Saturday, April 23, 2011

Die huwelik van woord & beeld. 6. Jean-François Millet

Jean-François Millet, Die wanner (c.1847-1848)

Die wanner

Johann de Lange

na 'n swart-en-wit afdruk van Millet


In die donker voue van 'n growwe broek

rol en span sy boude, sy bene maak sekel
van inspanning
en in sy breë hande rem
die swaargelaaide mandjie
waarmee hy skommelend klein kringe maak
halfbewus van sy geslag agter die broeksflap,
donker en stomp en brutaal,
sodat die koring goudbruin uitsak op die vloer
en 'n fyn poeier in die sonlig draal
en die geur van grond opstuif in sy neus.
Met sy heupe dans hy die mandjie om
en om, sy lyf sterk gebrei,
wit hemp oop oor sy bors,
sy gesig berustend-geduldig,
sy gedagtes versluier deur die stof.
In inspanning is hy heeltemal tuis.

En wanneer hy klaar het en die mandjie

laat sak, tintel sy heupe van tamheid
en hy ruik na koring en sweet;
dan stap hy buitentoe onder die breë lug in,
en in sy stap is daar die ritme
van sekelswaai en wan en houtsaag.
Sy voete lig-wiegend proef die aarde
met elke tree. Hy stap in 'n landskap
wat hy soos 'n skemerende baadjie dra.


Uit: Johann de Lange. 1986. Snel grys fantoom. Human & Rousseau: Kaapstad.

Die huwelik van woord & beeld. 5. Vincent Van Gogh

Vincent Van Gogh, Die aartappeleters (1886)

Die aartappeleters
Johann de Lange

Bruin hande skoffel in die skaars olielig

na aartappels in die geel erdeskottel,
warm & skimmelbruin, om skoon te krap,
ontbering gekerf op elke knoetsige gesig,
werkers verwring deur die landskap;

hande wat die wit helftes raakvat,

die koperketeltjie in die lampkring kantel
& die greep van skoffelpik & graaf ken,
skurf van die grond & koue water.

Só verwe hy die skunnige aartappelmense

– selfverminkte een deur God vermink –
& klee in warm kleure elke kurwe
& skilder met deernis dié bruin kring
om ’n geelhouttafel byeengebring.

Uit: Johann de Lange. 2010. Judasoog. Human & Rousseau: Kaapstad.

Thursday, April 21, 2011

Die huwelik van woord & beeld. 4. Marilyn Monroe (TTC)

Marilyn Monroe. Photograph by Milton H. Greene


Marilyn Monroe foto in blou

T.T. Cloete

een jonge dame draagt haar lippen op haar mond

– Pierre Kemp

volskaamte skrylings sit Marilyn Monroe

in 'n volstrek
leë blou
ruim vertrek

die spanbroek van plooilose blou materiaal

is 'n vliesdun vel
wat alles wat binne is kaal
na buite egalig sag gestrek nerfeus vertel

asof dit by alles pas

– die kop hang geluidloos effens laggend agteroor –
hou sy 'n leë glas in die linkerhand vas
wie luister kan goed in die volstrekte stilte hoor
hoe skaamtegroot die lippige mond
oop lag pront
pruilend nat rooi rond
gewelf soos 'n gekoesterde soet kriewelige wond

vir die nakende detail in die bygesprek

– met 'n omweg kan bysake die aandag trek
op hoofsake – is slegs die een skoen uitgetrek
elke besonderheid is op sy plek

deur die volstrekte stilte heen hoor groot

praat die deurgefluisterde skoot
oop en bloot
nakont vlesig groot

wat gloei onder die vals-egte dubbele huid

juig deur alle lippe en wange uit
dat dit tuit dat dit tuit
uitjubelend gierig uitnodigend uit

vrouwees Simone de Beauvoir

is deur huid en deur haar
oop en openbaar
gekleed sigbaar

oog en oor laat hulle nie bedrieg nie

huid en haar weet nie van lieg nie



Uit: T.T. Cloete. 1980. Angelliera. Tafelberg Uitgewers: Kaapstad.

Die huwelik van woord & beeld. 3. Eduard Manet

Eduard Manet, Olympia, 1863

Olympia
Johann de Lange

na ’n skildery deur Eduard Manet

Vir wie se verbeelding lê jy
gerangskik, bevrugbare blom,
wawydwakker soos ’n morning glory?
Gekamoefleer met bril, jas
& notaboek, som ek jou naakte
bedekking op: vel, haarfluweel,
die mikjuweel onnodig bedek.
Jou kamerbediende presenteer
− selfbewus oor my teenwoordigheid? −
’n ruiker: die liefdesverklaring
van ’n jong bewonderaar
vir wie jy nou nie veel oë het nie.
Die kat begluur my git. Geel oë.
Sy stert staan jakopregop.

Jou blik het my klaar opgesom
vir wat ek is: geleentheidsvoyeur,
& jy voel gevlei, geamuseer.
Jy lê lig & koel, die sandale
soos bewonderaars aan jou voete,
’n arrogante roos in jou hare
& die hanger om jou hals
’n geskenk. Só lyk jy wêreldwys
& blasé, maar mý mislei jy nié:
vir wie se gerief
lê jy so gerieflik?


Uit: Johann de Lange. 2010. Judasoog. Human & Rousseau: Kaapstad.

Thursday, April 14, 2011

Die huwelik van woord & beeld: 2. Spaanse burgeroorlog, Teruel

Spaanse burgeroorlog, Teruel, 'n man dra 'n gewonde seun. 
Desember 1937 – Februarie 1938

Skerpskutters
Johann de Lange

Spaanse burgeroorlog, Teruel

Die gewonde seun skuil teen die vaderbors,
kyk weg oor die afgesakte skouer
na die smeulende siëstas van sy jeug,
rug gekeer op die snelvuur van die kamera-
man, om sy been ’n bebloede verband.

Teen sy pa se heup die smal perdeskoen
van sý heup, skraal boude ontbloot waar broek
& onderklere ru oopgeskeur is
om die wond, met ’n jong skadu waar hulle keep
om die ongeskonde klein liefdesvont.

Die vader kyk verby sy seun se kop,
die kamera noteer: donker stoppelbaard,
hare kort, baret, halfvol bandelier,
cigarillo in sy mondhoek vasgebyt, frons hy
sonder vrees of haat, sy liefde ’n pantser

teen ons vermetel skending van die kind,
’n skans teen dié intiemer skoot van een
wat deur ’n lens se loop na hulle mik:
al word liefde, soos pyn & dood, hier openbaar,
is ons al klaar ontwapen deur sy blik.

Uit: Johann de Lange. 2010. Judasoog. Human & Rousseau: Kaapstad.

Die huwelik van woord & beeld. 1. Douglas Simonson

Papaya eater, by Douglas Simonson

Papaja-eter
Johann de Lange

na ’n skildery van Douglas Simonson

Met sy klere afgeskil
sit hy kruisbeen terracotta-bruin
op ʼn persblou kussing. Die mes
neffens hom het vaneffe nog

die sagte ding gekloof,
die silwer steel in sy hand
die natswart pitte uitgelepel
& die salmpienk

binnevrug ontbloot.
Tussen jong dye naak, besny
– nóg vrug, nóg vlees –

bied hy hom aan, gestroop
van die jongste smaak,
sy lyf ʼn taai, pesige knoop.

Uit: Johann de Lange. 2010. Judasoog. Human & Rousseau: Kaapstad.

Tuesday, April 12, 2011

W. H. Auden - Stop al die horlosies

Yoshi, 25 Desember 2002 - 12 April 2011

Stop al die horlosies
W. H. Auden

Stop al die horlosies, diskonnekteer die foon,
maak stil die hond wat blaf met ‘n sappige been,
maak toe die klaviere & met gedempte trom
bring uit die kis, & laat die roubeklaers kom.

Laat vliegtuige oorhoofs suis & sirkel in hul nood
& teen die lug skryf die boodskap: Hy is dood,
sit ‘n papierstrik om die wit nek van elke openbare duif,
gee die verkeerspolisie swart handskoene om mee te wuif.

Hy was my Noord, my Suid, my Oos, my Wes,
my vol werksweek & my Sondagreses,
my middag, my middernág, my lied, my spraak;
ek dag liefde duur vir ewig, maar sy tyd het opgeraak.

Die sterre is nie meer nodig: doof iedereen uit;
pak weg die maan & breek af die son;
giet uit die oseaan & vee op die woud.
Want wat duursaam was, is nou klatergoud.

[Vertaal deur Johann de Lange]

Wednesday, April 6, 2011

Onpaar pare: Van die liefde wat vriendskap heet

Thomas Eakins, The Swimming Hole (1885)

I
Met die verskyning van Angeliera in 1980 het Opperman daarna verwys as “koningskos” & dis ’n uitspraak waarmee ek steeds akkoord gaan. Met elke bundel maak Cloete ’n kosbare bydrae tot ons poësie & die veelheid van die leeservaring. Hy is die grootste enkele vernuwer sedert Breytenbach & die spore van sy invloed is af te lees uit bundels wat sedert sy debuut deur ander digter gepubliseer is, digters soos Joan Hambidge, Tom Gouws, Johan Myburgh, Hein Viljoen, Lucas Malan, ekself, om maar ’n paar te noem.

Cloete is ’n digter opgeneem in ’n heilige nuuskierigheid oor alles aspekte van menswees & die kosmos, ’n kosmologiese digterskap sou mens ook kon sê, & heel gepas is die titel van sy jongste omvangryke bundel dan ook Onversadig, want op 86-jarige leeftyd is daar nog geen afname in sy honger na kennis en na nuwe ervarings, gewaarwordings & insigte nie.

Die bundeltitel is ’n heenwysing na Spreuke 27:20 wat lui: “Die doderyk en die plek van vertering word nie versadig nie; so word die oë van ‘n mens nie versadig nie.” Vir die nuuskierige leser is daar vele sleutels vir Cloete se verse te vinde in Prediker.

’n Belangrike sleutel tot Onversadig is te vinde in Idiolek, in die vers “’n minus maal ’n minus” waarin Cloete skryf:

hoe kan ek die onvermydelike ewige liefhê
as ek my die versadiging van die aarde ontsê

(p. 104)

Aangesien dit algaande duideliker blyk dat Cloete se bundels almal onderdele van ’n groot & grootse geheel uitmaak, iets verruklik & kompleks soos die Taj Mahal, kan die tema van versadiging & onversadigbaarheid met vrug regdeur sy oeuvre gevolg word.

