Onderhoude
▼
Saturday, December 7, 2013
Joan Hambidge - Vers vir Mandela
Vers vir Mandela
Joan Hambidge
Na ‘n ándersoortige Ceylon
verban verbruik verneder
na ‘n sel
met ‘n naam uitgekerf:
trotseer jy op Robbeneiland
die verblindende son.
Vreemdelinge vaar
van heinde en verre
per boot na daardie oord.
En jy het gewag
- ‘n vreeslose verbanning -.
Toe na ‘n ander ruimte
verstoot:
die Victor Verster
tot die groot V
van Vryheid
voor die alsiende oog
van soveel kameras,
wég van Verraad
die lang pad na Vergifnis:
‘n vredesteken,
V
soos lydsames,
verdoemdes,
askete voor jou
van insurgent tot held,
skuif verlede oor hede:
Nelson Mandela,
Rus in Vrede.
Friday, December 6, 2013
Nelson Mandela (1918 - 2013)
† Nelson Mandela (1918 - 2013)
I. Die Nelson Mandela Museum
’n Fooitjie gee jou toegang tot elke intieme feit:
hoe sy pa versukkeld sterf, hoe hy twee beeste steel
& stad toe vlug, betrokke raak by die stryd,
hoe hy, aangevuur deur reg & onreg, geld vir wapens reël.
Hy het leer boks & hom onwetend na vlees & gees voorberei
vir ballingskap, sy kort eerste liefde, lang tronkstraf,
sy kinders wat een-een sterf terwyl hy afgesonder bly,
& half blind onder ’n fel son moes kalksteen kap as straf.
Roem sou later volg, & eer & akkolades. Sonder eiegoed
verlang hy om weer onbevange kinderstemme te kan hoor.
Maar eers moes hy ’n volk leer hoe om vry te wees, die herout
word van ’n reënboognasie sonder boeie, pasboek of skout.
In die gestadige transformasie tot simbool verloor
hart & klip sy vuur, die branding wat hom voed.
II. Standaardtoer
In die hawe lê die seiljagte vasgemeer in visgraatsteek.
’n Veerboot vertrek elke twee uur stiptelik: ’n poskaartvaart
oor Tafelbaai voor die boeg die water na die eiland breek,
& die roete na die befaamde eilandtronk nátrek op ’n waterkaart.
Die toergids is deurwinter & raseg, ’n professionele oud-prisonier,
& die bustoer ’n gladde relaas oor die ou geskil van myn-&-dyn,
’n draai by die Museumwinkel waarbo die meeue gier,
& dan die kramat met klein groen koepel, die Moslem-skryn.
Maar die hoogtepunt blý die monnik-sel wat ’n monument sou word,
koud & kaal met net ’n opgerolde kombers & strooimat om op te slaap.
Deur die tralievenster het hy die maan wild teen sy anker sien stry
bo die kwarrie waar hy byna sonblind sy droom moes vry-
kap uit metamorfiese klip. Soos die melaatses het hy hier gekaap
ook die óngekaarte streke van die gees verken, ver & vry & búite port.
Boekeblad: Beeld / Die Burger
Friday, November 29, 2013
What makes a man a man?
Charles Aznavour
Een van die mooiste kabaretliedere vir my is Charles Aznavour se "What makes a man a man?".
Charles Aznavour - What makes a man a man
Dit vertel 'n bekende verhaal van eensaamheid & begeerte, van pyn & venyn. Dit is 'n verhaal waarmee menige gay mens kan identifiseer, verál diegene wat, soos ek, graag jag maak op heteroseksuele mans. Onvermydelik laat dit mens nadink oor presies wat manlikheid behels. Dit is geen eenvoudige kwessie nie.
