Preludes vir Memnon
Conrad Aiken
LVI
Rimbaud & Verlaine,
’n kosbare digterspaar,
Beide geniaal (maar
wat is genialiteit?) speel
Skaak op ’n
marmertafel by ’n herberg
Met kastaiingbloeisels
wat val in blonde bier
& op hulle hare
en tussen die ridder & biskop –
Geblokte sonlig
tussen hulle op die skaakbord
Vlieswolke in die
hemel, & ’n gejil van musiek
Ingewaai van die
leerbeslane deur van Sint Sulpice –
Bespreek, tussen
skuiwe, jambe & spondee
Anakoloet & die
oop vokaal
God die groot pou
met sy pou-engele
& sy aanhanklike
poue die blink sterre:
Ontken ook die
noodlot soos Plato dit verkies het,
Of Sofokles, wat
gehaat & bewonder het,
Of Sokrates, wat
bemin het & geamuseerd was:
Verlaine sit sy
pion neer op ’n blaar
& sluit sy lang
oë, wat oneerlik was,
& sê “Rimbaud,
daar is net een ding om te doen:
Ons moet retoriek
vat & sy nek omdraai!...”
Rimbaud dink ernstig
na, skuif sy Koningin;
& vat homself
dan weg na Timboektoe
& Verlaine
dood, – met al sy jaspis & ligperse;
& Rimbaud dood
in Marseilles met ’n visie,
Sy been geamputeer,
soos eens vantevore sy hart;
& alles
gerapporteer deur ’n latere lakei,
Wie se deug sy laksheid
met tyd was.
Laat ons die aand
beskryf soos dit is: –
Die sterre geneë in
die hemel soos hulle is:
Verlaine &
Shakespeare verrot, waar hulle vrot,
Rimbaud onthou,
& te gou al weer vergeet;
Orde in alle dinge,
logika in die donker;
Orde in die
atoom & die vonk;
Tyd in die hart
& volgorde in die brein –
Hulle wat Rimbaud
vernietig & Verlaine bedrieg het.
& laat ons
godheid aan die nek beetkry –
En dit verwurg,
& daarmee saam, retoriek.
[Vertaal deur Johann de Lange]