I
Die HAT definieer homonieme [Gr. homonymos gelyknamig < homo- + onema naam] as “woorde wat dieselfde klank- en spelvorm as ’n ander in dieselfde taal het, bv. graaf (om mee te spit) en graaf (edelman).”
Van hier kan mens die konsep breër toepas op poëtiese taalgebruik, & meer spesifiek sintaktiese homonimie: dié verskynsel sal dan verwys na dieselfde (aantal) woorde, maar wat in verskillende sintaktiese groeperinge vertolk word & dus verskillende betekenisse genereer.
Alhoewel sintaktiese homonimie nie onbekend is in die Afrikaanse poësie of die poësie in die algemeen nie, is dit T.T. Cloete wat hierdie stylgreep vir die eerste keer werklik intensief in sy poësie ontgin, & dit doen op ’n wyse wat dit een van die waarmerke van ’n tipiese Cloete-gedig gemaak het.
In sy uitstekende opstel “Kunstenaar en kunswerk: Spieëlbeeld?” (1978: 25-32, opgeneem in Skanse teen die tyd, ’n huldigingsbundel oorhandig aan W.E.G. Louw by geleentheid van sy vyf-en-sestigste verjaardag op 31 Mei 1978, skryf F.R. Gilfillan oor hierdie verskynsel in Sheila Cussons se ikoniese gedig ‘jackson pollock”.
In sy bespreking van ‘jackson pollock’ konsentreer Gilfillan op die volgende gedeelte in die gedig om sintaktiese homonimie te illustreer:
vinnig
van humeur
met vrouens
met verf
met motors
vinnig met sterf
op veertig.
(Cussons 1970:31)
Vir Gilfillan is Cussons se weglating van leestekens en spel met sintaktiese homonimie tekenend van Pollock se vitalisme:
Pollock was inderdaad ‘vinnig van humeur’, ‘vinnig met vrouens’, ‘vinnig met verf’, ‘vinnig van humeur met vrouens’, ‘vinnig van humeur met vrouens met verf’ – lg. 'n eksplisiete verwysing na sy vrou, die skilderes Lee Krasner... ‘vinnig met sterf/op veertig’ roep op sy beurt 'n herinnering op aan die dood van die skilder in 'n motorongeluk in 1956 – saam met twee meisies: ‘vinnig/met vrouens’!
Wat in hierdie gedig van Cussons gebeur kan skematies as volg voorgestel word, eerstens ’n reeks parallele sinskonstruksies:
vinnig/ van humeur
(vinnig/) met vrouens
(vinnig/) met verf
(vinnig/) met motors
vinnig met sterf/op veertig.
En dan kumulatief opgebou oor die afsonderlike versreëls:
vinnig / van humeur
vinnig / van humeur /met vrouens
vinnig / van humeur /met vrouens / met verf
Elkeen van die hierdie permutasies dra ’n addisionele betekenislading, bo-op die betekenislading van die vorige permutasie in wat mens ’n rekursiewe procedé kan noem:
“vinnig / van humeur” verwys na sy legendariese humeurigheid, sy opvlieënde geaardheid;
“vinnig / van humeur /met vrouens” suggereer dat sy relasie met vrouens problematies was;
“vinnig / van humeur /met vrouens / met verf”: hier moet die leser op hipotaktiese wyse twee frases rekonstrueer: “vinnig / van humeur”, wat verwys na sy ongeduld, & “vrouens / met verf” wat dan sou kon verwys na sy vrou Lee Krasner wat sélf ook skilder was (’n “vrou met verf”) & hulle stormagtige huwelik.
Waar die sintaktiese homonimie hier dus kumulatief & rekursief werk, met ander woorde as 'n reeks kort sinne of stellings wat ook as al langer & langer sinne gelees kan word, & waar sekere woorde op hipotaktiese wyse sommige maar nie ál die ander woorde in die frase modifieer nie – in sigself ’n redelik komplekse geval – is dit binne Cussons se oeuvre iets van ’n anomalie, & ’n tegniek wat sy nêrens weer só intensief ontgin nie. Haar oeuvre bevat feitlik geen verse wat as “eksperimenteel” beskou kan word nie.
II
By T. T. Cloete is die ontginning daarvan (miskien met die uitsondering van sy debuut Angelliera waar hy nog meer konvensionele interpunksie gebruik) meer gevarieerd & kompleks, maar ook meer selfbewus & méér uitgebreid 'n integrale deel van sy poëtiese “idiolek”. Dit word 'n troop, 'n stylfiguur waaraan mens ’n Cloete-vers kan herken, & het heel sigbaar & opvallend ’n invloed uitgoefen op poësie wat sedertdien geskryf is. Gesien saam met sy oplewing van rym, maak dit Cloete die belangrikste vernuwer sedert Breyten Breytenbach.
By Cloete word sintaktiese homonimie saam met tipografiese wit (in stede van leestekens wat nie sintaktiese homonimie sou toelaat nie) & die vindingryke aanwending van enjambement ingespan om maksimaal te kommunikeer, om as’t ware 'n surplus in betekenis te skep. Die verskillende lees-permutasies beteken dat dieselfde woorde verskillende betekenisinhoude oordra & verskillende interpretasies moontlik maak. Die resultaat is 'n beweeglike, soepel vers met 'n unieke sintaktiese ‘gevoel’ & 'n eiesoortige kompaktheid.
In sy eenvoudigste vorm “skarnier” twee sinne as’t ware rondom 'n woord of frase, & werk die tegniek 'n ekonomie van segging in die hand maar is nie dubbelsinnig nie & bring gevolglik nie noodwendig op semantiese vlak ekstra betekenis tot stand nie. Op meer komplekse vlak kan sintaktiese homonimie ten nouste verweef word met die wyse waarop die digter ánder opposisies in die gedig afsonderlik & tegelyk kan laat bestaan.
