William Matthews [Foto: Ted Rosenberg]
’n Aand by die opera
William Matthews
“Die tenoor’s te vet,” kla die mooi jong
vrou, “en die sopraan
vaal en oud.” Maar wat as Othello
nie swart is nie, of Rigoletto se boggel oorhel,
as lugtige Gilda en haar entourage
van vlees die tjello seksie oorstem?
In sprokies, het die prins ’n goeie hart,
en dus as ’n uiterlike en sigbare
teken van ’n innerlike, onsigbare grasie,
is sy gesig sonder plooie, en sy ledemate glad.
Ons tenoor hou in sy lewergevlekte
hande die sopraan se breë, stralende gesig.
Hulle gekombineerde ouderdom is 97; daar’s
spoeg in beide hoeke van haar mond;
’n aar in sy slape spartel soos ’n wurm.
Hulle gesigte is ’n voet van mekaar. Sy oë
rek wyd van vrees soos hy klim na die hoë
B-mol wat hy moet haal en hou vir vyf
vreeslike sekondes. En dan bly hulle in hul gestolde
omhelsing vir so lank as ons applous gee. Franco
Corelli het op ’n keer Birgit Nilsson se oor gebyt
in nét so ’n gala-omhelsing want
hy’t gevoel sy’t sy kalklig gesteel. Hulle kostuums weeg
vyftien pond stuk; hulle is gestowe in sweet
en ruik soos gistende swyne; hulle stemme styg
en strengel nie uit skoonheid nie, nóg uit die gebrek
daaraan, maar uit die hoop vir trefsekerheid
en passie, beide. Hulle moet die noot haal
én die emosie, beide, met die enkele skamel
pyl van die stem. Skoonheid is vir amateurs.
[UitL Search Party: Collected Poems. © Houghton Mifflin, 2004.]
[Vertaal deur Johann de Lange]