Hoewel die erotiese ’n belangrike komponent in sy oeuvre is, het Cloete hom nie ruimskoots oor die “vreemde liefde” uitgelaat nie. Die naaste wat hy daaraan gekom het, is die volgende gedig uit Idiolek wat destyds ’n onuitwisbare indruk op my gemaak het:

Graaff se poel Seepunt

Homoseksuele mans lê agter
die halfmaanmuur poedelkaal
seekant, akkedisse wat in die son stil
met die pens en flanke asemhaal.

In die see om die rotspoele
dryf onrustige seebamboes
– hare om die vroulike derde oksel –
roer swart en kroes.

Die soms opstandige
manlike sagtheid smeul
druipend in die naakte son
’n bruingebakte papierige peul.

(1986: 24)

Die visuele speel in dié bundel, soos trouens in Cloete se ganse digterskap. In sy pasverskene bundel, Onversadig, word die visuele nogmaals vooropstel, van die openingsgedig oor die bekende blinde Helen Keller, tot die voorlaaste gedig (“hoop op hoop, laaste saampraat”) waarin die oë toegedruk word in ’n lang gekoesterde bestemming:

geen roofdier en geen leeu lê jou daar
voor nie op hierdie weg dreig geen gevaar
en onheil nie jy kan veilig reis soos jy begeer
van oos na wes van noord na suid en heen en weer

ons almal sal daardie einde haal
van blydskap sal ons gesigte straal
ellende smart gesug en pyn
sal ons oë toedruk en dan vir goed verdwyn

(2011: 190)

Dit is egter ’n vroeër gedig in die bundel wat vir my uitstaan: “van de liefde die vriendschap heet” (2011: 127), ’n titel wat na ’n vers van Albert Verwey verwys. Hierin skryf Cloete op roerende wyse oor 'n vriendskap oor 'n leeftyd met 'n vriend, 'n vriendskap met homoerotiese ondertone.

1
wanneer ’n wintermiddag helder was
het ons ’n boot gehuur

diep in die middel van die dorp se dam
het ons gaan wieg

die son se stand
’n ligte bries en sagte kilte
het die water fyn gerimpel
tot ’n vreemde purper kleur

in stilte saam en sonder afspraak
het ons aan een droom geweef

soms het ons in die boot se buik gaan lê
en op ons rug gedraai
om ver bokant die helder lug sterre te soek
en een gekry
teen al ons dom verwagting in

dié wat net as dit donker is
vir ander oë flonker

daar het ons tot dit skemer word gewag
ons het die wit egrette dopgehou
wat spokig voor die nag wat kom
op lang dun riete aan kantwaters
kop bo water wieg

motors kokkerot op ver dor paaie
en gaan huns weegs

die kontinente dryf langsaam en ongemerk
weg van mekaar per jaar in sentimeters

en tussen hulle groei die stille oseaan
al groter ’n nuwe panthalassa

waar dryf jy nou

die digter wat in jou gewag het
soos ’n fetus in ’n vrou

wat het daarvan geword

of was dit veiliger om stil te bly

dalk is my soek-vra nutteloos
dalk dwaal jy reeds onkwesbaar
in die Anderkant

maar ek onthou jou nog ná langer as ’n halwe eeu
jy is ’n wond in my wat weier om gesond te word
en ek verlang nog steeds na jou soos jy tóé was

’n digterlike bloot jong man

hoe swik die liefde wat ons vriendskap noem

2
ek hoef jou naam
uit eerbied nie te noem nie

dié liefde met sy duisende gedaantes
voer gesprekke in die stemtoon meer
as met die woorde

ons het van weerskante geweet
en sonder afspraak daar was nooit
’n sprankie van romanse nie

net met ’n groet het ons mekaar
se hande aangeraak skaars meer as dit

ek het oor afstand liefdevol
aan jou gedink met iets soos van ’n agape

hoe nodig het ek jou gehad
as iemand wat my hart kon lees

gedigte het vir jou ’n geur gehad ’n feromoon

jy kon dit soos ’n mot ’n blom
met voelers in ’n hart se donkerte aftas

hoe treur ek onbedaarlik oor jou dood
jy een van dié wat nie vóór my moes gesterf het nie

wie agterbly sterf ook ’n dood

hoe ongetroos verlang ek steeds na jou

soms het jy wéggekyk ver weg terwyl jy praat
my naam genoem asof dit in ’n vers inpas

“ek práát met jou oor jy wéét wát”

en die gesprek geaborteer

dit was genoeg dit was voldoende

dit was oorbodig in dié vreemde wonder
van die liefde wat ons vriendskap noem

3
    R
touch indents my skin
it has its ecstasies

ons het mekaar gegroet

jy het my lank
en innig in die son gehou

jy het my warm in die holte
van my wang gesoen

iets dierbaars in my oor gefluister

my torso afgemergel
teen jou lyf se meegee vasgedruk

wou toets wat van ’n mens nog oorbly

’n kaak se hoek wat steek
’n rib wat boog maak
’n sleutelbeen ’n skouerknop
wat deur ’n herfsblaarnerf
nog kneus

In Opperman se vers “Ex Libris + Ex Libris” (1979: 124) skryf hy oor sy vriendskap met M. Roks in Pietermaritzburg, & verwys aan die begin byvoorbeeld na die keer toe hy “Herr Roks afgelos het / as vertaler (student) Departement Onderwys”. Die ex librisse waarna die titel verwys (& waardeur Opperman ook vernuftig sy vroeë Edms. Bpk. byhaal) is dié van M. Roks (ontwerp deur Cocky Haen –alreeds ’n speels-falliese toespeling), & dié van Opperman sélf wat deur Willem Jordaan ontwerp is. Behalwe dat die boekplaat gebruik word om eiendom aan te dui, bevat dit dikwels ook ’n sinnebeeldige voorstelling wat iets van die eienaar se karakter, etos of tematiek probeer oordra.

Na die inleidende inskets van die agtergrond, skryf Opperman iets oor die visuele aspekte van elkeen se ex libris wat vooruit- & terugskouend veelseggend word:

Joue:
    Tussen klou en skedel lees ’n leeu uit Rabelais
    en lêend kyk ’n ander leeu skreeuend van die lag.
    Teen maan: van kat en mens ’n minnepaar
    langs minaret, in roukoevert dig bymekaar!

Myne:
    Lank daarna in die trant van Dolosse
    swart bonke blokke met wit visgraatjies,
    fossielpiriet in plate swart leiklip,
    die rotsmusiek van eie hiëroglief.

In die volgende gedeelte skets Opperman die estetiserende milieu van Roks, waarin die homoërotiese ondertone duidelik blyk deur toespelings van allerlei aard op die “vreemde liefde”, ’n gevoel wat die jong Opperman nie kon beantwoord nie, maar waarvoor hy begrip gehad het, & nou terugskouend huldig as ’n vriendskap wat verrykend was vir hom as mens & vir sy ontwikkeling as kunstenaar. Met die vlees nie langer in die spel nie, is wat oorleef & dúúr “van gees en gees die huwelik’:

Kroniek:
    Swart en swart en onder jou swart sombrero
    het ons twee deur die reën gestap
    na jou swart kamer waar om ons heen
    musiekfonteine syfer en gedempte lig,
    en by Tsjaikowski se ‘Dans van die suikerpruim’
    en proe-proe aan kelkies Olde Browne Sherry,
    eers in naakfigure van kunsboeke nes gemaak,
    daarna deur die swoel stilte het jou uiloë
    na my gevonkel en hoe-hoe voorgelees
    uit Rabelais, Decamerone, Max Havelaar,
    Oscar Wilde, Anatole France en Byron...

    ... almal aan my verkoop – halfkroon elk!
    Dus eerder present as aangekoop – polfyntjie!

    Na die knip van die lyntjie tussen ons:
    ek getroud
                  jy weer alleen in daardie reën
    onder die swart sambreel deur stede heen,
    deur swart stegies alleen, alleen –
    jou as onder ’n parksooi weggespit.

RIP:
    Maar nou met Ex Libris + Ex Libris
    Kry ons van gees en gees die huwelik.

    Willem Jordaan die swyg sy swyg
    maar oor alles hoor ek Cocky cry:

    ‘Let us now praise famous men,
    and our fathers that begat us.’

Die gedig word ’n huldeblyk aan ’n vriend wat deur sy gekultiveerdheid & belesenheid ’n reisgenoot was vir die jong Opperman, maar op ’n vreemde manier – met die toespeling op die klassiekgeworde Sirach 44: 1 (‘Let us now praise famous men, / and our fathers that begat us.’) – word hy saam met die outeurs Rabelais, Oscar Wilde, Anatole France, & Byron waaraan hy Opperman bekend gestel het, ’n soort literêre vaderfiguur.


III

Een van die bekendste gedigte in Afrikaans, & een waarmee die meeste skoolkinders op een of ander stadium kennis gemaak het, is Ernst van Heerden se sportgedig “Die gewigopteller”. Straks minder bekend, is dat die gedig opgedra is aan ’n gewigopteller op wie van Heerden ’n crush gehad het. Die dood van dié vriend was ’n swaar slag vir Van Heerden.

In die volgende vers skryf Van Heerden oor nóg so ’n vriendskap wat rondom die onsegbare, die onuitspreeklike om, gebeur het:

Reën
Ernst van Heerden

Ons twee het teen die berg
gaan hardloop, – blymoedig
en vol gees en tog behoedsaam
vir bedekte gate, die verskuilde slang –
toe die reën skielik uitsak
en slierte mis teen die hange
’n stuiwende verkwikking
oor skouers, neus en hare bring.

Jy was fanaties oor die fiksheid,
stip en streng oor elke oefenloop –
verstaanbaar ook dat dié dissipline
so maklik jou bynaam Kaptein kon kweek.

Ons moes ’n klein kwartiertjie
teen die vlae onder ’n rotsbank skuil,
die deurweekte truie uitskud
en mekaar laggend betrag;
op jou bruin skouer was ’n dun strepie bloed,
deur ’n tak in die haas as spoor gelaat,
maar ek het net ’n blasie op die hakskeen
vir jou versorging opgedoen –
dit alles
met die heerlike prikkeling én verdowing
van siftende water en siftende water...

Soveel jare sedertdien laat my wonder
of jy ooit met jou drieluik-seuns
– prokureur, dosent en predikant –
gaan hardloop in die reën.

(1987: 47)

IV

Die Besoeker
Daniel Hugo

I
diep in die Vrystaat praat ons oor erotiek
die nag is donker, daarom simpatiek

die beroemde skrywer vertel ons hoe
hy tuis die geil jongetjie oorkant afloer

die klein blondekuif – dan wys hy meteen
presies hoedat hy sy pen in sy hand neem:

“kyk, so raak ek dan al my saad kwyt”
in ’n uiterste gebaar van eensaamheid

II
ons sit in die skrywer se rondawel
oor die literatuur en redekawel

die gasvrou bars onaangekondig in
sê: ons bring skande oor die huishouding

(sy is gewoond aan die attensies van mans
maar hierdie besoeker versteur die balans)

ek gaan na my kamer afgejak en kwaad
– het ek hom hoor sê “lieverd”, terwyl ons praat?

