Monday, July 27, 2015

Petra Müller 80


Petra Müller (1935 - )  © NB

‘n Skrywer is sy woorde, & daarom wil ek vandag, op Petra se tagtigste, volstaan met ‘n vers wat tegelyk beskrywing is van ‘n skildery deur Eraine Nankin sowel as verslag van ‘n dag-in-die-lewe-van die digter.


vir eraine, wat sing terwyl sy skilder

noudat dit winter word, verdonker jou palet:
jou berg groei bonkig uit én swarter bron
en moet sy blou veeg van die bo-lug leen,
en die ploegland, purper soos én wond
waar storms dit getref het, kan skaars
die lading lig dra
van die junieson
jy beweer: die sonskyn van die somer kan nooit so
genadig wees soos wintersonskyn nie; verf set
nou so stadig, daar is altyd tyd genoeg
om én te diep bewoë skakering van donker nog
te bewerk vir die ervaring van die lig: geel
op dooigras van die werf,
selfs, waagsaam,
oor water
én flonker
maar dít wat jy eintlik wou skilder: die musiek
van die wilde onsigbare strome (suiwer mozart
in én yl seisoen) dit moet vermoed word,
dit laat jy aan die ryker toeval oor,
dit moet stroom van kwas tot kyker
soos die klanke van jou eie noemnaam, onverwagse
kleine dagmusiek, wat van een taal in die ander
moduleer van vrede tot by reën

*

Bibliografie


Digbundels
Obool, Tafelberg, Kaapstad, 1977
Patria, Tafelberg, Kaapstad, 1979
Liedere van land en see, Tafelberg, Kaapstad, 1984
My plek se naam is Waterval, Tafelberg, Kaapstad, 1987
Swerfgesange vir Susan en ander, Tafelberg, Kaapstad, 1997
Die aandag van jou oë: gedigte vir die liefde, Tafelberg, Kaapstad, 2002
Night crossing, Tafelberg, Kaapstad, 2006
Om die gedagte van geel, Tafelberg, Kaapstad, 2012

Kortverhaalbundels
Werf in die rûens, Tafelberg, Kaapstad, 1980
Voëls van die hemel, Tafelberg, Kaapstad, 1982
Die dwerg van die Infanta en ander verhale, Tafelberg, Kaapstad, 1993
In die omtes van die hart, Tafelberg, Kaapstad, 1995
Desembers (saamgestel deur Rachelle Greeff), Tafelberg, Kaapstad, 2007

Romans
Verlore vallei, Dagbreek-Boekkring, Johannesburg, 1962
Die windskerm, Human & Rousseau, Kaapstad, 1963

Drama
Tant Madeleine se somer, Makro, Pretoria, 1974

Kinderboeke
Die kind van konings, John Malherbe, Kaapstad, 1968
Klein Wiek se groot pampoen, Tafelberg, Kaapstad, 1980
Reënboog vir Hannatjie, Tafelberg, Kaapstad, 1990

Romans gepubliseer as Magriet Smalberger
Die elande van Kruisberg, Dagbreek-Boekkring, Johannesburg, 1963
Hy wat die goud bring, Human & Rousseau, Kaapstad, 1966
Die koue vuur, Human & Rousseau, Kaapstad, 1970
Die Magriet Smalberger-omnibus, Human & Rousseau, Kaapstad, 1982

Bekronings
1974: Sanlam-prys vir Afrikaanse Drama vir Tant Madeleine se somer
1980: Eugène Marais-prys vir Patria
2005: Herzog-prys vir Afrikaanse Poësie vir Die aandag van jou oë
2013: ATKV-Woordveertjie vir Poësie vir Om die gedagte van geel
2013: Sala se Poësieprys vir Om die gedagte van geel



© Johann de Lange

Sunday, April 12, 2015

J. C. Steyn - Leonardo


Dis of alles na mens aangestorm, -gegalop
kom om wonder te word, te interesseer:
perde se steier, voëls swewend, hul vlieg
wég van; dat ruspe papie word, papie mot, leer
– hóé leer in die harsings, waar?
Of die hart se pomp, die stroom van bloed,
die hele liggaam, uit elke hoek
bekyk: Hoe sou oë sien, senings span?
Hoe bult die borsspier van ‘n man?
Kyk, ondersoek (en leer Latyn!
om per boek te kan verklaar, ééndag)
ook verbeeldinge wat nog moet kom:
geluid, die Diereriem, die brein.
Die tyd vlieg. As jy alleen is,
hoort jy allenig aan jouself.
Om klaar te maak uit (dis al uitgedink uit)
brons en klei, enk’les uit die verf:
Heilige Sebastiaans, madonnas byna klaar,
een Laaste Avondmaal,
die Slag van Anghiari: onvoltooi
die doodsbleek smart – oorwonnenes
en trane verf wat alles oor die muur

Hoe boei die lewe! Hoe boeiend alles
wat maakbaar – vlermuismasjiene
kanonne met monde, bomme met vinne,
gas wat die vyand sal verlam
en die groot voël wat sy vlug
moet begin op die groot swaan Ceceri se rug.
Die natuur van die voël: Hoe vlieg
En hoe vlieg die tyd? Hoe lê ‘n fetus in
En hoe die weefselstringe in die hart?

Een wonder is daar wat mens
te wonderbaar is, ja een geheim
wat jy nimmer kan vat: die weg
van die mens se natuur, en die hart
(nie “die hart”, elke hart, enige, maar dié)
hierdie hart wat hartstarrig bemin
teen alle willens, onwilligens in –
g’n maagd, madonna of mona
maar die klein Satan van ‘n Salai
wat lieg en steel en vreet soos ‘n vark.
Vervloek is so ‘n hart
en die weg van ‘n man weg van 
Maar as daar geen liefde is nie,
wat dan?

(Uit: Die verlore vader, 1985)

Monday, March 30, 2015

Breyten Breytenbach - Allerliefste, ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif


Bloeiende hart duif van Luzon

Allerliefste, ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif
want niemand sal ‘n boodskap wat rooi is skiet nie.
Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug en ek
weet al die jagters sal dink dis die son.
Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder
en waar hy vlieg daar skitter oseane
en bome word groen
ek hy kleur my boodkap so bruin oor jou vel

Want my liefde reis met jou mee,
my liefde moet soos ‘n engel by jou bly,
soos vlerke, wit soos ‘n engel.
Jy moet van my liefde bly weet
soos van vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie

Friday, November 14, 2014

R.I.P. Charles Fryer (1946 - 2014)



Rooiwielwa

‘n liedjie op pad Hantam toe

Ek gaan saam met die rooiwielwa
wat my terug na my hartland dra;
deur die nag vol maan alleen,
oor die swartbosvlakte heen.

Ek sal terug met die grootpad gaan,
óór die berg wat donker staan;
van julle sal ek niks meer vra,
ek gaan saam met die rooiwielwa.

© Charles Fryer

*

Oulaas

Dis oulaas stap, Pa:
jy in die middel en ons,
stram in kispakke,
maar regop, jóú seuns,
elk aan ’n handvatsel.

Dis half swaar, Pa.

Ons is gewoond saamstap
en die suidewind
is bitterbos en reën.

Voor die kampie op die bult
wag die volk
om vir Pa te sing,
hul gesigte dobberend in die middagson.

Pa het dié tyd
altyd
’n bietjie gaan skuinslê.

Calvinia, 1970

© Charles Fryer

*

Eiening

(Polisie-lykhuis, Soutrivier)

Nadoods nóg ’n maal geskend
lê jy op ’n lang, smal bed
agter ’n vierkant ruit –
die groen laken ’n mus
om jou gesiggie getuit:
’n first love-pop kon jy wees,
in ’n kinderspel vergeet,
maar jou neusie is myne
en die spoor uit jou mondjie bloed.

