Saturday, December 7, 2013
Joan Hambidge - Vers vir Mandela
Vers vir Mandela
Joan Hambidge
Na ‘n ándersoortige Ceylon
verban verbruik verneder
na ‘n sel
met ‘n naam uitgekerf:
trotseer jy op Robbeneiland
die verblindende son.
Vreemdelinge vaar
van heinde en verre
per boot na daardie oord.
En jy het gewag
- ‘n vreeslose verbanning -.
Toe na ‘n ander ruimte
verstoot:
die Victor Verster
tot die groot V
van Vryheid
voor die alsiende oog
van soveel kameras,
wég van Verraad
die lang pad na Vergifnis:
‘n vredesteken,
V
soos lydsames,
verdoemdes,
askete voor jou
van insurgent tot held,
skuif verlede oor hede:
Nelson Mandela,
Rus in Vrede.
Friday, December 6, 2013
Nelson Mandela (1918 - 2013)
† Nelson Mandela (1918 - 2013)
I. Die Nelson Mandela Museum
’n Fooitjie gee jou toegang tot elke intieme feit:
hoe sy pa versukkeld sterf, hoe hy twee beeste steel
& stad toe vlug, betrokke raak by die stryd,
hoe hy, aangevuur deur reg & onreg, geld vir wapens reël.
Hy het leer boks & hom onwetend na vlees & gees voorberei
vir ballingskap, sy kort eerste liefde, lang tronkstraf,
sy kinders wat een-een sterf terwyl hy afgesonder bly,
& half blind onder ’n fel son moes kalksteen kap as straf.
Roem sou later volg, & eer & akkolades. Sonder eiegoed
verlang hy om weer onbevange kinderstemme te kan hoor.
Maar eers moes hy ’n volk leer hoe om vry te wees, die herout
word van ’n reënboognasie sonder boeie, pasboek of skout.
In die gestadige transformasie tot simbool verloor
hart & klip sy vuur, die branding wat hom voed.
II. Standaardtoer
In die hawe lê die seiljagte vasgemeer in visgraatsteek.
’n Veerboot vertrek elke twee uur stiptelik: ’n poskaartvaart
oor Tafelbaai voor die boeg die water na die eiland breek,
& die roete na die befaamde eilandtronk nátrek op ’n waterkaart.
Die toergids is deurwinter & raseg, ’n professionele oud-prisonier,
& die bustoer ’n gladde relaas oor die ou geskil van myn-&-dyn,
’n draai by die Museumwinkel waarbo die meeue gier,
& dan die kramat met klein groen koepel, die Moslem-skryn.
Maar die hoogtepunt blý die monnik-sel wat ’n monument sou word,
koud & kaal met net ’n opgerolde kombers & strooimat om op te slaap.
Deur die tralievenster het hy die maan wild teen sy anker sien stry
bo die kwarrie waar hy byna sonblind sy droom moes vry-
kap uit metamorfiese klip. Soos die melaatses het hy hier gekaap
ook die óngekaarte streke van die gees verken, ver & vry & búite port.
Boekeblad: Beeld / Die Burger
Subscribe to:
Posts (Atom)