Wednesday, July 24, 2013

Johann de Lange - Fetish



Die voet in jou mond
kon geskilder gewees het
deur Caravaggio
of El Greco –
die voet van ’n heilige
of gekruisigde,
elke skrander toon
& sening lenig-
end, die vel
’n perkamentgeel.
Die voetbrug rus
in ’n harige oksel,
’n wynrooi tepel op-
geprik. Jou kop
is agteroor ge-
gooi in adorasie,
jou oë versluier
met ’n apokriewe begeerte,
litanie van ’n honger
wat soos skadu arm-
holte, voet & mond verteer.


(c) Johann de Lange, 2012/2013

Saturday, July 20, 2013

Joan Hambidge - Artikels rondom die werk van Johann de Lange

Joan Hambidge, 2013 (Foto: Jan Marais)

Op haar blog, Woorde wat weeg, skryf die digter, dosent & kritikus Joan Hambidge 'n reeks artikels rondom my werk, 'n soort work-in-progress. Die uiteindelike oogmerk is die publikasie van 'n studie oor my werk. Digters raak so gou & so maklik vergete, tensy hulle in die gedagte van lesers & studente gehou word, & deur die jare het Joan die gesprek rondom my werk lewendig gehou, & my werk aan nuwe generasies lesers & studente bekend gestel. Dit is 'n eer & 'n luukse wat bittermin digters te beurt val & ek is haar baie dank verskuldig vir haar onverdrote ywer, vir lewendige gesprekke, & 'n vriendskap wat oor dekades strek & een van die min bestendige dinge in my lewe is.

Hieronder is 'n lys van die artikels tot dusver, in geen spesifieke orde nie. Volg die skakels om die volledige artikels op haar blog te lees.

Johann de Lange


Die foto of skildery as interteks

Die Marilyn Monroe-figuur in die digkuns van Johann de Lange

Die gesprek met die vader(s): Die Orpheus-mite in die digkuns van Johann de Lange

Die prosa van Johann de Lange: Die versplintering van die “ek”

Vervreemding én nostalgie

Die resepsie van die digkuns en prosa van Johann de Lange: Polemieke en enkele onderhoude

Die digter as Lorelei: Die fenomeen Ingrid Jonker en haar tweede lewe in enkele verse van Johann de Lange

N.P. van Wyk Louw en die kanon (N.P. van Wyk Louw-gedenklesing, 2012)

Die makabere of grensoorskrydende – die verheerliking van die aaklige of sinistêre in die digkuns van Johann de Lange

Die man agter die foto

Nagsweet en die aanwesige / afwesige vader 

Seks as eucharistie

Wednesday, July 17, 2013

Jane Kenyon - Laat kom die nag

Jane Kenyon (1947 - 1995)


Laat die lig van laatmiddag
skyn deur skrefies van die skuur, op
beweeg teen die bale soos die son sak.

Laat die kriek met sy skraapwerk begin
soos ’n vrou wat haar naalde en wol
opneem. Laat kom die nag.

Laat dou versamel op die skoffel laat lê
in langs gras. Laat die sterre verskyn
en die maan haar silwer horing openbaar.

Laat die vos teruggaan na sy sandgat.
Laat die wind gaan lê. Laat die skuur
swart word binne. Laat kom die nag.

Na die bottel in die sloot, na die skepbak
in die hawer, na die lug in die long
laat kom die nag.

Laat dit kom, soos dit sal, en wees
nie bevrees. God laat ons nie
sonder troos, so laat kom nag.

Saturday, April 13, 2013

Jandy Nelson - Die lug is oraloor


Christina’s World deur Andrew Wyeth

smart is ’n huis
waar die stoele
vergeet het hoe om ons te dra
die spieëls hoe om ons te weerspieël
die mure hoe om ons te omvat

smart is ’n huis wat verdwyn
elke keer as iemand aan die deur klop
of die klokkie lui
’n huis wat wegdwarrel in die lug
met die geringste vlaag
wat sigself begrawe diep ondergronds
terwyl almal slaap

smart is ’n huis waar niemand jou kan beskerm nie
waar die jonger suster
ouer sal word as die oudste een
waar die deure
jou nie langer in-
of uitlaat nie

[Vertaal deur Johann de Lange]

Tuesday, March 26, 2013

Nuwe Eben Venter - Wolf, wolf




Op die skerm van die kring-TV sien hy dit: twee skerp gepunte hondeore by die voorhek. ’n Wolfhond? Hy hou die knoppie in en tuur na die blougrys nagtoneel – en die buitengewoon groot hondekop wat hom stip aanstaar. Daar is iets aan die stil blik van die donker oë wat nie heeltemal reg lyk nie, en die oomblik dat die hees stem oor die luidspreker kom, weet Mattheüs wat dit is.

“Matt,” sê die hondebek, “dis ek. Maak oop asseblief.”

Mattheüs Duiker, seun van Benjamin Duiker, eertydse eienaar van Duiker’s Motors, maak die hek van die Kaapse herehuis oop vir sy minnaar Jack. Vermom soos ’n wolf dring Jack die intieme donkerte binne waar Matt wag dat sy pa doodgaan sodat sý lewe kan begin. Blinkoog oor die vooruitsigte sluip die twee jonges verby die studeerkamer waar die blinde ou man, deurdrenk van droewe verknogthede en donker vermoedens, sit en wag vir die voetval van die dood.

Eben Venter se roman is ’n diepsnydende ondersoek na die verhouding tussen pa en seun, na die ontreddering van ’n man wat bitter min uit die verlede kan neem om hom toe te rus vir ’n lewe in ’n snel veranderende bestel. Intens. Ontstellend. ’n Meesterlike ontrafeling van die dun lyn van gevoel – Venter aan die toppunt van sy vermoëns.


Eben Venter



Biografiese inligting

Ebenhaezer (Eben) Venter het op ’n skaapplaas in die Oos-Kaap grootgeword. Hy matrikuleer aan Grey Kollege in Bloemfontein. Hy studeer eers op Potchefstroom en behaal later ’n BA Honneursgraad aan RAU en ’n MA-graad in Filosofie aan die Universiteit van Port Elizabeth.

Hy was junior lektor in filosofie aan RAU en werk ook as joernalis en kopieskrywer. Sy debuut-kortverhaalbundel, Witblitz, verskyn in 1986. Sy romans Foxtrot van die vleiseters, Ek stamel, ek sterwe en Begeerte het almal die WA Hofmeyr-prys ontvang vir beste Afrikaanse roman van die jaar. Sy boeke is al in Engels, Duits en Nederlands vertaal.


Het jy geweet?

*  Hy het in die laat 1980’s na Australië geëmigreer en was ’n vennoot in ’n restaurant, Wild Rice, in Melbourne. In 1999 het hy ’n ander restaurant, The Long Table at Redhill, begin.

*  Sy eerste roman, Foxtrot van die vleiseters, het hy in Donegal aan die weskus van Ierland geskryf. Hy het Ek stamel, ek sterwe binne drie maande op Prins Albert in die Karoo geskryf.

*  Eben het ’n skeppende skryfkursus aangebied by die Adam Mickiewicz Universiteit, Posñan, Poland, en by die Palacký University, Olomouc, Republiek van Tseggië.

*  In 2007 was hy “writer-in-residence” by NIAS, die Netherlands Institute for Advanced Studies in Wassenaar, Nederland.



Boeke steeds in druk


Wolf, Wolf  (Afrikaanse uitgawe) & Wolf, Wolf (Engelse uitgawe), (2013)
Brouhaha, (2010)
Santa Gamka, (2009)
Trencherman, (2008)
Begeerte, (2003)


Bekronings

WA Hofmeyr-prys (1994) – Foxtrot van die vleiseters
WA Hofmeyr-prys (1996) – Ek stamel, ek sterwe
WA Hofmeyr-prys (2004) – Begeerte
WA Hofmeyr-prys (2010) – Santa Gamka
M-Net-prys vir prosa (2010) – Santa Gamka



Lys van publikasies

Prosa
1986  Witblitz, Taurus
1993  Foxtrot van die vleiseters, Tafelberg
1996  Ek stamel, ek sterwe, Queillerie
1999  My simpatie, Cerise, Queillerie
2000  Twaalf, Queillerie
2003  Begeerte, Tafelberg
2006  Horrelpoot, Tafelberg
2009  Santa Gamka, Tafelberg
2013  Wolf, Wolf  (Afrikaans edition) & Wolf, Wolf (English edition), Tafelberg (2013)

Rubrieke
2010 Brouhaha, Tafelberg


Vertalings

Foxtrot van die vleiseters (1994): Duits (Burenfoxtrott, 1996), Nederlands (Dans aan het einde van de dag, 2002)
Ek stamel, ek sterwe (1996): Nederlands (Ik stamel ik sterf, 1998), Engels (My Beautiful Death, 2006)
Horrelpoot (2006): Engels (Trencherman, 2008)


Uittreksels uit resensies

“Venter se Ek stamel, ek sterwe word allerweë as ’n hoogtepunt in die romankuns van die afgelope klompie jare beskou. Met Horrelpoot bereik hy ’n nuwe hoogtepunt.” – Willie Burger, Beeld (2006)
Begeerte is 'n meesterlike, menslike roman wat in Venter se oeuvre slegs geëwenaar word deur Ek stamel, ek sterwe.” – Louise Viljoen, Die Burger (2003)


 Skakels/Resensies: