Friday, November 14, 2014

R.I.P. Charles Fryer (1946 - 2014)



Rooiwielwa

‘n liedjie op pad Hantam toe

Ek gaan saam met die rooiwielwa
wat my terug na my hartland dra;
deur die nag vol maan alleen,
oor die swartbosvlakte heen.

Ek sal terug met die grootpad gaan,
óór die berg wat donker staan;
van julle sal ek niks meer vra,
ek gaan saam met die rooiwielwa.

© Charles Fryer

*

Oulaas

Dis oulaas stap, Pa:
jy in die middel en ons,
stram in kispakke,
maar regop, jóú seuns,
elk aan ’n handvatsel.

Dis half swaar, Pa.

Ons is gewoond saamstap
en die suidewind
is bitterbos en reën.

Voor die kampie op die bult
wag die volk
om vir Pa te sing,
hul gesigte dobberend in die middagson.

Pa het dié tyd
altyd
’n bietjie gaan skuinslê.

Calvinia, 1970

© Charles Fryer

*

Eiening

(Polisie-lykhuis, Soutrivier)

Nadoods nóg ’n maal geskend
lê jy op ’n lang, smal bed
agter ’n vierkant ruit –
die groen laken ’n mus
om jou gesiggie getuit:
’n first love-pop kon jy wees,
in ’n kinderspel vergeet,
maar jou neusie is myne
en die spoor uit jou mondjie bloed.

O, bietjie-kind van my lende,
op die harde, groen bed:
dit drup, drup van die vlym wat sny;
hoe suis jou stilte nou vir altyd in my.

© Charles Fryer

Monday, July 28, 2014

Bedreiging van die siekes



Bedreiging van die siekes
vir Brett Goldin and Richard Bloom

met dié gedig vervel die voriges

I
dames & here
vergun my om u voor te stel
aan die Groot Voëlverskrikker
die waaghals van ’n paar duisend blow jobs
wat reikhalsend van piskrip tot piskrip oor cumshots geskaats het
wat die dagbreek van tallose voorvelle sien oopskuif het
oorlewende van vriende & ’n 100 bloedtoetse & traumas

nou teruggekruip in sy dop
verskrik deur die volheid van elke oomblik
seer bewus van die broos nerf van menswees
bevrees vir die polsslag wat ’n aanraking laat taptoe in sy keel
hy bestaan net aanlyn in kopskote & videogrepe
hy begeer & word begeer op sosiale netwerke
deur ander nog meer ontliggaam as hy
’n harpy in die pretpark van herinnerings
’n boeteling sonder knieë aan die voete van sy god

& steeds duur die marteling, moord & selfmoord
van mans & seuns voort
wat geografies buite weste van die liefde lê
minnaars wat wurg
aan die lang koord van die wellus
ons soog blind aan die bitter tiet van Afrika
van beloftes aangeteken op papier
ons vat daagliks ons cocktails
& vergeet van die babas & swart lesbene wat verkrag word
ons vergeet van Brett & Richard in net hulle sokkies & vrees
ons loop verby die onteerde lykies in die sandveld
ons loop kerk toe verby die jongman
met die verkoolde fallus tussen die riete
ons troues is travestieë van die strukture wat ons gebaar & verwerp het,
ons ruil ringe & virusse uit & vier fees
& voel ons veilig binne die wering van papier
ons reënboog is so wyd soos ’n grondwet se ongenade

o, breyten, nie een van ons is veilig
solank álmal nie veilig is nie
solank die doodstraf opgelê word aan die liefde
solank genade uit is op parool
ek is ’n uitbaljaarde minnaar
met steeds ’n oog vir ’n mooi woordjie
wat van tyd tot tyd nog mooi broodjies bak
maar die tyd daarvoor is lank reeds verby
solank daar verkrag & gemoor & gemoer word
is niemand van ons veilig nie
ons het almal die liefde onder lede
tot sterwens toe


