Onderhoude

Thursday, April 1, 2010

Vreemder as fiksie: Lesing (nie) gelewer aan die US, 2005


Hennie Aucamp

I

Ek het destyds Koos Prinsloo se Jonkmanskas & Die hemel help ons in die eerste plek as metafiksie gelees & nie as postmodernistiese tekste nie. Die idee vir Vreemder as fiksie het by my posgevat ‘n klompie maande ná Koos se dood. Sy laaste bundel, Weifeling, & meer spesifiek die dubbeldoor-verhaal “A portrait of the artist” (’n portret van Hennie Aucamp sowel as van Koos) het my redelik onthuts. Die woord verraad is in meer as een literêre gesprek in daardie tyd genoem. Die feit dat Koos grotendeels Hennie se briewe aan hóm gebruik het maar sy eie aan Hennie verswyg het, het my laat vermoed dat daar meer as net ‘n natuurlike proses van seleksie werksaam was: dalk eerder ‘n geval van unnatural selection. Dit was weliswaar ‘n bekende procedé, dié seleksie & ordening van materiaal, maar het vir my gevoel ‘n baie eensydige portret geskilder.

En die gedagte het by my posgevat om ‘n spieëlverhaal te skryf - een waarin ek Koos se briewe aan Hennie sou gebruik om as’t ware die ánder helfte van die storie te vertel. Ek is met dié idee na Hennie toe om toestemming te kry vir toegang tot hulle korrespondensie wat by die dokumentasiesentrum van Stellenbosch se universiteitsbiblioteek bewaar word. Mev Hannetjie Botha het die korrespondensie plus ‘n paar ander los dokumente rondom Koos gefotostateer & ek is huis toe om aan die verhaal te begin werk.

Ek het nie op daardie stadium ‘n baie helder idee in my kop gehad van hoe die verhaal sou verloop nie. Hou in gedagte dat ek feitlik uitsluitlik poësie geskryf het. Ek het weliswaar vantevore twee (baie poëtiese) kortverhale in bloemlesings gepubliseer - die soort wat afdwalende digters soms pleeg - maar dit was vloekskote wat my aanbetref.


My eerste taak was om Hennie se briewe aan Koos te vat & te vergelyk met dié wat Koos in sý verhaal gebruik het. Ek het met gekleurde koki-pen op die fotostate die dele wat Koos aangehaal het, deurgetrek sodat ek ‘n idee kon kry van wat nié gebruik is nie. Want hy het nie altyd die volledige briewe aangehaal nie, & party briewe is glad nie gebruik nie. Die weglatings het my heelwat van Koos se tegniek geleer, & was baie veelseggend op sigself. Só het ek dan besluit om waar dit betekenisvol is die dele van Hennie se briewe wat Koos verswyg het, te “stet”.

Daarna, in ‘n proses wat ‘n spieélbeeld was van Koos s’n, het ek deur Koos se briewe aan Hennie gewerk & met die koki-pen in elke brief die gedeeltes gemerk wat ek in my storie wou gebruik. In my kop het die verhaal stadig begin vorm aanneem: dit sou ‘n verhaal wees wat ek as ‘n soort ”regstellende aksie” gesien het. Maar ek het besef dat daar baie leemtes was wat ek eers sou moes invul voordat ek kon begin skryf. Ek het Koos se verhaal “A portrait of the artist” keer op keer deurgewerk & notas gemaak van alle verwysings & toespelings, & elkeen in Aucamp- & ander tekste nagespeur. Ek was gereed om te begin skryf, maar ek het gou besef dat my digterlike toerusting nie die regte soort gereedsap vir die taak voorhande was nie. Ek sou eers moes leer loop.

II

Ek het begin besef dat Vreemder as fiksie meer van ‘n akademiese projek gaan wees as ‘n konvensionele bundel kortverhale. Daar was navorsing om te doen, & ek sou van vooraf moes leer skryf, ‘n ander manier van dink moes aanleer. Want ‘n digter se kop werk heeltemal anders as dié van ‘n prosaskrywer. Wanneer jy van die een medium na die ander beweeg, is dit op ‘n manier ook ‘n paradigmaverskuiwing.

