Onderhoude

Monday, September 19, 2016

Henning Snyman - Twee digters in gesprek – die fyn, fyn net van die woord

1. Indeks van Joan Hambidge en ‘n Hunkering se grein van Johann de Lange is twee bundels wat wêrelde van mekaar verskil, maar tog met mekaar in gesprek is – blatant én subtiel, veral subtiel. Albei bundels is pragtig uitgegee, en albei het ‘n blou agtergrond op die omslagontwerp. Die font waarin De Lange se bundel geset is, is keurig en kleinerig, dié van Hambidge effens guller, meer spraaksaam en uitnodigend vir die leser. Johann se bundel het ‘n omslag gebaseer op ‘n skildery van Judith Mason, Joan s'n is gebaseer op haar eie foto van ‘n kustoneel in Santiago. Die een dus meer ingestel op die kunsbeeld, die ander op die persoonlike. Wat hulle direk gemeen het met mekaar, is die uitstekende verse in albei.

Hambidge se verse handel primêr oor die gedig as sodanig, of eerder oor die digkuns. Sy haal Neruda aan dat daar nie digters is nie, net die digkuns. Uit haar hele oeuvre is dit duidelik. Haar bundels oor die jare moet saamgelees word as die steeds ontplooiende verhaal van ‘n digkuns, as’t ware ‘n verkenning van die ars poetica. Soms is die digter sentraal in ‘n gedig, ander kere staan die digter opsy en kyk ironiserend, ook self-ironiserend, na die gedig. Die inleidingsgedig is inderdaad “Ars poetica” (bl 12). Allereers is hierdie gedig ‘n soort bestekopname van die digter se vroeëre bundels. Ook die onvermydelike oorgang van die vinnig geïnspireerde digter, na die hedendaagse en meer besadigde digter waar dit “beurtkrag is met die digterlike proses”, is skerp afgeteken. Die digter sien uit dat haar beelde weer eendag helder skyn, maar tog “soos ‘n wolk van gevlerkte slange”. Die digter karteer in ‘n sekere sin die bruising van ‘n paar bundels wat met mekaar ‘n gesprek voer. Meer as dit, dui dit op ‘n bepaalde manier van soek na die aard van die gedig, die innerlike en inherente kern van die gedig en digkuns. Hierdie kritikus onderskei drie periodes sover in die digter se werk: van die begin tot by Verdraaide raaisels, daarna van Die somber muse tot by Interne verhuising wat ek as ‘n keerpunt sien, en vervolgens die bundels sedert Ewebeeld tot die jongste. Die sentrale temas wat oral deurspeel, is afskeid, verlies en reis. Hierdie temas vorm die parameters met die gedig self as die saambindende krag. Soos enige digter en romanskrywer is elke werk deel van die ontwikkelingslyn en bring elke nuwe werk nuwe insigte in die aard van die digterlike ondersoek. Lesers wat hierdie interne samehang en samesyn nie begryp nie, kla wederregtelik oor herhaling van temas. By Hambidge is dit noodsaaklik dat haar werk gelees word as die openbaring van “poësie puur”. Dit dui nie daarop dat hierdie digter poësie skryf ter wille van die poësie self nie, geensins kuns-om-die-kuns nie, maar almal bakens op die groot reis in die poësie in. Nie net die verkenning van taal en vers nie, maar veral is dit die verkenning en dikwels herkenning van die mens as die gestalte binne die gedig.

Daar is die soeke na die minnares, die verlore liefde, en deur geografiese reis word die gedig telkens ‘n ander plek gegee, oral “ken die hart sy verdriet”. Ook die verlore liefde word, deur die pyn heen, uiteindelik simbool. Die rusteloosheid van die digterlike gemoed wil steeds nuwe vergesigte bereik, nuwe wêrelddele ondersoek, en ‘n digterlike gesprek voer, met digters, maar ook die mens in sy weerloosheid. Soos ook reeds uit hierdie inleidingsgedig blyk, is die humor en die satire en die ironie basiese bestanddele. Faust is steeds aanwesig, “der Geist der stets verneint”.

By de Lange is daar nie soseer ‘n inleidingsgedig nie, maar die aanvangsgedig in die bundel het heelwat te sê. N. P. van Wyk Louw het sinies opgemerk toe hy by geleentheid daaroor gevra is, dat die eerste gedig in ‘n bundel bloot die een is wat uitgeval het toe die vorige bundel lank genoeg was! Sekerlik was dit nie waar by Louw se bundels nie, en ook nie in Hunkering nie. Die bundel open met “ ‘n Murmurasie van spreeus” waar ‘n bekende klein natuurtoneel ‘n nuwe betekenis oopmaak. ‘n Toneel van ‘n klomp spreeus wat gereed maak om teen dusketyd te gaan slaap in die bome, is bekend aan almal wat die natuur dophou. De Lange se gedig oor die swiepende en dalende, raserige spreeus is in die vorm van ‘n Italiaanse sonnet. In die drie kwatryne word hulle bewegings voorgestel: uitgelate, wisselend van een vorm in ‘n ander, of soos ‘n gaasdoek in die wind, ‘n dans met die gekwetter soos onwesenlike musiek ter begeleiding. En dan in die slotkoeplet:

& dan meteens in swart sneeuvalle
op ‘n groepie nagbome neerstryk. (bl 7)

In die eerste plek ‘n mooi klein aandtoneel. Tog is dit duidelik dat die bewegings van die lawaaierige spreeus ook wisselende beelde bied van aardse en gewone lewe, maar ook inspeel op die wêreld van die digter, die kunstenaar. Hierdie toneel word as’t ware geraam, veral deur die vormgewing van die gedig. Die uitbundige vryheid van die drie kwatryne word hok geslaan deur die slotkoeplet waar die spreeus in swart sneeuvalle op die bome neersak. Die beskrywing van die bewegende voëls in ‘n verskeidenheid van bewegings, word skielik tot ‘n slot gebring as die aandskemer die spreeus insluk. Die rol van die wwe is belangrik. Dit veronderstel volkome vryheid, maar die slot bring beperking. Die sneeu is swart, onheilspellend. Die vers is ‘n vloeiende beweging van metafore wat in hulle baldadigheid tot vorm gestuit word. Die inleidingsvers van Hunkering dui ook op tematiese en vormlike aspekte wat die bundel subtiel sal kenmerk, en die gebruik van die Boerneef-woord “dusketyd” dui op gesprek met ander skrywers. Die soepelheid van woord, die rol van betekenis in variante van woordkeuse, die gemaklikheid van metafoor en die onderliggende nostalgie, word wegwysers vir die lees van die bundel.

