Onderhoude

Friday, January 20, 2012

Resensie. Dr. Marthinus Beukes bespreek 'Weerlig van die ongeloof'




Johann de Lange - Weerlig van die ongeloof. Protea, 2011
Resensent: Dr. Marthinus Beukes
Universiteit van Johannesburg

Die titel van hierdie samestelling kwatryne is meerdimensioneel - gelykertyd simplisties en kompleks.  Komplekse verhoudings en kontekste word deur die titel geaktiveer en juis deur hierdie gegewe rig die bundel 'n appèl tot die leser. Laasgenoemde stelling kan gemotiveer word deur De Lange se goedgekose motto van Fred Chappell waar klem op die intellektuele konteks van die woordskepping geplaas word.  Dit is juis met hierdie aspek wat De Lange met Weerlig van die ongeloof beïndruk - eenvoud en snelheid waarmee die inhoud die leser bekoor en lewensduurte verkry verder as die grense van vier versreëls. Die titel van die bundel is in 'n seker sin ook motivering vir die kreatiewe proses - die weerlig aktiveer 'n reeks aktiwiteite om te skep en sodoende deur woord en klipinskripsies te behou.

De Lange se digterskap is vanaf sy debuut, Akwarelle van die dors tot die laaste bundel, Die algebra van nood, bevestiging van 'n bekroonbare digterskap. Die Ingrid Jonker-prys, Rappportprys en Hertzogprys is die stempel op 'n digter se betekenisvolle bydrae tot die Afrikaanse poësie. As vakman van die woord in velerlei gestaltes, het De Lange die digterlike domein verryk - sy genuanseerde perspektief op die volle bestaanswerklikheid dien as digonderwerp. Tematies dig hy met tegniese vaardigheid oor taboe-onderwerpe soos homoseksualiteit en dwelmverslawing sonder om lesers te vervreem. Sy werkswyse het in besonder 'n toenadereringseffek tussen leser en teks tot stand gebring.  

Die titel van die bundel stel ook die moontlikhede van hoop in die vooruitsig - die weerlig van ongeloof se teenpool, naamlik die koms tot aanvaarding asook geloof, is uiteindelik die pendant.  Dit is in die lig hiervan insiggewend dat die credo-gedig van die bundel in afdeling VI, "Skietgebedjie", voorkom. Dié vyftal gedigte is bekragtiging van die spreker se vermoë om ikoniserend te dig: die paarrympatroon wat in die verse voorkom, is verstegnies 'n poging  om geloof en ongeloof te rym.  So ook is "Bede" (wat met dieselfde rympatroon werk) beeld van die versoening tussen onversoenbaarhede en dit word vaardig verwoord.

Vervolgens wil ek my bepaal by die samestelling van die kwatrynbundel. De Lange se tegniese beheer oor versvorme en bundelkomposisie is 'n waarmerk van sy oeuvre. Die saamspraak tussen die bundeltitel, Weerlig van die ongeloof, onderlinge gedigte in die verskillende afdelings en intertekstuele korrespondensies wat by sommige gedigte voorkom, versterk die digter se beheer oor vorm en inhoud. 'n Deurdagte hantering van die digter se ambagsmiddele is tekenend van sy vermoë om 'n deurgekomponeerde bundel saam te stel - 'n waarwerk wat vanaf sy debuut geld.

Soos met De Lange se bekroonde bundel, Die algebra van nood, is die betekenismoontlikhede van die titel met die kwartrynkeuse merkwaardig. 'n Berekende en byna oorrompelende assosiasie tussen die bundels kom op betekenis- en struktuurvlakke voor. Nie alleen is die "nood" van die vorige bundel semanties kohesief met die "ongeloof" van die jongste bundel nie, maar ook die simboliek van getalle. Die ses afdelings van Weerlig van die ongeloof korrespondeer met die simboliek van onvolmaaktheid en gebrokenheid, maar waarin die teenpool helder meespreek. Soos vroeër opgemerk, is De Lange se keuse van die bundeltitel deurdag - die waarde van die omgekeerde of keersy, geld ook vir hierdie bundel. Die trefkrag van die weerlig (simbolies / metafories gelees in die konteks van die bundel) is die generator vir geloof.  Die transformerende aard van die weerlig om tot geloof te kom - dus die "weer"-lig van donker of ongeloof, is die hoop van die spreker se drif en soeke. Só klink die spreker se gebed om dinamiese wording driftig op. Met "Gebed om die gesternte" asook "Tzimzum" is die onderliggende dinamika van wording dominant. Om tot geloof te kom en die voortskepping van die woord/Woord is die uiteindelike krag van die digter se aktiwiteit - niks is afgehandel en volmaak nie. Vergelyk in díé verband die titels van sommige bundels in De Lange se oeuvre - daar is telkens die hoop op die "iets anders".  Volmaaktheid bestaan nie, maar word ná gestreef. Juis in die lig van hierdie onvolmaakte realiteit is De Lange se vermoë om in volmaakte tekskomposisie die onvolmaakte tot die teenpool te dig, meesterlik.

Die 6 afdelings van die bundel is heg verweef al blyk daar uit die titels 'n uiteenlopende toonaard te wees. Gebrokenheid, verwonding, onvolmaaktheid en ongeloof is kenmerkend van afdelings I tot IV.  Die gedigte waarin die afdelingtitel eggo, is telkens die verse waarin bogenoemde aspekte voorkom. "Lyfband", "La fêtre sauvage", "Die sonboog het gebreek" en "Die weerlig van die ongeloof" is tematies kohesief.  In afdelings V en VI is kunstenaarskap en kreatiwiteit op die voorgrond. Die kwatryn "Abracadabra" stel die digtersdrang om inspirasie te put uit opteldinge, maar ook ander kunstenaarsdomeine, te put, op die voorgrond. Die "kortsluiting" wat uiteindelik die gedig sneller, is metafories terugherleibaar na die weerlig van die bundeltitel. Kreatiwiteit is die gevolg van die weerligstraal of die kortsluiting wat die ongeloof helaas tot geloof transformeer.

'n Kragtige afdeling in die bundel, "Die sonboog het gebreek", bevestig bogenoemde siening van die skeppingskoonheid wat voortspruit uit die samekoms tussen uiteenlopende elemente. Tog is dit nie alleen die tematiese spanninge wat De Lange se digterskap met hierdie kwatryne bevestig nie, maar in besonder die wyse waarop verstegiese elemente gemanifesteer word.  Die digter buit as 't ware die vierreëlige versvorm uit om maksimaal te kommunikeer. Om enkele voorbeelde te noem: die beweging van die aandster word in die ritme van die enjambement sintakties versnel; die hadida se geluid eggo in die woordvorm en klank; die versreël: "Hou ons ligweg in die wette van u wete", is 'n fyn balans tussen woord en teenwoord en ook die sintese tussen ritme, rym en betekenis soos blyk uit die onthouvers, "Tzimzum".

Die ervaring van en verwoording van liggaamlikheid is in simbiose met mekaar in De Lange se oeuvre en in Weerlig van die ongeloof weer eens met vernuf gestalte gegee. In die afdeling "Le féte sauvage", is die spreker se waarneming van die aanskoulike skoonheid van die (manlike) liggaam in spanning met begeerlikheid en besit, en wat soms deur verlies omlyn word. "Ek kan jou nie alles gee nie"; "Vreemde hande"; "Dagdroom oor Jopie Fourie"; "Trade", maar in besonder die gedig wat die bundeltitel dra, is 'n bevestiging van vervlietendheid van die liefdesduur tussen die bemindes. Al is die duur van intimiteit tussen bemindes se liggame deur verlies en gebrokenheid ondermyn, word die kwatryn 'n vorm van tekstuele behoud.

De Lange se digterskap is in Weerlig van die ongeloof manifestasie van sy vaardigheid om in en teen die woordlandskap donker tot lig te transformeer, verbrokkeling tot heelheid en ongeloof tot geloof.  Die trefkrag van hierdie bundel besit m.i. 'n duurte wat lesers van De Lange se verse sal verryk.  Verlies en verganklikheid word deur middel van die versvorm behoud(enis) gegee en sal lank bly ná-glans in die weerlig van dié kwatryne.

*

Dr. Marthinus Beukes is senior lektor in Afrikaanse digkuns by UJ en sy navorsingsbelangstelling sluit in die digters T. T. Cloete, Antjie Krog, Johann de Lange, Tom Gouws, Breyten Breytenbach en Cas Vos. Hy publiseer etlike navorsingspublikasies rondom bogenoemde digters, en het ook profiele gelewer oor André P. Brink en Lucas Malan vir Perspektief en profiel