III
ek neem hom na die vliegveld – voor ons tot siens
sê, gesels hy oor geloof en godsdiens

deur die groot glasvensters kan ons diep inkyk
in die vlakte se dubbelsinnigheid

“beoefen jy die herenliefde?” vra hy
’n oomblik ontwyk die bedoeling my

dan begryp ek – as ongelowige gee
ek my ganser antwoord: “van harte nee”

(1989: 39)

In “Die besoeker” skryf Hugo oor sy besoek aan Etienne Leroux op sy plaas Ja-Nee naby Koffiefontein gedurende Julie 1984. Die Nederlandse skrywer Gerard Reve was ook ’n gas & het baie vermaaklik verslag gedoen oor sy kuier op Ja-Nee in ’n briewebundel Moedig voorwaarts - Brieven aan Bert en Netty de Groot 1974-1997 (Uirtgeverij L.J. Veen, Amsterdam / Antwerpen, 2007).

Het verblijft was een soort Bergman film. Hij, L., heeft inderdaad veel weg van mij, behalve dat hij tegen de rheumatiek altijd een dikke zwarte overjas uit 1928 aan heeft, en binnen en buiten een pikzwarte zonnebril draagt. Zijn kop bestaat grotendeels uit baard. Ik noemde hem meteen Leo Nikolajewits, en ‘Heer Graaf’, en iedereen zoude in mijn geval hetzelfde gedaan hebben...

Oei, wat werd daar veel sterke drank gebruikt! Sommige mensen ‘kunnen veel aan’, maar het kan altijd nog spectaculairder. Ik sloeg één en ander met bewondering gade. Zelf gebruikte ik slechts de rode Kaapse wijn Tassenberg, de lichtste die het land kent.

In een bocht van de corridor was van zwarte natuursteen een soort toonbank gebouwd, die veel gelijkenis vertoonde met de balie van een hotel. Daarop stonden elke avond drie grote schuimplestik koelemmers met ijs, en een groot aantal literflessen wiskie. Ijs voor 100 mensen, maar de bedienden begrijpen niet waar dat ijs voor is. ‘Een beetje ijs’ betekent alle ijs uit alle koelkasten en alle diepvriezers.

Reve is ’n fyn waarnemer & hy maak ’n skerpsinnige opmerking oor Afrikaners, hoewel dit eweneens as tipering van Leroux se fiksie kan deurgaan:

De Afrikaanders – met wie men bedoelt Nederlands sprekende blanken – zijn een zeer wellevend, gastvrij en daarbij diskreet volk: geen grove, boertige leut, maar wel een indringend, tragies gevoel voor humor, dat even de tijd nodig heeft om tot ontwikkeling te komen.

Elizabeth, Etienne Leroux se tweede, jonger vrou, vind hy

... erg lief, drinkt 2 ½ keer zo veel als hij, en wordt tegen het einde van de avond vreemd, met deels onbegrijpelijke, door een lang, piepende onderbreking in het midden in tweëen gehakte zinnen. ‘Ze hadden nooit aan de kleurlingen ... het ... kiesrecht moeten ontnemen,’ meende zij. ‘Mensen die al 30, 40 ... jaar ... gestemd hadden!’

Wat volg is suiwer Reve & kon net sowel uit ’n Leroux-roman kom: Reve wat die wêreldbevolking breedweg in vier groepe verdeel, die laaste groep wat volgens hom beswaarlik op beskawing aanspraak kan maak, Etienne Leroux wat vergeefs sy woede agter  hoflikheid probeer verdoesel, & Elizabeth wat ontplof terwyl Reve haar probeer paai.

Nu stond Leo Nikolajewits op, aan een heftige emootsie ten prooi. Was ik, als zo dikwels, de stem van het hart en van het geweten volgend, te ver gegaan?

In de salon stond een lange, eikenhouten tafel van 10cm dik. Leo Nikolajewits schreed langs de tafel, en gaf er een aantal daverende slagen op met de vlakke hand. Ik dacht dit gaat mis. Zo dadelijk zegt hij Gerard ga jij maar teruglopen naar het vliegveld van Kimberley. ‘G... G...’ kreunde hij. En toen, opeens, de verschrikkelijke vloek voluit, wat me pijn deed, want hij heeft een diep ontzag voor het Woord. Instinktief riep ik luid, als repliek: ‘Geloofd weze Zijn Naam in eeuwigheid!’ Daarop barstte Leroux in een wilde lachbui uit, moest gaan zitten, en kreeg de hoest, zodat hij zijn gehele wiskie in één teug moest uitdrinken.

Oor Daniel Hugo maak hy die volgende waarnemings:

Aan wezig was ook de jonge (veelbelovende, volgens Leroux) dichter Daniel Hugo, uit Bloemfontein. Een vieze oude man van boven de dertig, maar waarschijnlijk nog onder de veertig. Zeer intelligent, beschaafd en gevoelig. Hij schepte wel een bepaald genoegen in mijn voordracht en de stemming werd opperbest. Die Hugo gaf mij een dichtbundel van zijn hand mede, die ik eerst niet dorst te lezen, omdat ik bang was dat die gedichten slecht zouden zijn. Maar ze bleken vrij goed tot zeer goed te zijn, want bijna alle over de Dood te handelen...’