2. Albei digters se werk word gekenmerk deur ‘n fyn spel met die woord en sy betekenis. Elke nuanse van betekenis word verreken, en beeld en sintaksis vloei gemaklik ooreen. By hierdie twee digters is duidelik die fynlees vaan die woord kenmerkend. Die invloed van Van Wyk Louw en Opperman speel dwarsdeur die bundels. Die twee gedigte oor Marilyn Monroe is goeie materiaal om die taaindeks van albei digters te onderskei. In “Marilyn Monroe” (Indeks, 71) word hierdie beeldskone , maar weerlose vrou geteken in haar ongelukkige jeug, haar persoon, en hoe “sy haar eie dood vooruitspeel”. Sy is die middelpunt van skinderrubrieke, in Chicago staan sy in sement, “op heterdaad betrap met ‘n wapperende rok”. Sy stal haar uit, ontevrede oor die beeld van die dom blondine lees sy Dostojewski en praat sy oor die jongste literatuur. Sy word ‘n beeld van wulpsheid, maar behou haar humorsin, Die beeld van Monroe wat die leser hieruit aflei, is ‘n verdigte siening van die beeld wat sy van haarself gedurig moes aanskou – die dom blondine en sekssimbool sonder inagneming van haar intellek, uiterlike skoonheid sonder erkenning van haar gees en haar menswees. Haar eensaamheid moes besweer word deur minnaars wat haar maar weer verraai. Sy soek liefde, maar vind die betroubare minnaar in die kamera. Blootstelling – die vyand en die enigste vriend. En die slotstrofe wat gevolg word deur ‘n “glamarous” foto:

Afgemete wag sy vir die sluiter
toe die dood
haar soos ‘n kwinkslag
tref, bloot én oop.

Die foto aan die einde van die vers beklemtoon die paradoks van Monroe. Enersyds die wulpse skoonheid, andersyds is dit die skoonheid en begeerte daarna wat haar gees aftakel. Die skoonheid en seksuakiteit is in ‘n sekere sin haar beroep en haar verslawing, maar ook haar meedoënlose blootstelling, haar innigste droefheid en eensaamheid.

Die figuur oor wie die gedig handel, word ook die openingswoorde van die teks. Dit word in verband gebring met haar dood in die tweede reël:

Marilyn Monroe
speel haar dood vooruit
met elke afbeelding

Onmiddellik word Monroe simbool. Interessant genoeg simbool van haarself, maar simbool van “die vrou”, la femme, ook die simbool van weerloosheid en eensaamheid, ook van sterflikheid. Teen sterflikheid is geen skoonheid of allure bestand nie. Dit is enemale die ewige reis. Sy is simbool van die vindbare-onvindbare, vir ander, maar veral vir haarself. Sy word die stof vir poësie en sodoende word sy, ironies, ‘n simbool wat voortduur, vasgevang in ‘n vlietende oomblik in sement met ‘n wapperende rok. Sy word ook nog ‘n simbool van suggestie. Uiteindelik is sy egter die gewone vrou, die gewone mens vir wie daar selgs blootstelling en geen verskansing was nie. Haar verhaal word in eie reg ‘n ars poetica, en sy ‘n muse.

Hambidge konstrueer haar vers met die sprankelende Monroe as begin, deur haar menswees tot by haar finale blootstelling. In hierdie kringloop word die geweld en die finaliteit van die dood gehuisves.
Vir digters word sy ‘n vreemde en gevoelige tema:

Wrokkig oor die rol van die dom blondine
aan haar toegedig, word sy vir digters
‘n voleindige plesier in die gluipe
van die woord-en-wonder, terugspoelend.
Van dit alles wis sy presies
die semantiese verskille
tussen kyk, bekyk word, én terúgkyk.

Nou word Monroe nie net stof vir ‘n vers nie, maar sy word die gedig self. Die elemente wat Monroe se wêreld bepaal het, is ook die domein van die gedig. Binne die Hambidge-oeuvre is sy muse, gedig, simbool, weerlose mens en die verlore geliefde.

De Lange se gedig het die kriptiese titel “MM”. Sy word gereduseer tot twee letters, maar ook is sy so bekend dat haar voorletters die mens aandui. In De Lange se vers word ook verwys na die begeerlikheid wat sy inhou, maar hoe sy dus net oorbly met

Los praatjie, briewe, minnaars wat vals
ontboeseminge verkwansel, drie keer voor die kansel

Uit twee filmgrepe onlangs opgediep vir advertensie-doeleindes word sy weer die simbool van sensualiteit. Die taaltegnieke in hierdie vers verskil van Hambidge se Monroe. De Lange werk meer met die reduseer van Monroe, die mens, tot ‘n metafoor van verval. In hierdie teks lê die klem op wat die publieke beeld van Monroe was teenoor haar doodsbeeld. Hier is sy geen simbool nie, ook nie enige beeld van poësie nie, slegs die blootgestelde mens. Haar weerloosheid is nie hier van kardinale belang nie, wel haar aftakeling. Sy word hier ‘n patetiese mens, haar roem en openbare beeld vervaag vroeg in die gedig. Sy is mens soos nog ‘n mens, sy word die mens wat roem en bekendheid ten spyt, in die dood net nog ‘n liggaam word. In haar dagboek verklap sy haar geheime en smeek sy om erkenning as mens. Sy wil haar menslike en rou leed aan ander oordra. Die slotreëls omvat die kern van diegedig:

Die outopsiefoto's aan die pers gelek,
stroop haar, vlekkig en indiskreet.

Hier is geen “glamour” nie, maar vlekke op die liggaam. Hier is geen sentiment en die vroulikheid van Monroe nie, want sy is bloot liggaam. Veel meer nog, haar liggaam word forensies ondersoek. Haar skoonheid tel nie, bestaan nie. Waar daar altyd ‘n soort misterie aan Monroe gekleef het, word sy indiskreet blootgestel vir ‘n lykskouing. Hierdie foto's is die allerwreedste ontmaskering van die diskresie wat aan ‘n lewe grens. Alle aspekte van haar menswees en bekoring word deur die disseksie-mes vernietig. In die Hambidge-vers is daar die deernis met haar blootstelling aan verraad; by De Lange is haar blootstelling aan die ergste aandag, dié van ‘n outopsie in naaktheid. Hambidge ontwikkel die Monroe-fenomeen tot ‘n komplekse en ryk simboliek; De Lange ontwikkel die mens Monroe as metafoor van die gang van alle menselewens.

Die vlug van Ikarus © Gabriel Picart

3. Die legende van Icarus en sy gedoemde vlug as die son die was van sy vlerke laat smelt en hy neerstort in die Egeïese see, vind neerslag in albei bundels. Die Hambidge-gedig bring Ikarus in verband met die dood van ‘n jong seun in Hermanus. Die titel is “Icarus” met ‘n onderskrif wat wesenlik deel uitmaak van die gedig:

About suffering they were never wrong,
The Old Masters: how well they understood
Its human position:
 W. H. Auden

Vroegdag in ‘n gastehuis langs die see,
Auberge Burgundy te Hermanus,
luister ek van Vers en Klank
met verse vir die digter
van die jukstaposisie
en eiesoortige idiolek.
Teen die muur ‘n skildery
so reg uit Miró, na links ‘n skynsel
uit ‘n modieuse lamp. Jy vra my, leser,
of ek die see kan hoor?
Bo die oseaan, magtig en onmeetlik
met buite sig klink die kreet op
van ‘n jong seun wat gly en
val. Het enigeen gehoor?
Sy naam word dalk verewig op ‘n plaket.
Die voordragstem verduidelik wat ‘n troop
behels in die donker nag. Gedigte stap
vir hierdie digter jambies deur die vertrek,
vir hom van die baie ryk ure en allotroop,
enkele weke voor sy dood.
‘n Ongeleefde lewe, onvervuld
laat onvermydelik ‘n merk.
Hierdie gedig ‘n letsel, yk
van diegene wat ongevraag,
te vroeg vertrek en net deur slapeloses
aan die vergetelheid ontruk kan word.
Ook vir hulle wat daardie dag
die “forsaken cry” moes aanhoor.
Onvertaalbaar hierdie ellende.
Ek beroep my in onmag op Auden.

“Ikarus” is ‘n aangrypende vers, ‘n gedig met deernis en ‘n bewuswees van lyding en pyn, ook van die mens se onvermoë om deur te dring tot ander se pyn. Die betrokke ongeluk toe ‘n jong seun, ook ‘n knap en belowende voordragkunstenaar, by die muurtjie by die Ou Hawe van Hermanus afgeval het toe hy op ‘n baie smal klipstrook geloop, balans verloor en in die see verdrink het, het wye mediadekking gehad. Daar word genoeg sleutels in die teks voorsien sonder dat die leser hierdie kennis hoef te hê. Die digter is tuis in ‘n luukse gastehuis met ‘n bra pretensieue Franse naam. Langs hierdie luuksheid is die ruwe wêreld van die oseaan. Die digter luister na ‘n uitsending van verse vir T. T. Cloete. Jukstaposisie is die titel van een van hierdie digter se bundels. So ook Allotroop. Die gedig word bevolk deur die spreker, ‘n digter, T. T. Cloete, en die jong seun met sy drama-talent. Saam met die gastehuis as verblyfplek, met sy kunswerke en elegansie, vorm hierdie hierdie drie persone ‘n kokon van beskaafde en poëtiese lewe.

Buite hierdie “salon-wêreld” is die die woeste oseaan wat druis in sy stuwing teen die hawemuur. Binne hierdie geweld van die see klink ‘n kreet op, hoorbaar bloot deur die andersheid van die geluid. Oor die program praat die voordragstem oor ‘n allotroop, ‘n wending in ‘n gedig. Drie stemme praat saam: die stem uit die domein van die letterkunde, die kreet wat angs en skok registreer, die oorweldigende en primordiale geluid van die oseaan. Al hierdie gegewens word verwerk tot gedig. Die verhaal van die seun word herlei tot die stort in die see van die legendariese Ikarus, ook ‘n jongman. Albei reik na bo, sy dit in vlugaksie of in toneeltalent. Albei vind hulle einde in die dieptes van die see. Die kontraste wat in die gedig gestel word, dui op die normale bestaan teenoor die primordiale, die oerbron van chaos; dit open ook ‘n ander mitologiese en simboliese waarde van die see, te wete dat dit enersyds dui op ondergang en andersyds op herlewing; ook dat die see die vormlose voorstel terwyl die gedig orde skep. Die verdrinking gebeur in die vroegdag, in die gang van lewe, en die see in sy woestheid is paradoksaal pragtig om na te kyk. Die opkoms en ondergang van die son, draer van lig, dui simbolies op sterf met sonsondergang, en nuwe lewe met sonsopkoms. Die lewe is ‘n kringloop, ook dié van die mens. Jeug is by uitstek beeld van lewe en verwagting. Daarom word hierdie seun se lewe in die teks beskryf as “ ‘n Ongeleefde lewe, onvervuld”. Die see is ook beeld van konstante beweging, gedurige wendinge, allotrope.

Die gedig sluit egter nie in die jambiese metrum nie, maar ontsnap uit die samehang van taal, simbool en ritme tot die gevoelslewe van die mens. Die taalmiddele maak die teks oop vir elegie en deernis. Die deurvoelde smart van die seun se dood bind wrede lewe en die gedig tot simbiose. Teen die agtergrond van die letterlike gebeure lyk die gedig na ‘n “letsel”, ‘n “yk” van die tragedie van dood en die mense daarby betrokke. Tog, juis die gedig bring die dooie terug na die lewe van herinnering, yk inderdaad die tragiese gebeure en ontruk dit aan die vergetelheid. Die gedig bly ‘n prik van die herinnering, dit stol die jeugdigheid van die seun binne die grense van die woord en beeld. Die ellende is helaas onvertaalbaar, die pyn kan nie deur die gedig genees word nie, maar dit bring perspektief, dit stel ruwe werklikheid binne die tydloosheid van die woord, die kuns.Auden se woorde bied die troos en die sluitstuk vir die vers – een gedig vind voltooiing in ‘n ander. Ikarus en die seun op Hermanus word geskei deur totaal verskillende ruimtes en tye, ook deur legende en werklikheid, maar hulle word verenig in die dood, in die samesyn in die primordiale waters.

Hambidge slaag in hierdie vers uitstekend daarin om die pyn van die realitiet te versoen met die gedig, ‘n medium wat so toeganklik is vir die pyn.

De Lange se Ikarus-gedig dra ‘n ander tema:

Erta Ale vulkaan, Ethiopië © Joel Santos

Ikarus Redux

Erta Ale, Ethiopië

Die helikopter met kameraman
& ander lede van die span
sweefhang bo die krater:
‘n gloeiende vurige pan
halfvol pruttende klip
wat ópklots teen die lip,
& geel rookpluime
wat uit skeure sis.

Dan stol die rotor & kantel –
die vliegmasjien stort neer
op die vloeiende vulkaanvloer.
Die staalblink naaldekoker
smelt weg sonder ‘n klank,
terug na sy elementale moer.

‘n Bekende en dramatiese ongeluk word hier verhaal. ‘n Span wetenskaplikes en ‘n kameraman hang oor ‘n vulkaan vir navorsing en insigte in hierdie natuurverskynsel, dié van ‘n vuurspuwende berg en die krater ná die uitbarsting. Wat hulle waarneem, is ‘n soort helse toneel: pruttende klip en sissende rookpluime. Die menslike tegnologiese vernuf maak dit vir hulle moontlik om van naby hierdie toneel van vuur en ondergrondse aktiwiteite waar te neem. Die sentrale woorde in die eerste strofe vorm ‘n fassinerende patroon: helikopter, krater, klip (lawa), vuur. Die mense in die gedig is die span wetenskaplikes in die verbygaan genoem, en die kameraman wat alles moet vaslê in prent, in fotobeeld. Die gegewens oor die vulkaanvloer oorheers hierdie strofe volkome. Krater dui op gat in die aarde, die binnekant van die aarde; klip is die vastigheid van die aarde teenoor sand; vuur is die oer-element wat verwoesting en ook suiwering voorstel. Die krater hef die vloer, die soliditeit van die aarde op. Die lawa wat soos die branders van die see opklots teen die lip van die krater en die rookpluime wat sis dui beweging in die aardse elemente aan. Aarde(klip), vuur en die beweging van die lawa, soos die see, dui op drie van die vier oer-elemente van die skepping. Die wind ontbreek, maar sal in die tweede strofe ondervang word. Die mense is op die kantlyn en verdwyn letterlik en figuurlik in die tweede strofe. Die helikopter is ‘n veilige hawe vir sy insittendes wat die wrede en primordiale aarde uit ‘n staalhouer betrag. Die klip is reeds gesmelt tot lawa en word beweeglik. Alles is in ‘n prekêre toestand, ook onsekerheid. Hierdie toneel uit die binnekant van die aarde is star, angswekkend en ver verwyder van die beskaafde wêreld en sy kennis. Dit is eintlik ‘n omgekeerde beeld van die paradys.

Die tweede strofe bring ‘n radikale ommekeer, ‘n volkome inversie, of jukstaposisie. Die sentrale woorde hier is stol, kantel, neerstort, naaldekoker. Hoofsaaklik werkwoorde wat enersyds dui op stilstand en andersyds op beweging, weliswaar vernietigende beweging. Al die wwe funksioneer negatief. Die rotor van die helikopter stol, en die vliegmasjien sort neer, in teenstelling met sy normale funksie om in die lug te vlieg of te hang. Die eerste reël van die strofe het ‘n toon van absolute onverbiddelikheid. Die sterk kontras tussen die vloeiende klip op die vulkaanvloer teenoor die neerstort van die gestolde helikopter, beklemtoon die tragedie van die toneel. In die sissende lawa smelt die staalstruktuur van die helikopter weg sonder enge geluid. Die mens en sy tegnologie word deel van sy elementale moer. Met die val van die helikopter word die vierde oer-element bygebring, die val word soos die beweging van wind. Die hele toneel word intens primordiaal. Die effekte van hierdie gedig word opgebou deur die vorming van paradigmas: elemente van verwoesting, elemente van teenstellings tussen die primordiale en die tegnologie. Die gedig kan dan op verskillende vlakke gelees word. Dit kan verwys na menslike hubris, na die onmag van die mens teenoor die gewelddadigheid van die natuur, dit kan ook dui op die weerloosheid en die nietigheid van die mens.

Daar is een faktor wat aan die gedig ‘n ander nuanse kan gee, en dit is die metafoor van die naaldekoker. Die gedig is reeds baie sterk sonder om die naaldekoker in die prentjie te bring. Maar die naaldekoker wat bo die water hang, maar dan skielik weer kantel en weg skiet, vergestalt die helikopter in die eerste plek. Binne die toneel van ‘n vulkaan en die magte van die gevaarlike natuur, is die helikopter maar klein, en binne dieselfde milieu is die naaldekoker totaal niks. Die naaldekoker is metafories die helikopter, maar waar die helikopter neerstorrt en smelt, is die naaldekoker steeds vry. Die naaldekoker bring ‘n element van gewoonheid in hierdie afgryslike toneel, ook ‘n element van skoonheid. Alhoewel ‘n klein en bra onbeduidende faktor in die geheel van die natuur, skep dit hier die kontras van woede teenoor sagtheid, selfs romantiek. Met hierdie ingreep in die vers, kom ook die diep gevoelde nietigheid van die mens binne die fokus van deernis. Die feitlik kliniese terme skep die ganse struktuur waarbinne die tragiese gebeurtenis feitelik en oënskynlik onbetrokke weergegee word. En dan word die gedig menslik, gevoelig en gevul met weemoed en ‘n diepe droefheid. Ook die jongman Icarus roep dieselfde emosies op. Te na aan die son, te na aan die skeppingskrag van die son, smelt sy mensgemaakte vlerke weg. Hy stort ook in ‘n primordiale diepte. Soos die helikopter deel word van die oer-elemente, so ook Icarus. Die metafoor bring die skeidingsvlakke in die gedig na vore. ‘n Uitstekende gedig, wat ook lyding en weerloosheid in die realiteit laat stol in ‘n vers.

Boerneef handskrif

4. Intertekstualiteit is op verskillende maniere spontaan deel van albei bundels. Soveel digters wandel deur die bundels. By Hambidge is daar ‘n konstante gesprek met die digters en skrywers van Suid-Amerika. Sentraal is die figuur van Neruda aan wie ‘n hele siklus gewy word. Dit is ‘n verruklike stel gedigte wat ‘n eenheid vorm tussen taal en teks, ongeag waar die taal figureer, heel interkontinentaal. By De Lange is dit veral Boerneef en Hennie Aucamp wat die gesprek binne die bundel stimuleer. By Hambidge, soos ook die voorblad aandui, is die “digterlike landskap” Suid-Amerika,veral Buenos Aires en Chili, ook die Andes wat ‘n simboolword van die digter en sy uitdagings. De Lange se landskap is sterk gerig op Afrika, meer spesifiek Suid-Afrika. Die aardsheid van Suid-Afrika is op sy beurt ‘n simbool van fundamentele lewe. Deur gesprekke met soveel gespreksgenote open albei bundels ‘n woordwêreld van dinamiese omvang.

As ‘n mens parodie nie net in die burleske konteks sien nie, maar as die eerste beginsel van alle poësie, is die intertekstuele gesprek broodnodig om ‘n gedig se volle potensiaal te verreken. Dit open wye verwysingswêrelde, aansluitings en ‘n universele benadering tot gedig en mens, die twee sentrale beginels van poësie. Die burleske parodie ontbreek hoegenaamd nie, genadiglik so. Albei die digters se sin vir humor is moeilik te verberg. En die klassieke parodie van D. J. Opperman oor die twee honde wat saam wandel met die weduwee Viljee, kry in albei bundels ‘n heel ruim plekkie. Hambidge se teks heet “Met groot apologie: ‘n Dubbeldoor” en sluit heelwat jonger digters in, saam met van die oueres. Dit is ‘n uiters slim siening van die digter en die strikke waarin hy/sy so maklik val. Nie alleen parodieer die teks die werk van die digters en hulle mannerismes nie, maar ook hulle persoonlike gedrewenheid. Deurgaans is die humor die versagtende komponent, al klink die teks kras. Oor Johann de Lange lui dit:

Op ‘n Sondagmiddag so tevree
met my twee katte hooggeteel,
voel ek newelig en momenteel,
die weerlig van meneer Viljee.

De Lange is bekend vir sy twee katte met hulle hoë herkoms, en hy is meer gepla met die weerlig van wyle meneer Viljee. Hambidge beweeg weg van die weduwee met haar kolliehonde, en as Johann de Lange haar plek inneem, is hy gedagtig aan meneer Viljee. Goedige geskerts, maar deur hierdie inhoudelike inversie speel sy met die beheptheid van gender. In ‘n parodie word spot gou erns, en deur die bronteks van Opperman so ingrypend te verander, open sy ‘n diskoers oor gender en tradisie, ook poëtiese tradisie. Haar parodie op Antjie Krog weer, is meer gerig op die persoonlike as oor die poëtiese gewoontetjies:

Twee honde? Een weduwee?
Aggenee?
Gee een vir die armes
een vir Miesies Viljee
laat ons rykdom verdeel:
Een weduwee plus twee honde
is gewoon uit-byt-ing.

Duidelik ‘n spel op Krog se betrokkenheid by en uitsprake oor die politiek. Tog ook weer ‘n gesprek oor die letterkunde en die politieke dimensies. Hierdie patroon volg sy by verskeie ander digters soos Breyten Breytenbach, Wilma Stockenström en T.T. Cloete. By laasgenoemde speel sy weer met die tematiek van sy gedigte:

Die honde en die weduwee
in jukstaposisie
met die see

twee honde een weduwee
die hoek van my oog in presisie
‘n wiskundige boog.

