Sunday, March 27, 2011

Liu Xiaobo - In die geselskap van stof

Liu Xiaobo


In die geselskap van stof
- vir my vrou, wat dag na dag wag

Niks bly vir jou oor nie. Jy wag op my
in die geselskap van stof
wat opgaar in elke hoekie van ons huis –
jy hou die gordyne dig
sodat die sonlig nie jou stilte versteur nie.

Stof vul die woorde op die boekrak
die patrone op die tapyt
en jou briewe aan my –
jy los fyn spore van stof
met die punt van jou pen.
My oë brand by die lees daarvan.

Die ganse dag lank sit jy stil
gaan nerens heen nie
sodat jy nie die stof onder jou voete vertrap nie.
Jy haal rustig asem
en weef ’n storie met jou stilte.

Stof is jou getroue metgesel
in hierdie verstikkende tye.
Stof vul jou blik, jou asem,
jou tyd. Dag na dag
stapel dit op van jou voetsole
tot by jou borskas, jou keel
die graf wat jy koester in die dieptes van jou gees.

Die graf is jou rusplek
waar jy onverstoor kan wag op my.
Jy bemin die stof
waar jy op my wag
in donkerte, in stilte, in versmoring.

Jy wag vir my in die geselskap van stof –
lê die sonlig af, die roering van lug,
kokon jouself dig in stof.
Slaap so tot ek terugkeer
wanneer jy sal opstaan
die stof sal áfstof van jou vel
jou gees
in ’n wonderwerk van herrysenis.

Vertaal deur Johann de Lange

***

In the Company of Dust
- to my ever-waiting wife

You have nothing. You wait for me
in the company of dust
which fills every corner of our home –
you don’t want to draw the blinds
for the sunlight to stir
your peace.
Dust fills the words on the bookshelf
the patterns on the carpet
and your letters to me –
you like to leave traces of dust
with the tip of your pen.
My eyes tingle at the sight of it.
All day you sit still
you refrain from walking
lest you crush the dust at your feet.
You breathe calmly
weaving a story with your silence.
Dust is your loyal companion
in these suffocating times.
Dust fills your glance, your breath,
your time. Day after day
it piles up from the soles of your feet
to your chest, your throat
it nurses the grave in the depths of your soul.
The grave is your resting place
wait for me where you will be undisturbed.
You’re in love with dust
you wait for me
in darkness, in peace, in suffocation.
Wait for me in the company of dust –
refuse the sun, the breeze,
cocoon yourself in dust.
Sleep until I come back
you will rise
brush away the dust on your skin
in your soul
in a miracle of resurrection.

Translated by Nicolette Wong and Oswald Chan

Die Hertzogprys vir poësie 2011

Omslagontwerp: Christiaan Diedericks

Die toekenning van die Hertzogprys vir poësie aan Die algebra van nood is 'n onverwagse & baie plesierige hoofstuk in die storie van 'n bundel waarvan die ontvangs groot verdeeldheid gebring het onder resensente. Van lesers was daar 'n gulhartiger ontvangs & getroue volgelinge van my werk het ruimskoots vir die "slings and arrows" vergoed met ruimhartige reaksies.

My uitgewer & goeie vriendin Alida Potgieter (wat sedert Vreemder as fiksie deur vuur geloop het vir my & heeltemal skokvas geraak het in die proses) het baklei vir 'n omslag wat baie gevrees het lesers sou vervreem. Dit bly vir my nog een van die mooiste omslae van enige van my boeke. Dit het my vir die eerste keer aan die werk van Christiaan Diedericks bekendgestel, & ek het sedertdien 'n ywerige versamelaar van sy werk geword.

Daar het 13 jaar verloop tussen die publikasie van my laaste digbundel, Wat sag is vergaan, in 1995 & Die algebra van nood in 2009. In dié dertien jaar het ek nie op my hande gesit nie. Ek het aanhou skryf maar die behoefte om te publiseer, was nie meer daar nie. Op 'n stadium het ek H&R genader oor die moontlikheid van 'n keusebundel aangesien al my bundels uit druk was & ek dikwels deur lesers & universiteite genader is rondom die beskikbaarheid & gebruik van my werk. H&R was baie geesdriftig, mits ek so 20-30 nuwe verse het om by te voeg as aansporing vir voornemende kopers.

Ek het omtrent 200 gedigte in my vriend prof. Henning Snyman se hande gestop & gevra dat hy my help om 20 gangbares te kry waaraan ek dalk kan werk sodat hulle by die keusebundel gevoeg kan word. Dit was hy wat H&R gekontak het & gesê het daar is 'n bundel iewers tussen al daardie gedigte & dat die keusebundel vir eers kan wag. Ek was maar langtand vir die idee, want die gedigte was te veel & wydlopend vir my om 'n bundel te visualiseer & dit sou beteken dat ek die lang & moeilike pad sou moes loop van kies, orden & slyp, van gestalte gee aan 'n bundel. Maar toe ek eers begin het, toe ek eers 'n seleksie gemaak & die verskillende afdelings aangelê het, het daardie ou energie ingeskop & die plesier van worstel met 'n manuskrip het oorgeneem. Ek het báie hard, maar báie lekker gewerk aan die bundel.

Henning het kort-kort 'n nuwe weergawe van die manuskrip gekry, & ook vriendin Joan het insette gelewer. Toe ek klaar was, het ek besef daar bly een stap oor: ek het sedert my debuut dikwels die manuskripte van my bundels vir André Brink ter insae gestuur omdat ek groot waardering & respek het vir hom as poësieleser. Sy reaksie op die manuskrip van Die algebra van nood het onmiddellik ál my vrese & onsekerheid besweer. In 'n e-pos aan my skryf hy:

Beste Johann

Nie ‘n “bespreking” nie! Net ‘n dankiesê. Vir wat, dink ek al meer, waarskynlik die beste is wat jy nog geskryf het. Jisses, dis mooi! Die soek na heiligheid en skoon-heid, die visenteer van skaduwees, die verkenningstogte deur die dood, die altyd bewus bly van verganklikheid, die deernis met mens-wees, die in-dig na die pit toe – tot in die kleinste verse, soos die groot “Rembrandt”, die odes en palinodes, die her-dink en óór-dink en deur-dink van vroeër digters… Dit alles is ‘n fees van herkenning, en tegelyk van nuwe kennismaking. ‘n Enkele keer was daar ‘n vragie:  iets hinderlik oorbodigs omtrent die frase “eensame isolasie”? Jou gebruik. ‘n paar keer, van “fonkel” eerder as “vonkel”?

Nie vir ‘n oomblik hoef jy bekommerd te wees oor trefsekerheid nie. Dis ‘n glansende bundel dié. En daarom, regtig, net DANKIE. (My enigste werklike jammerte is dat ek dit nie vroeër kon gesien het om in te sluit in die nuwe Verseboek wat nou by die drukker is nie. Maar uiteindelik maak dit seker ook nie saak nie: hy kan rustig en gloeiend wag op die volgende.

Daarom hoop ek jy sal vergewe dat dit nie ‘n deurdagte besinning is dié soos wat jy ongetwyfeld verdien nie. Maar die dankie kom diep uit die hart uit. Ek kan nie wag om dit in my hande te hou nie. Hoop dis binnekort!

