Tuesday, March 26, 2013

Nuwe Eben Venter - Wolf, wolf




Op die skerm van die kring-TV sien hy dit: twee skerp gepunte hondeore by die voorhek. ’n Wolfhond? Hy hou die knoppie in en tuur na die blougrys nagtoneel – en die buitengewoon groot hondekop wat hom stip aanstaar. Daar is iets aan die stil blik van die donker oë wat nie heeltemal reg lyk nie, en die oomblik dat die hees stem oor die luidspreker kom, weet Mattheüs wat dit is.

“Matt,” sê die hondebek, “dis ek. Maak oop asseblief.”

Mattheüs Duiker, seun van Benjamin Duiker, eertydse eienaar van Duiker’s Motors, maak die hek van die Kaapse herehuis oop vir sy minnaar Jack. Vermom soos ’n wolf dring Jack die intieme donkerte binne waar Matt wag dat sy pa doodgaan sodat sý lewe kan begin. Blinkoog oor die vooruitsigte sluip die twee jonges verby die studeerkamer waar die blinde ou man, deurdrenk van droewe verknogthede en donker vermoedens, sit en wag vir die voetval van die dood.

Eben Venter se roman is ’n diepsnydende ondersoek na die verhouding tussen pa en seun, na die ontreddering van ’n man wat bitter min uit die verlede kan neem om hom toe te rus vir ’n lewe in ’n snel veranderende bestel. Intens. Ontstellend. ’n Meesterlike ontrafeling van die dun lyn van gevoel – Venter aan die toppunt van sy vermoëns.


Eben Venter



Biografiese inligting

Ebenhaezer (Eben) Venter het op ’n skaapplaas in die Oos-Kaap grootgeword. Hy matrikuleer aan Grey Kollege in Bloemfontein. Hy studeer eers op Potchefstroom en behaal later ’n BA Honneursgraad aan RAU en ’n MA-graad in Filosofie aan die Universiteit van Port Elizabeth.

Hy was junior lektor in filosofie aan RAU en werk ook as joernalis en kopieskrywer. Sy debuut-kortverhaalbundel, Witblitz, verskyn in 1986. Sy romans Foxtrot van die vleiseters, Ek stamel, ek sterwe en Begeerte het almal die WA Hofmeyr-prys ontvang vir beste Afrikaanse roman van die jaar. Sy boeke is al in Engels, Duits en Nederlands vertaal.


Het jy geweet?

*  Hy het in die laat 1980’s na Australië geëmigreer en was ’n vennoot in ’n restaurant, Wild Rice, in Melbourne. In 1999 het hy ’n ander restaurant, The Long Table at Redhill, begin.

*  Sy eerste roman, Foxtrot van die vleiseters, het hy in Donegal aan die weskus van Ierland geskryf. Hy het Ek stamel, ek sterwe binne drie maande op Prins Albert in die Karoo geskryf.

*  Eben het ’n skeppende skryfkursus aangebied by die Adam Mickiewicz Universiteit, Posñan, Poland, en by die Palacký University, Olomouc, Republiek van Tseggië.

*  In 2007 was hy “writer-in-residence” by NIAS, die Netherlands Institute for Advanced Studies in Wassenaar, Nederland.



Boeke steeds in druk


Wolf, Wolf  (Afrikaanse uitgawe) & Wolf, Wolf (Engelse uitgawe), (2013)
Brouhaha, (2010)
Santa Gamka, (2009)
Trencherman, (2008)
Begeerte, (2003)


Bekronings

WA Hofmeyr-prys (1994) – Foxtrot van die vleiseters
WA Hofmeyr-prys (1996) – Ek stamel, ek sterwe
WA Hofmeyr-prys (2004) – Begeerte
WA Hofmeyr-prys (2010) – Santa Gamka
M-Net-prys vir prosa (2010) – Santa Gamka



Lys van publikasies

Prosa
1986  Witblitz, Taurus
1993  Foxtrot van die vleiseters, Tafelberg
1996  Ek stamel, ek sterwe, Queillerie
1999  My simpatie, Cerise, Queillerie
2000  Twaalf, Queillerie
2003  Begeerte, Tafelberg
2006  Horrelpoot, Tafelberg
2009  Santa Gamka, Tafelberg
2013  Wolf, Wolf  (Afrikaans edition) & Wolf, Wolf (English edition), Tafelberg (2013)

Rubrieke
2010 Brouhaha, Tafelberg


Vertalings

Foxtrot van die vleiseters (1994): Duits (Burenfoxtrott, 1996), Nederlands (Dans aan het einde van de dag, 2002)
Ek stamel, ek sterwe (1996): Nederlands (Ik stamel ik sterf, 1998), Engels (My Beautiful Death, 2006)
Horrelpoot (2006): Engels (Trencherman, 2008)


Uittreksels uit resensies

“Venter se Ek stamel, ek sterwe word allerweë as ’n hoogtepunt in die romankuns van die afgelope klompie jare beskou. Met Horrelpoot bereik hy ’n nuwe hoogtepunt.” – Willie Burger, Beeld (2006)
Begeerte is 'n meesterlike, menslike roman wat in Venter se oeuvre slegs geëwenaar word deur Ek stamel, ek sterwe.” – Louise Viljoen, Die Burger (2003)


 Skakels/Resensies: