Tuesday, March 8, 2011

Papier-Skêr-Klip


Die debat rondom Media24 se voorgenome aanstelling van 'n über boekeredakteur duur voort. Plek-plek verskuif die fokus so bietjie, & dit begin vir my al hoe meer na die bekende troefspeletjie Paper-scizzors-rock lyk met deelnemers wat mekaar aanvat & probeer troef. Dit gaan nie oor die vasklou aan 'n medium waarvan die dae getel is nie, maar eerder oor die verlies aan die verskeidenheid van stemme & menings wat verlore sal gaan, die inperking van die gesprek. Nietemin, ook hierdie sydelingse gekibbel bring al fyner aspekte van die hoofargumente vír & téén die amalgamasie na vore.

'n Noodvergadering is belê vir gepubliseerde skrywers & ander belangstellendes & -hebbendes wat hierdie kwessie verder in 'n openbare forum & van aangesig tot aangesig wil uitpraat. Hier is die besonderhede:

WANNEER?    Saterdag, 12 Maart - 16:00 vir 16:30
WAAR?           Protea Boekwinkel, Andringastraat, Stellenbosch


Lees die jongste opinies op:

Litnet
Dawid van Lill: Wat sal ’n boikot tog regkry?
Paul C Venter: Die oplossing is eenvoudig
Crito: Ou probleem, nuwe konteks
Louise Viljoen: Die literêre aktiwiteit in die taal moet so dinamies en divers moontlik wees
Nicol Stassen: Die doodsklok vir die Afrikaanse letterkunde
Hans C ten Berge: Een ontoelaatbare verschraling
Laurens van Krevelen: Natuurlijk is het een teken van marginalisering van de literatuur in het publieke discours
Petrovna Metelerkamp: Mens kan net hoop
Om te boikot of nie? ’n E-posgesprek
Jeanette Ferreira: Dit is die resensent wat sy/haar geloofwaardigheid moet handhaaf

Versindaba
Dag 4 - Hoe nou verder
Nee vir ‘n Nasionale Boekeredakteur
Voorspel tot ‘n organisasie vir skrywers
Amanda Lourens: Die hekwagter van hekwagters

Hennie Aucamp - Protesteer terwyl kans nog bestaan [Die Burger]

Friday, March 4, 2011

'n Swaardsteek in die water


Vandag is die sluitingsdatum vir aansoeke vir die posisie as über boekeredakteur. Die afgelope paar dae is daar intens op die kuberruimte debat gevoer rondom Media24 se planne. Dinge is gesê wat gesê móét word, & dalk ook ’n paar dinge wat straks kon gebly het. Die ironie dat die debat oor die toekoms van Afrikaanse boekeblaaie bykans uitsluitlik op die kuberruim gevoer is (& dus eintlik ook al ’n heenwysing is na waar die oplossing – gedeeltelik – lê), is een wat nie onopgemerk gebly het nie.

Ná ’n kort nota waarin hy uitwys dat daar sommige besluite is wat die skrywers as ’n groep moet maak, & ander wat elkeen vir homself moet neem, rig Breyten Breytenbach formeel ’n brief aan Die Burger waarin hy, vir homself, 'n verreikende besluit neem:

***

Kollega’s,

Inderdaad is daar besluite wat ons gemeensaam moet neem en ander wat ons elkeen vir hom- of haarself moet uitmaak. My omstandighede is anders as dié van meeste van julle s’n, so moenie dink ek probeer katte aanjaag kraal toe nie. Ek het eintlik ook nie enige illusies gehad oor Media24 nie. Wat ek nou doen is seker bowendien wat mens “’n swaardsteek in die water” kan noem, want dis nie asof my bundels toegegooi is onder resensies nie! Maar vir wat dit werd mag wees, en vir julle informasie, hiermee die afskrif van ’n brief wat ek so pas aan Die Burger gestuur het. Ek hoop hulle plaas dit.

Groete,

BB

***

Geagte redakteur,

U is sekerlik bewus van die uitgebreide debat wat ontketen is, tot dusver net op webtuistes, van Media24 se besluit om voortaan slegs een oorkoepelende über boekeredakteur te hê vir al julle koerante. U sal dan gesien het dat die oorgrote meerderheid skrywers wat toegetree het tot die gesprek bitterlik ontsteld is en dat die gevolgtrekking gemaak word, myns insiens tereg, dat dit ’n inkrimping van kulturele ruimte gaan beteken en ’n jammerlike standaardisering van resepsie.

Dit was duidelik dat die woordvoerders wat namens Media24/Naspers probeer verduidelik geen benul het van die implikasies vir die boekewêreld nie. Aan die een kant is dit seker goed dat die skille nou as’t ware van ons oë val en dit glashelder is dat Media24 nié enige aanspraak kan maak op die bewaring van kultuurgoedere of die bevordering van vrye en ontginnende en uitdagende denke nie. Op pad na die skynbaar onomkeerbare bestemming van slegs één Afrikaanse dagblad is die literatuur en die Afrikaanse denkwêreld seker ook al lankal nie meer een van u kernbemoeienisse nie. Dis u goeie reg dis trouens besluite gedryf deur korporatiewe logika maar dit sal goed wees as die maskers van geveinsheid en pretensie sak en ons ten minste nie die Orwelliaanse dubbelpraatjies hoef aan te hoor nie. Dit sal ook goed wees indien u maatskappy nie ’n Stalinistiese stilbly en gehoorsaamheid afdwing op u medewerkers wat die eerste geraak gaan word deur die korporatiewe besluite nie.

