Breyten Breytenbach [Fotograaf: Luigi Novi]
Breyten Breytenbach het vandag 'n hernude oproep op die Afrikaanse skrywersgemeenskap gedoen om verdeeldheid in eie geledere te laat vaar & gemobiliseer te raak & as 'n groep saam te werk téén wat alom beskou word as 'n potensiële verarming van die literêre bedryf. E-posse vlieg heen & weer tussen die verskillende partye & spelers. Die Afrikaanse uitgewers het ook van hulle laat begin hoor & hulle outeurs probeer verseker daarvan dat hulle belange op die hart gedra word. 'n Mens sou egter sonder té veel inspanning 'n aantal insidente uit die afgelope klompie jare (& vérder terug) kon versamel waaruit die minagting jeens Afrikaanse outeurs óók & júis vanuit uitgewersgeledere geblyk het. But let bygones be bye-gones.
Hier is Breyten se vurige aanporring:
Vriende, kantoorprotestante, woestyngeuse, kameeldrywers, dwaalgeeste en klavierkenners:
Kom ons gaan 'n bietjie verder. Ek wil my veroorloof om 'n paar punte te maak waarvan julle almal baie bewus is, oftewel dan 'n paar honde in die bos gooi.
1. Daar is nie 'n gebrek aan lewenskrag onder Afrikaanse skrywers nie. Die verskeidenheid en kwaliteit werk wat gedoen word is nogal indrukwekkend - veral vir 'n 'minor language' (in Deleuze-hulle se definisie) vir wie die staatsspene opgedroog het. Dit moet darem seker beteken dat daar nog 'n taamlike klompie nuuskierige en oordeelkundige lesers daar buite is. Dit beteken ook dat daar nog 'n organiese verbintenis tussen taal ('n spesifieke taal) en eksistensiële bevraagtekening en verkenning is.
2. Afrikaans se reikwydte het gekrimp. Amptelik is sy in haar glory. Dink maar Afrikaanse departemente aan universiteite, dink staatsinstellings, dink aan die selfingenome barbaarse pragmatisme van die nouveaux riches, dink tydskrifte, dink ontleding en navorsing, dink aan die onverkwiklike bakleiery om resensieruimte en -diversiteit. Dink taal.
3. Dink veral taal. Hoeveel ruimte vir skeppende denke is daar nog in Afrikaans? (Ek praat nou nie van die 'vryheid' wat elke mens het om siel-alleen op sy eie mishoop te sit en dink net wat hy lus het nie.) Kan ons in Afrikaans nog met heilige onrus die onrusbarende kwessies van en rondom identiteit, geheue, geskiedenis, kreolisering, etiek, saam-mekaar-andersmaak, die stryd teen magskorrupsie... aansny? Want dis hierdie veranderingskrag wat slegs in die moedertong tot haar reg en potensiaal kan kom. Wat sou die resepsie en die impak van 'n Johan Degenaar of 'n Adam Small of 'n Jan Rabie of 'n MER vandag gewees het?
4. En dis nie die ANC se skuld nie. Daar was 'n tyd toe baie van ons geglo het die ANC se hartsaak is om die potensiaal van taal en diversiteit en sosiale en ekonomiese geregtigheid te ontsluit. Eisj, my tjaainas... (Maar dit beteken nie dat ons die droom en die najaag van 'n regverdiger Mzansi moet laat vaar nie.) Ons vernouing is ons eie toedoen. Óf ons krepeer/emigreer óf ons kruip onder die vaandel van "die etiek van stilte en skaamskande" en kruip weg agter die mure van ons weelderige kampongs.
5. Ons kan vergeet van die institusionele kultuurdrakrag en -ruimte van die sg. 'Afrikaanse' instansies en sake. Hulle gaan ons nie optel langs die pad nie. Hulle is net so gierig en winsgedrewe soos enige ander besigheid. Hulle lewe in die 'regte wêreld' van korrupsie en aansien en invloed en gjelt en Black Economic Entitlement. Hoekom sou ons ons in ieder geval verlaat op 'n patriargie? Die verryking van Afrikaans as nodige ontginning van die burgerlike samelewing se potensiaal is nie vir hulle 'n prioriteit nie. As ons nou maar Chinese kon wees... Die toekoms, sal hulle vir jou sê (wanneer dit nou gaan oor kommunikasie wat eintlik slegs bemarking van self of ander vulgariteite is), lê in die kuberruim, loop en skree nie in die strate van Tunis of Kaïro nie.
6. Ons blaf teen 'n toe deur wanneer ons vra dat Media24 tog asseblief nog 'n bietjie genade moet betoon vir die afvlerk Afrikaanse denk- en skepwêreld. Hulle sal vir ons verduidelik hulle het nie meer geld nie. Hulle lieg, maar niemand sal hulle daarvan kan oortuig nie want 'n korporasie het sy eie oorlewingsinstinkte.
Nou wat dan?
Ek dink een van ons swakhede is dat ons nie saam stem dik kan maak as burgers van "die republiek van lettere" nie. (En is dit nie 'n taalstaat nie?) So, my eerste voorstel is dat ons 'n vakbond of 'n unie van skrywers en ander literêre betrokkenes op die been bring. Kom ons noem dit "Solidariteit Afrikaanse Skrywersunie" en affilieer dit met die Solidariteit vakbondsbeweging. Dan kan ons ook sommer "teruggaan na die basis" toe en met die hulp van Solidariteit Helpende Hand bewus word van die haglike omstandighede waaronder mense wat deur die krake geval het en teen wie daar gediskrimineer word moet oorlewe.
My tweede voorstel is dat daar nuwe lewe geblaas moet word in 'n joernaal (ook aanlyn) soos Tydskrif vir Letterkunde, dat so 'n 'kollektief' die diversiteit van lees en resenseer kan genereer en federeer, en dat die kaleidoskopiese sienings vandaar aan Afrikaanse koerante en ander publikasies beskikbaar gemaak word. En dis verdomp nie onvermydellik dat lesers tot verdomming verdoem hoef te word nie. Die monopolistiese Media24 sal nie ruimte in hulle publikasies kan bly beskikbaar maak nie tensy 'n ander instansie daarvoor betaal nie.
My derde voorstel is daarom dat 'n Afrikaanse Literêre Ontwikkelingsfonds gestig word, geborg deur die privaatsektor en deur bydraes, om Afrikaans te bly dra.
Buiteblaf
Sien ook:
Louis Esterhuizen - In reaksie op Tim du Plessis [Versindaba]
Louis Esterhuizen - Nasionale Boekeredakteur: die gesprek tot dusver
Willie Burger - Die minagting vir die boekeblad by Media24 [Litnet]
Crito - Die verhaal van vervlakking en agteruitgang[Litnet]
Ampie Coetzee - Sentralisering is die weg na totale beheer[Litnet]
Charles Malan: Ope brief aan Tim du Plessis