle kinders het Frankryk in Oktober 1685, kort na die herroeping van die Edik van Nantes, verlaat om ’n heenkome in die Republiek van die Verenigde Provinsies van die Nederlande te gaan soek. Op 14 September 1687 het hulle die Rooms-Katolieke geloof in die Waalse kerk in Den Haag afgesweer.[17] Aangesien die Here XVII emigrasie na die Kaap aangemoedig het, het nagenoeg 200 Franse vlugtelinge besluit om hulle in Afrika te kom vestig.[18] Marais en sy gesin het Delftshaven op 31 Desember 1687 op die skip Voorschooten verlaat. Op 13 April 1688 het hulle in Saldanhabaai aangekom en van daar af met die Jupiter na Kaapstad gereis.[19]

Die nageslag van Charles Marais, wat in April 1689 deur ’n Khoi-aanvaller in die Drakenstein vermoor is,[20] sou lank hoofsaaklik in die Kaap bly en primêr by die landbou betrokke wees. Eugène N. Marais se ouers sou eers elf jaar voor sy geboorte van die plaas Nektar in Jonkershoek, Stellenbosch, wegtrek en daarna ’n aantal jare in Bloemfontein, in die Republiek van die Oranje-Vrijstaat, woon. Ongeveer drie jaar voor Marais se geboorte vestig sy ouers hulle in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR),[21] ofskoon heelparty van Marais se broers en susters in die Boland of in die Vrystaat agterbly. Tydens Marais se geboorte dien sy vader as gevolg van ernstige onreëlmatighede met die hou van openbare rekeninge in Bloemfontein gevangenisstraf uit.[22]

Die voor-Bolandse tydperk

Gedurende die eerste tien jaar van sy lewe woon Marais in Pretoria by sy ouers: eers op sy geboorteplaas by Daspoort, en daarna in Lynnwood House aan die westelike oewer van die Apiesrivier. Op vyfjarige ouderdom begin hy sy skoolopleiding by mej. Anna Pottger in die konsistorie van die ou grasdakkerkie op Kerkplein. Daarna ontvang hy onderrig van ’n Engelse predikant, aartsdeken A. Roberts.[23] Sy eerste Nederlands-onderrig (“feitlik as ’n vreemde taal”[24]) ontvang hy een keer per week van ds. A.J. Begemann.

In 1881 gaan woon Marais by sy oudste broer, Charles Gerard Marais, op Boshof in die Vrystaat.[25] Marais het aan Du Toit vertel dat hy ná die Anglo-Transvaalse Oorlog (1880-1881) nie langer in Pretoria skoolgegaan het nie, omdat “alles in Pretoria nog in wanorde was”.[26] In sy artikel “’n Paradys van weleer” het Marais ’n een en ander geskryf oor die reis saam met ’n handelaar, ene Van Heerden, om in die verre Vrystaat skool toe te gaan.[27] Van Heerden was ’n Vrystater, ’n man van sowat vyftig jaar [28] wat per ossewa handelstogte (met onder meer Magaliesbergse lemoene) onderneem het. Met al die ompaaie wat hy tydens die reis na Boshof gery het, het die reis egter maande geduur. Op Boshof het Marais tot aan die einde van 1884 skoolgegaan voordat hy na ’n skool in die Boland gestuur is.

Die Bolandse tydperk

Dit was die roem van mnr. Bernard le Roux wat tot in die Vrystaat deurgedring [29] het, wat bygedra het tot die besluit dat Marais verder in die Boland skool sou gaan. Le Roux was van Julie 1882 tot April 1887 hoof van die Paarl First Class Public School.[30] Marais het die reis na die Paarl saam met sy oudste suster, Lizzie Niemeyer, en haar kinders onderneem. Eers het hulle per ossewa gereis […] tot op Potfontein, 115 myl ten suide van Kimberley, en daarvandaan per trein na die Paarl. [31] Dit was Marais se eerste ervaring van ’n trein in ’n land wat danksy die ontdekking van diamante en goud sy eie industriële rewolusie begin ervaar het.

In die Paarl het Marais saam met sy suster ’n ou strooidakhuis aan die Zeederbergplein betrek.[32] Marais het skoolgegaan in “Rozenfontein”, ’n eiendom in Lawaaimaakstraat in die suide van die Paarl wat van mev. Louw gekoop is,[33] en hier aan die Paarl First Class Public School onderrig ontvang [Figuur 1].