II
Afrika waar die vreemde liefde nog die doodstraf kry
Afrika waar ’n kampvegter in Uganda doodgeslaan is met ’n hamer
Afrika van moetie-moorde, die soetvleisies & balletjies fyngemaal vir fyngelowige byproewers
Afrika waar ons nog geslaan, aangerand & verkrag word
Afrika waar die regering sulke wreedhede & moord sanksioneer
Afrika waar enigiemand wat dit waag om te kritiseer eenvoudig verdwyn
Afrika van Noxolo Nogwaza gestenig & gesteek in ’n kroeg in KwaThema
Afrika van Zoliswa Nkonyana gestenig in Kaapstad omdat sy ’n tomboy was
Afrika van die korrektiewe verkragtings om lesbene op die regte pad te help
Afrika van troukoeke & ruikers & tot-die-dood-ons-skei
Afrika van gay huwelike, klere, grimering & honeymoons & grimas
Afrika van Distrik Ses waar die moffies veilig was in drag
Afrika van Camp David waar moffies in ’n vangwa gegooi
& deur die howe gesleep word, en hulle name sonder reg gepubliseer word,
wat verneder is & hulle werk verloor het
Afrika met een uit vyf gay kinders op skoolgronde aangerand of verkrag
Afrika van die nuwe diaspora, gay mans & vroue wat asiel soek in die vreemde
want in die townships is hulle steeds slagoffers van n apartheid & haat


Sunday, June 22, 2014

Hennie Aucamp - 8 vertalings van gedigte deur Oscar Wilde


Sonnet
Oscar Wilde

By die hoor van die Dies Irae in die Sistynse Kapel

Nee, Heer, nie só nie! Wit lelies in die lente,
droewe olyfboorde, of 'n silwerborsduif,
leer my duideliker van u lewe en liefde
as vlamverskrikking en donderweer.
Die purper druif bring meer herinneringe aan U:
'n voël teen die aand op pad na sy nes
vertel my van Een wat nêrens rusplek had:
ek dink dis van U dat die mossies sing.
Kom liewers op 'n najaarsmiddag
wanneer rooi en bruin hulle inbrand op die blare.
En die veld weerklink van die mossies se lied;
kom wanneer die skitterende volheid van die maan
afkyk op die rye goue gerwe,
en haal in U oes: ons het lank gewag.



Sonnet
Oscar Wilde

Geskryf in Heilige Week te Genoa

Ek dwaal in Scoglietto in die groen skuilplaas,
die lemoene op elke oorhangende tak
brand soos helder lampe van goud om die dag te beskaam;
'n veronruste voël met fladderende vlerke en snel van poot
versneeu al die bloeisels; aan my voete
lê die silwer mane van die bleek narsings:
en die kromnekgolwe wat die saffierblou baai bestryk
lag in die son, en die lewe lyk baie goed.

Buitekant gaan die jong seun-priester singend verby,
“Jesus die seun van Maria is dood,
O kom en vul sy graf met blomme.”
A, God! A, God! daardie kosbare Helleense ure
het alle herinnering aan U bitter pyn uitgewis,
Die Kruis, die Kroon, die Soldate, die Spies.


Impression du Matin
Oscar Wilde

Die Teemsrivier se blou en goud
gaan oor in 'n spel van grys:
'n bark met okerkleurige hooi
kom los van die kaai: en ysig en koud

kruip 'n geel newel oor
die brûe, tot die mure van die huise
soos skaduwees lyk en Sint Paul
soos 'n bel verrys oor die stad.

Dan skielik klink die geklaag
van ontwaking; die strate beroer
deur boerewaens: en 'n voël
vlieg na die glinsterende dakke en sing.

Maar een bleek vrou, gans alleen
met die daglig wat haar asvaal hare soen,
slenter onder die gaslamp-geflikker,
met lippe soos vlamme en 'n hart van steen.


 Les Silhouettes
Oscar Wilde

Die see is gevlek met stroke grys,
die dowwe dooie wind is vals,
en soos 'n verwelkte blaar skeer maan
sy pad oor die onstuimige baai.

Duidelik geëts op die beenwit sand
die swart boot: 'n seun-matroos
klim aan boord in onverstoorbare vreugde
met laggende gesig en glimmende hand.

