Saturday, January 25, 2014

T. S. Eliot - Die reis van die wyse manne

Leonaert Bramer, Die reis van die wyse manne na Bethlehem


Die reis van die wyse manne
T. S.  Eliot

“Ons het 'n koue oortog gehad,
absoluut die slegste tyd van die jaar
vir die reis, en boonop so 'n lang reis:
die paaie was diep slote & die weer onguur,
in die hart van die winter.”
En die kamele bliknêrs, hoefseer, balhorig,
gaan lê in die smeltende sneeu.
Daar was tye dat ons berou had
oor somerpaleise teen die heuwels, die terrasse,
& die jongmeisies in sy wat suikerbier bedien.
Dan die kameeldrywers wat swets en mor
en dros, en hulle drank en vrouens mis,
en die kampvure wat doodwaai, en die gebrek aan skuiling,
en die stede vyandig en die dorpe stuurs
en die gehuggies vuil en onbehoorlik duur:
ons het 'n moeilike tyd gehad.
Uiteindelik het ons verkies om deur die nag te trek,
net vir kort tye te dut,
met die stemme wat altoos in ons ore sing, en sê
dat dit als sotheid was.

Met dagbreek het ons afgedaal in 'n gematigde vallei,
nat, onder die sneeulyn, met die geur van plantegroei;
met 'n lopende stroom en 'n watermeul wat klots in die donker,
en drie bome teen 'n lae lug,
en 'n ou wit perd wat weggallop in die weiveld.
Toe kom ons af op 'n herberg met druiweblare oor die kroonlys,
ses handlangers wat voor 'n oop deur sit en dobbel vir silwerstukke,
en voete wat die leë wynsakke skop,
maar kan geen aanwysings kry nie, en dus trek ons verder
en bereik teen donker, en nie 'n oomblik te vroeg nie,
ons bestemming; dit was (mens kan seker sê) aanneemlik.

Dit was alles baie lank gelede, onthou ek,
en ek sal dit weer doen, maar skryf neer
skryf dit neer
dít: is ons al daardie pad gelei
vir Geboorte of Dood? Daar was 'n Geboorte, sonder twyfel,
ons het bewyse gehad en geen twyfel. Ek het al geboorte en dood aanskou,
maar altyd gedink hulle was verskillend; hierdie Geboorte was
swaar en bitter pynlik vir ons, soos Dood, ons Dood,
ons het na ons lande teruggekeer, hierdie Koninkryke,
maar voel nie langer tuis nie, in die ou bedeling,
met 'n vreemde volk wat aan hulle gode vasklou.
Ek sou 'n ander soort dood verwelkom.

[Vertaal deur Johann de Lange]

Wednesday, January 22, 2014

T. S. Eliot - Die minnesang van Sint Sebastiaan

Sint Sebastiaan, Rubens

Die minnesang van Sint Sebastiaan
T. S. Eliot

Ek sal kom in 'n hemp van hare
Ek sal kom met 'n lamp in die nag
En sit aan die voet van jou trappe;
Ek sal myself kasty tot ek bloei,
En na uur op uur van gebed
En geseling en genot
Tot my bloed die lamp omgewe
En glinster in die lig;
Ek sal opstaan jou neofiet
En die lig uitblus
Om te volg waar jy lei,
Te volg waar jou voete wit
Skyn in die donker na jou bed
En waar jou japon wit is
En teen jou japon jou gevlegte hare.
Dan sal jy my inneem
Omdat ek weersinwekkend vir jou is
Jy sal my inneem sonder skaamte
Want ek sal dood wees
En wanneer die oggend daag
Sal my kop tussen jou borste rus.

Ek sal kom met 'n handdoek in my hand
En jou kop af tot onder my knieë buig;
Jou ore krul terug op 'n sekere manier
Soos niemand anders s’n ter wêreld.
As die ganse wêreld wegsmelt in die son,
Smelt of vries,
Sal ek onthou hoe jou ore gekartel was.
Ek sal vir 'n oomblik huiwer
En die kurwe met my vinger volg
En jou kop onderkant my knieë –
Ek dink dat jy uiteindelik sal verstaan.
Daar sal niks bly om te sê.
Jy sal my bemin omdat ek jou moes verwurg
En om my berugtheid;
En ek sal jou nog méér bemin omdat ek jou moes vermink
En omdat jy vir niemand langer mooi is nie
Behalwe vir my.