Baie hartlike wense,

André

Dié bekroning is die eerste keer sedert 1937 met I.D. du Plessis se bekroning vir Vreemde liefde dat die Hertzogprys vir poësie aan 'n gay bundel/digter toegeken word. Ek neem die prys eweneens in ontvangs namens die generasie van Tagtig wat, met die uitsondering van Etienne van Heerden, tot dusver grootliks verwaarloos & oor die hoof gesien is.

Johann de Lange
Kaapstad, 27 Maart 2011


Lees ook:
Susan Cilliers - De Lange kry Hertzogprys
Joan Hambidge - Van rand tot kanon [Die Burger]
Joan Hambidge - Suiwerheid van intense paradoks [Beeld]
Hertzogprys-fokus Johann de Lange [LitNet]
Aankondiging Akademiepryse 2011 [Die Afrikaanse Taalraad]
Johann de Lange wen 2011 Hertzogprys vir Poësie [Versindaba]
Hertzogpryswenner vir poësie is …[De Kat]
De Lange wen Hertzogprys [Volksblad]
Akademie vereer skrywers [Die Burger]

Wednesday, March 23, 2011

Notule Afrikaanse skrywersvergadering



Notule van Afrikaanse skrywersvergadering gehou op Saterdag 12 Maart 2011 om 16:30  by Protea Boekwinkel, Stellenbosch.

Teenwoordig: Christine Barkhuizen-Le Roux, Andries Bezuidenhout, Zandra Bezuidenhout, Breyten Breytenbach, Kerneels Breytenbach,  Willemien Brümmer, Karin Brynard, Marga Collings, Braam de Vries , Izak de Vries, Louis Esterhuizen, Engemi Ferreira, Francis Galloway, Rachelle Greeff, Marlise Joubert, Anna Kemp, Amanda Lourens (notule), Danie Marais, Martie Meiring, Petrovna Metelerkamp, Johan Myburg, Pieter Odendaal, Desmond Painter, Jo Prins, Nicol Stassen, Hein Viljoen en Ingrid Winterbach.

Konstituering

Louis Esterhuizen (LE) verwelkom alle teenwoordiges.  Hy noem dat die vergadering nie ‘n Protea-inisiatief is nie en dat hy in sy persoonlike hoedanigheid teenwoordig is. Hy doen enkele bedankings, o.a. Delheim wat wyn beskikbaar gestel het, Amanda Lourens (AL) wat die notule hou om na belanghebbendes  te versprei asook die Protea-personeellid wat beskikbaar sal wees om te help met boekverkope.

LE  sê dat die aanwysing van ‘n gespreksleier die eerste stap is en vra voorstelle in hierdie verband. Nadat Kerneels Breytenbach (KB) aandui dat hy nie beskikbaar is nie, word LE eenparig deur die vergadering as gespreksleier aangewys.  ‘n Presensielys word gesirkuleer.

Agtergrond

LE stel dat die agtergrond en aanloop tot die vergadering bekend is, naamlik die debat wat ontstaan het na Media24 se besluit om een nasionale boekeredakteur aan te stel.  Hy stel voorts dat hierdie besluit as ‘n fait accompli beskou moet word, maar dat hierdie vergadering gefokus moet wees op hoe skrywers hulle gaan posisioneer in ‘n veranderende mark.  Die vergadering word voorts gestruktureer deur ‘n aantal besprekingspunte wat vooraf deur LE geformuleer is.

Besprekingspunte

3.1 Behoefte aan ‘n organisasie wat as mondstuk vir skrywers kan funksioneer

As eerste besprekingspunt stel LE voor dat die vergadering besin oor die vraag of daar wel ‘n behoefte is aan ‘n organisasie as mondstuk vir skrywers.

KB wys daarop dat die Afrikaanse Skrywersgilde met die verdwyning van sensuur ontbind het omdat daar geen rede vir die organisasie se voortbestaan was nie.  Daar is tans egter geen liggaam  wat skrywers se stem verteenwoordig nie, en dus is daar tans ‘n behoefte aan so ‘n liggaam.

Izak de Vries (IdV) wys op die moontlikheid om Pretoria-PEN, wat lid is van die internasionale PEN-organisasie , as moontlike liggaam in te span.  Breyten Breytenbach sluit aan by IdV en wys daarop dat PEN as internasionale organisasie met internasionale resonansie in ‘n aantal lande bestaan.  In sommige lande bestaan daar ‘n “uitgeweke” liggaam naas die amptelike organisasie, sodat PEN as ‘n groot huis met allerlei vlakke beskou kan word.  Die organisasie is baie doeltreffend in lande soos Swede en die VSA.

BB stel aan die vergadering dat ‘n beoogde groepering vanuit die geledere van Afrikaanssprekende skrywers behoort te kom; dat dit nie enige taalgroep sal uitsluit nie, maar dat dit wel ‘n bepaalde vertrekpunt behoort te hê.

As eerste punt in sy betoog stel BB dat so ‘n organisasie skrywers in ‘n beter posisie sal plaas, bv. ten opsigte van Media24/Naspers, wat op ‘n patriargale wyse optree en skrywers beledig deur voor te gee dat hulle besluite vir die beswil van die literatuur sou wees, terwyl dit in wese ‘n afskaling is.  Met so ‘n organisasie sal skrywers ‘n beter kans hê om hul stem te laat hoor en gedeelde belange kan gedien word, deurdat die organisasie byvoorbeeld oor tantieme sal kan onderhandel.

As tweede punt noem BB dat Suid-Afrika hom tans in ‘n drukgang na totalitarisme bevind, met ‘n afname in dissidente en alternatiewe denke.  Skrywers moet individualiteit lewend hou en protes nie prysgee nie.  ‘n Skrywersorganisasie wat gemandateer is om namens skrywers te praat, is die enigste opsie.  Internasionale koppeling behoort ook aandag te geniet.

As laaste en belangrike punt noem BB dat sowat ‘n derde van die wit bevolking hulle tans in ellende en armoede bevind, sonder enige beskerming.  Skrywers kan byvoorbeeld wit plakkerskampe besoek om ‘n mate van waardigheid aan hierdie mense se bestaan te verleen - dus wisselwerking met die gemeenskap, maar nie as bloot ‘n eenvoudige vorm van politieke betrokkenheid nie.

Die vergadering steun hierdie drie sprekers se standpunte en kom tot die besluit dat daar wel ‘n behoefte is aan ‘n organisasie wat skrywers se belange verteenwoordig.

3.2 Die oogmerke van die beoogde organisasie

LE stel die oogmerke van die beoogde organisasie as tweede besprekingspunt aan die vergadering. Enkele vrae klink in hierdie verband: Sal skrywers en/of hulle belange bevorder word, of sal die boek bevorder word? Sal die organisasie uitsluitlik Afrikaans wees, of sal dit ook Engels insluit?  Hy wys daarop dat antwoorde op hierdie vrae lidmaatskap sal bepaal.  Indien die belange van die boek gedien word, sal uitgewers, resensente, akademici ens. ook betrek word.  Hierdie kwessies word later tydens die vergadering weer geopper en bespreek.

3.3 Die haalbaarheid van die beoogde organisasie

LE stel dat die kwessie van haalbaarheid aandag moet kry, aangesien so ‘n organisasie byvoorbeeld ‘n administratiewe persoon, ‘n kantoor, infrastruktuur en befondsing sal nodig hê, soos deur BB te kenne gegee is. Francis Galloway (FG) vra deur wie die Skrywersgilde befonds is, waarop BB antwoord dat die Gilde deur Naspers gefinansier is. Marga Collings (MC) vra watter moontlikhede daar wel bestaan om befondsing te verkry, waarop BB antwoord dat die amptelike steun van uitgewers nie wenslik is nie en dat dit stellig moontlik is om ‘n weldoener te vind. BB noem ook dat Charles Malan van mening is dat baie vermag kan word sonder ‘n vaste infrastruktuur, byvoorbeeld deur ‘n  gesentraliseerde webtuiste en ‘n  aanduibare persoon met ‘n telefoonnommer.

Hierop sê LE dat daar wel besin moet word oor die volle impak van ‘n moontlike organisasie, soos byvoorbeeld sigbaar kan raak in projekte, biblioteekdienste en betrokkenheid by die voorskryfmark. In so ‘n geval sal ‘n webtuiste nie voldoende wees nie en ‘n organisasie  met ‘n infrastruktuur sal nodig wees om dinge tot uitvoer te bring. LE noem as voorbeeld van ‘n doeltreffende organisasie die Vlaams Fonds voor de Letteren, wat vir hom die een uiterste op ‘n skaal van moontlike aksies verteenwoordig.  Die ander uiterste is om gewoon niks te doen nie.  Die beoogde organisasie se posisie op so ‘n skaal sal deur moontlike befondsers bepaal word.

FG noem dat die institusionalisering van die literatuur steeds toeneem.  Sy vra of NALN as moontlikheid oorweeg kan word om energieë bymekaar te bring - daar is ‘n bestaande infrastruktuur en sowat R500 000 beskikbaar vir navorsing.  MC sê dat ideologiese konnotasies liefs vermy moet word, waarop FG antwoord dat die ideologiese aspek altyd teenwoordig is.  MC noem as ideaal om by ‘n bestaande organisasie in te skakel; in wese gaan dit oor wat in die belang van boeke is.

LE som die verloop van die vergadering tot dusver op as: 1.) Daar is ‘n besliste behoefte aan ‘n organisasie; 2.) dit is haalbaar; en 3.) befondsing sal verkry kan word, gesien ook teen die agtergrond van die drasties verbeterde gesindheid teenoor Afrikaanse boeke. Ten opsigte van befondsing noem LE die volgende belangrike kwessies: 1.) Bronne moet geïdentifiseer word; 2.) befondsing moet korrek en professioneel benader word; 3.) die grootte van die verlangde befondsing sal afhang van die oogmerke van die organisasie; 4.) die mark vir befondsing sal vergroot word deur die insluiting van projekte, bv. geletterdheid; en 5.) ‘n loodskomitee sal die strategie ten opsigte van befondsing ondersoek.

KB noem op hierdie punt dat die probleme wat skrywers in die gesig staar, verreikend is. Staatspublikasies, veral op onderwysgebied, het die potensiaal om Afrikaanse skrywers te marginaliseer.  Dit gebeur toenemend dat skrywers van gehalte geïgnoreer word, terwyl mindere skrywers se werk as teksmateriaal uitgegee word.  ‘n Skrywersorganisasie sal so ‘n toedrag van sake kan teenstaan.

In antwoord op KB noem MC dat uitgewers se gebrek aan mag om teen die Suid-Afrikaanse regering op te staan, die sentrale probleem is. Omdat groot opvoedkundige uitgewers die risiko loop om aansienlike verliese te ly, is hulle huiwerig om hulle teenkanting te kenne te gee. 

Martie Meiring (MM) opper die punt dat befondsing nie ideologiese koppelings moet hê nie, waarop LE beaam dat die onafhanklikheid van die beoogde organisasie uiters belangrik is.  Die organisasie moet op eie bene kan staan, sonder uitgewers aan wie verantwoording gedoen moet word.  Dit sal die taak van die loodskomitee wees om befondsing te verkry, en hulle sal o.a. fondse, trusts en befondsing deur welgestelde persone in hierdie verband moet ondersoek.

3.4 Fokus van die organisasie: eksklusief Afrikaans of inklusief vir alle tale?

LE stel hierdie vraag aan die vergadering as ‘n kritieke besprekingspunt en noem dat die antwoord hierop implikasies vir befondsing het.  Daar is tans byvoorbeeld ‘n sterk patriotiese gevoel jeens Afrikaans. Die antwoord sal ook die struktuur en aard van die organisasie bepaal.

Danie Marais (DM) se gevoel is dat die beoogde organisasie  Afrikaans moet wees, maar gekoppel aan ‘n groter affiliasie.  Die organisasie moet Afrikaanse skrywers verenig en namens hulle praat, maar skakeling na buite is belangrik. Nicol Stassen (NS) wys die vergadering daarop dat die onmiddellike rede vir hierdie vergadering juis die marginalisasie van Afrikaanse skrywers deur Afrikaanse koerante is.  Ook kan daar nie namens Engelse skrywers gepraat word nie.  Engemi Ferreira (EF) meen dat die organisasie Afrikaans behoort te wees, en dat Engelse skrywers dan daarby kan affilieer.  Haar opinie is dat iets bereik kan word indien daar saamgegaan word met diegene wat reeds betrokke en aktief is.

Pieter Odendaal (PO) is nie ten gunste van ‘n Afrikaanse skrywersvereniging nie, en sê ook dat die kans skraal is om befondsing vanuit ‘n “suiwer” bron te verkry.  Hy noem dat Leon de Kock  en die SLiP-inisiatief ‘n skrywersorganisasie volkome steun, maar op voorwaarde dat skrywers in alle tale betrokke is.  Hierop antwoord EF dat sy ten gunste van ‘n Afrikaanse organisasie is.  BB wys die vergadering daarop dat ‘n nostalgie na verlore mag geen rol speel in die besluit om ‘n (Afrikaanse) organisasie op die been te bring nie. Die organisasie is nodig vir praktiese doeleindes in ‘n Stalinistiese omgewing waar Naspers en Media24 hulle mag probeer afdwing; so ook die Regering.  Skrywers deel dieselfde belange, en sal sonder ‘n organisasie wat hulle belange op die hart dra, aan die spreekwoordelike agterspeen suig.  BB reken dat daar iewers begin moet word, en dat geen verteenwoordigers van ander tale hierdeur verhoed word om saam te werk nie.  Skrywers durf egter nie die etiek van stilte toepas nie. BB pleit dan ook vir skrywers se betrokkenheid by die groter gemeenskap, en verwys in hierdie verband na suksesvolle gemeenskapsprojekte deur bv. Solidariteit Helpende Hand.

Andries Bezuidenhout (AB) noem dat daar twee dinge is wat Afrikaanse skrywers se omgewing spesifiek maak, naamlik: 1.) Die openbare ruimte word deur een maatskappy beheer, en 2.) ‘n groot deel van Afrikaanse lesers is vervreem van die lees van boeke.  Laasgenoemde moet reggestel word, en ‘n fundamentele rol van die organisasie sal wees om die probleme van ras te oorkom en nierassigheid in die praktyk uit te leef (as alternatief ten opsigte van die Regering se klem op ras).

IdV wys die vergadering op die versterkende rol van toegewyde werksaamhede  tesame met affiliasies, met spesifieke verwysing na die voorbeeld van RuDASA, wat ‘n stem gee aan mediese dokters wat in landelike gebiede werk. 