‘Ben jij een achterkleinzoon?’ vroeg ik. ‘Neen, geen familie. Ik heb de eerste Hugo in Afrika teruggevonden. Rechtstreekse voorvader Zeventien negentig, maar geen familie dus van – ’

‘Maar dat weet toch geen mens?’ hield ik hem voor. ‘Je moet de mensen van alles vertellen, maar nooit de waarheid. Achterkleinzoon, dat is toch prachtig? Heb je kindertjes.’ ‘Jawel.’ ‘En heten die Victor?’ ‘Twee meisjes,’ zeide Hugo timide.

‘Ja, maar het legt aan jezelf,’ hield ik hem voor. ‘Vaak halen de mensen zelf hun maatschappelijk falen over zich heen, door eigen schuld, bewust of onbewust. Ofwel, je bent niet de manlijke type, of je teelt op het verkeerde ogenblik. Men teelt Meydekens op de Suytwind, en Knegtjens op de Noortwind. Dat wist je toch?’

... ‘Het is natuurlijk, als altijd, de halve waarheid,’ korrisjeerde ik mijzelve. ‘Want er is een Opstanding, en een Eeuwig Leven. Maar dat van die Noortwind, en van die Suytwind, dat moet je in de gaten houden. De mensen wisten vroeger heel wat meer dan nu. En als je niet genoeg geld hebt om dat jongetje, die kleine Victor, te voeden en te kleden, dan laat je hem op mijn kosten in het geheim op een Kasteel opvoeden. En als het aan jou licht, door de hormonen, dan wil ik dat hoogbegaafde jongetje wel bij jouw vrou verwekken. Als iedereen het goed vindt, natuurlijk. Ik ben zestig, maar er komt nog altijd iets uit. Victor Gerard Hugo, ik noem maar wat. Een Boogschutter, als het kan, maar je kunt, alles precies uittekenen, ook dat de Maan goed staat, en dat Mars geen opposietsies maakt.’

In ’n e-pos aan my skryf Hugo oor die besoek:

Reve se briewe oor daardie besoek wemel van feitefoute, hoewel dit erg vermaaklik geskryf is. Hy praat byvoorbeeld van Kimberley se vliegveld i.p.v. Bloemfontein. Hy sê verder dat stamvader Daniel Hugo in 1719 in S.A. aangekom het, terwyl dit 1688 moet wees. En dat ek twee dogters het. (Ek het een seun.) Hy raai my toe ook aan om my as die agterkleinkind van Victor Hugo aan mense voor te stel. Aangesien ek net twee dogters het, bied hy aan om ’n seun by my vrou te verwek, aangesien ek klaarblyklik nie daartoe in staat is nie, en dat dié seun dan Victor Gerard Hugo genoem moet word. As ek nie die geld daarvoor het nie, sal hy die seun in die geheim in ’n kasteel in Frankryk, waar hy toe gewoon het, opvoed. Soos ek sê: alles baie vermaaklik.

Oor die gedig sélf skryf hy:

Die laaste aand voordat ek Reve die volgende dag lughawe toe moes neem, het Elisabeth weer baie gedrink en geweldig aggressief gereageer op iets wat ek gesê het. (Ek het op ’n onsensitiewe wyse na haar kinderloosheid verwys – as jongeling was ek nogal onsensitief. Daarby het ook gekom haar jaloesie op gaste wat die aandag van haar as middelpunt van die geselskap aflei.)... Dit het elke aand gebeur. Van my sê hy: “Aanwezig was ook de jonge (veelbelovende, volgens Leroux) dichter Daniel Hugo, uit Bloemfontein,. Een vieze oude man van boven de dertig, maar waarschijnlijk nog onder de veertig.” (Ek was toe 29.)

... Die eerste strofe van “Die besoeker” speel in die Leroux's se sitkamer af, en strofe 2 in die rondawel wat met ’n gang aan die huis verbind is en as gastekamer gedien het. Na die aand se gekuier in die sitkamer saam met Stephen en Elisabeth het Reve my genooi on verder in sy kamer, die rondawel, te kom gesels.

In my lees van die gedig wys ek hom in ’n e-pos daarop dat sy antwoord op Reve se vraag “beoefen jy die herenliefde?” – “my ganser antwoord: ‘van harte nee’” – dubbelsinnig gelees kan word. As hy “van ganser harte nee” geantwoord het, sou dit ’n algehele ontkenning van Reve se vraag gewees het, maar sy ongewone frasering “my ganser antwoord: ‘van harte nee’”, impliseer vir mý dat wat die herenliefde aanbetref dit vir hom nooit ’n kwessie van die “hart” kan wees nie, maar dat hy nie noodwendig ongeneë is wat die fisieke aspek daarvan aanbetref nie. En dan is daar vir my in sy “van harte” ook ’n toespeling op D.J. Opperman  se “Ex Libris + Ex Libris” waar wat uiteindelik duur van Opperman se vriendskap met Roks nie die vleeslike is nie, maar “van gees en gees die huwelik”, die huwelik van harte.

Hierop antwoord hy speels: “Dit kos natuurlik ’n slinkse leser om ’n slinkse digter te ontmasker!”


V

In deel I van “Die besoeker” vertel Reve hoe hy “tuis die geil jongetjie oorkant afloer”, ’n blondekop, &

... dan wys hy meteen
presies hoedat hy sy pen in sy hand neem:

“kyk, so raak ek dan al my saad kwyt”
in ’n uiterste gebaar van eensaamheid

Hierdie is duidelik ’n toespeling op Reve se gedig “Een jongen” uit sy bundel Een Eigen Huis (1979):

Een Jongen

Hij is mooi in zijn grijze broek.
Hij klimt in lantarenpalen en bomen
in de hoop dat iemand kijkt.
Ik kijk, elke dag, vele malen, lang achtereen,
geknield achter de voordeur van mijn late huis,
en tuur door de liefdesperiskoop van het smalle deurvizier,
mijn gelaat tot veilige onzichtbaarheid schuw afgewend.
Hoe oud is hij? Hoe mag hij heten?
Gaat hij iets leren? Blijft hij in het dorp?
Wie kiest zijn kleren?
Hoe oud was hij, toen voor het eerst
een man begerend naar hem keek?
En hoeveel mannen zoals ik hebben sindsdien,
achter een deur of raam, geknield naar hem gekeken
en, zich beroerend, te vergeefs gezocht
de nutteloze liefdesdorst al plengende te lessen?

In sy teks, “Waar hebben wij het aan verdiend?” ’n Beskouing van vier gedigte van Gerard Reve”, skryf Etienne Britz ’n skerpsinnige ontleding van hierdie gedig wat ek in breë trekke wil opsom. Hy begin deur Reve se eiesoortige, unieke kombinasie van erotiek & religie te omskryf, ’n aspek wat in Reve se loopbaan al vir groot kontroversie & konsternasie gesorg het:

In Reve se persoonlike religieuse mitologie – of religieuse mitologie soos dit altans tot uitdrukking kom in sy literêre werk – word God soms voorgestel as ’n nederige, lydende God met wie die skrywer hom intiem identifiseer, so intiem dat ’n verbeelde kommunie die vorm van anale omgang kan aanneem. God verskyn byvoorbeeld as “éénjarige, muisgrijze Ezel” in hierdie hoedanigheid in Reve se bekende boek Nader tot U uit 1966. Christus, die gekruisigde Christus veral, word soms voorgestel as ’n gemartelde gestalte wat seksuele opwinding opwek en daardeur ’n eroties-religieuse vervoering, ’n soort sado-masochistiese mistiek, in die hand werk.

... Christus is in bepaalde projeksies van die Revistiese fantasie die seun of minnaar van Reve, die “jongen” wat hy altyd gedroom het om te kon versorg, straf en troos.

By sy eiesinnige aanpassinge van die tradisionele Christelike mitologie, behou Reve sommige meer konvensionele opvattinge soos die gedagte dat God die Liefde is wat niemand en veral geen uiting van liefde kan uitsluit nie. Hierdie gedagte pas in die Revistiese kraam omdat afwykende seksualiteit dus geakkommodeer word deur God. Trouens, die hewige erotiese trance wat bereik word in ’n sado-masochistiese fantasie of spel is in werklikheid ’n soort erediens, dit bou ’n sfeer op waarin God aanwesig gemaak word.

Etienne Britz waarsku tereg dat Reve sélf sy werk met ironie bejeën het, & dikwels die spot gedryf het met sy erns:

Die treffendste eienskap van die Revistiese mitologie is egter nie die eksentriek-individualistiese en desnoods “dekadent-romantiese” karakter daarvan nie, maar die feit dat dit oënskynlik nie ernstig bedoel word nie. Die hele stelsel is steeds vatbaar vir ironiese bewerking, vir ondermyning en ridikulisering deur Reve self. Eigenlijk geloof ik niets was ’n paslike titel vir ’n bundel essays oor die werk van Gerard Reve wat in 1990 by die uitgewer Cadans in Amsterdam verskyn. (Dié titel verwys na Reve se reëls “Eigenlijk geloof ik niets, / en twijfel ik aan alles, zelfs aan U” in die gedig “Dagsluiting” uit Nader Tot U.)

... Reve het die inhibisies van ’n ouer geslag doelbewus uitgetart, ondergrawe en uitgebuit vir humoristiese effek, maar met soveel styl as skrywer dat hy veral vanaf die sestigerjare steeds meer bewonderaars na sy publikasies kon aantrek. Die Revisme het gaandeweg so bekend en gewild geword as literêre variant dat dit vandag waarskynlik byna onmoontlik is om ’n ontwikkelde leser in Nederland meer te “choqueer” met dergelike leesstof.

Britz noem dat “Een jongen”

’n erotiese loflied is op ’n opgeskote seun se aanloklike “skoonheid”: “hij is mooi in zijn grijze broek”. Die feit dat dit nog ’n jong, onskuldige kind is, totaal onbewus van sy rol as liefdes- en seksobjek, word beklemtoon deur die reël “Hij klimt in lantarenpalen en bomen”.

Die voyeur maak homself wys, ter wille van sy fantasie, dat die seun se onskuldige, tipies seunsagtige gedrag seksueel uitlokkend is, in die hoop dat iemand presiés soos die spreker hom sal dophou terwyl hy teen lamppale & bome uitklouter. ’n Fantasie wat duidelik strydig is met die realiteit.

