Tuesday, November 22, 2016

Johan van Wyk, Drie onderdrukte verse


XLV

eers onsekerheid: ag nee man dit kan nie so wees nie

later luister jy met woede na die liegstories oor die radio
lees jy die liegstories in die koerante
word jy verbluf deur toesprake

die woede
laat jou te vinnig begin breek
aan jouself en hulle

jy breek met opregtheid
hulle arresteer jou in die middel
van ‘n lesing

hulle martel jou vir 180 dae sonder verhoor
hulle beveel jou om van die 10de verdieping te spring
van jou vriende gly in die stort en sterf
party bly naamloos

dankie dat dit op hierdie manier moet gebeur
so behou ons opregtheid
so sal ons onthou word

nie soos hulle ons bekend gemaak het nie

*

XLVI

Teen die tonnellig
vlug silhoeëte droewig
met sakke en tasse oor die treinspoor
– gedoemdes voor

‘n wit skare. Bevestigings van hulle menswees
verban verbrand, hulle is gedoem
om met minder as ‘n mens tevrede te wees
ek bevestig hulle. Met my toedoen

word die rewolusie bevorder, roep
hulle vir regte. Soos David
word ek gevang gesnoer.
Soos Marat, vermoor in badwater

met my wit vel soos melaatsheid sweer ek trou
om die gedoemdes van hulle ellende te bevry
ek verkondig ek is ‘n sosialis
ek sing dit. Afrika hulle mag my

van jou wegstuur maar my gees
sal bly ons
sal oorwin. Wees
vry van wraak

wat ‘n siekte is
soos my vel behandel
hulle wat julle beledig het goed
hulle het geen slaapplek nie.

*

XLIX

na gedigte van agostinho nato

wie maak die witman ryk?
boss boy

die boss boy slaap met luise in die kampong
sy vrou se heupe beweeg op ‘n karos
in die stroois,

hy byt moederaarde daagliks
reg in die hart
met bore wat teen sy hart stamp

sy een oom is ‘n waiter
sy ander oom ‘n plaasarbeider
sy ander oom ‘n driver
wie maak die witman ryk?

hy wonder of hy messe en vurke moet koop om mee te eet
die kinders speel met ‘n sakbal

die kinders van baie pa’s

wie maak die witman ryk?
wie gee die witman ‘n swanger maag,
‘n kar, ‘n huis, messe, vurke
en kos vir die honde en die asblik

(Uit: Deur die oog van die luiperd Johan van Wyk)


Hierdie drie verse is uit die gepubliseerde bundel weggelaat as gevolg van sensuur, & vrees vir die reperkussies wat die publikasie daarvan kon hê: op sy minste 'n verbod op die boek of, op sy ergste vervolging van die digter en/of uitgewer.

Dis moeilik om te glo dat hierdie verse die Nasionale Party bedreig het, maar die harnas van die onderdrukker is onverwags broos, die nerf dun. Dit was ‘n ander tyd, een wat die jong skrywers van vandag eers nóú, met wat om ons gebeur, begin verstaan. Dis moeilik om 'n verskil tussen die NP & die ANC te sien 22 jaar later.