Die vergadering gesels vir ‘n wyle oor die kwessie van ‘n vakbond (word genotuleer onder punt 3.5), waarna KB voorstel dat die werksaamhede van die beoogde organisasie eers op Afrikaans en ‘n stem vir Afrikaanse skrywers fokus. Daarna kan die gesprek geopen word betreffende die insluiting van Engelse skrywers (wie se posisie eintlik slegter daar uitsien as dié van die Afrikaanse skrywers).  Daar sal dus ruimte gelaat word om ander in te sluit, maar Afrikaans sal die vertrekpunt wees.

LE sluit hierdie besprekingspunt af deur sy persoonlike mening te gee.  Die uitdagings waardeur die Afrikaanse letterkunde in die gesig gestaar word, verskil radikaal van die uitdagings voor die deur van die Suid-Afrikaanse Engelse of nasionale letterkunde.  As boekhandelaar bedien LE veral  Afrikaanse lesers en is ook op hulle gerig, vandaar dus die fokus op Afrikaans. Ook ten opsigte van Versindaba was daar druk om hierdie poësieblad oop te gooi vir ander tale en genres, maar die “pers koei”-beginsel geld hier: Wat jou onderskei, moet beskerm word.  Geen organisasie kan alles vir almal wees nie.  Die Afrikaanse letterkunde met ons lesers moet beskerm word.  Verskillende inisiatiewe kan ondersoek word, maar primêr moet Afrikaans as vertrekpunt geld.

LE vra hierop dat die vergadering stem oor die kwessie van ‘n Afrikaans gefokusde organisasie.  Die meerderheid van die vergadering is ten gunste daarvan, maar IdV en PO versoek dat hulle teenstem (m.a.w. vir  ‘n inklusiewe organisasie) genotuleer word.  PO stel voor dat ‘n verdere vergadering gehou word en dat ‘n ope uitnodiging aan alle Suid-Afrikaanse skrywers gerig word.  Johan Myburg (JM) stel voor dat ‘n werkkomitee spesifiek kyk na samewerking met ander organisasies, en dat hierdie komitee tydens ‘n volgende vergadering verslag doen oor moontlikhede in hierdie verband.

3.5 Die aard van die beoogde liggaam

LE stel die volgende kwessie aan die orde, naamlik wat die aard van die beoogde organisasie moet wees: ‘n unie, ‘n organisasie, ‘n vereniging, ‘n gilde of ‘n vakbond?

LE wys daarop dat ‘n vakbond regsimplikasies het - daar is byvoorbeeld hofaansoeke nodig en die organisasie het regsgeldigheid.  LE het reeds met Solidariteit geskakel en terugvoer van een van hulle senior bestuurders ontvang, wat behels dat die beoogde organisasie nie as vakbond kan registreer en dan by Solidariteit affilieer nie.  In so ‘n geval sal die organisasie as professioneledienstebedryf onder Solidariteit ingedeel word, naas byvoorbeeld die chemiese en rekenaarbedryf. Elk van hierdie bedrywe funksioneer onder ‘n bedryfshoof en ‘n bedryfsraad wat deur die lede genomineer en verkies word.  Telkens is die regte en belange van die betrokke bedryf egter die oogmerk, en nie ontwikkelingsprojekte nie.

Braam de Vries (BdV) som die situasie op deur te noem dat Media24 ‘n besluit geneem het sonder raadpleging.  Die klem moet dus wees op ‘n organisasie wat na die belange van skrywers kan omsien.  Ter sake is die volgende: Die belange van die Afrikaanse skrywer moet só gehoor word dat laasgenoemde inspraak het by groter organisasies.  Die twee dinge wat deur so ‘n organisasie benodig word, is geld en regshulp om die belange van die skrywer te dien.

DM sê dat hy ten dele met BdV saamstem.  Alhoewel hy persoonlik gekant is teen groeperings en vergaderings, is daar nou ‘n behoefte aan ‘n drukgroep.  Die vraag raak egter: Hoe ver moet daar gegaan word om druk uit te oefen?  Sonder druk sal daar egter niks gebeur nie. In ‘n land soos Brasilië is gevind dat die meeste koerantlesers slegs die koppe van kunsblaaie lees.  Ingeligte lesers mis egter ‘n onafhanklike publikasie soos Vrye Weekblad.  Groot korporasies sal egter aanhou funksioneer met markbeginsels in gedagte, en dus is ‘n drukgroep nodig.  Hierdie groep kan egter nie almal insluit nie.

LE vra hierop of daar dus nou afstand gedoen word van die idee van ‘n vakbond?  Nicol Stassen (NS) meld hier dat vakbonde optree vir die belange van werkers teenoor hulle werkgewers.  AB verduidelik dat dit by vakbonde veral oor mag gaan, byvoorbeeld draaiboekskrywers wat staak en die filmbedryf daardeur seermaak.  Hy is egter onseker of ‘n skrywersorganisasie oor mag gaan beskik.  AB verduidelik ook kortliks dat die wortels van Solidariteit in die yster- en staalbedryf gevind kan word.  Belangrik ten opsigte van ‘n skrywersorganisasie is dat indien daar op ‘n boikot besluit sou word, dit afgeforseer moet kan word met sanksies teenoor diegene wat nie daarmee saamgaan nie.  AB noem dat ‘n vakbond goeie regsgeleerdes en ander hulpbronne sal benodig, dus affiliasie ook met ‘n groter beweging.  Morele of simboliese mag moet egter nie uit die oog verloor word nie, en die beoogde organisasie moet hierop bou.

LE som op en stel dat daar nie duidelikheid bestaan oor die aard van die beoogde organisasie nie, maar dat dit duidelik is dat daar behoefte is aan ‘n organisasie wat bedingingsmag aan skrywers sal gee.  AB stel voor dat  ‘n loodskomitee hierdie kwessie verder ondersoek en rapporteer.  LE noem dat dit ook ‘n kwessie van benaming is en dat die verskillende moontlikhede mekaar nie noodwendig uitsluit nie.

3.6 Lidmaatskap: Skrywersbelang of boekbelang?

LE stel die kwessie van lidmaatskap aan die vergadering as volgende punt.  Daar moet besluit word of die beoogde organisasie ‘n skrywersorganisasie of  ‘n boekorganisasie sal wees, en dit sal lidmaatskap asook projekte bepaal.  ‘n Keuse vir boekbelange sal indirek ook skrywersbelange insluit, terwyl ‘n keuse vir skrywersbelange ander belanghebbendes sal uitsluit.  LE vra die vergadering of hulle ten gunste van ‘n groter belangegroep is.

BdV stel ‘n inklusiewe liggaam voor, naamlik ‘n Afrikaanse boekorganisasie.  Die kwessie van opponerende belange word geopper, maar BdV wys daarop dat gesprekke oor botsende belange dan juis in die oopte gevoer kan word; BB noem ook dat daar ruimte vir debat sal wees.  BB wys ook daarop dat die insluiting van leeskringe en hulle lede die ledetal van die beoogde organisasie aansienlik kan vergroot, wat die stem na buite verder sal versterk.  Die vergadering aanvaar die voorstel van ‘n inklusiewe organisasie.

Loodskomitee en werksaamhede

Karin Brynard (KB) stel voor dat ‘n loodskomitee daargestel word en Ingrid Winterbach (IW) sekondeer die voorstel.  LE noem agt moontlike werksaamhede van die organisasie wat deur die loodskomitee ondersoek kan word, naamlik: 1.) Kommunikasie (persverklarings, omsendskrywes ens.); 2.) onderhandeling ten einde skrywersbelange te verteenwoordig; 3.) skakeling met ander rolspelers in die boekbedryf en ander deelgenote; 4.) koördinasie van leerskole, seminare ens.; 5.) daarstelling en instandhouding van betroubare bronne; 6.)verkryging en administrasie van ‘n ontwikkelingsfonds; 7.) verspreiding van relevante inligting d.m.v. ‘n nuusbrief en ander kennisgewings; en 8.) die werf van lede en administrasie van ledegeld.

Die vergadering stel 12 persone voor wat moontlik op die loodskomitee kan dien, mits hulle daartoe bereid is.  Hulle is (in alfabetiese volgorde): Andries Bezuidenhout, Gerrit Brand, Breyten Breytenbach, Kerneels Breytenbach, Willie Burger, Marga Collings, Willem Fransman, Amanda Lourens, Danie Marais, Desmond Painter, Steward van Wyk en Andries Visagie.  Die persone wat nie by die vergadering teenwoordig is nie, sal deur LE genader word.  BB word voorgestel as sameroeper van die loodskomitee.  Die notule sal binne ‘n week beskikbaar wees en onder die teenwoordiges gesirkuleer word.

Amanda Lourens
(Notuleerder)

22 Maart 2011

Tuesday, March 15, 2011

'n Jong man & 'n leeu


Die jong man gevang deur ’n leeu

Diä!kwain
(ook vertel deur sy suster, !Kweiten-ta-//ken)

terwyl hy jag word ’n jong man vaak
hy gaan lê, hy raak aan die slaap onder ’n bos
in die hitte van die dag kom ’n leeu
die leeu sleep die man aan sy nek
die leeu sleep die man in die swartstormboom in
die leeu gaan drink water
die leeu wil nie dors wees terwyl hy die man eet nie
die man draai sy kop in die swartstormboom
die leeu kyk om, net toe kyk hy om:
roer die man? lewe hy?
die leeu draf terug
die leeu skuif die man se kop gemakliker tussen die takke in
hy lek die trane uit die man se oë
die leeu lek die trane van die man se wange
die man kyk in die leeu se oë
die leeu kyk in die man se oë en lek sy trane
die leeu draf na die water

toe die leeu oor die rant verdwyn
hardloop die man huis toe
sy ma draai hom toe die velle van ‘n hartebees
sy ma brand kruie dat die leeu hom nie ruik nie
sy pak hom met takke toe

maar eensklaps kom die leeu oor die rant
die mense gryp hulle kokers
die mense loop die leeu tegemoet
hulle skiet hulle pyle
maar die leeu kom niks oor nie

‘ons moet ’n kind vir die leeu uitgooi dat hy ons los’
hulle gooi ’n kind vir die leeu uit
maar die leeu sê: ‘ek soek nie ’n kind nie
ek soek die jong man wie se trane ek gelek het’
die mense gooi assegaaie na die leeu
maar die leeu kom niks oor nie
‘ons moet ’n meisie vir die leeu uitgooi sodat hy ons los’
hulle gooi ’n meisie vir die leeu uit
maar die leeu sê:‘ek soek nie ’n meisie nie
ek soek die jong man wie se trane ek gelek het’
die mense begin die leeu steek,
maar hy kom niks oor nie
toe roep hulle die ma van die jong man
‘jy moet jou seun vir die leeu gee,
al is hy die kind van jou hart
die leeu bedreig ons almal
terwyl hy net jou seun wil hê’

die jong man se ma sê: ‘ek sal my kind vir die leeu gee
maar julle moet die leeu doodmaak
die oomblik as hy my kind byt
sodat hy kan sterf terwyl my kind sterf’

toe haal hulle die jong man uit die hartebeesvelle
en oorhandig hom aan die leeu
en die leeu sit sy groot pote om die skouers
van die jong man
en die leeu byt
die jong man in sy nek
en die mense steek die leeu,
steek en skiet die leeu
terwyl hy die jong man in die nek byt

toe sê die leeu: ‘nou kan ek sterf
want ek het die jong man gekry
wat ek gesoek het’
en toe sterf die leeu terwyl hy op die man lê
die sterwende man


Vertaal deur Antjie Krog

Ek het die teks in versreëls opgekap as eksperiment, om een moontlike lesing te gee - Johann de Lange

Monday, March 14, 2011

Vloervelletjie: 'n parodie

Michael Leonard, Changing Room III, 2008


Voorvelletjie
’n parodie

Ek was al moeg
om in sauna & kroeg –
net waar ek in Europa kom
by Sweed of Rus,
ons saak te stel,
toe tussen Bert & Chris
– my enkels oor een se skouers,
my kuite teen ’n warm baard –
my oog val op my mik,
my voorvel gluipend uit sy vag:

’n fluwelige tuit,
’n spits snoet
wat óp oor pensvel & nawel
na die harnas
van my borskas kruip.
’n Suiwer druppel vorm
voor die oopglip
& die hygende kleintongetjie
van Bert, of Chris
hom traag laat terugkrul & drup.

Vrye Woord: Ope brief aan die bestuur van Media24





_______________________________________________

Vrye Woord is 'n losse groepering van hoofsaaklik Afrikaanse skrywers, akademici, uitgewers en ander belanghebbendes. LitNet is die gasheer vir die nuusbrief (http://www.litnet.co.za/). Ons hoofdoel is om spraak- en meningsvryheid teen toenemende bedreiging te beskerm en die belange van alle skrywers en ander woordwerkers in ‘n ope demokrasie te bevorder. Ons is aan geen politieke of belangegroep verbonde nie. Deur die sytak WikiLigni beoog ons om enige vorm van magsmisbruik, korrupsie en verswyging aan die kaak te stel nadat dit vertroulik aan ons onthul is.

Redaksionele raadgewers: Jeanette Ferreira, Pieter Haasbroek, John Miles en Charl-Pierre Naudé. Redakteur: Charles Malan (hermes@absamail.co.za).
_______________________________________________


Soos onderneem is, is aanbevelings oor die ope brief in ag geneem en die volgende brief aan die bestuur gestuur.


OPE BRIEF AAN DIE BESTUUR VAN MEDIA24


Aan: mnr. Francois Groepe

CC: mnre. Abraham van Zyl, Peet Kruger, Tim du Plessis


Beste mnr. Groepe en ander bestuurslede

Vrye Woord is ‘n drukgroep skrywers wat die vrymoedigheid het om u vrae oor die enkele beoogde nasionale boekeredakteur vir u streekskoerante te vra nadat mnr. Tim du Plessis reeds ‘n basiese verduideliking vir die besluit gegee het en ons dit aan woordwerkers help deurstuur het.

U is bewus van die wydverspreide ontevredenheid oor die stap onder skrywers, uitgewers en ander woordwerkers. Sommige van ons oorweeg selfs 'n boikot indien dit die enigste alternatief is. Die nasionale bylaag word oorwegend gesien as ‘n verskraling van die literêre diskoers en nie ‘n verbreding nie. Die kritiek is reeds uitvoerig beredeneer op webwerwe soos LitNet en Versindaba, asook interne e-poskorrespondensie soos hierdie een wat wyd uitgestuur word.

DIE VRAE

Na raadpleging op al hierdie kuberplatforms oor die aard van ons korrespondensie met u wil ons dus graag die volgende vrae stel:

1 Wat is die basiese motivering vir hierdie sentralisering van redaksionele verantwoordelikheid? Is dit werklik slegs “beter gehalte” in ‘n gesentraliseerde blad, soos ons meegedeel word? As dit ook besparing is, hoeveel word werklik bespaar?

2 Waarom sou 'n enkele nasionale boekeredakteur die redaksionele werk beter kon doen nadat drie streekredakteurs van boekeblaaie en (aanvanklik) By volgens Media24 'n onvoldoende/ondoelmatige diens gelewer het? Gaan so 'n superredakteur dus onbeperkte bladruimte tot sy/haar beskikking hê om alles te dek wat in die verlede oorgeslaan is?

3 Is meerstemmigheid in literêre en verwante besprekings belangrik en hoe word dit hierna geakkommodeer, behalwe deur die keuses van die superredakteur wat sekerlik nie telkens drie resensies oor ‘n bepaalde boek gaan publiseer nie?

4 Is redaksionele meerstemmigheid en besluitneming oor boekverwante sake in die drie streke van die dagblaaie belangrik en wat gaan nou daarvan word?

5 Gaan die nuwe superredakteur by magte wees om landwyd te weet watter persoonlike oorweging agter die moontlike bespreking van ’n publikasie deur ‘n bepaalde resensent kan skuil in die lig van verskillende onderstrominge in die literêre wêreld?

6 Gaan daar naas die superredakteur ook nou ’n uitgesoekte groepie superresensente wees wat volkome objektief alles kan beoordeel sodat almal landwyd hulle oordeel in (gewoonlik) ‘n enkele resensie moet aanvaar? Kortweg: sal hulle dus in die posisie wees om ’n publikasie te kan “maak of breek”?

7 Gaan die verskeidenheid huidige literêre blaaie en bylaes (met die uitsondering van Rapport en Huisgenoot) nou in die nuwe superuitgawe opgeneem word sodat een uitgawe oor alles van alle boekesake vanoor die land en veral ook in die streke verslag sal doen?

8 Daar is waardering vir Rapport se boekebylaag as ‘n bykomende besprekingskanaal (hoewel talle nuwe boeke nie bespreek word nie), maar is Huisgenoot soos dit tans lyk, ook enigsins ‘n realistiese alternatief, soos ons meegedeel is?

DIE VERHOUDING MET MEDIA24

Media24 het duisende woordwerkers in sy diens, direk of indirek. Minstens honderde van ons se belange word deur hierdie plan vir ’n superredaksie geraak. Talle van ons as skrywers is onder Media24 en in die besonder NB-uitgewers se vleuels. Ons glo dus u sal verstaan as ons antwoorde op die vrae hierbo versoek.

Ons het geensins ‘n “vete” met u nie, want die woordwerkers, media, uitgewers en ander belanghebbers is wedersyds van mekaar afhanklik. Ons glo ook dat Media24 ons belange op die hart dra. Die meerderheid van ons is egter oortuig daarvan dat hier ‘n groot inperking van die literêre, intellektuele en akademiese diskoers gaan plaasvind. Afrikaanssprekendes se intellektuele ruimte is daagliks besig om te verskraal as gevolg van faktore soos ‘n regering wat steeds minder in ons regte belangstel en kommersiële instellings wat steeds meer verengels. Skrywers, akademici en ander denkers se bydrae in hierdie beperkte diskoers is van vanselfsprekende belang en mag nie verder ingeperk word nie.

Ons maak staat op u besinning oor soveel gedeelde belange. Dankie vir die aandag wat u, en in die besonder mnr. Du Plessis, reeds aan die aangeleentheid gegee het. Vrye Woord sal almal op hierdie groter forum op die hoogte hou van die korrespondensie oor die saak met Media24 en noukeurig nagaan wat met die beoogde superpublikasie gebeur.

Ons hoop egter dit is nog nie te laat vir herbesinning daaroor nie. Verskeie skrywers het reeds daarop gewys dat die nuwe superredakteur in 'n onhoudbare situasie geplaas gaan word omdat kritiek landwyd gaan instroom. Talle van ons glo dat dit 'n veel beter opsie is om die bestaande boekeblaaie in u drie streekskoerante met onder meer permanente redakteurs te verstewig. Daar is reeds die agterdeur oop gelaat dat Media24 maar eers "moet kyk hoe dit werk" - maar waarom wag totdat dit klaablyklik volgens soveel kundiges en 'n reeks argumente nie gaan werk nie?

Miskien moet ons bloot wag totdat u na die aansoeke vind dat 'n alwetende en dapper superredakteur nie daaronder tel nie!

Vriendelike groete

Charles Malan
Koördineerder, Vrye Woord


Lees ook:
Marga Collings: Nuwe skrywersorganisasie onder bespreking [Versindaba]
Francis Galloway: Afrikaanse skrywersvergadering: ’n mondstuk vir skrywers [Litnet]

Tuesday, March 8, 2011

Papier-Skêr-Klip


Die debat rondom Media24 se voorgenome aanstelling van 'n über boekeredakteur duur voort. Plek-plek verskuif die fokus so bietjie, & dit begin vir my al hoe meer na die bekende troefspeletjie Paper-scizzors-rock lyk met deelnemers wat mekaar aanvat & probeer troef. Dit gaan nie oor die vasklou aan 'n medium waarvan die dae getel is nie, maar eerder oor die verlies aan die verskeidenheid van stemme & menings wat verlore sal gaan, die inperking van die gesprek. Nietemin, ook hierdie sydelingse gekibbel bring al fyner aspekte van die hoofargumente vír & téén die amalgamasie na vore.

'n Noodvergadering is belê vir gepubliseerde skrywers & ander belangstellendes & -hebbendes wat hierdie kwessie verder in 'n openbare forum & van aangesig tot aangesig wil uitpraat. Hier is die besonderhede:

WANNEER?    Saterdag, 12 Maart - 16:00 vir 16:30
WAAR?           Protea Boekwinkel, Andringastraat, Stellenbosch


Lees die jongste opinies op:

Litnet
Dawid van Lill: Wat sal ’n boikot tog regkry?
Paul C Venter: Die oplossing is eenvoudig
Crito: Ou probleem, nuwe konteks
Louise Viljoen: Die literêre aktiwiteit in die taal moet so dinamies en divers moontlik wees
Nicol Stassen: Die doodsklok vir die Afrikaanse letterkunde
Hans C ten Berge: Een ontoelaatbare verschraling
Laurens van Krevelen: Natuurlijk is het een teken van marginalisering van de literatuur in het publieke discours
Petrovna Metelerkamp: Mens kan net hoop
Om te boikot of nie? ’n E-posgesprek
Jeanette Ferreira: Dit is die resensent wat sy/haar geloofwaardigheid moet handhaaf

Versindaba
Dag 4 - Hoe nou verder
Nee vir ‘n Nasionale Boekeredakteur
Voorspel tot ‘n organisasie vir skrywers
Amanda Lourens: Die hekwagter van hekwagters

Hennie Aucamp - Protesteer terwyl kans nog bestaan [Die Burger]

Friday, March 4, 2011

'n Swaardsteek in die water


Vandag is die sluitingsdatum vir aansoeke vir die posisie as über boekeredakteur. Die afgelope paar dae is daar intens op die kuberruimte debat gevoer rondom Media24 se planne. Dinge is gesê wat gesê móét word, & dalk ook ’n paar dinge wat straks kon gebly het. Die ironie dat die debat oor die toekoms van Afrikaanse boekeblaaie bykans uitsluitlik op die kuberruim gevoer is (& dus eintlik ook al ’n heenwysing is na waar die oplossing – gedeeltelik – lê), is een wat nie onopgemerk gebly het nie.

