Onderhoude

Sunday, December 2, 2012

Seamus Heaney - Twee verse

Seamus Heaney

Wildepruimjenewer 
Seamus Heaney

Die klare jenewerweer
verdonker tot winter.
Sy hewel jenewer by die wildepruim
en seël die glasfles.

Toe ek dit oopskroef
ruik ek die verstoorde
vrank stilte van ’n struik
opstuif deur die spens.

Toe ek dit skink
het dit ’n skerpheid
en vlam op
soos Betelgeuse.

Ek klink ’n glas op jou
in rook-omfloerste, blouswart
geboende wildepruime, bitter
en betroubaar.

***

Moeder van die bruidegom
Seamus Heaney

Wat sy onthou
is sy glinsterende rug
in die bad, sy klein stewels
in die kring stewels by haar voete.

Hande in haar leë skoot,
hoor sy 'n dogter verwelkom word.
Dis asof hy geskop het met die oplig
en geglip het uit haar seperige greep.

Daar was 'n tyd toe seep
die trouring af kon laat glip
wat nou vir goed ingebed is 
in haar klappende hand.

[Vertaal deur Johann de Lange]