Figuur 1: Paarl First Class Public School.
(Uit: T. Engela, In die Paarl groei ’n boom: geskiedenis van die Hoër Jongenskool Paarl van 1868 tot 1989 (Paarl, 1993), p. 8)

Die Paarl First Class Public School is op 15 Julie 1868 gestig,[34] die medium van onderrig was Engels, en Hollands is alleen as vreemde taal doseer. [35] Die eerste jare in die skool se bestaan tot en met die eeuwisseling was betreklik rustig. Die huidige Hoër Jongenskool Paarl het uit die Paarl First Class Public School ontwikkel en in 1900 tot stand gekom.[36]

Benewens die hoof was die onderwysers in Marais se tyd drs. B. Haarhoff en Zahn, mnr. Inglis, en mej. White, wat uit Amerika gekom het[37] en vir die “Kinder Departement” verantwoordelik was.[38] Mnr. John (Oubaas) Inglis sou legendariese status verwerf. Hy het ’n groot invloed op Marais gehad. [Figuur 2].

Figuur 2: Mnr. John (Oubaas) Inglis, wat van 1881 tot 1915 aan die Paarl First Class Public School (later die Hoër Jongenskool Paarl) verbonde was
(Foto: Hoër Jongenskool Oud-Studente-Unie, Paarl)

Hy is in 1881 aangestel en het in Junie 1915 afgetree. Inglis het uit Skotland gekom en was deeglik in die Klassieke tale geskool. Hy het’n M.A.-graad in hierdie rigting aan die Universiteit van St. Andrews verwerf. Gedurende die 31 jaar wat hy aan die skool verbonde was, het hy Engels, Latyn en Grieks gedoseer. Engela skryf soos volg:

As gerespekteerde en beminde onderwyser het hy ’n besonder inspirerende invloed op sy leerlinge gehad. Hiervan getuig die kennis van die klassieke en liefde vir die letterkunde wat een van sy beroemdste leerlinge, Eugéne Marais (matriek 1887) geopenbaar het.[39]

Engela bring hulde aan Inglis en sê dat hy … maar net ’n eenvoudige Skot [was] wat met ’n Afrikanermeisie getroud was en besluit het om sy toekoms op die altaar te lê van die Klein Begin van hierdie besondere volkie. [40]

Oor hoe Marais die skool ervaar het, is daar min inligting. Volgens Du Toit was sy maats almal seuns van wynboere en Eugène het dikwels saam met hulle by die parskuipe gespeel. Aanvanklik het die uitspraak van die Bolandertjies vir hom moeilikheid opgelewer, maar mettertyd het hulle mekaar baie goed leer verstaan. [41] Die maats wat saam met hom die wêreld verken het, was veral sy suster Lizzie se kinders, John en Gustav, en ene Dawie Mostert. Daar is bv. ’n grot teen die hang van die Paarlklip waar hulle Saterdae die rus van die duisende vlermuise gaan verstoor het, aldus Du Toit.[42]

Marais was klaarblyklik ’n besonder skrander leerling. Du Toit skryf:

Hy het vinnig vooruitgegaan, veral wat die letterkundige vakke betref. Sy Latynse kennis was buitengewoon, deels omdat hy dikwels Sondae uit die Bybel en veral uit die Psalms oorsettings van die Vulgaat in Engels sit en doen het. Hy het veel gelees en was bekend met baie van die Engelse gedigte en met die mitologiese beelde, soos blyk uit die gedigte wat van 1885 tot 1887 in die Paarl District Advertentieblad, ’n tweetalige koerant, in Engels verskyn het. [43]

Marais was sestien jaar oud toe hy matriek in die tweede klas afgelê het [Figuur 3]. Die hoof het waarskynlik toestemming van die Onderwysdepartement gekry dat hy die eksamen kon afl ê omdat hy te jonk was.[44] Marais se onderrig was hoofsaaklik deur medium van Engels en sy eerste gedigte, wat in die jare 1885 tot 1887 geskryf is en in [The] Paarl District Advertiser / [Het] Paarl District Advertentieblad verskyn het (sien later), is dan ook in Engels geskryf. Die besluit dat onderrig in staatskole in Engels moes plaasvind, is in 1865 deur die Kaapse regering in die Onderwyswet vasgelê en … selfs in skole op klein dorpies het Engelse en Skotse onderwysers net Engels met Afrikanerkinders gepraat. [45] Marais se eerste skeppende skryfwerk in Engels het binne hierdie opvoedkundige en kulturele sfeer ontstaan.