Ná ’n kort nota waarin hy uitwys dat daar sommige besluite is wat die skrywers as ’n groep moet maak, & ander wat elkeen vir homself moet neem, rig Breyten Breytenbach formeel ’n brief aan Die Burger waarin hy, vir homself, 'n verreikende besluit neem:

***

Kollega’s,

Inderdaad is daar besluite wat ons gemeensaam moet neem en ander wat ons elkeen vir hom- of haarself moet uitmaak. My omstandighede is anders as dié van meeste van julle s’n, so moenie dink ek probeer katte aanjaag kraal toe nie. Ek het eintlik ook nie enige illusies gehad oor Media24 nie. Wat ek nou doen is seker bowendien wat mens “’n swaardsteek in die water” kan noem, want dis nie asof my bundels toegegooi is onder resensies nie! Maar vir wat dit werd mag wees, en vir julle informasie, hiermee die afskrif van ’n brief wat ek so pas aan Die Burger gestuur het. Ek hoop hulle plaas dit.

Groete,

BB

***

Geagte redakteur,

U is sekerlik bewus van die uitgebreide debat wat ontketen is, tot dusver net op webtuistes, van Media24 se besluit om voortaan slegs een oorkoepelende über boekeredakteur te hê vir al julle koerante. U sal dan gesien het dat die oorgrote meerderheid skrywers wat toegetree het tot die gesprek bitterlik ontsteld is en dat die gevolgtrekking gemaak word, myns insiens tereg, dat dit ’n inkrimping van kulturele ruimte gaan beteken en ’n jammerlike standaardisering van resepsie.

Dit was duidelik dat die woordvoerders wat namens Media24/Naspers probeer verduidelik geen benul het van die implikasies vir die boekewêreld nie. Aan die een kant is dit seker goed dat die skille nou as’t ware van ons oë val en dit glashelder is dat Media24 nié enige aanspraak kan maak op die bewaring van kultuurgoedere of die bevordering van vrye en ontginnende en uitdagende denke nie. Op pad na die skynbaar onomkeerbare bestemming van slegs één Afrikaanse dagblad is die literatuur en die Afrikaanse denkwêreld seker ook al lankal nie meer een van u kernbemoeienisse nie. Dis u goeie reg dis trouens besluite gedryf deur korporatiewe logika maar dit sal goed wees as die maskers van geveinsheid en pretensie sak en ons ten minste nie die Orwelliaanse dubbelpraatjies hoef aan te hoor nie. Dit sal ook goed wees indien u maatskappy nie ’n Stalinistiese stilbly en gehoorsaamheid afdwing op u medewerkers wat die eerste geraak gaan word deur die korporatiewe besluite nie.

Daar is min wat ’n individuele skrywer kan doen om sy misnoeë te betoon. Ek wil u egter vriendelik maar ferm versoek om vanaf hierdie dag onder geen omstandighede ’n resensie van my werk te publiseer nie en ek sal dit waardeer indien u die boodskap ook kan deurgee aan u susterkoerante. Hierdie is ’n persoonlike besluit. Daar was geen oorleg met my uitgewers nie. Hulle het my nog altyd baie goed behandel en ek is jammer as hierdie gebaar hulle goeie werk ter bevordering van my boeke ongedaan maak. Ek vertrou egter dat hulle my besluit sal verstaan.

Ek verdien nie my brood in hierdie land nie en ek weet dat die situasie veel pynliker moet wees vir skrywers wat nie ander opsies het nie. Nogtans wil ek ander skrywers aanspoor om hulle medewerking, aktief of passief, van u te weerhou. Ons sal eenvoudig ander opsies moet vind om ruimte te skep vir die voortsetting van daardie uitwisseling van idees en drome en vrese en prestasies wat essensieel is vir die weerbaarheid van bewussyn en bewusmaking in enige taalgemeenskap.

Die uwe,

Breyten Breytenbach


Sien ook:
Louis Esterhuizen - Voorspel tot ‘n organisasie vir skrywers [Versindaba]
Alida Potgieter - Dat die forum vérder gaan verklein, is erg kommerwekkend [Litnet]
Kerneels Breytenbach & Frederik de Jager - BekRek 3 Maart 2011 [Litnet]
Neels Jackson -  Skrywers wil boikot
Tim du Plessis - Hokaai, die hoofdoel is om ’n beter diens te kan lewer

Thursday, March 3, 2011

Die Groot Sáámraping - Dag 4


Ten spyte van die protes uit alle oorde het dit vandag, met nog een dag oor voor die sluitingsdatum van aansoeke vir die pos van Über-redakteur, duidelik ingesink dat Media24 nie van besluit gaan verander nie. Ek dink trouens met die aankondiging van hulle planne was dit eintlik al 'n fait accompli. Hierdie skuif is nie 'n dag oud nie.

Ek wil saam met Breyten beklemtoon dat ons in ons soeke na ‘n oplossing nie die oorspronklike woede moet verloor nie, of die teiken waarteen dit gerig is nie. Die hovaardige & dikwels minagtende houding jeens Afrikaanse skrywers is iets wat nie net gedwee aanvaar behoort te word nie. Skrywers is die brood & botter van die bedryf, & verdien beter van dié wat geld & mag uit hulle handearbeid verkry het.

Daarom, hoe radikaal dit ook al met die eerste oogopslag klink, dink ek Gerrit se oproep tot ‘n resensie-boikot verdien besinning. Dis nie asof enige resensent (altans nie dié wat ek ken) ‘n bestaan daaruit maak of daarvan ryk word nie. Dis sakgeld, of betaal vir ‘n ekstra ietsie hier & daar. Die fooie is pateties, & báie resensente doen dit uiteindelik vir ‘n goeie saak.

Wel, die bestuurders van daardie Goeie Saak het nou vir skrywers & resensente die middelvinger gegee. Moenie daardie Vinger uit die oog verloor nie. Dit is dieselfde Vinger, of dan ‘n reïnkarnasie daarvan, wat ons in die ou dae van P.W. Botha gekry het.

Wat anders is dit as die gedrag van 'n bedryf in krisis. Kopergetalle neem af, ten spyte van die vervlakking & opdis van sensasionele snert. Hulle weet hulle dae is getel & hulle is besig om die skip te verlaat. Dit is belangrik dat ons vollédig, & so gou doenlik heeltemal na die elektroniese media beweeg. Báie van ons lesers is reeds daar. Knip daardie naelstring. Media24 is in elk geval besig om dit vír ons te doen.


Ns.

Wanneer ek kyk deur die name wat betrokke is by hierdie debat dan is daar 'n klompie name wat ek mis. Kan ons aanneem dat die aansoeke vir die pos van Über-redakteur uit hierdie groepie kom?


Sien ook:
Louis Esterhuizen - Dag 4: Hoe nou verder? [Versindaba]
Andries Visagie - ’n Veelheid van stemme is nodig [Litnet]
Johan Swarts - Boeke-besluit is geen katastrofe[Litnet]
Johan Swarts - Dood van die griffelaars (gedagtes oor die amalgamasie van Afrikaanse boekeblaaie)

Tuesday, March 1, 2011

Die Groot Sáámraping II

Breyten Breytenbach [Fotograaf: Luigi Novi]

Breyten Breytenbach het vandag 'n hernude oproep op die Afrikaanse skrywersgemeenskap gedoen om verdeeldheid in eie geledere te laat vaar & gemobiliseer te raak & as 'n groep saam te werk téén wat alom beskou word as 'n potensiële verarming van die literêre bedryf. E-posse vlieg heen & weer tussen die verskillende partye & spelers. Die Afrikaanse uitgewers het ook van hulle laat begin hoor & hulle outeurs probeer verseker daarvan dat hulle belange op die hart gedra word. 'n Mens sou egter sonder té veel inspanning 'n aantal insidente uit die afgelope klompie jare (& vérder terug) kon versamel waaruit die minagting jeens Afrikaanse outeurs óók & júis vanuit uitgewersgeledere geblyk het. But let bygones be bye-gones.

Hier is Breyten se vurige aanporring:

Vriende, kantoorprotestante, woestyngeuse, kameeldrywers, dwaalgeeste en klavierkenners:

Kom ons gaan 'n bietjie verder. Ek wil my veroorloof om 'n paar punte te maak waarvan julle almal baie bewus is, oftewel dan 'n paar honde in die bos gooi.

1. Daar is nie 'n gebrek aan lewenskrag onder Afrikaanse skrywers nie. Die verskeidenheid en kwaliteit werk wat gedoen word is nogal indrukwekkend - veral vir 'n 'minor language' (in Deleuze-hulle se definisie) vir wie die staatsspene opgedroog het. Dit moet darem seker beteken dat daar nog 'n taamlike klompie nuuskierige en oordeelkundige lesers daar buite is. Dit beteken ook dat daar nog 'n organiese verbintenis tussen taal ('n spesifieke taal) en eksistensiële bevraagtekening en verkenning is.

2. Afrikaans se reikwydte het gekrimp. Amptelik is sy in haar glory. Dink maar Afrikaanse departemente aan universiteite, dink staatsinstellings, dink aan die selfingenome barbaarse pragmatisme van die nouveaux riches, dink tydskrifte, dink ontleding en navorsing, dink aan die onverkwiklike bakleiery om resensieruimte en -diversiteit. Dink taal.

3. Dink veral taal. Hoeveel ruimte vir skeppende denke is daar nog in Afrikaans? (Ek praat nou nie van die 'vryheid' wat elke mens het om siel-alleen op sy eie mishoop te sit en dink net wat hy lus het nie.) Kan ons in Afrikaans nog met heilige onrus die onrusbarende kwessies van en rondom identiteit, geheue, geskiedenis, kreolisering, etiek, saam-mekaar-andersmaak, die stryd teen magskorrupsie... aansny? Want dis hierdie veranderingskrag wat slegs in die moedertong tot haar reg en potensiaal kan kom. Wat sou die resepsie en die impak van 'n Johan Degenaar of 'n Adam Small of 'n Jan Rabie of 'n MER vandag gewees het?

4. En dis nie die ANC se skuld nie. Daar was 'n tyd toe baie van ons geglo het die ANC se hartsaak is om die potensiaal van taal en diversiteit en sosiale en ekonomiese geregtigheid te ontsluit. Eisj, my tjaainas... (Maar dit beteken nie dat ons die droom en die najaag van 'n regverdiger Mzansi moet laat vaar nie.) Ons vernouing is ons eie toedoen. Óf ons krepeer/emigreer óf ons kruip onder die vaandel van "die etiek van stilte en skaamskande" en kruip weg agter die mure van ons weelderige kampongs.

5. Ons kan vergeet van die institusionele kultuurdrakrag en -ruimte van die sg. 'Afrikaanse' instansies en sake. Hulle gaan ons nie optel langs die pad nie. Hulle is net so gierig en winsgedrewe soos enige ander besigheid. Hulle lewe in die 'regte wêreld' van korrupsie en aansien en invloed en gjelt en Black Economic Entitlement. Hoekom sou ons ons in ieder geval verlaat op 'n patriargie? Die verryking van Afrikaans as nodige ontginning van die burgerlike samelewing se potensiaal is nie vir hulle 'n prioriteit nie. As ons nou maar Chinese kon wees... Die toekoms, sal hulle vir jou sê (wanneer dit nou gaan oor kommunikasie wat eintlik slegs bemarking van self of ander vulgariteite is), lê in die kuberruim, loop en skree nie in die strate van Tunis of Kaïro nie.

6. Ons blaf teen 'n toe deur wanneer ons vra dat Media24 tog asseblief nog 'n bietjie genade moet betoon vir die afvlerk Afrikaanse denk- en skepwêreld. Hulle sal vir ons verduidelik hulle het nie meer geld nie. Hulle lieg, maar niemand sal hulle daarvan kan oortuig nie want 'n korporasie het sy eie oorlewingsinstinkte.

Nou wat dan?

Ek dink een van ons swakhede is dat ons nie saam stem dik kan maak as burgers van "die republiek van lettere" nie. (En is dit nie 'n taalstaat nie?) So, my eerste voorstel is dat ons 'n vakbond of 'n unie van skrywers en ander literêre betrokkenes op die been bring. Kom ons noem dit "Solidariteit Afrikaanse Skrywersunie" en affilieer dit met die Solidariteit vakbondsbeweging. Dan kan ons ook sommer "teruggaan na die basis" toe en met die hulp van Solidariteit Helpende Hand bewus word van die haglike omstandighede waaronder mense wat deur die krake geval het en teen wie daar gediskrimineer word moet oorlewe.

My tweede voorstel is dat daar nuwe lewe geblaas moet word in 'n joernaal (ook aanlyn) soos Tydskrif vir Letterkunde, dat so 'n 'kollektief' die diversiteit van lees en resenseer kan genereer en federeer, en dat die kaleidoskopiese sienings vandaar aan Afrikaanse koerante en ander publikasies beskikbaar gemaak word. En dis verdomp nie onvermydellik dat lesers tot verdomming verdoem hoef te word nie. Die monopolistiese Media24 sal nie ruimte in hulle publikasies kan bly beskikbaar maak nie tensy 'n ander instansie daarvoor betaal nie.

My derde voorstel is daarom dat 'n Afrikaanse Literêre Ontwikkelingsfonds gestig word, geborg deur die privaatsektor en deur bydraes, om Afrikaans te bly dra.

Buiteblaf

Sien ook:
Louis Esterhuizen - In reaksie op Tim du Plessis [Versindaba]
Louis Esterhuizen - Nasionale Boekeredakteur: die gesprek tot dusver
Willie Burger - Die minagting vir die boekeblad by Media24 [Litnet]
Crito - Die verhaal van vervlakking en agteruitgang[Litnet]
Ampie Coetzee - Sentralisering is die weg na totale beheer[Litnet]
Charles Malan: Ope brief aan Tim du Plessis