Dus: soos ‘n oorywerige student het ek Hennie Aucamp se Die blote storie 1 & 2 deurgewerk & aantekeninge gemaak van nuttige wenke & ander rigtingwysers. Daarna het ek ál sy verhaalbundels deurgewerk, al sy artikels, resensies etc. Notaboeke vol. Toé al Koos se verhaalbundels; koerantknipsels oor & deur beide van hulle, nie-fiksie tekste rondom die kortverhaal, metafiksie, verhaalteorie. Manuskripte & ander materiaal in NALN se versameling waarop daar nié embargo’s was nie was volgende.

Uiteindelik was ek gereed om die storie te skryf. Storie, enkelvoud. Want ek het geen planne gehad om meer as net die een storie te skryf & aan Tydskrif vir Letterkunde voor te lê nie. My verhaal sou in ‘n groot mate die matrys van Koos s’n volg, behalwe vir die slot waar ek ‘n ontbyt-toneel tussen die twee wou versin waartydens Koos vir Hennie ‘n kopie van Weifeling as “soenoffer” gee (natuurlik onmoontlik aangesien hulle toe lank reeds nie meer kontak gehad het nie), met die slotreël waar Koos wegstap uit die storie & uit die lewe & “asof in die niet verdwyn” - ‘n toespeling op die slot van Koos se verhaal waar dit Hennie is wat “asof in die niet verdwyn.” Dit was ook ‘n vooruitwysing na Koos se dood maande na die verskyning van Weifeling.

Iets wat ek met die slot van die verhaal probeer het & nog steeds oor twyfel, is die inbring van die bril. Ek laat Hennie iets doen wat hy nooit doen nie, nl. om sy bril af te haal wanneer hy by ‘n eetplek is. Wanneer hy terugkom, gaan sit hy dan per ongeluk op die bril & die implikasie is dat Koos die bril op die sitplek neergesit het terwyl Hennie weg was juis sodat Hennie daarop moes gaan sit. Wat ek (heel Freudiaans) daarmee wou suggereer, was dat Hennie in ‘n sekere sin van die begin af blind was vir Koos se gemeenheid, dat hy die verraad van ‘n verhaal soos “Portrait of the artist” nie sien kom het nie.

III

Terwyl ek dié verhaal aan die skryf was, het ander verhale hulle begin aanmeld. Dit was inderdaad die mees kreatiewe periode in my lewe tot dusver. Ek het in dieselfde tyd die teks vir ‘n TV-dokumentêr oor Ingrid Jonker geskryf (op sigself ‘n oefening in die transformasie van “feite” in ‘n ander medium), & ook ‘n nuwe digbundel voltooi. die besef dat daar meer verhale aan die kom was, het my van vooraf aan die werk laat spring. Ek het boeke rondom postmodernisme, sielkunde & metafiksie begin herlees. Nuwe wêrelde het voor my oopgegaan, vol moontlikhede. En al lesende het ek aan ander verhale begin skryf. Teorie het al skrywende bloedende praktyk geword, & dit was nie altyd moontlik om die een van die ander te onderskei nie, waar die teks ophou & die werklikheid begin nie, of waar die leuen oorgaan in die waarheid of andersom nie. Dit was ook op daardie stadium dat die bundeltitel, Vreemder as fiksie, hom aangemeld het & die verhale het meteens ‘n groter fokus gekry. Ek het besef wát dit is wat ek probeer doen & ek kon my leeswerk fokus na die behoefte van sekere verhale.

Die eerste twee of drie verhale het ek vir Hennie gewys. Hy het hier & daar voorstelle of kritiek gehad, maar ek het gou besef dat hy om verstaanbare redes nie weer in die rol van mentor gedwing wou word nie. Party van die stories het onder andere hulle eie ontstaan as tema gehad, bv. “Die bruin lêer”, & die probleme wat ek met dié verhaal gehad het, is al skrywende opgelos. Al verskil was dat ek nie die gesukkel, die steierwerk as’t ware, verwyder het nie; ek het dit ingelos. Ek het selfs gesprekke wat ek met Hennie gehad het oor probleme rondom die skryf van dié betrokke verhaal, behou.