En bo-oor alles die geskreeu van wulpe,
waar deur die gedempte hoogland-gras
die jong bruinkeel-maaiers gaan,
soos silhoeëtte teen die lig.


Santa Decca
Oscar Wilde

Die Gode is dood: nie langer bring ons
na die grysoog Pallas krone van olyf!
Demeter se kind kry nie langer tiendes van die gerwe nie
en teen die noen sing ongeërg die herders
want Pan is dood, en al die uitgelatenheid
by geheime kolle en skelm hoekies is verby:
Jong Hylas soek die waterbronne nie meer;
Groot Pan is dood, en Maria se seun is koning.

En tog – miskien in dié see-beswymde eiland,
kouend aan die bitter vrug van herinnering
lê 'n God versteek in die asfodel.
A, liefde! ás dit bestaan, sal dit gepas wees
om sy woede te ontvlug: nee, maar kyk,
die blare roer: laat ons 'n wyle wag.


Endumion
Oscar Wilde

(Vir Musiek)

Die appelboord hang swaar met goud,
en voëls is luid in Arkadiá,
die skaap lê blêrend in die kraal,
die wildebok glip oor die vlak,
net gister nog het hy vertel
hy kom verseker terug na my.
O styg nou maan! O dame skoon!
wees jy my lief se wagter,
jy moet erken jy ken hom goed
want hy’s geskoei in purper,
jy moet erken jy ken hom goed,
hy dra die mikstok van 'n wagter
en hy is sag soos welke duif,
en bruin gekrul sy hare.

Die tortel het nou opgehou
om haar persvoet-maat te roep,
die grys wolf pruil al om die stal,
die lelieliedjie sluimer
diep in die lelieklok en kyk
die donkerblou heuwels het versomber.
O verrese maan! O heilige maan!
Staan op die top van Helice,
en as jy dalk my liefling sien,
A! as jy sy purper skoene sien,
sy haselneut-staf, die bruin van sy hare,
die bokvel geplooi oor sy arm,
vertel hom dat ek hierso wag
waar rietlig glimmer op die plaas.

Die vallende dou is koud en skerp,
en voëlsang verstom in Arkadiá,
die bosgodjies het die heuwel verlaat,
selfs die moeë daffodil
het sy goue deure gesluit en steeds
kom my geliefde nie terug na my.
Vals maan! Vals maan! O kwynende maan!
Waar is my troue minnaar heen,
waar is die lippe vermiljoen,
die herderstaf, die purper skoen?
Waarom word die pawiljoen versilwer,
waarom die sluier van drywende mis?
A, u het die jong Endumion,
u het die lippe wat gekus moet word.


Die graf van Shelley
Oscar Wilde

Soos uitgebrande fakkels by 'n siekbed
staan skraal sipresse om die songebleikte steen;
hier maak die klein naguil haar troon
en wys die fyn salamander sy fluwelige kop.
En, waar die gekelkte papawers rooi opvlam,
in die stil kamer van gindse piramide
skuil sekerlik 'n Ou-Wêreld-Sfinks in duister,
grimmige wag by die geheime tuin van die dode.

A! goed inderdaad om te rus in baarmoeder
van Aarde, groot moeder van ewige slaap,
maar beter by verre vir u 'n rustelose graf
in die blou grot van weerklinkende dieptes,
of waar die hoë skepe stommel in die donker
bo die rotse van 'n golfgeteisterde afgrond.


Requiescat
Oscar Wilde

Tree liggies, sy is naby
onder die sneeu,
praat saggies, sy kan hoor
hoe die gousblom groei.

Haar blink goue hare
het met die jare verdof:
sy wat jonk en mooi was
het verpulwer tot stof.

Soos 'n lelie, wit soos sneeu,
het sy nouliks geweet
sy was 'n vrou,
so stil was haar gang.

Kisplank, suiwer steen,
lê op haar bors;
ek kasty slegs my hart:
hier rus sy nou.

Vrede, vrede, niks kan sy meer hoor nie,
lier of sonnet,
heel my lewe is hier begrawe,
hóóp grond daarop.