Daar is min wat ’n individuele skrywer kan doen om sy misnoeë te betoon. Ek wil u egter vriendelik maar ferm versoek om vanaf hierdie dag onder geen omstandighede ’n resensie van my werk te publiseer nie en ek sal dit waardeer indien u die boodskap ook kan deurgee aan u susterkoerante. Hierdie is ’n persoonlike besluit. Daar was geen oorleg met my uitgewers nie. Hulle het my nog altyd baie goed behandel en ek is jammer as hierdie gebaar hulle goeie werk ter bevordering van my boeke ongedaan maak. Ek vertrou egter dat hulle my besluit sal verstaan.

Ek verdien nie my brood in hierdie land nie en ek weet dat die situasie veel pynliker moet wees vir skrywers wat nie ander opsies het nie. Nogtans wil ek ander skrywers aanspoor om hulle medewerking, aktief of passief, van u te weerhou. Ons sal eenvoudig ander opsies moet vind om ruimte te skep vir die voortsetting van daardie uitwisseling van idees en drome en vrese en prestasies wat essensieel is vir die weerbaarheid van bewussyn en bewusmaking in enige taalgemeenskap.

Die uwe,

Breyten Breytenbach


Sien ook:
Louis Esterhuizen - Voorspel tot ‘n organisasie vir skrywers [Versindaba]
Alida Potgieter - Dat die forum vérder gaan verklein, is erg kommerwekkend [Litnet]
Kerneels Breytenbach & Frederik de Jager - BekRek 3 Maart 2011 [Litnet]
Neels Jackson -  Skrywers wil boikot
Tim du Plessis - Hokaai, die hoofdoel is om ’n beter diens te kan lewer

Thursday, March 3, 2011

Die Groot Sáámraping - Dag 4


Ten spyte van die protes uit alle oorde het dit vandag, met nog een dag oor voor die sluitingsdatum van aansoeke vir die pos van Über-redakteur, duidelik ingesink dat Media24 nie van besluit gaan verander nie. Ek dink trouens met die aankondiging van hulle planne was dit eintlik al 'n fait accompli. Hierdie skuif is nie 'n dag oud nie.

Ek wil saam met Breyten beklemtoon dat ons in ons soeke na ‘n oplossing nie die oorspronklike woede moet verloor nie, of die teiken waarteen dit gerig is nie. Die hovaardige & dikwels minagtende houding jeens Afrikaanse skrywers is iets wat nie net gedwee aanvaar behoort te word nie. Skrywers is die brood & botter van die bedryf, & verdien beter van dié wat geld & mag uit hulle handearbeid verkry het.

Daarom, hoe radikaal dit ook al met die eerste oogopslag klink, dink ek Gerrit se oproep tot ‘n resensie-boikot verdien besinning. Dis nie asof enige resensent (altans nie dié wat ek ken) ‘n bestaan daaruit maak of daarvan ryk word nie. Dis sakgeld, of betaal vir ‘n ekstra ietsie hier & daar. Die fooie is pateties, & báie resensente doen dit uiteindelik vir ‘n goeie saak.

Wel, die bestuurders van daardie Goeie Saak het nou vir skrywers & resensente die middelvinger gegee. Moenie daardie Vinger uit die oog verloor nie. Dit is dieselfde Vinger, of dan ‘n reïnkarnasie daarvan, wat ons in die ou dae van P.W. Botha gekry het.

Wat anders is dit as die gedrag van 'n bedryf in krisis. Kopergetalle neem af, ten spyte van die vervlakking & opdis van sensasionele snert. Hulle weet hulle dae is getel & hulle is besig om die skip te verlaat. Dit is belangrik dat ons vollédig, & so gou doenlik heeltemal na die elektroniese media beweeg. Báie van ons lesers is reeds daar. Knip daardie naelstring. Media24 is in elk geval besig om dit vír ons te doen.


Ns.

Wanneer ek kyk deur die name wat betrokke is by hierdie debat dan is daar 'n klompie name wat ek mis. Kan ons aanneem dat die aansoeke vir die pos van Über-redakteur uit hierdie groepie kom?


Sien ook:
Louis Esterhuizen - Dag 4: Hoe nou verder? [Versindaba]
Andries Visagie - ’n Veelheid van stemme is nodig [Litnet]
Johan Swarts - Boeke-besluit is geen katastrofe[Litnet]
Johan Swarts - Dood van die griffelaars (gedagtes oor die amalgamasie van Afrikaanse boekeblaaie)

Tuesday, March 1, 2011

Die Groot Sáámraping II

Breyten Breytenbach [Fotograaf: Luigi Novi]

Breyten Breytenbach het vandag 'n hernude oproep op die Afrikaanse skrywersgemeenskap gedoen om verdeeldheid in eie geledere te laat vaar & gemobiliseer te raak & as 'n groep saam te werk téén wat alom beskou word as 'n potensiële verarming van die literêre bedryf. E-posse vlieg heen & weer tussen die verskillende partye & spelers. Die Afrikaanse uitgewers het ook van hulle laat begin hoor & hulle outeurs probeer verseker daarvan dat hulle belange op die hart gedra word. 'n Mens sou egter sonder té veel inspanning 'n aantal insidente uit die afgelope klompie jare (& vérder terug) kon versamel waaruit die minagting jeens Afrikaanse outeurs óók & júis vanuit uitgewersgeledere geblyk het. But let bygones be bye-gones.

Hier is Breyten se vurige aanporring:

Vriende, kantoorprotestante, woestyngeuse, kameeldrywers, dwaalgeeste en klavierkenners:

Kom ons gaan 'n bietjie verder. Ek wil my veroorloof om 'n paar punte te maak waarvan julle almal baie bewus is, oftewel dan 'n paar honde in die bos gooi.

1. Daar is nie 'n gebrek aan lewenskrag onder Afrikaanse skrywers nie. Die verskeidenheid en kwaliteit werk wat gedoen word is nogal indrukwekkend - veral vir 'n 'minor language' (in Deleuze-hulle se definisie) vir wie die staatsspene opgedroog het. Dit moet darem seker beteken dat daar nog 'n taamlike klompie nuuskierige en oordeelkundige lesers daar buite is. Dit beteken ook dat daar nog 'n organiese verbintenis tussen taal ('n spesifieke taal) en eksistensiële bevraagtekening en verkenning is.

2. Afrikaans se reikwydte het gekrimp. Amptelik is sy in haar glory. Dink maar Afrikaanse departemente aan universiteite, dink staatsinstellings, dink aan die selfingenome barbaarse pragmatisme van die nouveaux riches, dink tydskrifte, dink ontleding en navorsing, dink aan die onverkwiklike bakleiery om resensieruimte en -diversiteit. Dink taal.

3. Dink veral taal. Hoeveel ruimte vir skeppende denke is daar nog in Afrikaans? (Ek praat nou nie van die 'vryheid' wat elke mens het om siel-alleen op sy eie mishoop te sit en dink net wat hy lus het nie.) Kan ons in Afrikaans nog met heilige onrus die onrusbarende kwessies van en rondom identiteit, geheue, geskiedenis, kreolisering, etiek, saam-mekaar-andersmaak, die stryd teen magskorrupsie... aansny? Want dis hierdie veranderingskrag wat slegs in die moedertong tot haar reg en potensiaal kan kom. Wat sou die resepsie en die impak van 'n Johan Degenaar of 'n Adam Small of 'n Jan Rabie of 'n MER vandag gewees het?

4. En dis nie die ANC se skuld nie. Daar was 'n tyd toe baie van ons geglo het die ANC se hartsaak is om die potensiaal van taal en diversiteit en sosiale en ekonomiese geregtigheid te ontsluit. Eisj, my tjaainas... (Maar dit beteken nie dat ons die droom en die najaag van 'n regverdiger Mzansi moet laat vaar nie.) Ons vernouing is ons eie toedoen. Óf ons krepeer/emigreer óf ons kruip onder die vaandel van "die etiek van stilte en skaamskande" en kruip weg agter die mure van ons weelderige kampongs.

5. Ons kan vergeet van die institusionele kultuurdrakrag en -ruimte van die sg. 'Afrikaanse' instansies en sake. Hulle gaan ons nie optel langs die pad nie. Hulle is net so gierig en winsgedrewe soos enige ander besigheid. Hulle lewe in die 'regte wêreld' van korrupsie en aansien en invloed en gjelt en Black Economic Entitlement. Hoekom sou ons ons in ieder geval verlaat op 'n patriargie? Die verryking van Afrikaans as nodige ontginning van die burgerlike samelewing se potensiaal is nie vir hulle 'n prioriteit nie. As ons nou maar Chinese kon wees... Die toekoms, sal hulle vir jou sê (wanneer dit nou gaan oor kommunikasie wat eintlik slegs bemarking van self of ander vulgariteite is), lê in die kuberruim, loop en skree nie in die strate van Tunis of Kaïro nie.

6. Ons blaf teen 'n toe deur wanneer ons vra dat Media24 tog asseblief nog 'n bietjie genade moet betoon vir die afvlerk Afrikaanse denk- en skepwêreld. Hulle sal vir ons verduidelik hulle het nie meer geld nie. Hulle lieg, maar niemand sal hulle daarvan kan oortuig nie want 'n korporasie het sy eie oorlewingsinstinkte.

Nou wat dan?

Ek dink een van ons swakhede is dat ons nie saam stem dik kan maak as burgers van "die republiek van lettere" nie. (En is dit nie 'n taalstaat nie?) So, my eerste voorstel is dat ons 'n vakbond of 'n unie van skrywers en ander literêre betrokkenes op die been bring. Kom ons noem dit "Solidariteit Afrikaanse Skrywersunie" en affilieer dit met die Solidariteit vakbondsbeweging. Dan kan ons ook sommer "teruggaan na die basis" toe en met die hulp van Solidariteit Helpende Hand bewus word van die haglike omstandighede waaronder mense wat deur die krake geval het en teen wie daar gediskrimineer word moet oorlewe.

My tweede voorstel is dat daar nuwe lewe geblaas moet word in 'n joernaal (ook aanlyn) soos Tydskrif vir Letterkunde, dat so 'n 'kollektief' die diversiteit van lees en resenseer kan genereer en federeer, en dat die kaleidoskopiese sienings vandaar aan Afrikaanse koerante en ander publikasies beskikbaar gemaak word. En dis verdomp nie onvermydellik dat lesers tot verdomming verdoem hoef te word nie. Die monopolistiese Media24 sal nie ruimte in hulle publikasies kan bly beskikbaar maak nie tensy 'n ander instansie daarvoor betaal nie.

My derde voorstel is daarom dat 'n Afrikaanse Literêre Ontwikkelingsfonds gestig word, geborg deur die privaatsektor en deur bydraes, om Afrikaans te bly dra.

Buiteblaf

Sien ook:
Louis Esterhuizen - In reaksie op Tim du Plessis [Versindaba]
Louis Esterhuizen - Nasionale Boekeredakteur: die gesprek tot dusver
Willie Burger - Die minagting vir die boekeblad by Media24 [Litnet]
Crito - Die verhaal van vervlakking en agteruitgang[Litnet]
Ampie Coetzee - Sentralisering is die weg na totale beheer[Litnet]
Charles Malan: Ope brief aan Tim du Plessis

Sunday, February 27, 2011

Die Groot Sáámraping

Breyten Breytenbach by die bekendstelling 
van die beginsel van stof  [Foto: Stefan Möhl]

Media24 se aankondiging van hulle voorneme om 'n enkele boekeredakteur aan te stel (verkieslik uit eie geledere) wat in beheer sal wees van die boekeblaaie van Die Burger, Beeld, Volksblad, & By, het groot ontevredenheid in skrywersgeledere veroorsaak.