Uiters tiperend van die digterlike denkwyse van Cloete. Hier is die persoonlike nie primêr nie, maar digterlike styl. Maar Hambidge korreleer hierdie twee uitgangspunte met gemak. Uiters geslaagd is die parodie op Marlene van Niekerk en haar gebruik van onbekende woorde, ook ou woorde, vir digterlike effek:

O plaas my op ‘n kaar
met twee stoetse, troue
kaniene diere
waar ek op my stontol
speel en die stratus
‘n stralekrans vorm
om my stootblok.

Trek die woordeboek nader en begin naslaan. Die boeiende aspek van hierdie vers is hoe goed Hambidge die tegniek van Van Niekerk begryp. Sy speel met die woord op so ‘n kwistige manier dat dit weer haar eie beheer oor die taal uitstekend demonstreer.

 By De Lange is daar ook ‘n weduwee Viljee-parodie, maar dit wyk geheel en al af van die meer tradisionele weergawes. Dit word nostalgiese sowel as spottende verse oor oor manlike seks by Graaff se Poel en oor die latente seksuele begeertes by die weduwee en haar drie kolliehonde.. Alhoewel die triptiek oor T T Cloete ‘n weemoedige ondertoon het, het dit ook parodiërende elemente. ‘n Sterk self-parodiërende vers is deel II van die “Twee vryverse vir Joan op 60”. Die titel van die afdeling is “Men of a certain age” en die digter is die eintlike karakter in die gedig. Hy het die “jare van die eerste dood gehaal” waar jong moffies en kelners jou nie meer raaksien nie. Sy ervaring op hierdie ouderdom van die middeljarigheid waar geil gedrag by klub of kroeg nie langer behoorlik is niedui op ‘n beperking van die uitleef van jeugdige vreugdes. Dit is die agtergrond waarbinne die self-parodie ontwikkel word.

Wat gebeur as hy wel uitgaan na ‘n braai? In sy korset van manlike middeljarigheid gaan hy gestewel in swart geklee – ‘n toegewing aan twee wêrelde, twee “geslagte”. Die drif en die begeerte is nog dieselfde, maar die jare van sy leeftyd dring aan op decorum. Soos dit betaam, loop hy die ronde van bekendstel en groet, en word hy voorgestel as Johann-die-digter, en plegtig skud hy hande. As Johann-die-digter-van-die-erotiek word hy steeds begeer, en bring sy blote teenwoordigheid seks in die braaigangers se gemoedere. Maar hierdie Johann wil eerder met twee ander groot naamgenote apart wees. Soos Johann(es) die Doper wil hy tegelyk afstand hê, maar in sy digkuns die woorde van die vlees voortbring. Soos hierdie Bybelse figuur wil hy in die woestyn van eensaamheid en wilde drome verkeer. Hy begeer nie die ruwe seksuele blootstelling aan Salome nie, maar die eensaamheid en gesprekskrag van die woord. Soos Johann(es) op Patmos soek hy die volslae vereenselwiging met die eensaamheid op die klipperige eiland Patmos. Daar kan hy sy digterlike en profetiese woord ontwikkel en aan ‘n diep verlange woorde gee. Nader tuis wil jy Johann de Lange wees wat porno's kyk, hy wil nie afgeneem word in ‘n rok en die verwyfde partytjiegangers vermaak nie. Hy is tevrede daarmee dat talle seuns sy boeke gelees het agter ‘n toe deur, en gretig was om weg te kom van die manlike (?) aktiwiteit van rugbyspeel vir die lyflike vreugdes. Heel middeljarig, maar in ‘n skielike oomblik luister hy verstom hoe losbandig vandag se jongmense is. Die skelm plesiertjies en verkenning was tog eintlik onskuldig, eintlik verkenning. By sulke geleenthede dink hy aan die dood wat die grond oopskeur en lees en vlees van mekaar skei. As hy te vroeg vertrek, wonder hy of daar die verwagting was by van die gaste van ‘n blow job agter ‘n struik. Hy breek met die wêreld van vleeslike genot en verwagting. Hy ry terug , die wind het gaan lê, die kole smeul tot as. Onder die lamppale wonder hy hoekom hy nog skryf!

Die vers is nie net parodie op die self nie, dit word parodie wat vrae stel: waarom en wat is die seksuele drang, waarom dit vaslê in taal en gedig, waarom dit toelaat om die mens gevange te hou? Die middeljarige digter tussen die jagse en seksbehepte jongmense in hulle sinlose en ewig-herhalende spel word hok geslaan deur die groter magte van tyd, permanensie en geestelike kalmte. Dit is dan tog nie net selfparodie nie, maar parodie op die mens, feitlik lagwekkend, vasgevang in sy intuïtiewe drange wat hom vashou wanneer die ruim gees die liggaam wil ontsnap.

N. P. van Wyk Louw

5. Hierdie twee tydgenootlike bundels regverdig ‘n hele verhandeling daaroor. ‘n Artikel, soos ‘n resensie, wys slegs die belangrikste tendense uit. Indeks en ‘n Hunkering se grein speel in op mekaar, maar beklemtoon ook ruim verskille in benadering, literêre metodiek en in tema. Saam egter word hulle feitlik ‘n tweeluik en opgawe van die poësie van ons tyd, van 2016. Twee denklyne wat dwarsdeur albei loop. is die elegiese en die metafisiese. Hoe aards gerig poësie ook al is, ‘n goeie teks en bundel kan nie hierdie twee tendense nalaat nie. In ‘n sekere sin maak dit, saam met al wat taal verteenwoordig, die gedig, die poësie. Daar is pragtige elegiese verse (lykdigte in Hambidge se bekende formulering) in Indeks, vergelyk onder meer “Inge Lotz”, “Charles Fryer”, “Hennie Aucamp” en die verruklike “In teen die groot vergeet: T.T.Coete”. Binne hierdie subkategorie het Hambidge beswaarlik ' mededinger in die Afrikaanse digkuns.

Die metafisika, dit wat as't ware “loop in jou spoor soos ‘n goeie hond”, word voortreflik ontgin deur Hambidge, veral sedert die bundel Ewebeeld. Die metafisika, soos die woord self aandui, gaan oor die fisika, die meetbare en bewysbare. Dit word taal, verder as wat logiese taal verwagting aandui. Dit benut betekenis ruimer as wat tradisionele betekenis veronderstel. Streng gesproke is die eerste vlak van betekenis dit wat die woordeboek as definisie gee. Eintlik is dit bedrieglik, want woordeboeke verduidelik die voorwerp waarna die woord verwys, die funksie en die vorm van ‘n woord, nie die ware betekenis nie. Betekenis is en bly abstrak en tot op ‘n punt is betekenis die metafisika van die woord. Van Wyk Louw in sy Metafisiese Voorspele in Nuwe Verse gee hieraan gestalte:

My oë tas die wêreld af
en hou ‘n wondere glans gevang
in so ‘n web van dink en wens
dat Wese na die Skyn verlang:

die meeu vlieg soos ‘n laaste woord;
die wit seewater soos dit wieg
is sonder woord of antwoord skoon,
en alle Diepte moet bedrieg.

Die ware skoonheid, die wese van iets, kan nie presies vasgevang word in ‘n woord nie, ook nie in ‘n antwoord, weerwoord, nie. As my oë die wêreld aftas, word sintuie van voel en sien tot sintese gebring. ‘n Klein seetoneel word beeld van die kosmiese woordwêreld. Betekenis is die abstrakte en immer ontwykende skimwêreld van die woord. Die woord kan uit sy bekende lemma geneem word en ‘n nuwe betekenis oproep wat geensins hoef te korreleer met die beperkte rol van ‘n woordeboek nie. Dan word dit metafisika, metawoord, ook metafoor. Een van die sterkste en mees in- en aangrypende gedigte in Indeks is:

 Metafisiese indeks

Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het.
Job 38:4

O goedheid Gods hier nooit volprese,
my eerste mantra roepend, ‘n hert in dorre streke,
versies soos braille in ‘n blou onderstreepte Bybel:
ek het jou by die naam geroep, jy's myne ..

In Jerusalem hoor ek: aanbid die Seun van God.

Verloor my geloof tog later.
Sartre en Camus, die Eksistensialisme,
“God is dood”, “die hel is ander mense”,
geleer as jong student in die filosofie.

In Pamukkale weet ek wees eerder koud as lou.

Net soms, net soms laat Hy van hom hoor:
skryf met ‘n penstreep teen die lug oraloor,
stuur ‘n teleks per aardbewing (woedend en koud)
of praat woordeloos in ‘n magiese oerwoud.

In Manaus verkies ek God bó niks.

Van Wes na Oos alleen vertrek:
Die Bybel, Ateïsme, Boeddhisme verken,
Die krag van meditasie of stil gebed
nie langer deur my ontken.

In Nepal word ek eindelik één met God.

In Jerusalem, Pamukkale, Manaus en Nepal
verbind ek die onsigbare,
daardie Iets, daardie Onverwoordbare krag, genaamd die Metafisika. (bl 79)

Die gedig is ‘n indeks, in hierdie geval van die belewenisse van religieuse ervarings of stadiums. Die hele aard van geloof is abstrak, want die sienlike lei tot wete, die onsienlike tot geloof. Die tema is dadelik gesitueer in die domein van die metafisiese. Bekende Liedere en Bybeltekste open die reis in hierdie metafisiese domein. Soos kinders dikwels geleer word in die Sondagskool, moet sekere tekste ondersreep word. Die bekende aanhaling uit Jeremia dat God jou voorgeboortelik ken, sluit die indeks van kinderlike geloofservaring. ‘n Meer gevorderde geloofsinsig word gekoppel aan Jerusalem. Dit is waar Jesus, die Seun van God, geleef en gekruisig is. Van Sondagskool tot hierdie diepste openbaring in die Bybel verteenwoordig ‘n sprong tussen kinderlike naïwiteit tot volwasse denke. Die reis in die metafisika het tot ‘n geloofseindpunt gekom. Dit sê soveel van die puik struktuur van hierdie gedig dat die geetelike reis parallel loop met geografiese reis. Reis word dus hier ‘n simbool wat twee denklynde en -ervarings verbind.

Studie in die filosofie, ‘n dissipline van denke en die ordening van denke, lê die klem op ‘n logiese benadering wat, alhoewel self abstrak, ander wette volg. Daarvolgens is God afwesig en is Bybelse paradigmas soos hemel en hel nie ruimtelik nie, maar is dit deel van menslike verhoudings en ervarings met mense. Die filosofie kan hierdie soort digotomieë nie onderdak bring nie. Filosofie betwyfel, dit vestig nie waarhede nie. Ironies so, want filosofie is die opgaaf van individue se sienings en denke. Daarteenoor is die metafisika die soeke na die waarheid van die woord en probeer dit aan klanke betekenis gee. ‘n Gedig is ook eerstens klank, en met fyn klankspel en subtiele ritme skep Hambidge juis die stramien van betekenis. In ‘n nuwe ruimte, Pamukkale, weet sy dat die metafisika eerder kil en afstandig is as lou, as twyfelagtig en onseker. Die verhouding met God, die groot metafisikus en semantikus, word al hoe meer afstandig, heeltemal periferaal en feitlik nie-bestaande. Maar tog, soms laat Hy van Hom hoor. ‘n Slim skuif in die teks is dat hierdie strofe in kursief gedruk is. God se teenwoordigheid is nie “in the face” nie, dit is verskans. Toe Hy aan Moses en ook aan Elia verskyn het, was Hy slegs ‘n skim. Hy skryf oraloor in die lug, Hy laat sy woede geld in natuurgeweld of Hy praat woordeloos in ‘n oerwoud, in die stilte en sagte geruis van bome, ‘n primordiale ruimte waar tyd ‘n illusie is.

In die soektog na die metafisika bring Manaus ‘n nuwe wending: bo niks, bo nihilisme, is God te verkies. Niks is nie voelbaar, hoorbaar of kenbaar nie. Dit is on- en ontmenslik. God laat Hom wel hoor, en voel. Die fisieke reis het gevorder van Oos na Wes, vanwaar die son opkom tot waar hy ondergaan, vanwaar die nag eindig en die dag begin, tot waar die dag eindig en die nag begin – ‘n reis en soektog binne ruimtes en tye. In soveel vorme het die metafisika homself aangemeld: die Bybel, verslag van God en sy dade en denke; die Ateïsme, die ontkenning van metafisiese belewing; die Bhoeddisme, ‘n metafisika binnr ‘n mitiese ervaring en ritueel. Deur hierdie reis van die gees het meditasie en gbed nie meer ontkenningswaarde nie, die realiteit van die abstrakte en onsienlike het sy beslag gekry. En in Nepal word die ek één met God. Die reis het sy bestemming bereik. Soos in die pragtige Cussons-vers waar sy op soek was na die huis van die timmerman (“Klein ballade”) en omdraai voor sy klop omdat hy dalk tuis is, draai sy tog terug en vind verstom dat sy voor haar eie deur gekom het. Toe ken sy die huis van die timmerman en Maria, die Onbevlekte. Ook die spreker in die Hambidge-vers leer om die Onsigbare te verbind met daardie Iets, die Onverwoordbare krag, die Metafisika – in Jerusalem, Pamukkale, Manaus en Nepal.

Die elegiese vers by De Lange is net so gevoelig soos dié van Hambidge, maar vormlik is daar heelwat verskille. Pragtige in memoriam-verse is een oor Michael jackson, oor T. T. Cloete, oor Adam Small en veral oor Hennie Aucamp. Hier is die metafisika nie in die middelpunt nie, maar die waarde aard van die elegie. Die groot, eintlik grootse vers oor Nelson Mandela is tegelyk nabetragting en elegie, en ‘n weeklag oor die onmenslikheid van politieke bedelings. Aangrypend is die vers oor die verworde mens Michael Jackson:


Michael Jackson (1958-2009)

Sienderoë metaforiseer die jongman tot chimera,
geneties ‘n spookwit gestalte, ‘n man-vrou,
‘n Mowtown Teiresias.

Agter slot en grendel in Neverland, lewe hy flikker-
end op TV-skerms, persona gereduseer tot ‘n formule
van gebare & passies, ‘n ontliggaamde silwer handskoen.

Die ster het verskyn & met ‘n kreun, ‘n keelsnik,
‘n kopknik, & ‘n gulpgryp
ge-moonwalk & astraal geskyn,

hoed laag oor die oë getol
& soos ‘n towernaar in ‘n rookwolk gehul
in die duister om die ligkol verdwyn. (bl 88)

Jackson se tragiese en vreemde lewensverhaal is ‘n beeld van hubris sowel as patos. Die aantreklike popkunstenaar het, onder meer deur plastiese chirurgie, van jeugdige skoonheid ontwikkel tot “chimera”, hier duidelik in die betekenis van amper skrikwekkend. Hy het ‘n soort spookgestalte geword, en in sy hermafroditiese voorkoms ‘n Amerikaans Teiresias, die blinde god wat sowel manlik as vroulik was. Hy ontwikkel tot metafoor van en vir homself, trek hom terug in sy landgoed en leef slegs nog op TV-skerms. Ook word hy dus letterlik ‘n parodie van homself.Van die histeriese bewondering van popgeesdriftiges verloop hy tot ‘n blote gestalte van gebare en passies. Michael Jackson bestaan nie meer nie, net sy verwronge beeld. Op die verhoog was hy reeds getipeer en geyk, maar sy bewegings en wulpsheid het die skare op hol gehad. Geleidelik word hy astraal, deursigtig, nie meer mens nie, maar gestalte. Sy menswees verdwyn, soos ‘n towernaar verdwyn hy uit die kigkol – die ligkol op die verhoog, ook die ligkol van lewe. Die elegiese toon van hierdie vers word verkry in die teenstelling van jeugdige skoonheid tot verwronge skimgestalte. Dit verkry ‘n tragiese inhoud deur die aftakeling en roem wat tot die patetiese lei. Onderliggend is die beklangrikste aspek van die elegie hier geleë in die deernis met patos. Kundige opbou van beelde verkry die resultaat, asook die vervagende beelde van ‘n persona.

Die aangrypende tweedelige gedig “Twee blaaie geskeur uit Groot Verseboek” (bl 108) is ‘n pragtige elegie oor Hennie Aucamp. Die eerste deel is ‘n gevoelige parodie op Boerneef se “Die berggans het ‘n veer laat val”, die tweede deel ‘n ewe mooi parodie op V W Louw se “Jy't weggegaan en bewoon ‘n silwer herberg in die sneeu”. In die geheel word die vers nie net ‘n elegie vir Aucamp nie, maar ook vir Louw en Boerneef.

Berggans

1

Die trilpoplier het ‘n blaar laat val
van die hoogste tak bo jou balkon,
die wysters van die dag het stil gaan staan.
Ek hou vir my dié trilpoplier se blaar,
mits dese wil ek vir jou sê
hoe hoog & laag my liefde vir jou lê.

Dié Boerneefteks het al feitlik legendariese status in Arikaans verkry. Die boom en sy blaar verkry metaforiese betekenis as beeld van mens en gedig. Die woonstelbalkon van Aucamp het nie die romantiek van die hoogste berg by Boerneef nie, maar dit verskuif die teks van die romantiese tot by die wrede realiteit van die dood. Die blaar word nie gestuur nie, want daar is nie meer iemand om die blaar na te stuur nie. Die wysters het gaan staan, die dood beëindig die tyd, die beweging van lewe is gestuit. Met die direkte aanhaling van die Boerneef-reël “mits dese wil ek vir jou së”, word verlede en hede verbind, Boerneef en Aucamp in hulle bestaan in ‘n ander dimensie, en die digter geskei van en vreemd teenoor hierdie onbekende domein. Die blaar is herinnering as simbool dat soos jaargetye wissel, so wissel ook lewe en dood. Anders as die berggans het die boom, veral die populier, die simboolwaarde van dood en herlewing. By De Lange lê die liefde nie diep nie, maar hoog en laag. Hoog vanweë die agting van die lewe en werk van ‘n skrywer, laag vaweë die diepte van droefheid.

11

Jy't weggedros & jy plak nou
in die murasie op Rust-mijn-ziel,
die vensters gaap nog elke nag
oor die leë werf & in die niet

die werf is tolbos en sand & wind
& peperboom & sand
& wintermiddags voer niemand meer die woord
woorde is maar sterre in ‘n swart wind verskiet.

Die elegiese ritme van die N. P. van Wyk Louw-vers waarvan hierdie gedig ‘n parodie is, word behou. Die Louw-teks is ‘n vers van intense verlies, liefdesverlies. Die Louw-vers skep ‘n romantiese toneel:

Jy't weggegaan en jy bewoon 
‘n silwer herberg in die sneeu
Jou vensters kyk nog elke nag 
met drie blink oë na die plein

Hier ‘n beeld van verlange en eensaamheid en romantisering. Die vensters wat blink in die lig vertel enersyds van leegheid, andersyds van verwagting. Die De Lange-vers toon geen romantiek en geen toekomsverwagting nie. Die gestorwene woon in geen silwer herberg nie,maar in ‘n murasie, ‘n gebou wat ook reeds gesterf het. Die murasie staan op die familieplaas van Hennie Aucamp wat bekend geword het deur die skrywer se kortverhale. Rust-mijn-ziel, die naam van die plaas het ‘n soort grafskrif-konnotasie. Dit word ‘n doodswens en ‘n grafskrif. Die vensters van die murasie blink nie, maar is leë gate. Die Europese plein word vervang met die ruheid van ‘n plaaswerf in Suid-Afrika. In die uitgestrektheid van die Karoo strek hierdie werf tot in die niet. Die verlange en liefdesweemoed by Louw word hier ‘n feitlik brutale ruheid van die doodswerf. Die hele eerste strofe spreek van weemoed en ingrypende hartseer, byna verset, oor die onherroeplikheid van die dood.

In die klankryke Louw-vers klink dit so:

die plein is boom en wind en boom
en wind en wind
en wintermiddag voer daar iemand
die meeue krummels teen die wind 

Op Rust-mijn-ziel is

 die werf tolbos en sand & wind
& peperboom & sand

Die harde natuurelemente van die Karoo speel hier in. Hier is ook wind, maar die boom maak plek vir die tolbos, ‘n kleurryke struikie as hy blom, maar daarna ‘n bondel verdroogdheid wat deur die wind willoos rondgewaai word. Dit is metafoor vir troosteloosheid en verdriet. Die wind in die Karoo is dwarrelwinde en troostelose winde. In die Karoo is die wind droefgeestig. Die peperboom is ‘n standaarboom in die Karoo, feitlik ‘n beeld van die groeikrag te midde van droogte, ‘n taai boom wat wind en die meedoënlose natuurelemente kan weerstaan. Hierdie beeld van wilde en volhardende natuur is beeld van fundamentele lewe. Ook die dood is fundamenteel. Binne hierdie felle natuur en sy werf is daar nou niemand meer wat die woord aan die gedig en verhaal kan voer nie. Dit is ‘n doodswerf. Woorde verskiet maar soos sterre in die wind; soos die verskiete ster leef sy glans nog soveel ligjare voort. In die geheel ‘n skrynende vers van droefheid, ook ‘n hoogs oorspronlike gekonstrueerde parodie in elegiese konteks en vorm.