What makes a man
Charles Aznavour
My mum and I we live alone
A great apartment is our home
In Fairhome Towers
I have to keep me company
Two dogs, a cat, a parakeet
Some plants and flowers
I help my mother with the chores
I wash, she dries, I do the floors
We work together
I shop and cook and sow a bit
Though mum does too I must admit
I do it better
At night I work in a strange bar
Impersonating every star
I'm quite deceiving
The customers come in with doubt
And wonder what I'm all about
But leave believing
I do a very special show
Where I am nude from head to toe
After stripteasing
Each night the men look so surprised
I change my sex before their eyes
Tell me if you can
What makes a man a man
At 3 o'clock or so I meet
With friends to have a bite to eat
And conversation
We love to empty out our hearts
With every subject from the arts
To liberation
We love to pull apart someone
And spread some gossip just for fun
Or start a rumour
We let our hair down, so to speak
And mock ourselves with tongue-in-cheek
And inside humour
So many times we have to pay
For having fun and being gay
It's not amusing
There's always those that spoil our games
By finding fault and calling names
Always accusing
They draw attention to themselves
At the expense of someone else
It's so confusing
Yet they make fun of how I talk
And imitate the way I walk
Tell me if you can
What makes a man a man
My masquerade comes to an end
And I go home to bed again
Alone and friendless
I close my eyes, I think of him
I fantasise what might have been
My dreams are endless
We love each other but it seems
The love is only in my dreams
It's so one sided
But in this life I must confess
The search for love and hapiness
Is unrequited
I ask myself what I have got
Of what I am and what I'm not
What have I given
The answers come from those who make
The rules that some of us must break
Just to keep living
I know my life is not a crime
I'm just a victim of my time
I stand defenceless
Nobody has the right to be
The judge of what is right for me
Tell me if you can
What make a man a man
Tell me if you can
Tell me if you can
Tell me if you can
What makes a man a man
Marc Almond
Jacques Brel
Gedurende sy vormingsjare was figure soos die flambojante, talentvolle Marc Bolan (wat tragies op 29 dood is in 'n motorongeluk), & verál Jacques Brel belangrike invloede.
Tydens sy solo loopbaan, ná die opbreek van Soft Cell, doen hy etlike van Brel se klassieke liedere. Hy doen ook later kollaborasies met o.a. Jimmy Somerville & Gene Pitney.
Marc Bolan T-Rex - Hot Love
Almond ontmoed David Bell aan die Leeds Polytechnic & saam stig hulle die popsynth groep Soft Cell in 1979. Hulle debuteer met "Tainted love", 'n obskure Northern soul liedjie deur Gloria Jones, die sangeres met wie Marc Bolan 'n verhouding gehad het ten tye van sy dood, & wat trouens saam met hom in die motorongeluk was. Die beserings wat sy opgedoen het, het die einde van haar sangloopbaan beteken. Omdat sy & Bolan nie getroud was nie, kon sy & haar seun Rolan nie aanspraak maak op Bolan se fortuin nie, & haar lewenstyl het oornag van weelde na armoede verander. Dit is hier waar David Bowie ingetree het, & hulle finansiële steun gegee het tot hulle, na die dood van Bolan se wettige vrou, uiteindelik sy geld kon kry. Iets wat mens baie respek gee vir Bowie, & ook 'n idee van hoe hoog Bolan deur die kunstenaars van sy tyd aangeslaan was.
"Tainted love" het die nuwe duo oornag beroemd gemaak & is ook een van die liedjies wat die langste op die Billboard Top 100 deurgebring het. Hulle het dit opgevolg met 9 Top 40 enkeltreffers & 4 Top 20 albums. Ek het elke langspeler wat hulle vrygestel het, gekoop & die soms heel dekadente lirieke bestudeer. Hulle het 4 albums vrygestel voordat hulle in 1984 opgebreek het: Non Stop Erotic Cabaret, Non Stop Ecstatic Dancing, The Art of Falling Apart, & This Last Night In Sodom. Gerugte oor Almond se uitdagende gedrag & eksesse het hom net nóg meer fassinerend vir my gemaak.
Marc Almond - What makes a man a man
Marc Almond - Glorious
Bronski Beat & Marc Almond - I Feel Love
Marc Almond - Jacky
Marc Almond - Days of Pearly Spencer
Soft Cell - Tainted love (1991 Video)
Marc Almond - The Desperate Hours (Live at the Royal Albert Hall)
Marc Almond - Desperate hours
Soft Cell - L'Esqualita
Baie jare later maak Hennie Aucamp my daarop attent dat daar 'n uitstekende vertaling van die lied gemaak is deur J.D. Stemmet, & ek druk dit hieronder af, hopelik met mnr. Stemmet se goedkeuring.