Dit is eintlik maar deel van die groter inflasie wat op die oomblik binne die Afrikaanse letterkunde & leefwêreld aan die gang is. Wanneer dit kom by oorhaastige besluite ten opsigte van boekeblaaie & literêre tydskrifte, kan hierdie tendens so ver terug gevoer word as die ontydige & onnodige keelafsny van Standpunte, die toemaak van Boeke-Insig & meer onlangs die besuiniging by Rapport toe die posisie van boekeredakteur effektief gevries is. Die boekeblad word sedertdien deur 'n personeellid, Anastasia de Vries, behartig.

Ek kry vanoggend per e-pos 'n skrywe van Breyten Breytenbach waar hy hom uitlaat teen die voorgenome besluit van Media24, & vra dat skrywers, lesers & belangstellendes wat die gevare van só 'n besluit insien, hulle stemme moet dik maak & 'n petisie onderteken:

Kollega’s, mede-skrywers (mede-sterwendes), uitgewers en ingewers, resensente, boekmense,

Soos julle weet adverteer Media24 tans die pos van Nasionale Boekeredakteur oorkoepelend vir Die Burger, Beeld, Volksblad, By met “voorkeur aan kandidate uit die aangewese groepe”, wat dit ook mag beteken. Die bedoeling is om een persoon te hê wat dan die kitaar gaan slaan vir al die boekeblaaie. Die rede vir die sentralisering en afskaling is seker ekonomies, maar ek dink dis ’n dom rede. Lees asseblief die aangehegte protesskrif (sien heel onder - JdL) en kyk of julle daarmee saamstem. Indien wel, onderteken dit en laat ons dit dan aanstuur vir die Afrikaanse koerante so spoedig moontlik. (“Dis beter om die yster te slaan vir alarm voordat dit gebruik word om jou mee te dônner” – Kongfoe.)
[. . .]
Mens het begrip vir diegene wat vir Media24 werk en voel julle wil liewer nie op dié manier stem maak nie. Maar alhoewel dit nie so belangrik is as die aangekondigde wegraping nie is dit nogtans ’n ontstellende ‘hoër saak’. Miskien kan julle dan dink aan ander maniere om julle besware te lug?

Ek het ’n mankolieke adreslys en hierdie is nie Tunisië nie. Miskien kan julle vanaf julle webwerwe en duine die protes ook onder ander se aandag bring om dit so verteenwoordigend moontlik te maak.

Met groete,
Breyten Breytenbach

As jy saam met ander eendersdenkendes wil beswaar aanteken, sny-&-plak gewoon die onderstaande protesskrif en stuur dit na aansoeke@rapport.co.za vóór 4 Maart 2011. Litnet sluit aan by die protesveldtog in die vorm van 'n mini-seminaar. Die ideale geleentheid om ook jou eie opinie te laat hoor.


Protesskrif

As mense betrokke by die skryfwêreld wil ons ten sterkste beswaar maak teen die inisiatief van Media24 om die regulering van resensies in die Afrikaanse koerante toe te vertrou aan ’n enkele Nasionale Boekeredakteur. Vir die literatuur is ’n neiging na hegemonie of ortodoksie in meningvorming altyd ’n verstarring. Op ’n tydstip waar daar juis behoefte is aan die verryking van die literêre wêreld en die bevordering van diversiteit in opinies en uitdrukkingsvorme, sal dit ’n kwade dag wees wanneer die koördinering van mening en mag in die hande gegee word van één über literêre redakteur of raadgewer.

Litnet
Breyten Breytenbach - Die dwaasheid van die base
Charl-Pierre Naudé - Waarom een boekeredakteur verkeerd is
Joan Hambidge - Boekskandaal
Gerrit Brand - 'n Doelbewuste strategie van “afdomming”
Tim du Plessis - ’n Verruiming eerder as verskraling
Charles Malan - ’n Superredakteur vir superbesluite by Media24?
Kerneels Breytenbach - Diversiteit van resensies is van allergrootste belang
Marga Collings - Resensies in die dagblaaie is ’n voedingsaar tot die diskoers
Eloise Wessels, Charles Malan, Gerrit Brand - Verruiming of verskraling?


Versindaba
Nee vir ‘n Nasionale Boekeredakteur


Sien ook:
Die Heupvuur-debat rondom Crito & resensies op Litnet.
Plan om één boekeredakteur aan te stel gekritiseerProtes teen aanstelling van een Nasionale Boekredakteur vir Media24-publikasies

Chris Thurman - Crrritics and writers - the latest instalment
Irma du Plessis - Die verlies van ontdek wie ons nog kan word

Sunday, January 30, 2011

Handlangers. ’n Blog vir die linkerhand

Slapende sater Bouchardon (Louvre)

Draadtrek, riemruk, tos, mielie-rol, of deesdae: wanking, edging, sounding, nutting, jerking off, spreading the baby batter, facials, bukake, cream pies, & self-snacking – elke streek het sy eie streke. Om Opperman effens aan te pas: die plek & die spelers mag wissel, maar die spel word in die tyd herhaal. Om die waarheid te sê, is riemruk ouer as die oudste van beroepe. Sedert Adam dit ontdek het (soos gesimboliseer deur die slang), het seuns & dogters, ma’s & pa’s, Ooms & Tannies, Oumas & Oupas, nonne & priesters, selfs bobbejane & dolfyne, nog nooit opgehou om na dié solitêre plesier terug te keer nie, ongestuit deur die huwelik of enige selibatêre voornemens.

Freud het heelwat gedoen om dit te probeer bevry van die vuur-&-swael retoriek, & voor te hou as natuurlike variasie in menslike seksuele gedrag. Dit is egter vandag nog steeds in sekere sosiaal-religieuse kontekste ’n sonde, & frases soos selfbevlekking, verspilling op barre grond, of geykte waninterpretasies van bybeltekste gedy steeds. To swallow, or not to swallow?

Ek onthou my eerste keer met 'n neef asof dit gister was, daardie gevoel van plesier & angs. Gelukkig herstel mens op daardie ouderdom baie gou & ’n tweede & derde keer het gevolg (oor & weer dié keer, want dis een van daardie rare vreugdes wat nóg lekkerder is om te gee as om te kry), net om weer daardie gevoel van beheer verloor, daardie “heer-, heer-, heerlike” oomblik, weer & weer te ervaar. Aaah, die volume, die afstand, die gradiënt, die instant reload van die jeug!

Dit behoort niemand te verras om in die letterkunde vele tekste te kry gewy aan die tema nie (ook in die sin van wyding): gedigte, kortverhale, selfs ’n roman soos Portnoy’s complaint – wat ’n plesierige leeservaring was dié nie, des te meer so omdat ek dit gelees het in ’n tyd toe die boek sélf ook verbode was & baie moeilik bekombaar (pun intended). En dan kom die ander kunsvorme ook nog by. Foto’s, sketse, skilderye, beeldhouwerk. En vele studies. Te veel om te onthou. Maar dis elke jongman se plig om hom weldeeglik van dié tradisie te vergewis & seker te maak dat hy goed daarin onderlê word.

Die volgende gedig deur Charles Ortleb het ek vertaal & in Wat sag is vergaan opgeneem. Dit gee ’n aweregse blik op die erotiek tussen seuns & die sluimerende geweld, die “militerotics” waarna hy in ’n ander vers verwys:

Party seuns
Charles Ortleb

Wanneer party seuns
jou vra om te dans
kan jy sien hoe onskuldig
hulle trille in hulle broeke hang.
Swengelend, soos hulle sê,
en dit roep op: perde, stalle, drank, hooi.

Party seuns knoop hulle hemde oop
en die skoonheid maak seer;
party seuns trek selfs uit
in oorvol kamers met Dylan aan.

Party seuns is boos.
Hulle lok ander seuns in diepsinnige bekentenisse in.
Hulle stort saam,
hulle eet saam blomme
en noem mekaar ramme.

Party seuns, weer, gaan vir seks soos ape en monsters en hulle pa's.
Hulle kry skrikwekkende ereksies.
Smegma-poele versamel langs hulle beddens.
Gebruikte kondome hoop op op hulle agtersitplekke
en dooie luise val uit hulle lendene
in kolle vaselien.

Die vleis van ruwe stegies hang in hulle onderklere.
Die soort vleis wat jy pluk uit die broeke van rampokkers.
Die vleis in sy Amerikaanse sap wat lê in Jeeps en B42's.
Ek bedoel die vleis
van alle soldate wat die hel uit die hemel uit sal bombardeer,
die vleis
van al daardie hoerskool-kadette
wat in die skemer masturbeer asof hulle ‘n 747 land.

Ek konsentreer hier uiteraard op die manlike variant omdat ek van die vroulike bedrywigheid net tweedehandse (ai, kyk net hoe is selfs die táál vol daarvan) kennis dra. Vrouens besondig hulle glo minder daaraan, maar ek betwyfel dit sterk – nie as ek luister na vriendinne nie. Die manlike variant is vir my net mooier omdat dit oop & bloot is, trots, selfs heroïes; terwyl masturbasie deur vroue & meisies ’n inwendige, meer diskrete, geheimsinniger aktiwiteit is. En dan is die manlike orgasme ook een van die mooiste dinge om te aanskou, iets waarvan ek nooit genoeg sal kan sien nie. Dit kan gul wees, energiek, of suinig, met ’n boog uitgeslinger, of soos ’n jampot wat oorkook. Dit is vir my die begin van álle beweging, ’n big bang in die kleine.

Ek is nie ’n size queen wanneer dit kom by die grootte van die voël nie (hoewel ’n groot voël iets primordiaals uitstraal), maar wanneer dit kom by cumshots, soos dit in die bedryf bekend staan (komskote in Afrikaans, of sponk?) dan is my leuse immer: the more the merrier. En dan moet dit ook skokwit wees & diktaai, & oordadig gul met daardie skerp reuk van vadoeke wat pas uit die bleik gehang word om droog te word. Niks van daardie dun, waterige offers nie.

Die een wat méér & verder & hoër skiet as die res, is die een wat my oog sal vang & like it or not, ook die meeste aandag sal trek by die plekke waar sulke plesiere in die ope bedryf kan word. Daar is shooters, & dan is daar super shooters of drenchers (bless them) wat op webwerwe soos xtube liefdevolle cumpilations maak van hulle eie of ander se cumshots met dramatiese soundtracks.

Daar is die waaghalse wat wank in hysbakke, busse, treine, huurmotors, hotelbalkonne, sypaadjies, openbare toilette, piskrippe of bankies in openbare parke, langs snelweë, of terwyl hulle bestuur. Daar is geen einde aan die smorgasbord van outoerotiek nie, & elke ou het sy eie manier van doen, ’n tegniek wat nommerpas is nét vir hom. Ek wil my verstout om te sê as dit by draadtrek kom, kan ek – sonder om die grense van my ingebore beskeidenheid te oorskry – sê dat ek meer daarvan weet as die gemiddelde man, gay of str8. Ek het darem in my leeftyd so 'n goeie klompie manne uitgehelp.

Wat my by hierdie mymery uitgebring het, is ’n gedig deur Andries Samuel, in sy skitterende, pas verskene debuut, wanpraktyk, & dit lui so:

styf

met my hande vryf ek my piel
op en af pluk ek dit aanhoudend
ek trek my draad –
ek trek dit uit en volg dit ín
ek pak my piel beet
soos ’n probleem
al skommelend
probeer dit uitkom

ek dink ek tos net lekker
maar angs groei uit my
soos ’n pielstyf –
ek gryp dit soos ’n dwaas
rem dit in plesier
al pols dit van verdriet
tap ek myself leeg
die bietjie ek wat nog oor is
spuit ek weg oor onvrugbare lappe

my handlangerende hande
my onpaar minnaars

Wat Andries se gedig besonders maak, is dat dit nie sonder meer net nóg ’n draadtrekgedig is nie, maar uitgroei tot beswering van eensaamheid & verdriet, ’n onvrugbare, onoplosbare probleem wat al “handlangerende” op die lappe kom.

’n Ander gedig wat baie bekend is in Afrikaans & weldeeglik gekanoniseer is, is Leon Strydom se voortreflike “John Williams, De Doelen”, ’n vers oor dié legendariese kitaarspeler waar die handbewegings van kitaarspel & die falliese aard van die instrument sélf ontgin word.

John Williams, De Doelen
Leon Strydom

naar welke verten mag hij zijn getogen

met madonnahande speel hy met die kind
snaarstyf tussen sy bene
hy aai die kind hy paai die kind
hy vryf die winde uit die kind

kwingkwang kwingkwang kwater
hier kom die krappie
hy soek water
kielie kielie kielie

en die kind vind dit mooi
hy ontdooi
hy kraai van plesier
hy tierelier
uit duime suig hy drome
hy lispel hy speel met sy tone

en o hy gee hart en hand
aan die kind wat vra om sy hand
hy streel die nek
warm druk hy op elke plek
onkel bonkel riebietjie stonkel
onkel bonkel knor
onker bonkel riebietjie konkel
onkel bonkel knor
maar die kind is vol draadwerk
hy pruttel en pruil
hy is sterk en onwennig
hy skop styf soos ’n stok
en hy huil

toe kwint hy hom
hy gee hom op sy bas
hy onthou hoe dit was
onkel bonkel riebietjie konkel
onkel bonkel onkel
god hy aai hom
en hy paai hom
hy streel die nek
die warmte van elke plek
dit lyk of hy gaan praat
goeie god hy trek sy draad

amo amas amat
daar kom die leraar met die lat
amamus amatis amant
my god my god dit brand

toe aan sy eie lewe
slaan hy die hand
en kyk waar hul hul ook begewe
die een hand ken die ander hand
hul voer die kind
hul dra die kind
hul skrik ligtelik
as hy hul op die vingers tik
handhandig en vingeralleen
onderleg hul hom in die taal van gebaar
lei hul hom in in
die kuns van lag liefhê en ween
en het kind ligt al te kijken maar
en tuurt in een denkbeginnen

In Afrikaans is draadtrekgedigte dunnerig op die grond, maar daar is genoeg, & dalk maak ek hulle bymekaar vir ’n volgende blog (enige voorstelle welkom). Dikwels moet mens gaan grawe tussen ongepubliseerde materiaal, want daar is nog steeds die opvatting dat erotiese skryfwerk iets van ’n abberasie is, ’n skuldige tydverdryf, iets wat nie ernstig bedoel is nie, net vir eie plesier, of vir dié van ’n handvol uitgesoekte vriende, soos byvoorbeeld Auden se bekende “The platonic blow”.

Ek ervaar al hierdie vooroordeel my hele skryfloopbaan, maar gelukkig is dit iets waaroor ek my nog nooit verknies het nie. Ek beskou nie my erotiese skryfwerk as minder, of minder belangrik as énigiets anders wat ek geskryf het nie. Nét van vriende verwag ek onvoorwaardelike aanvaarding, & ek hoop dat ek dit ook op my beurt géé. Van ander lesers & letterkundiges verwag ek nie dieselfde nie, & die áfmaak van die erotiese in artikels of resensies het my nog nooit ’n oomblik se slaap laat verloor nie.

As ek my gedagtes bietjie laat gaan, dan kom daar ’n paar verse by my op. Ek herinner my die volgende kortetjie deur Koos Prinsloo (in die trant van Ronnie Belcher) & hoop dat ek hom reg onthou:

Hy slat hom lat hy hyl,
ja, hy slat hom lat hy hyl,
maar al wat in sy hand oorbly,
is melkwit honnekwyl.

Of die volgende deur ’n mededigter wat vir die ander span speel – alhoewel as dit by riemruk kom, is ons almal in dieselfde span – & sélf ’n goeie corpus verse aan die lyflike toegewy het, ek verwys natuurlik na Daniel Hugo:

’n Lucifer in die lende

wat is veiliger as hierdie vuurhoutjie
wat byna dadelik vrek?
die trilling van gevaar
sit in jou vingers as jy hom trek

na ’n paar probeerslae
is daar ’n vlam
wat spetter, skiet en dan
blus met die reuk van swael

inderdaad: in jou hand
het jy die land
se veiligste vuurhoutjie

(1995: 41)

Daardie nat vonk stig inderdaad landswyd & dag & nag & op die onmoontlikste plekke sy brand & brandinge, soos die volgende koshuisherinnering van die uwe. En watter wonderlike geleenthede is seunskoshuise, oorslapery, of daardie wonderlike kerk- & voortrekkerkampe nie vir hande om onderling & -langs besig te raak nie!