Indeks en Hunkering is twee uitstekende nuwe bundels, en ‘n besliste verryking van die (moderne) Afrikaanse digkuns. Dit is egter ‘n plek werd in die groter kanon as ‘n verryking van die Afrikaanse poësie. Dit is volwasse bundels en ‘n belangrike toevoeging tot die leser se boekrak en lewe, maar ook twee bundels wat ‘n volkome sintese skep tussen die gedig en die weerloosheid en patos van die mens. Vir Afrikaans is dit ‘n beduidende bydrae.


© Henning Snyman

Sunday, September 18, 2016

Resensie. Johann de Lange – ’n Hunkering se grein (Daniel Hugo)

18 September 2016 00:00

De Lange is een van die fynste formuleerders in die Afrikaanse digkuns, skryf Daniel Hugo.

’n Hunkering se grein deur Johann de Lange. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R175.

Die Hertzogpryswenner Johann de Lange se jongste digbundel het eintlik twee titels: ’n Hunkering se grein (’n versreël van Sheila Cussons) en Pulvis et umbra sumus (ons is stof en skaduwees).

Die laasgenoemde is ’n uitspraak van die Latynse digter Horatius (65-8 v.C.) en vorm ’n deel van Judith Mason se skildery Roman Africa, wat op die omslag van die bundel verskyn.

Hierdie twee titels, die amptelike en nieamptelike, vat die temas en toonaard van die gedigte goed saam. Die hoogtepunt van die bundel is inderdaad ’n lang nostalgiese en ontnugterde gedig, “Twee vryverse vir Joan op 60”, oor die digter se viriele verlede en valer hede in die styl van Allen Ginsberg. Die afname van seksualiteit in sy lewe noem hy “die eerste dood”. De Lange se slotsom is: “vir wié of wát, in gódsnaam skryf ek nog?”

Hierdie gedig is terselfdertyd ’n ongeëwenaarde uitbasuin van De Lange se ongeremde gaywees. Later in die bundel staan daar ’n gedig met die titel “Allen Ginsberg se boeke”, waar dié Amerikaanse gay beat poet in ’n droom aan hom verskyn. En dié ontmoeting loop ook op ’n ontnugtering uit.

In die Horatiaanse gees van die mens wat net stof en skaduwees is, skryf De Lange in memoriam-gedigte aan T.T. Cloete, prinses Diana, Marilyn Monroe, Michael Jackson, Nelson Mandela en Hennie Aucamp. Aan laasgenoemde wy hy ’n hele afdeling: “Rust-mijn-ziel: ’n hartseerwals”.

Rust-mijn-ziel is die plaas in die Oos-Kaap waar Aucamp grootgeword het, en “Die hartseerwals” een van sy bekendste kortverhale. Die beste van die Aucamp-verse is “Dagreis” wat so eindig:

Met Rust-mijn-ziel ’n soet spesmaas,
het jy ingekruip onder ’n grou karos
& met jouself gaan lepellê op langelaas.

In “Binêr” vrees die digter vir sy eie “weg-raak in die niet, / die niks-wees / ná die dood”.

Maar dit is nie ’n morbiede versameling gedigte nie. Niks wat goed verwoord is, kan ’n mens werklik bedruk maak nie, selfs al gaan dit oor die verganklikheid en dood. En Johann de Lange is een van die fynste formuleerders in die Afrikaanse digkuns. In “Standaardtoer” (na Robbeneiland) staan byvoorbeeld die volgende treffende beskrywing: “In die hawe lê die ­seiljagte vasgemeer in visgraatsteek”.

As antidoot teen enige moontlike swartgalligheid is daar ook uitbundige boutades in die bundel, soos die besonder plesierige “Die mafia-wywe”: “Hulle suip soos Kosakke / & spandeer geld soos Dominikaanse koppelaars.” Vir sy vriendin, die digter Joan Hambidge wat vanjaar 60 word, skryf hy die kwatryn “Joan on the town”:

Die dinge wat jy aanvang!
Die plekke waar jy uithang!
Vir jou jare nog steeds
die ene Sturm und Drang!

Die groot getal kwatryne in die bundel is nogal opvallend, nadat De Lange vyf jaar gelede reeds Weerlig van die ongeloof, ’n bundel wat uitsluitlik uit vierreëllige verse bestaan, die lig laat sien het. Vir my gevoel is die kwatryne in die jongste bundel oor die algemeen ’n bietjie flou – blote nawater van daardie vorige versameling.

Veel boeiender is die twee sonnette met ongewoon lang versreëls waarin hy Nelson Mandela huldig.

De Lange is ’n uitmuntende natuurdigter, en die gedigte in die eerste afdeling getuig weer van sy uitsonderlike beskrywingsvermoë. Veral “ ’n Murmurasie van spreeus”, ’n vrye sonnet, is ’n meesterstuk. In die selfportret “Die digter as ronkedoor” (’n alleenloperolifant of ongesellige man) sê De Lange: “Gestaak / kontak met medemens, selfs die natuur / vervang met hoëdefinisie-TV uur na uur”.

Maar dit maak uiteraard nie saak waardeur die digter geïnspireer word nie – die vrye natuur of digitale natuurbeelde – ­solank die vers die leser oortuig. Hierdie leser is beslis oortuig.

Die gedig oor die hoenderhaan “Blink Stefaans” is een van die min werklik geslaagde villanelles in Afrikaans.

Die villanelle is ’n vaste versvorm van 19 versreëls met ’n ingewikkelde refreinpatroon en slegs twee rymklanke. Om dit in die rymarm Afrikaans te laat slaag, verg bomenslike vernuf. “ ’n Haan soos Blink Stefaans / laat die ander hoenderhane ­eierdans”. Inderdaad.

In byna al sy bundels klink daar bewuste eggo’s van N.P. van Wyk Louw op. Ook hier in “Blink Stefaans” vertoon die parmantige haan ’n ooreenkoms met Louw se “Beeld van ’n jeug: duif en perd” waarin “die goue haan wat al sy henne trap” sy verskyning maak. By De Lange trap die blink haan met “sy geel geskubte pote elke lê-hen op die werf”.

In ’n Hunkering se grein word die Louw-interteks aangevul met verwysings na Boerneef. Soms word dié spel darem net te oordadig en selfs gedwonge, soos in die herskrywings van onderskeidelik ’n Boerneef- en Louw-gedig in “Twee blaaie geskeur uit Groot verseboek”. Dié intertekste help wel om die bundel tot ’n eenheid saam te bind. Die digter is self, soos die swermende spreeus in die openingsgedig, “ ’n energie wat dink en weef”.

Ondanks my bedenkinge oor heelwat van die kwatryne sal ek nie die volgende een, met die veelseggende titel “Weef”, wou mis nie. Gedigte in ’n bundel vorm ’n weefwerk wat aan die digter skuiling bied tussen hemel en aarde, tussen tyd en ewigheid:

Die vinkneste wieg bo die watervlak
soos druppels immer gereed om te val.
Ons drome reik deur tydlose ruimtes
terwyl ons geanker bly aan ’n wal.

(Hierdie onderhoud word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)