[Vertaal deur Johann de Lange]

Yukio Mishima as Sint Sebastiaan

Tuesday, January 21, 2014

T. S. Eliot - Die Minnesang van J. Alfred Prufrok



Die Minnesang van J. Alfred Prufrok

S’io credesse che mia risposta fosse
A persona che mai tornasse al mondo,
Questa fiamma staria senza piu scosse.
Ma perciocche giammai di questo fondo
Non torno vivo alcun, s’i’odo il vero,
Senza tema d’infamia ti rispondo.[1]

 Inferno XXVII, 61 – 66

Kom laat ons uitstap, ek en jy
Terwyl die vroegaand uitgestrek lê teen die lug
Soos ‘n pasiënt verdoof op die operasietafel;
Laat ons uitstap, deur sekere halfverlate strate,
Die mompelende toevlug                                                 5
Van rustelose nagte in goedkoop oornag-motelle
En saagselvloer-restourante met oesterskulpe:
Strate wat aandrentel soos ’n seurderige argument
Met verraderlike bedoelings
En jou voorgaan tot by die oorrompelende vraag…    10
Moet net nie vra nie: “Wat is dit?”
Laat ons gaan besoek aflê.

Die vroue kom en gaan in die vertrek
En voer oor Michelangelo gesprek.

Die geel mis wat sy rug skuur teen die vensterglas      15
Die geel rook wat sy snorbaard skuur teen die vensterglas
Het sy tong in die uithoeke van die aand ingelek,
Getalm bo poele wat oor riole opdam,
Het op sy rug laat val die roet wat van skoorstene stuif,
Verby ’n terras geglip, meteens opgespring,                   20
En toe hy sien dit was ‘n knus Oktobernag
Een keer om die huis gekrul, en ingeslaap.

En inderdaad sal daar tyd wees
Vir die geel rook wat straatlangs gly,
En sy rug skuur teen vensterglas;                                     25
Daar sal tyd wees, daar sal tyd wees
Om ’n gesig gereed te hê vir die gesigte wat jou teenkom;
Daar sal tyd wees om te moor en te skep
En tyd vir al die werke en dae van hande
Wat lig en ‘n vraag op jou bord laat val;                            30
Tyd vir jou en tyd vir my,
En tyd nog vir ‘n honderd weifelings,
En vir ‘n honderd sienings en hersienings,
Voor dit tyd is vir roosterbrood en tee.

Die vroue kom en gaan in die vertrek                                35
En voer oor Michelangelo gesprek.

En inderdaad sal daar tyd wees
Om te wonder: “Durf ek?” en: “Durf ek?”
Tyd om terug te draai en die trappe af te klim,
Met ’n kaal kol in die middel van my kop –                        40
(Hulle sal sê: “Sy hare raak nou regtig dun!”)
My oggendjas, my kraag styf opgeknoop tot onder my ken,
My strikdas duur dog beskeie, maar laat geld deur ‘n eenvoudige speld –
(Hulle sal sê: “Maar hoe dun is sy arms en bene dan!”)
Durf ek                                                                                      45
Die heelal steur?
In ’n minuut is daar tyd genoeg
Vir besluite en besinnings wat in ‘n minuut weer om kan keer.

Want ek het hulle almal reeds geken, die hele spul: –
Die aande, oggende, middae,                                               50
Ek het my lewe uitgemeet met koffielepels;
Ek ken die stemme wat wegsterf met die sterwende herfs
Onder die musiek wat opklink uit ‘n veraf vertrek.
So hoe kan ek my aanstel?

En ek het alreeds die oë geken, almal van hulle –          55
Die oë wat jou vaspen met ’n geformuleerde frase,
En wanneer ek geformuleer is, en uitgestrek lê onder ‘n speld,
Wanneer ek vasgespeld en spartelend wriemel teen ’n muur,
Hoe sal ek dan begin
Om al die stompies van my dae & grille uit te spoeg?     60
     En hoe kan ek my aanstel?

En ek het alreeds die arms geken, elke iedereen –
Arms wat omarmband is en wit en naak
(maar in die lamplig, donsig met ligbruin haartjies!)
Is dit parfuum van ’n rok                                                       65
Wat my so laat afdwaal?
Arms wat uitgestrek lê op ’n tafel, of gedraai is om ’n sjaal.
     En hoe kan ek my aanstel?
     En hoe sal ek begin?

