Thursday, June 5, 2014

Vladimir Nabokov - Balling


Balling
Vladimir Nabokov

Hy wat toevallig ’n Franse digter is, daardie skraal,
boekdraende man met ’n stekelige grys ken;
        jy loop hom raak waar jy ook al gaan
op die helder kampus, verby klimopbegroeide mure.
Die wind wat hom rasend maak (dié herroep
       ’n nogal goeie reël in Hugo),
maak aanhoudend blou gate in die watervaste glans
van kollege-geteelde populiere wat ruis en glibberige skadu’s
        gooi na die bont
jong skoonhede, die ene bene, terwyl hulle fiets deur
sy skouer, sy oksel, sy hart, en die twee
        groot boeke wat hom seermaak in sy sy.

Verlaine was ook ’n onderwyser. Iewers
in Engeland. En wat van groot Baudelaire,
        alleen in sy Belgiese hel?
Hierdie klimop lyk soos die oë van die dowes.
Kom, blaar, noem ’n land wat begin met “v”;
        byvoorbeeld, “vergeet” of “vaarwel”.
Aldus mymer hy vaagweg en neem dromerig
kennis van sy afluisterende self soos sy lyf terugwyk,
        en oplos in sonversplinterde skadu.
L’Envoi: Daardie arme stoele in die Bois, waarvan een
bene in die lug, halfverdrink vassteek in die slym van ’n voor
        terwyl die ander byeen geskaar is in ’n oopte.

(Vertaal deur Johann de Lange)