Die gedig is transgressief op véle vlakke & ook ’n ontluistering van die tradisionele liefdesgedig. Hierdie soort liefde, die obsessie van ’n ouer man met ’n jong seun, is iets wat van die buitewêreld verberg moet word, ’n aktiwiteit wat in “veilige onsigbaarheid” beoefen moet word. Verskans agter sy voordeur, kan die voyeur die objek van sy begeerte deur die sleutelgat dophou terwyl hy masturbeer. Die sleutelgat word fallies ’n “liefdesperiskoop”. 

Ten spyte van die sedelike besware wat ’n mens sou kon opper, is “Een Jongen” ook ’n tipies-Revistiese gedig met die sjarmes wat ’n mens met hierdie literêre variant assosieer. Die “oude viezerik” is trouens een van die bekende gedaantes waarin Reve hom in sy kwasi-outobiografiese tekste presenteer. Die bekoring van “Een Jongen” is gedeeltelik geleë in die ontwapenend-eerlike liefdesuiting van die verloopte ou homoseksueel, pedofiel en gluurder. Maar belangrik is ook die esteties-kostelike manier waarop alles vergoeilik, verheerlik, selfs religieus ingekleur word. Ten eerste slaan die stem van die ouderwets-vaderlike, besorgde Gerard Reve deur in die reëls “Hoe oud is hij? Hoe mag hij heten?/ Gaat hij iets leren? Blijft hij in het dorp? / Wie kiest zijn kleren?” Dit klink byna asof die knielende afloerder agter die voordeur hom besorg afvra of die skoolseun met die grys broek darem goed versorg word, of hy liefdevolle ouers het, of daar vir sy studie en opvoeding behoorlik voorsiening gemaak word. En hierdie besorgde vrae ís ook wel deel van die spreker se koesterende gevoel teenoor die seun, al is dié gevoel vermeng met erotiese jaloesie en met begeerte om die seun te identifiseer en na sy adres te volg. Die jaloerse, agtervolgende trek in die vrae van die “ik” kom tot uitdrukking in reëls soos: “Blijft hij in het dorp? / Gaat hij iets leren? / Wie kiest zijn kleren? / Hoe oud was hij, toen voor het eerst / een man begerend naar hem keek?

Reve is alte goed bewus van sy transgressiewe seksualiteit & verwys trouens by geleentheid daarna as sy “zondige, tegennatuurlijke liefde”. Die spreker slaag daarin om by die leser simpatie te wek vir die feit dat die furtiewe, verskuilde aktiwiteit die enigste manier is vir iemand soos hy om aan sy seksuele begeerte uiting te gee. Hy slaag enersyds hierin deur homself as arme sondaar voor te hou & die banaliteit van wat hy doen te klee in semi-religieuse taal. Daarmee kan hy voorgee dat die ervaring iets verhewe is & dat hy, soos Britz dit stel, “juis in hierdie onheilige opset die sfeer van die heilige en goddelike nader”, & andersyds deur die voyeuristiese aktiwiteit as iets humoristies & dus onskadelik voor te hou.

Die wyse waarop hy die seksuele & religieuse saamdig begin byvoorbeeld in die kniel-aksie: enersyds om deur te sleutelgat/liefdesperiskoop te kan loer, maar andersyds ook asof in gebed.

Die slotreëls beklemtoon die dubbele betekenis van die kniel-gebaar: “hoeveel mannen zoals ik hebben sindsdien, / achter een deur of raam, geknield naar hem gekeken / en, zich beroerend, te vergeefs gezocht / de nutteloze liefdesdorst al plengende te lessen?”

Die verfraaiing en veredeling van die begrip masturbasie deur dit “zich beroerend” te noem, berei die verheiliging van die saadstorting met behulp van die woord “plengende” voor. Die woord “plengen” verwys na die uitstort van wyn of kosbare olie by ou godsdienstige rituele. Al stort hierdie “vieze oude mannen” hulle saad “nutteloos” uit, al dors hulle “te vergeefs” na liefde weens die “zondige, tegennatuurlijke” aard van hulle begeertes, het hulle ekstase nietemin ’n sakrale kwaliteit. Hulle “pleng” hulle liefdesvog met dieselfde oorgawe en toewyding van liggaam en siel as waarop enige ander minnaar hom kan roem.

Verre van ’n onskuldige gedig oor ’n basies onskadelike, selfs komiese aktiwiteit, slaag Reve deur die gewyde inkleding daarvan om bepaalde literêre & morele konvensies te ondermyn, & om sy lesers – waarskynlik Christene – opsetlik te provokeer.


Bronne

Etienne Britz. 2000. “Waar hebben wij het aan verdiend?” ’n Beskouing van vier gedigte van Gerard Reve. Tydskrif vir Nederlands & Afrikaans. 2000; 7(1): 3-31.
T.T. Cloete. 1986. Idiolek. Tafelberg Uitgewers.
T.T. Cloete. 2011. Onversadig. Tafelberg Uitgewers.
Daniel Hugo. 1989. Verse van die ongeloof. HAUM-literêr: Pretoria.
J.C. Kannemeyer. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur: Band 2. Human &amp: Akademica
D.J. Opperman. 1979. Komas uit ’n bamboesstok. Human & Rousseau.
Reve, Gerard. 1979. Een eigen huis. Elsevier Manteau: Amsterdam/Brussel.
Gerard Reve. 2007. Moedig voorwaarts - Brieven aan Bert en Netty de Groot 1974-1997. Uirtgeverij L.J. Veen: Amsterdam / Antwerpen.
Ernst van Heerden. 1987. Amulet teen die vuur. Tafelberg Uitgewers.