Daar is 'n aantal plaaslike stemme wat ek dié lied graag sou wou hoor sing, party nie meer met ons nie. Ek dink Ralph (Johannes Kerkorrel) sou 'n lieflike weergawe kon maak.
So sê die mense
Charles Aznavour
1
Ek woon saam met my ma
in ’n ou “apartement”
Rue Sarasate
Om tuis mee te verkeer
het ek ’n muis, ’n teddiebeer,
en ook twee katte
Dat ma ook meer kan gaan lê
hou ek die huis soos ek wil hê
en brei my truie
Droog af en pak weer weg
stof af en skuif weer reg
en kap die uie
Ek hou van dekoreer
skep gou ’n atmosfeer
ek’s ’n “styliste”
Maar my beroep is dit nou nie
ek is ’n travestie
ek’s ’n “artiste”
Ek doen ’n nommer spesiaal
en eindig, wel ja, kaal
in ’n striptease
En kyk ek weg na die gehoor
sien ek die manne raak getoor
dis dan ’n man, o! so sê die mense
2
Teen drie se kant vat ons die straat
gaan eet ons saam, en lag en praat
sonder komplekse
Ons waai ’n “kissy” vir die baas
die gaste hik en kyk verbaas
na dié soort sekse
Maar moenie dink ons vat dit koel
Ons sis en skimp t’rug op die boel
heteroseksuele
Verfyn gedompel in asyn
(van die verdoeselde venyn
het ons tog vele)
T’rug in die straat dwaal nog ’n paar
laat gaste rond, vermaak mekaar
met slap gebare
Dit swalk potsierlik sonder styl
Dit boots ons na en laat my kwyl
die lomp takhare
Die primadonnas en tenore gil
die pêlle klap en skree en jil
en swaai die pense
Om dié soort terug te kry?
Nee, liewer te vermy
Ek’s dan ’n man o! so sê die mense
3
En kom ek later by die huis
– en soos gewoonlik, dis my kruis –
is ek verlate
Ek trek my lange wimpers af
en sien ’n nar, hy’s saf en laf
na al die strate
En gaan ek lê, bly dink ek aan
die liefde waaroor alles gaan
so sonder vreugde
Die mooie jong man op ons vloer
hy’t my bekoor, my hart geroer
maar sonder vreugde
Hy ken my skaars, hy knik miskien
die af-en-toe as ek hom sien
ek bly verlate
My soet geheim bly kuis bewaar
nooit kan ek dit aan hom verklaar
Rue Sarasate
As iemand dan na my toe kyk
’n vinger wys of iets laat blyk
dan sê ek; “Mense,
Só is die natuur, wat kan ek meer
dis alles buite my beheer”
ek’s ’n man, o! so sê die mense
[Vertaal deur J.D. Stemmet]
Skakels:
Marc Almond - Wikipedia, the free encyclopedia
Liza's At The Palace - What Makes a Man a Man?
Kabaret artistes interpreteer Marc Almond se "What makes a man a man".
Marc Almond - What Makes A Man A Man | Live Berlin Admiralspalast, 2010
Sunday, September 29, 2013
Johann de Lange - Die lywe van woorde
Die Belvédère torso
Die lywe van woorde
Words are so erotic, they never tire of their coupling.
Stanley Kunitz
Vroeg reeds voor ek woorde gehad het vir dinge
het ek taal aan die lyf gevoel & in die monde van vreemdes.
Immer gereed is ek naskool deur onderwysers afgetos,
ek het my warm kollekte in die palms van predikante gestort,
is afgesuig deur dokters & polisiemanne in uniform
in geparkeerde motors, & kapelane bedag daarop
om die Heilige Vlees te vang in ’n kondoom;
in skoolbadkamers, & later in saunas & storte by die gym,
het ek toegewyd aan sekere spiergroepe gewerk.
Op Voortrekkerkampe, skoolkampe, & kerkkampe immer jags,
is ek geskommel onder brûe, onder sterlig & skade,
onder bome, onder stukkende straatlampe
& op verlate tennisbane snags (die telling altyd zero-stroop).
Met die geur van sonneskyn & chloor is ek uitgehelp
onder die blou waters van openbare swembaddens –
plesierig die wit gedagtewolkies wat woordeloos wegdryf . . .