En dié verhaal het ‘n láng aanloop gehad. Dit was omtrent 10 jaar gelede toe Pieter Claassens, die digter waaroor die verhaal handel, homself in die Indwe-hotel in Pretoria geskiet het. ‘n Vriend van my was toevallig een van die polisiemanne was wat na die toneel uitgeroep is. Hy het my gebel & gevra of ek Pieter Claassens geken het, aangesien daar op die bedkassie langs die lyk ‘n stapeltjie van Pieter se jongste digbundel gelê het. Op dié manier het ek inligting bekom waartoe ek andersins nie toegang sou gehad het nie.

Ek het ‘n kopie van die polisielêer aangevra met afskrifte van verklarings, outopsieverslae & ook foto’s van die lyk. Dit was ‘n baie ontstellende ervaring & ek onthou ek het daardie nag, nadat ek vir die eerste keer die foto’s gesien het, my eerste wet dream in baie jare gehad. (Nou, ek weet sommige ouens is gelukkig genoeg om dit dikwels te beleef, maar aangesien dit iets is wat gebeur net wanneer mens vir lang periodes jou hande van jouself kan afhou, is dit iets wat my uiters selde oorkom.) Hoe ookal, die skok van daardie foto’s het by my ‘n soort lewebevéstigende reaksie ontlok: dit was asof my liggaam deur middel van die droom my gerus wou stel, wou sê: Jy lewe!

Ek het ‘n gedig oor Pieter geskryf & die bruin lêer gebêre & daarvan vergeet. Die gedig het verskyn in Snel grys fantoom (1986):

Pieter Claassens (1949 - 1983)
maansverduistering 28 Oktober 1985

Ek lees jy het oplaas vertrek
na die noorderson, en niks
het verander nie: een swael
minder maak nog nie ‘n winter nie.
Liefde bring ons na die siekbed,
die oop graf: diagnose van verlies.

Vanaand het die maan ‘n skaduwee
soos bloed in sy oog,
en minnaars lê gevlegsel,
opgesluit in mekaar se droefheid.
Wat oorbly na alles, is liefde.

Ek beny jou die nugter
sekuriteit van jou dood:
Vriende, ek vertrek
op my laaste reis.
Sommiges leer van kleins af
om hulle teen verlies te staal.

Onseker minnaar
vir wie elke verhouding
‘n salto mortale was,
jy kan nou maar jou oë sluit:
ooglid van ys oor ‘n winterpoel.

Toe ek die verhaal begin skryf 10 jaar later, noem ek op ‘n dag vir Philip de Vos dat die storie gaan staan het, dat ek sukkel om dit weer aan die gang te kry, & hy noem hy het iewers foto’s wat hy van Pieter geneem het op ‘n tyd in sy lewe toe dié nog jonk & begeerlik was, & ek dag toe: dalk is dit nét wat ek nodig het om die verhaal te laat werk. Ons het deur die foto’s gegaan & ek het ‘n naakfoto gekies waar Pieter bruingebrand op sy maag lê iewers naby Kommetjie (was daar ‘n halfbegrawe skeepswrak naby?). Ek het die naakfoto langs die foto’s van die lyk geplaas & besef dat ek moes probeer verstaan hoe ‘n mens van die een na die ander uiterste in jou lewe kan beweeg.

Ek is terug na Die blote storie & het besluit om Hennie se konsep van die “point of entry” & “point of exit” met betrekking tot die begin & slot van die kortverhaal in verband te bring met die skietwond, die point of entry van die koeël, & die feit dat nes die koeël nie aan die ander kant van Pieter se skedel uitgekom het nie, my verhaal ook nie 'n oop einde kan hê nie.

IV

In ‘n verhaal soos “Die storie van ‘n skrywer” is daar weer eens ‘n dubbele perspektief: enersyds is dit die storie van Koos, & andersyds is dit die storie van my skoling as kortverhaalskrywer. Want soos ek op die flapteks verduidelik, is die verhale in Vreemder as fiksie ook ‘n verslag van hoe ek leer skryf het. Ek het gaan leer & gaan leen by die lewendes & by die dooies. In “Storie van ‘n skrywer” het ek ‘n gedeelte uit John Berendt se Midnight in the garden of good and evil wat handel oor Conrad Aiken vertaal & gebruik as centre piece om te illustreer hoe dié storie werk, veral die relasie tussen fiksie & werklikheid. (Op elfjarige leeftyd het Conrad Aiken se pa sy ma geskiet & toe selfmoord gepleeg, & dit was die jonge Conrad wat op die liggame afgekom het).