Kamermaat

Ek’t hom spits-oog afgeloer
waar hy in die skemer woel,
skuldig soos die eerste mens

– want ons aarde het afgekoel.

Op die koshuisbed boktoon gestrek
het hy met wakker hand die koue
sintel weer tot kool wou wek.

Hoe het ons aarde nie afgekoel nie.

Van toe af wag ek al dat hy
oor die melkweg wat ons skei
die nat vonk weer laat spring

oor ons afgekoelde aarde.

(1991: 42)

In Nagsweet (1991), geskryf na ’n besoek aan New York waardeur ek vir altyd getransformeer is & waardeur ek baie van my Calvinistiese ballas ontslae kon raak, skryf ek uitvoerig oor my seksuele ervarings: die cruising, verkieslik op gevaarlike plekke (ek dink hier aan die opmerking van ’n bekende moffie wat op ’n keer gesê het hy weet nie hóéveel huwelike hy al in openbare toilette gered het nie!), & die leuen van heteroseksualiteit (elke moffie sal jou ’n hele paar stories kan vertel van str8 encounters, & str8 ouens, as hulle die bôls iewers vandaan kan haal, sou ’n hele paar van hulle éie kon vertel).

Ek het ook nog nooit soloseks gesien as ’n laaste uitweg vir wanneer mens nie die “real thing” op die lyf kan loop nie. Draadtrek is ’n unieke seksuele aktiwiteit met sy eie bevrediging, & álle mans, of hulle nou getroud, of in ’n verhouding is, maak nog steeds tyd vir daardie plesiertjie. En soos Woody Allen gesê het, dis ten minste seks met iemand waarvan jy hou, & dat jy nie altyd jou beste hoef te lyk nie.

Ent

Uit die haarblom van jou lyf
kom die stamper stu-orent:
tot barstens toe gereed gevryf
om my teen winter in te ent.

(1990: 41)

Surfer

Hy ry die kruin so lank hy kan.
Aangeleun teen die wind se kolf,
gebruinde bene styf gespan,
is hy die skuimpie op my golf.

(1991: 31)

As jong snotkop is ek betower deur die volgende vers deur N.P. van Wyk Louw, & alhoewel ek dit nie heeltemal kon verbaliseer nie, het ek instinktief aangevoel dat daar in Louw se vers met die vuur in die vingers van die brandstigter, & die brand wat uiteindelik “straal” kan word & “wit-goed” kan maak, iéts onheilig & plesierigs aan die gang is:

LXXV. Piromaan
N.P. van Wyk Louw

die vuur sit in my vingers
in die haartjies op my hand
en dans op elke vingernael
om los te kom, brand
te kan dra en straal te kan word
en óp te klim en áls wat hy
saam kan sleep, wit-goed te maak
tót hy sy eie maat kan vry

(1981: 281)

Dit het aanleiding gegee dat ek in Snel grys fantoom (1986) ’n antwoord geskryf het op Louw se vers waarin ek ’n persoonlike herinnering verbind het met die bekende assosiasie tussen brandstigting & masturbasie:

Piromaan
vir N.P. van Wyk Louw

In sy vingerpunte jeuk die
vuur, in sy senupunte die sug
na lig, om ’n vuur-
(houtjie te trek) teen papier,
tussen vingerpunte te vat
& vryf totdat die stokkie uit-
bars in vuur, wit spring
uit sy hand se donker nis
& gretig reik na gras & riet,
hout & mied, pisvlammetjie eers
& later siedend onversadigbaar.
Sy donker hand se nis. Kinders mag
nie speel met vuur, dié ont-
hou hy goed, dit lei
na bednatmaak, na lieg
& slae met die draadhanger
vroegoggend as die maan nog
’n stomp gekoude vingernael
in die koue lug hang:
die hitte wat ’n hete hand
om sy sitvlak vou, afvloei & tintel
tot in die wortel van sy geslag,
die sonderlinge vuur.
Dié onthou hy goed, pen in die hand,
die onheilige plesier
& die groot lus om te pie.
Hy trek sy draad & stort sy vuur.

(1986: 9)

In sy pragtige debuut, Hamburgers en hotdogs (1979), skryf E.W.S. Hammond in kort & bedrieglik eenvoudige gedigte oor die liefde & die lyf. Dit doen hy soms as die jaloerse minnaar wat wil hê wat hy nie kan kry nie, of soms speels ander uitvlugte vind vir sy frustrasie:

Herfs

Ek lê op my rug
en kyk na wolke
in ’n Maggie Laubser-lug.

Ek lê
op my bed en
rook ’n sigaret.

Ek luister na
Tino Rossie en speel
met met trossie.

(1979 :6)

In ’n vers soos die “Hengelaar” (1979: 17) gebeur iets soortgelyks wanneer hy vol hoop “sy lyn / met die sinker ver” ingooi, net om te eindig met iets “glibberigs in sy hand”.

Maar die lyf bly nie altyd jonk nie, & die kragte taan. Die ouer Hammond, wat toe al gevorderde diabetes gehad het, kon in Doodsteek van ’n diabeet (1995) ontluisterend skryf nie net oor die liggaamlike aftakeling & afvrot nie (in een vers skryf hy oor die verlies van sy voorvel vanweë die siekte), maar ook die wegkrimp van die fallus & die seksuele in sy bestaan, soos in die volgende vers:

Slak

Jy lê opgerol
in ’n skulphuis met
’n blink slymvlies.
    Skulphuis
    slymsluis
kom uit jou huis uit.