Prys openbare vervoer, & die steelse handgrepe aangeleer
agterin skoolbusse, of die beknopte toilette van oorvol skool-
vakansietreine, & prys spitsverkeer waar my mielie
gerol is deur aantreklike, vreemde tongvalle op deurtog,
deur digters & arbeiders met growwe hande,
& deur studente met sagte palms & beurse & baie tyd.
Prys die behendige vingers van haarkappers,
van kantoorwerkers in hysbakke, oorvol parkades
of roekeloos die dakke van wolkekrabbers.
Ek het my laat vang deur ooms in vrugteboorde,
& nefies in plaasdamme, deur atlete, spiesgooiers
& rugbyspelers in nagtelike koshuiskamers,
in leë skoolsale & op laatnagpawiljoene.
Ek onthou stasietoilette met ou ooms
& die sterk reuk van pis & Jeyes fluid,
& die twee str8 pelle lus vir mekaar
maar ek moes middelman tussen hulle lê
& hulle hande op mekaar se lywe hou & op my,
ek onthou die doofstom mechanic met ’n voël
deur Michelangelo, wat altyd duim na bo beduie het
as hy reg is om te kom, & die bukserige vlieënier
met die bierblikdik piel (goddank ’n bottom)
wat ek op die lugmagbasis se landingstrook genaai het,
& al die kreatiewe sessies foonseks Sondagoggende
met ’n lugmagkaptein alleen aan diens in die vlugtoring;
al die soldate op tjie-tjie-enkelbeddens in weermagbarakke,
of op die koel gras tussen die nagbome van die Uniegebou.
Ek onthou die onderwyser wat Saterdagoggende klokslag
gekom het vir ’n pak slae met sy eie rottang,
die rooi riwwe op sy boude, die afdrukke van my hand.
My riem is geruk by tallose piskrippe deur koorsige hande
van alle kleure, oriëntasies, oortuigings & verál tegnieke
terwyl ek kennis geneem het van die wit hiërogliewe & simbole
wat ons vryhand geskryf het teen aluminium & porselein
& wat weggespoel is totdat net herinnerings oorgebly het.
Op Vadersdag is ek in die begraafplaas afgesuig
deur ’n blommeverkoper, met ’n bos blomme in my hand
want ek kon nie my pa se graf opspoor nie.
In die winter het ek snags langs die Liesbeek
studente met koue hande weggehelp, gefrustreer
na ’n date met ’n meisie wat haarself wil spaar,
skaam oor hulle nood, & wat soms saam is huis toe
waar ons met hande oorkruis mekaar uitgehelp het
terwyl ons lê & porno kyk –
& soms, net soms, was daar epifaniese oomblikke
wat gekom het deur ’n gloriegat,
waar ’n spoeggladde palm, of ’n warm mond,
of ’n tong die onsegbare gesê kon kry
in die vlesige samekoms van ’n driftong.
(c) Johann de Lange
Monday, September 16, 2013
Die dood van diere
Tzar & Zachari
Vandat ek kan onthou het ek 'n liefde vir diere gehad. My jare op die plaas het ek altyd iets gehad wat ek hans grootgemaak het, 'n lammer, 'n kalkoen, 'n apie, 'n tarentaal.
Hoewel ek 'n voorliefde het vir katte, het ek grootgeword in 'n familie wat nie katmense was nie, so my eerste kontak met troeteldiere was met honde, & hulle het in my hart gekruip soos net hulle weet hoe. Maar ek het my voorgeneem die dag as ek op eie voete staan, kry ek vir my 'n kat. En my eerste kat was Gunar, 'n lieflike bruin Burmees. Daarna het ek Vareck gehad, 'n Siamees met die mooiste blou oë & geaardheid, Toulouse, 'n svelte Havanna Brown & Yoshi, my eerste sphynx, ook 'n blue-eyed boy. Aan sy dood dra ek steeds die swaarste.
Op die oomblik het ek nóg twee sphynx-katte, Zachari & Tzar.
'n Lewe sonder diere is vir my ondenkbaar, & mense wat nie van diere hou nie is vir my onbegryplik, & nie te vertrou nie.
Maar saam met die liefde van & vir diere kom ook verantwoordelikheid. En soms moeilike besluite: om nie aan jou eie behoeftes te dink nie, maar aan wat die beste is vir hulle. Almal wat diere in hulle lewens het, ken die pyn van afskeid neem.