Elf jaar voordat Marais in die Boland begin skoolgaan het, is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875 in die Paarl gestig. As verdere bewys van “’n nuwe soort politiek”[46] onder Afrikaners het die GRA en verdere inisiatiewe om Afrikaans te bevorder[47] daartoe bygedra om die kulturele klimaat te verander wat sedert die tweede Britse besetting van die Kaap (1806-1814) bestaan het. Die GRA het byvoorbeeld … as ’n kultuurorganisasie begin, verbrei tot ’n volksbeweging wat onnoemlik veel gedoen het aan die kulturele, politieke en ekonomiese vorming en ontwikkeling van die Afrikaner. [48] Ná die Anglo-Transvaalse Oorlog (1880-1881) was daar bowendien die eerste keer sprake van ’n oorkoepelende Afrikanernasionalisme wat Afrikaners in Transvaal, die Vrystaat en die Kaapkolonie omvat het. [49]

Figuur 3: Eugène N. Marais as matrikulant in die tweede ry van agter,
derde van links. (Foto: Hoër Jongenskool Oud-Studente-Unie, Paarl)

Daar is aanduidings dat Marais op skool nie net goed in tale gevaar het nie, maar ook geraak is deur die verregaande verengelsing wat hy in die Kaapse huisgesinne aangetref het. [50] Afrikaans het klaarblyklik vir hom binne ’n gees van groeiende kulturele bewuswording ’n kosbaarheid geword waarmee hy hom enkele jare later in Transvaal positief begin bemoei het. In die Boland was hy nietemin nog nie gereed hiervoor nie[51] en het hy as tiener nie oor die taalvaardigheid en selfvertroue beskik om van hom te laat hoor nie. Die blootstelling aan die taal van sy Bolandse speelmaats en die bruinmense (waaroor hy in “Die vliegende Hollander”[52] skryf) het hom ’n wyer taalperspektief gegee. Hierdie jare waaraan hy blootgestel was, was belangrik vir die toekoms van Afrikaans.

Ná afloop van sy skoolopleiding keer Marais na die ZAR terug, waar hy in Pretoria as klerk in ’n prokureurskantoor begin werk. Op grond van sy skryftalent, wat reeds op skool as joernalis van die Union Debating Society geblyk het, begin hy bydraes vir die Transvaal Advertiser skryf.[53] In 1890, op negentienjarige ouderdom, word hy redakteur en ’n jaar later mede-eienaar saam met J. de V. Roos van die Nederlandstalige weekblad Land en Volk (1890–1901 en 1902–1908).[54] Die koerant ondersteun die opposisieparty van genl. Piet Joubert en Marais se koerantwerk betrek hom by heelwat omstredenheid met ooggeplaastes, wat meermale op lastereise uitloop. Om so gou ná die voltooiing van sy skoolopleiding in die joernalistiek te kon presteer en oor die nodige sosiale vaardighede te beskik om dit te kon doen, moes Marais ’n deeglike akademiese grondslag in die Paarl ontvang het. Die blootstelling wat hy aan belangrike kulturele verskynsels soos die debatsverenigings gekry het, het hom (en heelparty ander openbare figure) ook goed te pas gekom.

Bolandse geskrifte

As leerling aan die Paarl First Class Public School sedert 1885 het Marais – soos vroeër in Pretoria en op Boshof – sy onderrig deur medium van Engels ontvang en Nederlands net as ’n gewone vak geneem. In dié tyd het sy skryftalent aan die lig gekom aangesien sy eerste publikasies begin verskyn het. Volgens Du Toit het die woorde “uncoffi n’d and unknown” uit lord Byron se Childe Harold’s pilgrimage Marais reeds op twaalfjarige ouderdom op Boshof geïnspireer om sy eerste gedig, “A soldier’s grave”, te skryf.[55] Die eintlike aanleiding tot die skryf van die gedig was ’n voorval wat Marais self meegemaak het. Kort nadat Transvaal aan die Boere teruggegee is, het ’n jaggeselskap die geraamte van ’n Engelse soldaat naby ’n spruit gekry en dit toe daar op die plek begrawe. Eugène was daarby.[56] Later het Marais in talle prosaverhale die tema verwerk van mense wat eensaam in die veld gesterf of daar sommer spoorloos verdwyn het. [57]

Presies hoeveel gedigte Marais in die Paarl geskryf het, is nie bekend nie. In die [The] Paarl District Advertiser / [Het] Paarl District Advertentieblad, ’n koerant wat die eerste keer in 1883 verskyn het, is minstens nege gedigte gepubliseer. Die gedigte het aanvanklik nie in Marais se Gedigte [58] of Versamelde werke [59] verskyn nie en is eers in 2005 in Die volledige versamelde gedigte [60] opgeneem. Dit word dus as gedigte beskou wat hy in sy jeug geskryf het en wat nie dieselfde waarde as sy latere werk het nie. ’n Mens kan nietemin by die lees van hierdie gedigte enkele waarnemings maak. Eerstens is almal van hulle in Engels geskryf. Tematies is dit opvallend dat die gedigte nasionaal in uiting [61] was en dat hy vroeg reeds oor binnelandse temas geskryf het. Voorbeelde hiervan is die gedigte “Majuba”, “Ode to the Paarl composed on the Paarl mountain” en “South Africa”. Verder is Marais se eerste gedigte betreklik lank, het hy van rym en klankbinding gebruik gemaak en was hy vroeg reeds in staat om ’n gestruktureerde gedig te skryf.

Sy gedigte word in die [The] Paarl District Advertiser / [Het] Paarl District Advertentieblad gepubliseer, terwyl hy ook joernalistieke bydraes oor die Union Debating Society begin lewer. Debatsverenigings was ’n belangrike kulturele verskynsel van die tyd en veral gedurende die 1880’s het die debatsverenigingslewe in Kaapland ’n bloeitydperk beleef. Die debatsverenigings het hulle oorsprong by immigrante uit Brittanje en Engelssprekende persone in die Kaapkolonie gehad, wat reeds teen die eerste kwart van die negentiende eeu hulle “societies” gestig het.[62] Heelparty latere vooraanstaande Afrikaners soos genl. J.C. Smuts, genl. J.B.M. Hertzog, C.J. Langenhoven, dr. D.F. Malan en dr. N.J. van der Merwe (om slegs enkele name te noem) het in een of ander stadium aan een van hierdie debatsverenigings se aktiwiteite deelgeneem, wat … hier te lande spontane inslag gevind en in eie krag en na behoefte ontwikkel het sodat dit nie slegs ’n wesentlike lewensvakuum van die Afrikaner gevul het nie, maar op sy beurt deel van die boerelewe geword het. [63] Die hou van joernale en verslagdoening oor hulle aktiwiteite was skering en inslag van hierdie verenigings en Marais se berigte het deel daarvan uitgemaak.

Met verwysing na die invloed van skrywers op Marais gedurende sy tienerjare maak Du Toit melding van sy noukeurige lees van bekende Engelse meesterdigters soos Milton, Byron, Longfellow en Coleridge. [64] Volgens Rousseau moet die name van negentiende-eeuse skrywers soos John Keats, William Wordsworth, Robert Browning, Edgar Allen Poe, sir Walter Scott, Charles Dickens en na alle waarskynlikheid ook Thomas de Quincey se toe reeds klassieke The confessions of an English opium eater ook by hierdie name gevoeg word.[65] Sy belesenheid in die Engelse literatuur van die negentiende eeu het Marais goed voorberei vir sy besoek aan Brittanje enkele jare later.

Marais se belangstelling in die skryf van prosa, wat later die grootste deel van sy oeuvre gevorm het, dateer ook uit sy skooldae in die Paarl. Op skool het hy uitgeblink in stelwerk en benewens die Engelse gedigte wat hy in die [The] Paarl District Advertiser / [Het] Paarl District Advertentieblad gepubliseer het, word hy joernalis van die Union Debating Society, ’n erepos wat hy meer as ’n jaar lank met groot bekwaamheid en spitsvondigheid beklee het. [66] Vandat Marais die skool verlaat het tot en met sy vertrek na die buiteland aan die einde van 1896 sou hy by die joernalistiek betrokke bly.

Marais se eerste gepubliseerde bundel verhale, Margriet van Laastelust en Die wegraak van Sannie, [67] was sy prosadebuut in boekvorm – op 51-jarige ouderdom. Hierdie bundel bevat twee verhale uit Die Boerevrou, die Pretoriase blad wat tussen 1919 en 1931 onder redaksie van Mabel Malherbe gestaan en van groot kultuurhistoriese waarde was, waarin die leser kennis maak met fasette wat kenmerkend van Marais se prosa is. Die langste verhaal, “Margriet van Laastelust”, speel gedurende die Bataafse bewind (1803–1806) in die Boland af, en is een van ’n aantal verhale waarin Marais ’n historiese tema gekies het. Nog ’n lang verhaal,  “Die vliegende Hollander”,[68] is in die Kaap, en meer spesifiek Silwersand, op die uiterste suidelike punt van Afrika, [69] gesitueer. Daarenteen speel die ander verhaal in die bundel, “Die wegraak van Sannie”, in die Waterberg af, wat die geografiese ruimte is waarin talle verhale van Marais afspeel én die streek is waar hy die meeste van sy wetenskaplike waarnemings gemaak het.

Die twee verhale in Margriet van Laastelust en Die wegraak van Sannie vertoon ook ander fasette wat kenmerkend van Marais as prosaskrywer is. Volgens Prins word die gebeure in Marais se vertellings … dikwels binne die verhaalwêreld gestel teenoor die bonatuurlike, die droom, die verbeeldingsvlug of die verdigsel.[70] “Margriet van Laastelust” speel op die wingerdplaas Laastelust af en word soos volg beskryf:

Laastelust, die ou woonplaas van die Du Roubaixs, was een van die hoogste Hugenoot-bergplase destyds aangelê. Bo teen Drakenstein geleë was daar van die stoep ’n heerlike uitsig oor die groot en vrugbare vallei van Bergrivier en van die honderde plase en wingerde wat toe alreeds so dig opmekaar was dat die streek vir beeste ongeskik was. Die wynboere moes hulle poste gedurig verder en verder van Franshoek en Drakenstein versit.
Die Du Roubaixs, ’n Hugenoot-familie, het ’n uitsoek-plaas in Laastelust gehad. Net kort onder die waterval aangelê het die eiendom die ongehinderde gebruik van net soveel water as die grond nodig het, gehad. Dit, gepaard met die uiterste geilheid van die aarde, het die familie van begin af voorspoedig en ryk gemaak, ofskoon hulle nooit groot soos ander Franse families uitgebrei het nie.
Die huis was ’n pragtige ou Franse woning, met ’n stoep byna so hoog as ’n gewone huis self en fraai uitgewerkte gewels, wat van orals uit die vallei sigbaar was. Aan die een kant van die huis was ’n ontsaglike kruisvormige kelder, die grootheid waarvan alleen bewys was van die voorspoed en rykdom van Laastelust. Eweredig groot was die slawehuis – ’n lang reguit gebou met grasdak en ystertralies voor die vensters. Bo teen die berg was die meulehuis (want Laastelust was ook ’n beroemde koringplaas) met ’n meulevoor bo in die berg uitgekeer, wat weer ’n myl onderkant-toe die rivier inloop. Voor die huis strek ’n allee van reuse-eike af na die laagte, een van die bekende versiersels in die buurte.[71]

As Margriet, die hoofpersonasie in “Margriet van Laastelust”, een aand gaan stap, voel sy … ’n ligte gril deur haar lyf gaan, en onwillekeurig kom die herinnering op aan al die ou spookstories van Laastelust, en die kindervrees wat die bergpad dikwels veroorsaak het. [72] Kort hierna sien sy onder die eikeboom waar sy staan ’n “gedaante”: ’n Man te perd ongetwyfeld, in swart gekleë. [73] Later in die verhaal sou dit blyk dat die “gedaante” ’n natuurlike verklaring gehad het. In die verhaal loop Margriet en die leser ook terloops ’n bobbejaantrop (“ou en bekende vriende”[74]) raak – ’n onderwerp wat in Marais se later gepubliseerde wetenskaplike geskrifte ’n prominente rol gespeel het.

Hoewel “Die wegraak van Sannie” nie in die Boland afspeel nie, is dit gepas om enkele opmerkings oor die kultuurhistoriese waarde van die verhaal te maak. Die verhaal speel in die Waterberg af en is boeiend, aangesien die leser kennis maak met tradisionele gebruike wat in hierdie streek voorgekom het. Van hierdie gebruike sluit in die wyse waarop hofgemaak is, ouers gevra is en die tradisie om tydens die Nagmaal te trou. Die verhaal handel oor Sannie wie se vader as gevolg van ’n twis oor kerksake met haar aanstaande skoonvader nie wou hê dat sy moet trou nie. Ná haar opspraakwekkende “wegraak”, maak sy van “voorwerptaal” gebruik om met haar vriend Hendrik te kommunikeer. Kort nadat hy van haar ’n klein pakkie so groot as ’n vingerhoed, in papier gerol met ’n klein stukkie blou lint; binne dié weer ’n gebreide voorslag, en daarnaas ’n stukkie peperkorrelhare ontvang het, onthou hy dat dit … in die tyd van die Voortrek […] die gewoonte was om boodskappe op die manier te stuur. Baie liefdesbriewe is op dié wyse deur voorwerpe alleen gewissel onder die jongmense van die voorgeslag, sodat daar later ’n ‘voorwerptaal’ ontstaan het wat dikwels beter geken was as die taal van die A.B.C. [75] In die verhaal ontvang Hendrik verskillende pakkies met voorwerpe wat hy moet interpreteer.

In Marais se bellettristiese prosa is duidelike eggo’s van sy Hugenote- en Kaapse verlede. Die verhale “Margriet van Laastelust” en “Die vliegende Hollander”[76] is in die Kaap gesitueer, terwyl Marais ook Franse name aan twee van die bekendste en mees terugkerende karakters in sy werk gee, naamlik dr. Paul de Roubaix en kol. Francois (“Sois”) de Ville. Na aanleiding van “Die huis van die vier winde” maak Rousseau die volgende stelling oor dr. De Roubaix: Die versoeking is sterk om te vermoed dat Marais met dr. Paul de Roubaix ’n karakter geskep het met wie hy kon identifiseer, in wie hy miskien ’n ideale self gesien het. [77] In Rousseau se aantekening by “Die spookbul van Farellone” bespiegel hy verder: Indien […] Marais hom as Paul de Roubaix gesien het, op wie is die karakter van Sois de Ville dan gebaseer? Die kombinasie herinner ewenwel aan Sherlock Holmes en dr. Watson. [78]

Marais het baie op sy kennis van die kultuur en geskiedenis van ’n bepaalde streek gesteun. Hy het blyke hiervan gegee in wat hy oor die Boland geskryf het en dit later ‘uitgebrei’ na die Waterberg en ander plekke waar hy vir korter of langer tydperke vertoef het. Uit die Boland en spesifiek die Paarl het Marais sodoende as ’t ware sy eie trek na die binneland begin.

Samevatting

Eugène N. Marais is een van die fi gure uit die vroeë (Suid-)Afrikaanse literatuur en bre¸ kulturele lewe in wie daar ’n durende belangstelling is. Hy was slegs tussen 1885 en 1887 op skool in die Boland. Min getuienis van hierdie verblyf het bewaar gebly. Dit bestaan bloot uit breë besonderhede van hierdie tydperk, enkele foto’s van die skool, ’n foto of wat van die onderwysers en Marais se matriekklas, minstens een verhaal teen ’n Bolandse agtergrond en die hand vol eerste gedigte wat hy geskryf het. Engela wy slegs ’n enkele sin aan Marais en plaas ’n foto van hom.[79] By die direkte getuienis, kan ook omstandigheidsgetuienis uit die tyd bygevoeg word om ’n effens vollediger beeld van hierdie tydperk in Marais se lewe te gee. As die Paarl een van die plekke in Marais se lewe was, ken dié plek hom weliswaar nie meer nie. Marais was desnieteenstaande een van die beroemdste leerlinge wat die skool opgelewer het. En al is daar min agterhaalbare inligting, kan die instandhouding van die geskiedenis van hierdie era ’n waardige hulde aan Marais wees. Die Paarl in die algemeen en die Hoër Jongenskool Paarl in die besonder kan trots wees op die band met Marais, wat so ’n belangrike krag op verskillende terreine in Suid-Afrika geword het.