Sal ek sê, ek het teen skemer deur smal strate geloop       70
En gekyk na die rook wat opstyg uit die pype
Van eensame mans in hempsmoue, wat by vensters uitleun …?

Ek behoort te wees: twee knoesterige knypers
Wat skarrel oor die bodems van stil oseane.
. . . . .

En die middag, die nanag, slaap so rustig.                            75
Gesus deur lang vingers,
Slapend … moeg … of dit is skynsiek,
Uitgestrek op die vloer, hier neffens jou en my.
Sou ek, na tee en koekies en waterys,
Die krag hê om die oomblik tot sy krisis te dwing?              80
En hoewel ek gehuil en gevas het, gehuil en gebid het,
Hoewel ek my kop (al effens bles) sien ingedra word op ’n skinkbord,
Is ek geen profeet – en dis van geen groot belang nie;
Ek het die oomblik van my grootsheid sien flikker,
Ek het die ewige Lakei my jas sien uithou, en giggel,              85
En om kort te gaan, ek was beangs.

En sou dit die moeite werd wees, na dit als,
Na die koppies, die marmelade, die tee,
Tussen die porselein, tussen gesprekke oor jou en my,
Sou dit die moeite werd wees                                                         90
Om die aangeleentheid af te byt met ’n glimlag,
Om die heelal saam te pers in ’n bal
Wat jy rol in die rigting van die een of ander oorweldigende vraag,
Om te sê: “Ek is Lasarus, wat teruggekeer het uit die dood,
Teruggekeer het om julle te vertel, ek sal julle almal vertel” –     95
As een, terwyl sy ’n kussing reg skik onder haar kop,
Sou sê: “Dis glad nie wat ek bedoel het nie.
Jy het dit heeltemal mis.”

En sou dit die moeite werd wees, na dit als,
Sou dit die moeite werd wees,                                                            100
Na die sonsondergange en die agterplase en die besprinkelde strate,
Na die romans, na die teekoppies, na die rompe wat oor die vloer sleep –
En dié, en soveel meer? –
Dis onmoontlik om te sê presies wat ek bedoel!
Maar byna soos ‘n toorlantern wat die senuwees in patrone op die skerm gooi:
Sou dit die moeite werd wees
As een, wat ‘n kussing skik of ‘n sjaal afgooi,
En na die venster draai, sou sê:
    “Jy het dit heeltemal mis.
Dis glad nie wat ek bedoel het nie.”                                                   110
. . . . .

Nee! Ek is geen prins Hamlet, wou nooit een wees;
Net ’n ondergeskikte heer, een wat sal deug
Om ’n vooruitgang aan te help, ‘n debakel of twee te begin,
Die prins te adviseer; sonder twyfel bruikbaar,
Onderdanig, bly om van nut te wees,                                                  115
polities, versigtig, en deeglik; 
Breedsprakig, maar ietwat stoets;
By tye, inderdaad, belaglik –
Byna, soms, die Dwaas.

Ek word oud … Ek word oud …                                                              120
Ek gaan die some van my broekspype omslaan.

Sal ek my hare middelpaadjie kam? Durf ek ‘n perske eet?
Ek sal wit flenniebroeke dra, en op die strand gaan stap.
Ek het die meerminne hoor sing, elk vir die ander.

Ek dink nie hulle sal vir my sing nie.                                                    125

Ek het hulle see-in sien ry op die golwe
Terwyl hulle die see se wit teruggewaaide hare kam
As die wind die water wit en swart waai.

Ons het getalm in kamers van die see
By see-meisies gekroon met seewier rooi en bruin                             130
Tot mensestemme ons wakker maak, en ons verdrink.


[1] Volgens Jough Dempsey is Guido da Montefeltro aan die woord, 'n vals raadgewer in die gedaante van 'n vlam. Hy praat met Dante wat die Hel betree het. Die reëls word soos volg in Engels vertaal: "If I thought my answer were given / to anyone who would ever return to the world, / this flame would stand still without moving any further. / But since never from this abyss / has anyone ever returned alive, if what I hear is true, / without fear of infamy I answer you" (Ferguson: 1230).

(Vertaal deur Johann de Lange, 2003)