As 'n blyk van waardering vir wat hulle in my lewe beteken het, 'n paar van die verse wat ek geskryf om hulle lewens te vier.
Die dood van diere
vir Gunar, Vareck, Toulouse & Yoshi
Hoe goed om nié te weet
dat daar ’n einde kom
aan jou bestaan: nie te hoef vergeet
jy leef louter in die japtrap,
sonder aanstons
of weleer. Ons daarenteen
bevolk drie tye tegelyk
& ken berou
& weet ons dade yk.
*
Schrödinger se kat
† Gunar, 1 Junie 2003
In die nanag het ek opgeskrik
& meteens geweet jy’s dood:
eindelik met die heelal kiets,
my katvoet geesgenoot.
Volgens wette van die wetenskap
verdwyn jy in geen vergetelgat,
maar woon gelyktydig hiér & nié:
‘n opperste kwantumkat.
Schrödinger was reg: verseël
in vergeet-my-nie se kis,
oë soos nuutgemunte pennings,
bly jou uiteinde helend onbeslis.
*
In memoriam: Vareck
and what I want to know is
how do you like your blue-eyed boy
Mister Death
e.e. cummings
Jou naam het ek ver gaan haal
in koue streke waar die lug oopoog
jóúne naboots. Aan ons sonniger kus
het jou wit pels verdonker & verdig.
Vir elf jaar was jy vertroueling
& vriend; gulhartig van natuur
het jy alle toevoegings tot die gesin
met grasie aanvaar.
Dat ék wat jou liefhet
vanoggend oor jou éinde
moet beslis – op ’n mooi dag
& met die bure se windklokkies
buite – dít was bitter, lieferd.
Toe die laaste druppels uit die naald
in jou mooi lyf wegsypel, het jy
na my opgekyk: jou oë was ver & oop
op streke waar ek nie kan volg,
& jy my vir nou katvoet vooruit loop.
† 12 Desember 1992 - 29 November 2004
*
Brahmaan
vir Yoshi
Om goddelik te wil wees
soos jy, suiwer net gees,
moet ek my glo kwytskeld
van wat my nog hiér hou:
begeerte, honger, ego, geld,
ook verknog-wees-aan-jou.
Hierdie dinge ketting my vas
aan die karma-wiel.
Eers as ek aflê
áls wat ménslik aan my is,
kan ek verlig & veerlig weet
ons is suiwer siel,
& sien ek jou daagliks
stralend langs my kniel.
† 25 Desember 2002 – 12 April 2011
*
Yoshi
† 25 Desember 2002 – 12 April 2011
Lenig, met voor- & agterpote,
die ribbekas, skouerblaaie,
& jou darteldraf ligvoets
stertorent – áls is van die fyn
rugstring
gesuspendeer,
terwyl jy vórentoe luister, ore gespits,
jou blou oë luisterstil
wat na die muisvoëls luister,
fyn neusvleuels wat tril-
lend die buurtnuus uitsnuffel.
In jou keel klop ’n slag-
aar ritmies, so delikaat gekalibreer
ek kan die bloed van hart-
kamer na hartkamer volg.
Friday, September 6, 2013
Seamus Heaney - Enigiets kan gebeur
Seamus Heaney, 2009 (Foto: Antonio Olmos)
Enigiets kan gebeur. Jy weet hoe Jupiter
meestal sal wag vir wolke om op te steek
voor hy sy weerlig neersmyt? Wel, nét nou
het hy sy donderwa en sy perde laat gallop
oor ’n blou helder lug. Dit het die aarde geskud
én die verstopte onderaarde, die Styx-rivier,
die kronkelende strome, die Atlantiese kus sélf.
Enigiets kan gebeur, die hoogste torings
omgekeer word, dié in hoë plekke afgeskrik,
dié wat oorgesien is, betrag word. Strop-bek voorspoed
swiep neer, laat die lug snak, skeur die kruin van een áf,
en sit dit bloeiend op die volgende een neer.
Grond gee mee. Die hemele se gewig
lig van Atlas af op soos ’n keteldeksel.
Sluistene skuif, niks val weer in plek nie.
Telluriese as en vonk-kieme kook weg.
(Vertaal deur Johann de Lange)
Saturday, August 24, 2013
Johann de Lange - Perspektief: Balkon van die skrywer
Eugene Terre'blanche met sy perd Foto: Antonia Steyn
Perspektief: Balkon van die skrywer
na ‘n gedig van Johan van Wyk
Toegewikkel in ’n laken van wit wolsatyn
leun ons kaalbas oor die balkon & kyk
na die berede optog (geen oopdakmotor)
EUGÈNE TERRE'BLANCHE VOLKSMAN DIGTER
van Kerkplein op in Paul Kruger.
Perdeskoene stommel op die teer.
Onder die breë boude & blink pronksterte
stoom warm bolle mis.
Op sy swart perd, in swart hemp, kakiebroek & -hoed,
saai die leier se stem tussen die geboue terreur,
sy agterryers in kakieklere met sweetvlekke,
oop nekke, baarde, ferm boude in die saal.
Die vangtou van ’n lens bring hom
aarde toe, op die harde teer.
Die aand ná sy pangamoord
(sy lyk onteer in ’n troostelose kamer: die lappie roes-
rooi skaamhare sigbaar deur die oop ritssluiter)
word hy op televisie vereer
met ’n kortbegrip van beelde & ’n uitspraak:
hy sal verál ook onthou word as ’n gevalle ruiter.
Friday, August 23, 2013
Richie McCaffery - Die leie
My Oumagrootjie het ’n tyd herroep
toe sy as skoolmeisie geskryf het op leie
en met ’n eenvoudige vee van ’n klam lap
het beskawings geval, tale tot stof geword.
Die dak van haar laaste huis was ’n lesuur vol
van leie, goue medaljes van ligeen,
mos soos sybokhaar, en die eindelose reën
jaar na jaar wat herinnerings uitgewis het.
[Vertaal deur Johann de Lange]
Wednesday, August 21, 2013
Howard Moss - Bedopmaak
Howard Moss © Mark Hillringhouse
Ek weet hoe om ’n bed op te maak
terwyl ek nog steeds daarin lê, en
uitglip deur ’n verbeelde opening
asof ek gepers word uit ’n buis:
Pluk, stryk – die bed is opgemaak.
En as opstandings net so maklik is,
wel, dan glo ek in die hele spul:
Lasarus wat opstaan uit sy graf,
Elia sommer vertikaal –
hoewel dood, meen ek, meer as net slim
huishoudelike wenke in gedagte het,
en die bed opgemaak wil hê, eens en vir altyd.
(Vertaal deur Johann de Lange)
Tuesday, August 20, 2013
Richie McCaffery - Die orrel
Richie McCaffery (1986 - )
Sondae loei die orrel
soos ’n groot gestrande walvis.
Mense vat sy vet om lampe
binne hulleself aan te steek.
Iets het gesterf in groot pyn
maar dis nie vir my om te sê wat.
Die deure gaan oop, lig stroom in
en meteens verdrink ons almal.
(Vertaal
deur Johann de Lange)
Saturday, August 17, 2013
Richie McCaffery - Tollende borde
My ma was so verskrik as kwik,
dol soos ’n Disraeli keilhoed
waarbinne ’n gipswit konyn wegkruip.
Sy’t op ’n keer vertel, die mout het gepraat,
ek is nie haar eersgebore seun nie,
daar was seminale sopies.
Sy’t gesê om te verwag
is baie soos om ’n bord van beenporselein
te laat tol op die dunste steel binne jou.
Breekskade is onvermydelik.
Dit is ’n kwessie van watter stuk
ongeskonde gaan val om al in die rondte
op die hardehoutvloer te rol, die rand wat lui
en grens. My suster is ’n wilde vuurproef,
’n ambagsman se veelkleurige bord
steeds aan’t tol. Ek is ’n wit kantien-
piering, gereed om getaan te word met tee
wat mors. ’n Bakhand vir stortsels.
(Vertaal
deur Johann de Lange)
Richie McCaffery - Swartbord by St. Cuthbert
Richie McCaffery (1986 - )
In die kryt-geut onder die swartbord
is lesse afgestof en lank reeds vergete.
Die onderwyser kras nogeens voort
en krap op die donker tabula
rasa
die waarhede tot dusver oor God en rekene
met die uitwisbare wit van skulpfossiele.
(Vertaal deur Johann de Lange)