Wilma Stockenström, 80 (Foto deur Liesl Jobson)
Wilma Stockenström is vandag 80. Gebore 7 Augustus 1933 op Napier, Wes-Kaap.
As dit nie vir die skerp oog van Dirk Opperman was nie, het die Afrikaanse letterkunde & poësieliefhebbers straks nie die ontplooiing van ‘n merkwaardige stem die afgelope 44 jaar meegemaak nie. Want Wilma Stockenström was in die eerste plek aktrise toe sy in 1970 Vir die bysiende leser by Rijger uitgewers gepubliseer het. Die bundel kon maklik vergete geraak het soos so dikwels gebeur met die publikasies van klein uitgewerye. Dirk Opperman het dit egter onder oë gekry & H&R oorreed om die regte & die voorraad van die bundel oor te neem.
Wat volg, het alle verwagtings oortref. In die daaropvolgende dekades skryf sy agt digbundels, vyf romans & etlike dramatekste (waarvan net een gepubliseer is), & wen elke belangrike literêre prys. Saam met Henriëtte Grove is sy die enigste vroueskrywer wat die Hertzog-prys in twee genres ontvang het, in 1977 vir haar digbundel, Van vergetelheid en van glans, & in 1991 vir haar roman, Abjater wat so lag.
Ná die verruklike Van vergetelheid en van glans waarmee sy haar reputasie as digter om mee rekening te hou, gevestig het, publiseer sy Monsterverse in 1984, myns insiens ’n bundel wat saam met N.P. van Wyk Louw se Tristia, en Opperman se Komas uit ’n bamboesstok as een van die grootste digbundels in Afrikaans beskou kan word.
Ek noem Van Wyk Louw spesifiek omdat hy saam met Peter Blum die grootste invloed op die poësie van Stockenström gehad het. By beide is die gedig ingebed in die historiese, & word taal voorop gestel. Waar Louw veelal die Europese geskiedenis gemyn het, het Stockenström haar visier van meet af aan op Afrika gerig & onvergeetlike verse soos “By L’Agulhas ’n wandeling”, “Die skedel lag al huil die gesig”, “Glansspreeubekentenis”, “Die eland”, “Kraak die aardbol langs ’n naat”, & “Die komeet besoek die Kaap van verkragting” geskryf.
So wyd is die worp wat sy met haar verse gooi dat dit haas onmoontlik is om in die bestek van hierdie kort huldeblyk vir die leser ’n kortbegrip van die omvang en diepte van haar oeuvre te gee.
As prosaskrywer het sy haar merk gemaak met Die kremetartekspedisie, 'n meesterlike teks in poëtiese taal wat deur J.M. Coetzee in Engels vertaal is as Expedition to the baobab tree. Die roman is daarna in etlike ander tale vertaal, onder meer in Nederlands, Frans, Hebreeus, Duits, Italiaans & Sweeds. In 1998 ontvang sy die gesogte Grinzane Cavour Prys vir die Italiaanse vertaling.
Benewens verhoogwerk het sy ook in rolprente vir TV en die groot doek opgetree, onder meer Die besoeker (Athol Fugard se drama oor die lewe van Eugène N. Marais) waarvoor sy Rapport-Oscar ontvang het, Verspeelde lente, & Promised Land (2002), gebaseer op die roman van Karel Schoeman.
Hoewel Stockenström van meet af aan gedigte geskryf het wat intens gemoeid is met die voorgeskiedenis & geskiedenis van hierdie kontinent, met sy politiek, mites & folklore, was haar fokus tegelykertyd áltyd die menslike kondisie.
In die hande van Stockenström is die mens in sy grootsheid en sotterny uitgebeeld. Enersyds as 'n "behaarde buis glorie en smet", as "opgefokte saad", uitgelewer aan 'n onverskillige kosmos, onmenslik teenoor medemens, vol selfbedrog & hubris, immer in die skadu van die altyd teenwoordige dood. Stockenström het 'n unieke idiosinkratiese siening van die dood: sy is opstandig, spottend, ironies, selde nederig.
Die mens is andersyds ook skepper, voortbringer van beskawings wat opglans & vergaan, wat met taal as medium soos die primitiewe rotskunstenaar in "Die eland" met ’n “klein klein handjie” kan uitreik & merkies kan maak, ín teen die ewigheid, woorde om te sê: Ek was hier. Die mens bewus van sy onvolmaaktheid & sterflikheid, sy onmerkwaardigheid, maar ook van die skoonheid van die skepping, & die wonder van eenmaal te kon gewees het, eenmaal deel te kon gehad het aan die Al.
Pas, na 'n stilte van veertien jaar verskyn daar weer ’n digbundel van Stockenström getiteld Hierdie mens, & waar die fokus in haar oeuvre vroeër op die menslike kondisie in die breë geval het, verskuif dit met hierdie bundel na die digter, die spreker van die verse, broos, in ’n immer krimpende wêreld, maar steeds opstandig, & op die trant van "Die skedel lag al huil die gesig" steeds satiries in die aangesig van die naderende dood:
Nee, my ou suikerpot, my skuimpie, my Lyle’s Golden Syrup,
die lewe is nie net soet nie, die suur kom etsend by,
die bitter is soos heksverdriet, van lag maak dit broek nat,
want die dood is massavermaak en denke ’n mank stut.
Verwag jy skommelsakke gaan heuningsing in die hemel?
Die nag se hande hang langs sy sye, dooie voëls, en die dag,
nee, dié hardloop weg, huilskreeuend soos ’n hondsdolle.
Helikopters stotter deur die wind se gedrae musiek,
sterf weg soos beletseltekens van klank in lug geskryf.
Halflyf hang die struike oor die mure, o so moeg van leun.
Verstaan jy, marsepein, my stokkielekker, my bokdrolletjie?
Dit is doodgaanseisoen en die swaels sit op weggaan se drade.
[Hoor hierso, 16]
Dit was & is my voorreg om die afgelope 37 jaar nie net die ontwikkeling van ’n merkwaardige skrywerskap mee te kon maak nie, maar ook om Wilma Stockenström as lojale vriend te kan tel, as diereliefhebber, & veelal as mens met deernis vir die slagoffers van die lewe.
'n Gelukkige, geseënde tagtigste, Wilma, & (uit pure selfsug) mag daar nog vele meer wees.
Die vrugSkakels
Wilma Stockenström
Onbewus van baan, van wenteling,
swel met die aarde se draai
soetjies en seker die vrug
en hang tussen rypheid en val,
lieflike liggaam van verrotting,
sy ewigheid met vrug voleindigend.
Mens se grootsheid, sotterny uitgebeeld (Die Burger)
Al 43 jaar ’n merkwaardige skrywerstem (Beeld)
Wilma Stockenström - Poetry International
Wilhelmina Johanna (Wilma) Stockenström, SA author, poet and actress is born | South African History
Sanlam ATKV LitNet Afrikaanse Album. Wilma Stockenström (1933 - )
Wilma Stockenström - Wikipedia (Ndl)
NB Publishers | Our Authors | Wilma Stockenström
Dawid Minnaar lees voor uit Wilma Stockenstrom se
"Skoelapperheuwel, skoelappervrou" (YouTube)
Poësie
1970: Vir die bysiende leser
1973: Spieël van water
1976: Van vergetelheid en van glans
1984: Monsterverse
1988: Die heengaanrefrein
1994: Aan die Kaap geskryf
1999: Spesmase
2007: Stomme aarde: 'n keur
2007: The wisdom of water (Engelse vertalings deur Johann de Lange)
2013: Hierdie mens
Prosa
1976: Uitdraai
1979: Eers Linkie dan Johanna
1981: Die kremetartekspedisie
1987: Kaapse rekwisiete
1991: Abjater wat so lag
Drama
1971: Dawid die dik dom kat: ’n kindertoneelstuk (versprei deur Dalro, c.1971)
1971: Trippens se patatta (versprei deur Dalro, c.1971)
1978: Laaste middagmaal (geskryf in 1966, gepubliseer in 1978)
Toekennings
1977: die Hertzog Prys vir Poësie vir Van vergetelheid en van glans
1984: die CNA, Louis Luyt en die Ou Mutual Pryse vir Monsterverse
1988: die Grinzanc Cavour Prys vir Spedizione al Baobab (Italiaanse weergawe van Die kremetartekspedisie)
1991: die WA Hofmeyr en Hertzog Pryse vir Abjater wat so lag
2007: Afrikaans Onbeperk prys vir Lewensbydrae tot Afrikaans
(c) Johann de Lange