Onderhoude

Sunday, March 27, 2011

Die Hertzogprys vir poësie 2011

Omslagontwerp: Christiaan Diedericks

Die toekenning van die Hertzogprys vir poësie aan Die algebra van nood is 'n onverwagse & baie plesierige hoofstuk in die storie van 'n bundel waarvan die ontvangs groot verdeeldheid gebring het onder resensente. Van lesers was daar 'n gulhartiger ontvangs & getroue volgelinge van my werk het ruimskoots vir die "slings and arrows" vergoed met ruimhartige reaksies.

My uitgewer & goeie vriendin Alida Potgieter (wat sedert Vreemder as fiksie deur vuur geloop het vir my & heeltemal skokvas geraak het in die proses) het baklei vir 'n omslag wat baie gevrees het lesers sou vervreem. Dit bly vir my nog een van die mooiste omslae van enige van my boeke. Dit het my vir die eerste keer aan die werk van Christiaan Diedericks bekendgestel, & ek het sedertdien 'n ywerige versamelaar van sy werk geword.

Daar het 13 jaar verloop tussen die publikasie van my laaste digbundel, Wat sag is vergaan, in 1995 & Die algebra van nood in 2009. In dié dertien jaar het ek nie op my hande gesit nie. Ek het aanhou skryf maar die behoefte om te publiseer, was nie meer daar nie. Op 'n stadium het ek H&R genader oor die moontlikheid van 'n keusebundel aangesien al my bundels uit druk was & ek dikwels deur lesers & universiteite genader is rondom die beskikbaarheid & gebruik van my werk. H&R was baie geesdriftig, mits ek so 20-30 nuwe verse het om by te voeg as aansporing vir voornemende kopers.

Ek het omtrent 200 gedigte in my vriend prof. Henning Snyman se hande gestop & gevra dat hy my help om 20 gangbares te kry waaraan ek dalk kan werk sodat hulle by die keusebundel gevoeg kan word. Dit was hy wat H&R gekontak het & gesê het daar is 'n bundel iewers tussen al daardie gedigte & dat die keusebundel vir eers kan wag. Ek was maar langtand vir die idee, want die gedigte was te veel & wydlopend vir my om 'n bundel te visualiseer & dit sou beteken dat ek die lang & moeilike pad sou moes loop van kies, orden & slyp, van gestalte gee aan 'n bundel. Maar toe ek eers begin het, toe ek eers 'n seleksie gemaak & die verskillende afdelings aangelê het, het daardie ou energie ingeskop & die plesier van worstel met 'n manuskrip het oorgeneem. Ek het báie hard, maar báie lekker gewerk aan die bundel.

Henning het kort-kort 'n nuwe weergawe van die manuskrip gekry, & ook vriendin Joan het insette gelewer. Toe ek klaar was, het ek besef daar bly een stap oor: ek het sedert my debuut dikwels die manuskripte van my bundels vir André Brink ter insae gestuur omdat ek groot waardering & respek het vir hom as poësieleser. Sy reaksie op die manuskrip van Die algebra van nood het onmiddellik ál my vrese & onsekerheid besweer. In 'n e-pos aan my skryf hy:

Beste Johann

Nie ‘n “bespreking” nie! Net ‘n dankiesê. Vir wat, dink ek al meer, waarskynlik die beste is wat jy nog geskryf het. Jisses, dis mooi! Die soek na heiligheid en skoon-heid, die visenteer van skaduwees, die verkenningstogte deur die dood, die altyd bewus bly van verganklikheid, die deernis met mens-wees, die in-dig na die pit toe – tot in die kleinste verse, soos die groot “Rembrandt”, die odes en palinodes, die her-dink en óór-dink en deur-dink van vroeër digters… Dit alles is ‘n fees van herkenning, en tegelyk van nuwe kennismaking. ‘n Enkele keer was daar ‘n vragie:  iets hinderlik oorbodigs omtrent die frase “eensame isolasie”? Jou gebruik. ‘n paar keer, van “fonkel” eerder as “vonkel”?

Nie vir ‘n oomblik hoef jy bekommerd te wees oor trefsekerheid nie. Dis ‘n glansende bundel dié. En daarom, regtig, net DANKIE. (My enigste werklike jammerte is dat ek dit nie vroeër kon gesien het om in te sluit in die nuwe Verseboek wat nou by die drukker is nie. Maar uiteindelik maak dit seker ook nie saak nie: hy kan rustig en gloeiend wag op die volgende.

Daarom hoop ek jy sal vergewe dat dit nie ‘n deurdagte besinning is dié soos wat jy ongetwyfeld verdien nie. Maar die dankie kom diep uit die hart uit. Ek kan nie wag om dit in my hande te hou nie. Hoop dis binnekort!

Baie hartlike wense,

André

Dié bekroning is die eerste keer sedert 1937 met I.D. du Plessis se bekroning vir Vreemde liefde dat die Hertzogprys vir poësie aan 'n gay bundel/digter toegeken word. Ek neem die prys eweneens in ontvangs namens die generasie van Tagtig wat, met die uitsondering van Etienne van Heerden, tot dusver grootliks verwaarloos & oor die hoof gesien is.

Johann de Lange
Kaapstad, 27 Maart 2011


Lees ook:
Susan Cilliers - De Lange kry Hertzogprys
Joan Hambidge - Van rand tot kanon [Die Burger]
Joan Hambidge - Suiwerheid van intense paradoks [Beeld]
Hertzogprys-fokus Johann de Lange [LitNet]
Aankondiging Akademiepryse 2011 [Die Afrikaanse Taalraad]
Johann de Lange wen 2011 Hertzogprys vir Poësie [Versindaba]
Hertzogpryswenner vir poësie is …[De Kat]
De Lange wen Hertzogprys [Volksblad]
Akademie vereer skrywers [Die Burger]