Eindnotas

1 C.J. Mieny, Eugène Nielen Marais – feit en fabel, Die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie 3(3), September 1984, p. 138.
2 G.R. Mulder, Eugène Marais sterf in ons omgewing. Ongepubliseerde dokument, s.l., 1980, p. 1; L. Rousseau, Die groot verlange: die verhaal van Eugène N. Marais (Kaapstad, 1984), p. 513; J.L. Marais, Eugène N. Marais se dood, Spilpunt 2(5), Mei 2005, p. 5.
3 Eugène N. Marais, Die siel van die mier (Pretoria, 1934).
4 Eugène N. Marais, Burgers van die berge (Pretoria, 1938).
5 Eugène Marais, The soul of the ape (Cape Town, 1969).
6 C. Walker & J. du P. Bothma, The soul of the Waterberg (Houghton, 2005), p. 151.
7 J.L. Marais, Eugène N. Marais of the Waterberg, Plus 50 (4)2, February/March 2009, p. 11.
8 T. Daniell, A literary excursion to the Inns of Court in London (London, 1971).
9 A. Retief, Eugène N. Marais se haplografie van die dood? Ongepubliseerde referaat gelewer by die Marais & Preller-simposium, Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, 25 en 26 Mei 1989, p. 13.
10 F.G.M. du Toit, Eugène N. Marais: sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (Amsterdam, 1940).
11 M. Nienaber-Luitingh, Eugène Marais (Kaapstad, 1962).
12 L. Rousseau, Die groot verlange (1984).
13 L. Rousseau, Die agtergrond van Die groot verlange, Standpunte 30(6), Desember
1977, p. 10.
14 L. Rousseau, Die groot verlange (1984), pp. 105-156.
15 Die dagboek word tans in die argief van die Universiteit van Johannesburg bewaar.
16 L. Rousseau, Die groot verlange (1984), pp. 117-121.
17 C. Pama, Die groot Afrikaanse familienaamboek (Kaapstad, 1983), pp. 216-217.
18 A.J. Böeseken, Onder suidersterre: tussen die Ooste en die Weste 1652–1795 (Kaapstad, 1981), p. 50.
19 C. Pama, Die groot Afrikaanse familienaamboek (1983), p. 217.
20 L. Bryer & F. Theron, Die Hugenote en hul erfenis (Dieprivier, 1988), p. 44.
21 L. Rousseau, Die groot verlange (1984), p. 2.
22 K. Schoeman, Bloemfontein: die ontstaan van ’n stad 1846-1946 (Kaapstad, 1980), p. 54.
23 F.G.M. du Toit, Eugène N. Marais: sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (1940), p. 2.
24 M. Nienaber-Luitingh, Eugène Marais (1962), p. 13.
25 F.G.M. du Toit, Eugène N. Marais: sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (1940), pp. 5-7.
26 F.G.M. du Toit, Eugène N. Marais: sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (1940), p. 5.
27 Eugène N. Marais, ’n Paradys van weleer en ander geskrifte (Kaapstad, 1965), p. 63.
28 Eugène N. Marais, ’n Paradys van weleer en ander geskrifte (1965), p. 63.
29 F.G.M. du Toit, Eugène N. Marais: sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (1940), p. 7.
30 T. Engela, In die Paarl groei ’n boom: geskiedenis van die Hoër Jongenskool Paarl van 1868 tot 1989 (Paarl, 1993), p. 9.
31 F.G.M. du Toit, Eugène N. Marais: sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (1940), p. 7; kyk ook L. Rousseau, Die groot verlange (1984), p. 19.
32 F.G.M. du Toit, Eugène N. Marais: sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (1940) p. 7; L. Rousseau, Die groot verlange (1984), p. 19.
33 P. van Breda, Onderwys, in A.G. Oberholster (red.), Paarlvallei 1687-1987 (Pretoria, 1987), p. 133.
34 P. van Breda, Onderwys, in A.G. Oberholster (red.), Paarlvallei 1687–1987, p. 133; T. Engela, In die Paarl groei ’n boom (1993), p. 7.
35 F.G.M. du Toit, Eugène N. Marais: sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (1940), p. 7.
36 T. Engela, In die Paarl groei ’n boom (1993), p. 5.
37 F.G.M. du Toit, Eugène N. Marais: sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (1940), p. 7.
38 T. Engela, In die Paarl groei ’n boom (1993), p. 9.
39 T. Engela, In die Paarl groei ’n boom (1993), p. 10.
40 T. Engela, In die Paarl groei ’n boom (1993), p. 12.
41 F.G.M. du Toit, Eugène N. Marais: sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (1940), p. 7.
