Onderhoude

Sunday, March 27, 2016

André Pretorius - Italiaanse intermezzi (2016)



André Pretorius - Italiaanse intermezzi. Naledi, 2016. ISBN 97809238316254. Prys: R225.

Resensie: Johann de Lange

Ek is deur en deur ’n leunstoelreisiger, en vir ’n leunstoelreisiger is ’n reisskrywer die toergids. En van ’n toergids vra ’n mens net één ding: dat hy jou nie verveel of tussen jou en die plekke en dinge wat jy besoek, sal kom nie.

Die verskyning van Italiaanse intermezzi laat my hoop dat daar ’n herlewing mag wees van die reisskets wat so ’n gewilde en geliefde genre was met skrywers soos André Brink, Hennie Aucamp, Elsa Joubert, Uys Krige en Ernst van Heerden, om net ’n paar te noem – ’n genre wat reeds teen die 1980’s aan die uitsterf was.

Aucamp se In lande ver vandaan (2001), sy reisjoernaal deur Tibet en ­Nepal, was ’n welkome herontmoeting.

Maar die verskyning van As almal ver is: Suid-Afrikaners skryf huis toe, saamgestel deur Danie Marais in 2009, het ’n verrassende verskuiwing van perspektief gebring. Pleks van gewone reissketse is As almal ver is ’n versameling stemme van ons eie diaspora, die ekspats wat met nostalgie briewe terugskryf huis toe.

Pretorius is ’n gesoute reisiger. Hy skop af met sy reis hoog op by die stewel se dy, en van daar af sigsag hy al met die kuit langs af tot by die hak.

Italiaanse intermezzi is die produk van talle besoeke aan Italië wat begin het in 1992 as arm student. Hy is ’n fyn waarnemer en wanneer hy oor ’n stad of streek skryf, lig hy dit toe met sy uitgebreide kennis van die filosofie, geskiedenis, kuns, kos, geografie en opera.

Sy interessante aanhalings uit ander tekste verdiep en verryk die leeservaring en wys ook die leser heen na ander boeke wat die lees sal beloon.

Naas Henry James se klassieke Italian Hours, wat leer dat waarneming nooit net beskrywing is nie maar ook insig, is Pretorius ook ’n liefhebber van Peter Blum, en belig soos die vuurhoutjieverkoper die geskiedenis se “brewwe ligmomente” aan die hand van aanhalings uit Blum se verse, en verhelder Blum se verknogtheid aan die Europese, en ook sy ryk belesenheid. Die skets oor Triëst is veral interessant omdat Blum (moedswillig) voorgegee het hy is in Triëst gebore.

Een van my gunstelingreissketse in die boek is dié oor Venesië, ’n stad wat ook vir Blum in sy vers “Stad op die water” laat tob het:

Hoe sal die unieke
eeue-ryke steengeworde droom
beskerm word teen ons uitbundiges,
voortvarendes – teen besoedeling en
stoom?

Hy volg eweneens die roete van die vlugtende jong Uys Krige (beskryf deur Krige self in The Way Out: Italian Intermezzo), en vind nog mense wat Krige met deernis en warmte onthou.

Of hy volg die selfvernietigende vlugtog van die skilder Caravaggio van Milaan na Napels tot by Porto Ercole aan die Toskaanse kus waar hy dood op ’n strand aangetref is. Met biografiese inligting oor Caravaggio so skraps, gaan staan Preto­rius stil by sentrale skilderye van Caravaggio, en kyk diep en aandagtig, want dis in sy werk wat sy eintlike biografie opgeteken staan. Hy haal ook Blum se pragtige vers oor “Die roeping van Mattheus” aan.

Die eerste vereiste vir ’n reisskrywer is dat hy ’n entoesiasme en ’n liefde moet hê vir sy onderwerp en dit kan oordra aan die leser.

Pretorius het nie altyd die vermoë om ’n landskap of karakter in ’n enkele sin raak te vat soos ’n Aucamp of Brink nie, en soms oorwoeker die groot hoeveelheid inligting wat hy byhaal die vloei van die reis en die teks, maar ek vit nou net.

Sy liefde vir Italië is aansteeklik. En reis – behoorlik reis – beteken dat jy óók en verál by sommige plekke of dinge stilstaan en jou daarin verdiep.

Pretorius is ’n reisiger met ’n verfynde sensibiliteit en belesenheid, en is wyd belese binne die reisgenre self.

Die sketse in Italiaanse intermezzi is nie tradisionele reissketse soos ons dit vroeër geken het nie. Hulle is meer: eerder essays as reissketse, en hulle laat jou die wêreld om jou heeltemal vergeet.

Johann de Lange is ’n vertaler, digter en kortverhaalskrywer. Hy is in 2011 met die Hertzogprys vir poësie bekroon.

(Hierdie resensie het eerste verskyn in Rapport, & word herhaal met vergunning.)


Monday, March 21, 2016

Peter Blum - Die roeping van Mattheus

Die roeping van St. Mattheus © Caravaggio, ca. 1600

Die roeping van Mattheus

Caravaggio

Hoekom juis hy? Daar is so baie ander
wat hul skoonmaak, aspris vir 'n openbaring,
deur mildheid en 'n kuise lewenswandel
(soos, sê maar, binne-egtelike paring)
– maar hy het hom nog altyd goed verskans
agter sy neuk-maar-op filosofie,
en sy hardvogtige ingaring
van tolgeld vir die staat se tesourie.
Het hul hul nie misgis nie, dié twee mans,
ruig-bebaard, aangetrek soos ‘n takhaar?
Hy sit betrap en verleë op sy stoel
terwyl die groen seuns vraend opkyk: Wie?
Maar twyfel word verdryf deur dié gebaar –
dis hy, net hy, wat die vreemdeling bedoel.

En daardie lig, daardie vreeslike lig!
Soos ‘n asgaai steek dit in hom en tril:
hy wou dit nie hê nie! hy het hom mos verbêre,
domgehou, in sy kantoor, sy verfoeide bedryf,
sy wyn, sy wywe, sy losbandige lag –
hy was juis besig om taksgeld te tel,
en waar munt blink, is dié glans meestal vér!
Te laat nou – hy is ingehaal.
                                                Maar sy sterk lyf
soek alreeds die teenoorgestelde krag
(van een wat wakker word, téén en mét die dag)
vir opbeur, opstaan en gaan in daardie lig
wat op sy donker kop druk soos ‘n groot gewig.

Peter Blum
(Uit: Steenbok tot Poolsee, Tafelberg: 1955/1981


Friday, March 18, 2016

Gregory Orr - Na ’n dood


Na ’n dood
Gregory Orr

Ek het die voordeur toe hoor gaan
en deur die ruit my pa
oor die maanverligte gras sien loop
en óp met die pad na die boord.

En meteens was ek by hom
my hand met handskoen wat aan syne klou,
en Pieter, my broer, sy gestorwe seun,
het sy ander hand vasgehou.
Ons manier van loop
was 'n volgehoue soort verdriet.

Koue Novembernag;
al verder weg het ons geloop
oor die verlate paaie
sonder om ooit terug te draai
na die warm huis so helder verlig
met onuitspreeklike smart.

[Vertaal deur Johann de Lange]

Gregory Orr