Friday, April 16, 2010

Pablo Neruda - Ode aan die ui

Pablo Neruda



Ui,
skynende kruik,
blaar op blaar
rond jou skoonheid uit,
skubbe van kristal verbrei jou
en in die geheime, donker aarde
swel jou buik van dou.
Onder die aarde
het die wonder gebeur
en toe jou stywe groen steel
verskyn
en jou blare ontluik
soos swaarde uit die grond,
het die aarde sy mag versamel
in jou naakte deursigtigheid,
en soos in Aphrodite die verre see
die magnolia verdubbel het
in die beuring van haar borste,
het die aarde
jou gevorm, ui,
helder soos ’n planeet,
en bestem
om te skitter
op
die tafel
van die armes.

Milddadig
maak jy
jou sfeer van varsheid los
in die hete
volvoering van die pot,
en die kristalrepie
in die gloed van die olie
word ’n gekrulde goue veer.

Ook onthou ek hoe jou invloed
die liefde van die slaai fekundeer,
en dit lyk asof die lug meedoen
om jou tot haelsteentjies
te transformeer waar jou gesnipperde klaarte
die halfronde van die tamatie bedek.
Maar binne bereik
van die hande van die volk,
begiet met olie,
besprinkel
met ’n bietjie sout,
demp jy die honger
van die arbeider op die harde weg.
Ster van die armes,
fee-peetmoeder
omvou
in delikate
papier, kom jy uit die grond,
ewig, heel, suiwer
soos sterresaad,
en wanneer die kombuismes
in jou insny,
styg die enigste traan
wat nie van smart is nie.

Jy laat ons huil sonder om ons te bedroef.
Ek het alles gevier, ui,
maar vir my is jy
skoner as ’n voël
met verblindende vere,
jy is vir my oë:
hemelse sfeer, kelk van platinum,
roerlose dans
van die sneeublank windblom
en die geur van die aarde
leef in jou kristalklare aard.

[Vertaal deur Sheila Cussons]


“Ode aan die ui” sou in Padkos, die Afrikaanse Skrywersgilde se jaarblad onder redaksie van Jan Rabie, verskyn het. Weens ’n gebrek aan geld het dit egter nie gebeur nie. Die gedig is vir die eerste keer gepubliseer in Ensovoort, Jg. 5, Nr. 2 – Desember 1985. Die oorspronklike gedig, “Oda a la cebolla:, het in Pablo Neruda se Odas elementales (Buenos Aires: Losada, 1954) verskyn.