O, bietjie-kind van my lende,
op die harde, groen bed:
dit drup, drup van die vlym wat sny;
hoe suis jou stilte nou vir altyd in my.

© Charles Fryer

Monday, July 28, 2014

Bedreiging van die siekes



Bedreiging van die siekes
vir Brett Goldin and Richard Bloom

met dié gedig vervel die voriges

I
dames & here
vergun my om u voor te stel
aan die Groot Voëlverskrikker
die waaghals van ’n paar duisend blow jobs
wat reikhalsend van piskrip tot piskrip oor cumshots geskaats het
wat die dagbreek van tallose voorvelle sien oopskuif het
oorlewende van vriende & ’n 100 bloedtoetse & traumas

nou teruggekruip in sy dop
verskrik deur die volheid van elke oomblik
seer bewus van die broos nerf van menswees
bevrees vir die polsslag wat ’n aanraking laat taptoe in sy keel
hy bestaan net aanlyn in kopskote & videogrepe
hy begeer & word begeer op sosiale netwerke
deur ander nog meer ontliggaam as hy
’n harpy in die pretpark van herinnerings
’n boeteling sonder knieë aan die voete van sy god

& steeds duur die marteling, moord & selfmoord
van mans & seuns voort
wat geografies buite weste van die liefde lê
minnaars wat wurg
aan die lang koord van die wellus
ons soog blind aan die bitter tiet van Afrika
van beloftes aangeteken op papier
ons vat daagliks ons cocktails
& vergeet van die babas & swart lesbene wat verkrag word
ons vergeet van Brett & Richard in net hulle sokkies & vrees
ons loop verby die onteerde lykies in die sandveld
ons loop kerk toe verby die jongman
met die verkoolde fallus tussen die riete
ons troues is travestieë van die strukture wat ons gebaar & verwerp het,
ons ruil ringe & virusse uit & vier fees
& voel ons veilig binne die wering van papier
ons reënboog is so wyd soos ’n grondwet se ongenade

o, breyten, nie een van ons is veilig
solank álmal nie veilig is nie
solank die doodstraf opgelê word aan die liefde
solank genade uit is op parool
ek is ’n uitbaljaarde minnaar
met steeds ’n oog vir ’n mooi woordjie
wat van tyd tot tyd nog mooi broodjies bak
maar die tyd daarvoor is lank reeds verby
solank daar verkrag & gemoor & gemoer word
is niemand van ons veilig nie
ons het almal die liefde onder lede
tot sterwens toe


II
Afrika waar die vreemde liefde nog die doodstraf kry
Afrika waar ’n kampvegter in Uganda doodgeslaan is met ’n hamer
Afrika van moetie-moorde, die soetvleisies & balletjies fyngemaal vir fyngelowige byproewers
Afrika waar ons nog geslaan, aangerand & verkrag word
Afrika waar die regering sulke wreedhede & moord sanksioneer
Afrika waar enigiemand wat dit waag om te kritiseer eenvoudig verdwyn
Afrika van Noxolo Nogwaza gestenig & gesteek in ’n kroeg in KwaThema
Afrika van Zoliswa Nkonyana gestenig in Kaapstad omdat sy ’n tomboy was
Afrika van die korrektiewe verkragtings om lesbene op die regte pad te help
Afrika van troukoeke & ruikers & tot-die-dood-ons-skei
Afrika van gay huwelike, klere, grimering & honeymoons & grimas
Afrika van Distrik Ses waar die moffies veilig was in drag
Afrika van Camp David waar moffies in ’n vangwa gegooi
& deur die howe gesleep word, en hulle name sonder reg gepubliseer word,
wat verneder is & hulle werk verloor het
Afrika met een uit vyf gay kinders op skoolgronde aangerand of verkrag
Afrika van die nuwe diaspora, gay mans & vroue wat asiel soek in die vreemde
want in die townships is hulle steeds slagoffers van n apartheid & haat