’n Gedig waarin Cloete sintaktiese homonimie egter in 'n skouspel van terug- & vorentoe lees gebruik, is “Skouspel":
vanaf die glansende dun horings en die gesig
puntig verfynd uit oor die lig geboë rug
tot in die stertkwassie spigtig
gelig af in die glasbreekbaar
dun bene pronk waaierhaar
die springbok nael met die speer
se vaart wip met die haarveer
se spanning hoepel
soepel
onder die leeu majesteitlik veilig
en gevrees pragtig
onder sy gewig
vouknakval
die springbok met ‘n klapknal
breek hy die bene en rug en maak prooi
van elegansie wat argeloos mooi
is lê en spartel
voor die gewelddadige mooi wat aanskoulik martel
(Cloete 1982:12)
Reëls 5-9 lewer onder meer die volgende lesings op:
(die springbok) / pronk waaierhaar
die springbok nael
die springbok nael met die speer / se vaart
(die springbok) wip met die haarveer / se spanning
Ook nog:
met die speer / se vaart wip met die haarveer
die speer / se vaart wip met die haarveer / se spanning
terwyl “hoepel/soepel” beide “die speer se vaart” as “die haarveer se spanning” kan kwalifiseer.
Reëls 12-17 uit dieselfde gedig lewer die volgende leesmoontlikhede:
onder (die leeu se) gewig / vouknakval / die springbok
onder (die leeu se) gewig / vouknakval die springbok met ‘n klapknal
(die leeu) breek ... die bene en rug
met ‘n klapknal / breek hy die bene en rug en maak prooi / van elegansie
(die leeu) maak prooi / van elegansie
met ‘n klapknal / breek hy die bene en rug en maak prooi / van elegansie
elegansie wat argeloos mooi is
(die springbok) lê en spartel
elegansie wat argeloos mooi / is lê en spartel
Cloete gebruik hier sintaktiese homonimie vernuftig om die konfrontasie tussen die springbok & die leeu voor te stel, hoe hulle in die jag, in die “vouknakval” onontwarbaar een word, hoe jagter & prooi in die gevaarlike skouspel móói is. Of soos N.P. van Wyk Louw ten slotte in sy gedig “Nog in my laaste woorde” skryf: “mooi is die lewe en die dood is mooi”.
Cloete se visuele ingesteldheid, die heen & weer verskuiwing van fokus, gekoppel met die sintaktiese homonimie skep ’n gelyktydigheid in die aksie; sekere aksies, sekere lyne/reëls eggo mekaar aanskoulik. Bring daarby ook sy gebruik van enjambement & die gedig kry ’n senuagtige energie wat die sig-sag beweeglikheid van die twee diere treffend oordra. Só vernuftig is al hierdie elemente ineengeweef dat die eindryme (wat in minder bedrewe hande baie eenselwig kan klink) kwalik registreer.
Nóg 'n voorbeeld kom uit die vers “modifikasie: má vlast”:
dit het begin met kos
'n gewone leë maag dis
die mens van honger verlos
en van dors begin 'n geskiedenis
(Cloete 1985: 93)
Verskeie leesmoontlikhede bestaan naas mekaar, byvoorbeeld:
dis / die mens
dis / die mens van honger verlos
dis / die mens van honger verlos / en van dors
van honger verlos / en van dors begin 'n geskiedenis
Telkens verskuif die fokus, met nuwe semantiese moontlikhede.
In die volgende aanhaling uit “Simbiose” buit Cloete die dubbele betekenis van “gas” uit deur dit nie net aan die einde van die versreël & in 'n rymposisie te plaas nie, maar ook deur sintaktiese homonimie:
die mond die voos plek
– selfs die son is gevlek –
is 'n ploffer vir die taal die gas
van die leeugeraamte se ribbekas
is die by
(Cloete 1982:25)
Ons kan die versreëls lees dat “die gas” wat uit die mond kom “'n ploffer (is) vir die taal”, maar ook dat die “leeugeraamte se ribbekas” 'n gas(heer) is vir die heuningby. Op dié wyse bring beide die mond as die ribbekas klank voort, met ander woorde deel van die skeppingsproses. ’n Vers waarin verskillende lesings & betekenisse as’t ware simbioties saambestaan.
’n Laaste voorbeeld is die eerste 4 reëls van “II mooi marilyn monroe foto in rooi”, ’n vers oor dié argetipiese silwerdoeklegende gebaseer op die ikoniese 1949 foto deur fotograaf Tom Kelly:
sy lê diagonaal
op ‘n plooi
op plooi fluweelrooi
kleed somaties geniaal
(Cloete 1986:52)
Die volgende lesings van die reëls is moontlik:
sy lê
sy lê diagonaal
sy lê diagonaal / op ‘n plooi
sy lê diagonaal / op ‘n plooi / op plooi
sy lê diagonaal / op ‘n (plooi / op plooi fluweelrooi)/ kleed somaties geniaal
sy lê diagonaal / (op ‘n plooi / op plooi fluweelrooi / kleed) somaties geniaal
sy lê somaties geniaal
Dit is interessant om hier te let op welke wyse Cloete ook rym gebruik om die diskursiewe & rekursiewe leesstrategie te onderskryf.
Bibliografie
T. T. Cloete. 1982. Jukstaposisie. Tafelberg
T. T. Cloete. 1985. Allotroop. Tafelberg
T.T. Cloete. 1986. Idiolek. Tafelberg
Sheila Cussons. 1970. Plektrum. Tafelberg
W.E.G. Louw. 1978. Skanse teen die tyd. Tafelberg