Onderhoude

Monday, May 30, 2011

Charles Simic – Twee honde

Charles Simic (1938 - )

Twee honde
Charles Simic

’n Ou hond bang vir sy eie skaduwee
in een of ander Suidelike dorp.
Die storie is my vertel deur ’n vrou besig om blind te word
een mooi someraand
met die skadu’s wat kruip
uit die woude van New Hampshire,
’n lang straat met net ’n bekommerde hond
en ’n paar stowwerige hoenders,
en al daardie son wat neer bak
in daai naamlose Suidelike dorp.

Dit het my laat dink aan die Duitsers wat marsjeer
verby ons huis in 1944.
Die manier wat almal op die sypaadjie gestaan het
en hulle dopgehou het uit die hoek van die oog,
die aarde wat sidder, dood wat verby beweeg...
’n Klein wit hondjie het in die straat gehardloop
en verstrik geraak tussen die soldate se stewels.
’n Skop het hom laat vlieg asof hy vlerke het.
Dis wat ek aanhoudend bly sien:
Skemer wat daal. ’n Hond met vlerke.


[Vertaal deur Johann de Lange]