42 F.G.M. du Toit, Eugène N. Marais: sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (1940), p. 8.
43 F.G.M. du Toit, Eugène N. Marais: sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (1940), p. 8.
44 F.G.M. du Toit, Eugène N. Marais: sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (1940), p. 9; L. Rousseau, Die groot verlange (1984), p. 25.
45 H. Giliomee, Die Afrikaners: ’n biografie (Kaapstad, 2004), p. 163.
46 H. Giliomee, Die Afrikaners (2004), p. 175.
47 P.G. Nel, Die betekenis van die Genootskap van Regte Afrikaners, die Afrikaanse Patriot en Ons Klijnti, in P.G. Nel (red.), Die kultuurontplooiing van die Afrikaner (Pretoria, 1979).
48 P.G. Nel, Die betekenis van die Genootskap van Regte Afrikaners (1979), p. 26.
49 A.M. Grundlingh, Die voorspel tot die Tweede Anglo-Boereoorlog, 1881-1899, in T. Cameron & S.B. Spies (reds.), Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika in woord en beeld (Kaapstad, 1986), p. 184.
50 F.G.M. du Toit, Eugène N. Marais: sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (1940), p. 104 (sy kursivering); kyk ook L. Rousseau, Die groot verlange (1984), pp. 19 en 24.
51 M. Nienaber-Luitingh, Eugène Marais (1962), p. 19.
52 Eugène N. Marais, Die huis van die vier winde (Pretoria, 1933).
53 F.G.M. du Toit, Eugène N. Marais: sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (1940), p. 9.
54 Die publikasie van die koerant is gedurende die Anglo-Boereoorlog gestaak, maar later met die toestemming en onder streng voorwaardes van die Milner-regering voortgesit (P. Zietsman, Eugène Marais: vrydenker of volksverraaier? De Kat 16(12), Junie 2001, p. 37.
55 F.G.M. du Toit, Eugène N. Marais: sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (1940), p. 103.
56 F.G.M. du Toit, Eugène N. Marais: sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (1940), p. 103.
57 M. Nienaber-Luitingh, Eugène Marais (1962), p. 19.
58 Eugène N. Marais, Gedigte (Kaapstad, 1925).
59 Eugène N. Marais, Versamelde werke I & II (Pretoria, 1984).
60 Eugène N. Marais, Die volledige versamelde gedigte (Pretoria, 2005).
61 F.G.M. du Toit, Eugène N. Marais: sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (1940), p. 104.
62 B. Booyens, “Ek heb geseg!”: Die verhaal van ons Jongeliede- en debatsverenigings (Kaapstad, 1983), p. 14.
63 B. Booyens, “Ek heb geseg!” (1983), p. 14.
64 F.G.M. du Toit, Eugène N. Marais: sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (1940), p. 110.
65 L. Rousseau, Die groot verlange (1984), p. 18.
66 F.G.M. du Toit, Eugène N. Marais: sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (1940), p. 8; kyk ook L. Rousseau, Die groot verlange (1984), p. 24.
67 Eugène N. Marais, Margriet van Laastelust en Die wegraak van Sannie (Kaapstad, 1922).
68 Eugène N. Marais, Die huis van die vier winde (1933).
69 Eugène N. Marais, Die huis van die vier winde (1933), p. 147.
70 M.J. Prins, Geloofwaardigheid as epiese beginsel in die prosa van Eugène N. Marais (M.A.-verhandeling, Potchefstroomse Universiteit vir CHO, 1973), p. 43.
71 Eugène N. Marais, Margriet van Laastelust en Die wegraak van Sannie (1922), pp. 1-2.
72 Eugène N. Marais, Margriet van Laastelust en Die wegraak van Sannie (1922), p. 36.
73 Eugène N. Marais, Margriet van Laastelust en Die wegraak van Sannie (1922), p. 39.
74 Eugène N. Marais, Margriet van Laastelust en Die wegraak van Sannie (1922), p. 35.
75 Al die aanhalings uit Eugène N. Marais, Margriet van Laastelust en Die wegraak van Sannie (1922), pp. 85-86.
76 Eugène N. Marais, Die huis van die vier winde (1933).
77 L. Rousseau, Aantekeninge deur die redakteur, in Eugène N. Marais, Versamelde werke I & II (1984), p. 1277.
78 L. Rousseau, Aantekeninge deur die redakteur in Eugène N. Marais, Versamelde werke I & II (1984), p. 1277.
79 T. Engela, In die Paarl groei ’n boom (1993), p. 10.