Vandeesweek, op soek na 'n knipsel op versoek van 'n vriend, haal ek die groot plakboek uit waarin ek gedurende die tagtigerjare alle knipsels, boekresensies, artikels ensomeer geplak het.
En op die ingewing van die oomblik besluit ek om van die foto's by die koerantberigte met my selfoon af te neem, bietjie te manipuleer om hulle duideliker te maak. Hier is die resultate:
Dié het verskyn by 'n berig in The Pretoria News van 10 Augustus 1987 toe ek derde prys ontvang het in 'n internasionale poësiekompetisie gereël deur die Kanariese eilande & UNESCO. In my hand hou ek die brief waarin ek van my derde plek in kennis gestel is. In dié tyd het ek gewerk as salarisklerk by Van Schaik boekhandel in Kerkstraat, Pretoria, vandaar die hemp & das.
Van hierdie foto kan ek nie veel onthou nie, behalwe dat dit by my woonstel geneem is & dat die joernalis daarop aangedring het dat hulle 'n foto van die peinsende digter wil hê. Ek was nie geneë om dit te doen nie. Koerante wou altyd 'n foto hê van òf hierdie pose, òf een waarin jy 'n boek vashou. Die rekwisiete van jou bedryf. Ek dink ek het daarin geslaag om my wrewel te verskans, & het stilweg gesweer dis die laaste keer wat ek dit doen. En dit was.
Hierdie foto is geneem in Sunnyside, in my tyd as kassier by Volkskas bank in Esselenstraat, met die verskyning van my tweede bundel Waterwoestyn in 1984. Die baadjie & das... bankklere.
Hierdie foto het 'n interessante storie. Die vorige aand het ek saam met 'n str8 pêl van my gaan drink. Ek drink nie eintlik nie, maar wou die ervaring hê van dronk-wees, nie net effens nie, maar totaal en al besope. Ek & my vriend het mekaar onder die spreekwoordelike tafel probeer in drink. Die ervaring was vreemd, die gevoel van nie in beheer wees van jou bewegings nie. Maar ek onthou dat my kop helder was, dat ek bewus was van die studente in die kroeg wat ons dopgehou het, & dat ek aan die einde van die aand besluit my vriend is te dronk om te bestuur & dat ek hom sal huis toe vat, in Silverton, 'n paar huise van waar Wilma Stockenström-hulle gewoon het, & dat sy vriendin my sal terugvat tot by my kar.
Die volgende oggend was verskriklik, ek het die volle effek van die hangover ervaar, & ook dié van alkoholvergiftiging. Ek moes na 'n dokter gaan vir 'n inspuiting. Dit was die eerste & enigste keer wat ek dronk was, & ek kon nie verstaan waarom jy jouself aand vir aand, of naweek vir naweek aan soiets sou wou blootstel nie.
Toe ek van die dokter terugkom, het daar 'n onderhoud met Koos Prinsloo voorgelê, iets wat gereël was lank voor my onberade eksperiment met alkohol, & kon nie uitgestel word nie. Koos & fotograaf was op pad. So, waarna julle hier kyk, is my in gesprek met Koos by my woonstel in die middestad, twee blokke van Kerkplein, met die nagevolge van die vorige aand heel sigbaar (vir my altans).
Van hierdie foto kan ek nie veel onthou nie, behalwe dat dit geneem is in die tyd toe ek in Sunnyside, Pretoria gebly het. Dit is die ander 'pose' waarvan ek gepraat het, die een met die boek in die hand. Vir 'n verskil was die resultaat nie te onaardig & selfbewus nie.
Hierdie drie foto's is van 'n berig wat verskyn het in The Pretoria News. Met die deurgaan van die knipsels het dit my nogal opgeval hoeveel van die berigte in die Engelse pers verskyn het, iets wat vandag 'n rariteit is. Afrikaanse skrywers wat in o.a. in Engels vertaal is, sal vandag nog die Engelse pers haal, maar Afrikaanse digters, verál jóng Afrikaanse digters (want ek was nog maar 'n beginner) - not so much.
Geneem tydens die bekendstelling van o.a. SA Literature 1981, in Pretoria. Ek & prof. Louis Eksteen is opgekommandeer om met die boeke te poseer. Hy was 'n gawe man, & ek was baie afgunstig op sy taalkennis. Waarom die baard? Sou nie kon sê nie. Ek wou waarskynlik 'n ander soort ou aantrek ;-)
Hierdie foto is geneem tydens die een of ander literêre geleentheid, dalk iets gereël deur die RGN, want as ek reg onthou het Johann L Marais op daardie stadium by die RGN gewerk. By ons is sy vrou Reneé. Ons was al drie wonderlik skraal - kyk net Johann L se skraal arms, dun nek & Reneé se fietse figuur. Die foto het die onnatuurlike spontaneïteit wat ontstaan wanneer jy besig was om te gesels & toe van 'n fotograaf bewus geraak het & probeer het om dit te ignoreer. Werk nooit nie.
Daar is ook 'n storie aan hierdie foto verbonde. Ek & die jong Theunis Engelbrecht (hier nog op skool in Bethlehem, in die Vrystaat) het gay gedigte voorgelê aan die literêre tydskrif Standpunte, dié plek om gepubliseer te word as jong digter. Dit het verskyn in Standpunte 163 & het 'n storm ontketen waarop nie een van ons bedag was nie. Kort ná die verskyning van die gedigte verskyn daar in Beeld 'n berig "Gedigte vir mans - déúr mans!" In die berig het digter Wessel Pretorius die gedigte aan die groot klok gaan hang & ons twee in die kalklig gestoot. Dit het gely tot allerlei verspotte verduidelikings oor wie die sprekers in die gedigte was, dat dit vroulike sprekers kon wees etc, beledigings is oor en weer geslinger (meestal tussen my & Wessel), totdat Stephan Bouwer in 'n stadium ingetree het & dit stopgesit het.
Maar die aap was uit die mou. In daardie stadium was beide ek & Theunis in die kas & nie gereed om eers teenoor onsself te erken dat ons gay was nie, wat nog te sê die publiek, ons familie, my werkgewers, sy ouers, mede-skoliere. Dit is moeilik om vandag vir jongmense wat grootgeword het binne 'n konteks waar die openbare aanvaarding van gay seksualiteit 'n gegewe is, te verduidelik hoe dit in die Tagtigs was.
Wat dié insident wél gedoen het, is om my moer te strip & te laat besluit om in my skryfwerk op gay seksualiteit te fokus, & om dit so ver as moontlik oop te skryf. Dit was nie maklik om uitgewers te kry wat in gay digkuns belang sou stel nie, so my eerste twee bundels was vaag oor die geslagte van sprekers en aangesprokenes, maar gaandeweg het ek verder en verder kon gaan. Ek het nooit enige probleme of teenkanting gehad van H&R nie, dit moet ek Koos Human & Kerneels Breytenbach ter ere toegee.
Die twee geleenthede wat ek met Tafelberg sou saamwerk, het beide skipbreuk gely oor, m.i., 'n kultuur van benepenheid by die uitgewery & die uitgewer. Ek het uiteindelik beide boeke van Tafelberg weggevat. My bundel Nagsweet het in 1991 by Taurus verskyn, & die bloemlesing met erotiese gedigte wat ek & Antjie Krog saamgestel het, Die dye trek die dye aan, het in 1998 by H&R verskyn. Dis in sulke tye van krisis wat mens jou uitgewer werklik leer ken.
© Johann de Lange