© Matius
Brute skoonheid
Th. van Os
Jy sien hom meestal in die
verbygaan:
as jy by die kleedkamer
uitkom, stap hy
in & stap jy onder die
stort uit
dan gaan hy onder een staan
& jy
kyk om & sien sy boude
saamtrek. Soiets.
Meestal is jy op vakansie,
onderweg,
'n plek waar jy nie juis
maklik kan stop nie
& ook nie wil nie
(gewoonte, beterwete, geld),
'n helse sandsteenkrans met
profiele uitgekap in klip.
En as jy stop, sien jy hoe hy
verby drentel
nes jou langverwagte kegelroomys
gereed is:
jy aarsel tussen smelt en
koue, kans verspeel.
Meestal in van die suidelike
lande
met baie woestyne & ruie
rotsgebergtes
waar armoede nog romanties
pittoresk lyk,
elke dorp 'n vullishoop &
elke straat
ook 'n riool waar hy van ou
motorbande
emmers maak vir die hammam
of opspring & agter 'n
bok aan draf.
Soms het hy hande soos grawe,
oë van 'n dier,
polse soos die pote van jong honde, luiperdkaak,
die kleur
van appelstroop, die
borselkop van 'n marinier.
Soms is hy 'n
lokomotiefstoker, vragwabestuurder,
voetbalspeler, 'n gigolo wat
geld verkwis,
slagterskneg met bloedwors,
smid wat hingse beslaan.
Maar meestal is hy iemand wat
alleen verby jou gaan.
Altyd is daar die blik,
daardie rou
oomblik waarin jy weet dat jy
van hom besete is:
jy knipoog asof teen té felle
sonlig in &
dan hy is weg.
Tizi N’Tichka, Marokko
(Vertaal deur Johann de Lange)