Jy slym uit na my
tot my voelers
om jou lyf gly.
    Skulphuis
    slymsluis
bly by my huis.

Jy rol terug
tot ’n opgerolde skulphuis
met ’n slymstreep
in my vuis.

(1995: 34)

In ’n sin voltooi die digter die kringloop & word draadtrek, wanneer die lyf & die verbeelding dit nog toelaat, wat dit ook in die jeug so moeiteloos kon doen: ’n vertroosting in die ouderdom.

Hoewel nie ’n draadtrekgedig nie, is Barend Toerien se gedig “Voël” uit Parte speel, ’n pragtige, parmantige portret van die hoofspeler in hierdie lyflike tydverdryf. Die liefdesverhouding van ’n man/seun met sy voël is sy eerste liefdesverhouding, & dis ook die enigste een wat ’n leeftyd lank hou:

Voël

Van kleins af altyd opstandig
met ’n kop van jou eie
het jy jou gang gegaan,
my laat bloos tot agter my ore
toe Juffrou my in onvoldoende kortbroek
onverwags vra om op te staan.

Eienaardige appendant, oor jou aard
help dit nie om na te dink nie;
jy’s oorgenoeg befreud, onbeskaamlike
onbetaamlike agterstevoor stert;
dog vir soveel (gedeelde) ekstase sê ek: dankie.
vleeslus word alleen gestil deur die liggaamlike,

al was jou rondtastinge, keer op keer
nooit alleenlik na die lyflike:
daardie tergende wolkskadu Liefde
het jy sonder ophou na gebéúr
en jou kop aanhou bly stamp, rou en disnis;
en met wie en waar is nobody’s business.

(1991: 21)

’n Herinnering bly my by. ’n Saterdagoggend in die Tuine. Ek & Sheila Cussons het ontbyt gehad & agterna al geselsende terug gestap na St. Martini Gardens, die woonstelblok regoorkant die kompanjiestuin waar sy toe gebly het. Dit was lank gelede, vroeë Negentigerjare. Ons het by ’n vywer stil gaan staan sodat haar been ’n ruskans kon kry & gekyk na die visse wat uit die groen water boontoe kom vir kos. Ek kan nie onthou waaroor ons gesels het nie, & hoe die gesprek spesifiek daardie rigting ingeslaan het nie, maar skielik het sy opgekyk na my, die son effens in haar oë sodat sy hulle moes skreef. “Het mans beheer oor hulle ereksies?” het sy gevra, “of gebeur dit onwillekeurig?” Ek was onkant gevang, maar gewoond aan haar ratse brein.
“If only,” het ek laggend geantwoord, “nee, daardie ding het ’n kop van sy eie.” Wat haar laat lag het.

“Ek weet nie wat al die fuss is oor pornografie,” sê sy na ’n ruk, toe ons verby die Sterrewag & naby die hek was. “Jy weet, ek het op ’n keer pornotydskrifte onder my seuns se matrasse gekry – hulle was nog jonk – maar ek het dit net so terug gesit & niks daaroor gesê nie. Mettertyd het hulle dit sélf uitgegooi.”
“Boys will be boys,” het ek geantwoord. “Bless them.”


Bronne

Johann de Lange. 1986. Snel grys fantoom, Human & Rousseau: Kaapstad
Johann de Lange. 1990. Wordende naak, Human & Rousseau: Kaapstad
Johann de Lange. 1991. Nagsweet, Taurus uitgewers
Johann de Lange. 1995. Wat sag is vergaan, Human & Rousseau: Kaapstad
E.W.S. Hammond. 1980. Hamburgers en hotdogs. Tafelberg Uitgewers
E.W.S. Hammond. 1995. Doodsteek van ’n diabeet. Tafelberg Uitgewers
Daniel Hugo. 1995. Monikkewerk, Tafelberg Uitgewers
N.P. van Wyk Louw. 1981. Versamelde gedigte, Human & Rousseau/Tafelberg
Andries Samuel. 2011. wanpraktyk, Human & Rousseau: Kaapstad
Leon Strydom. 1973. Geleentheidsverse, Human & Rousseau: Kaapstad
Barend Toerien. 1991. Parte speel, Human & Rousseau: Kaapstad

Friday, November 19, 2010

Abraham Sutzkever - Drie verse

Abraham Sutzkever


Ure
Abraham Sutzkever

Jy onthou toe jou ure
een vir een gebore is:
elke uur – ’n ander tint en lot.

Nou staan jy voor die ure, krom:
all die giwwe saamgemeng
deur ’n gek apteker.

In ’n vysel, in die donker,
meng hy blindelings en in haas:
yster, pêrels, kruie, narkotika,

al die Daar’s en al die Hier’s,
in een konkoksie wat oorweldig –
Hy laat jou drink vir ure.

***

Van myself na myself
Abraham Sutzkever

Hoe lank is die pad van myself na myself?
Soms ’n halwe oomblik,
dis al. Hier is heelheid. Maar ’n slang
op die pad tussen twee hekke.
En soms is sewe wêrelde, sewe winters lank
die korste pad van jouself na jouself.

***

uit Ekstases
Abraham Sutzkever

Toe ek met oë toe
’n gedig skryf, is my hand
meteens verbrand,
& toe ek weer begin
vanuit die swart vuur,
het die papier ’n naam
geadem soos ’n lelie: God.
Maar my pen, in ontsag & verwondering,
het die woord uitgekrap
& in die plek daarvan
’n bekender woord geskryf: Mens.

Sedertdien spook ’n ongehoorde stem
by my soos ’n onsigbare voël
wat pik, pik aan die deur van my siel:
– Het jy my vir dit verruil?


Vertaal deur Johann de Lange