Terwyl ons ywerige skrywer in Le Petit Paris op Groentemarkplein sit (daar was werklik ‘n kelnerin met ‘n blou rok & wortelrooi hare) kry hy die idee om Koos ‘n fantoomverskyning te laat maak, ‘n klein vinjet as’t ware. Hou in gedagte dat hy in die volgende verhaal ná sy ontbyt met Hennie juis in die rigting van Groentemarkplein verdwyn.

Dan daag A. op, & die gesprek wat die skrywer & A. in Le Petit Paris het, is volledig saamgeflans uit die huldigingsartikel wat oor Koos in De Kat verskyn het na sy dood. Ek het in Vreemder as fiksie iets anders wou doen as Koos in Weifeling. Ja, ek wou ook lewende mense betrek, ek wou ook die grens tussen werklikheid & fiksie kompliseer, maar ek wou vérder gaan. Ek wou meer tekste met myne integreer, ek wou meer klem lê op die feit dat ‘n storie, nes die lewe, ‘n “tissue of quotations drawn from the innumerable centres of culture” is soos Roland Barthes skryf. Die baie voetnotas moes enersyds aan sekere fiksionele elemente die illusie van waarheid te gee, & andersyds “feite” in die teks ontmasker as leuens & andersom. Daar is dus as’t ware twee stemme in kontrapunt wat daarop uit is om mekaar se geloofwaardigheid te ondermyn sodat die leser (& skrywer/outeur/verteller) later nie meer weet wie of wat om te vertrou nie.

Dieselfde gebeur in “‘n Oog vir ‘n oog” waar ek ‘n onderhoud wat Johan Bruwer met Koos gevoer het vir De Kat gebruik het om dialoog tussen die karakters te skryf. Ek stel Koos dus letterlik aan die woord, maar binne ‘n fiktiewe, versinde konteks. Ek het ook inligting vervat in ‘n outobiografiese skets wat Koos vir NALN geskryf het, gebruik om die karakter van Koos verder uit te vlees. Dan tree die verteller as navorser na vore & ons lees hoe hy in die Suid-Afrikaanse naslaanbiblioteek fotostate van artikels (onder andere die De Kat-onderhoud) gaan aanvra het. Mieke Bal & Flaubert lewer belangrike insette. Die verhaal buig dus meteens in op homself & Koos se opmerking dat nie alles in sy stories werklik gebeur het nie word ironies. Veral as my storie vol dinge is wat werklik gebeur het, gemeng met dinge wat nie gebeur het nie. Ek vat byvoorbeeld ‘n insident uit een van sy verhale oor ‘n bergievrou wat melk van ‘n tafeltjie af steel & skryf dit in my storie in - met die verskil dat die karakters wat dit sien gebeur Koos & sy lover is. Met ander woorde hulle word meteens karakters in beide my & Koos se stories! En dan skielik in die slot “slip” die skrywer op & die perspektief glip van die derde na die eerstepersoon, die maskers word laat val & die leser besef dat die verteller, die navorser & die ‘ek’ een & dieselfde instansie is. Daar is heelparty opsetlike foute (& selfs ‘n onopsetlike fout of twee) in Vreemder as fiksie.

Die titelverhaal is saamgeflans uit skinderstories, uit ‘n werklike gesprek wat ek met Koos gehad het nadat hy onwetend seks gehad het met iemand wat HIV+ was, uit ‘n gesprek wat ek gehad het met iemand wat die verassingsdiens bygewoon het, & ten slotte het ek die huldigingstuk wat sy Nederlandse vertaler Riet De Jong-Goossens opgeneem het agterin haar vertaling van Slagplaas, gebruik. Daarin vertel sy van ‘n vrou wie se motor gaan staan het & wat toe ‘n insleepdiens gebel het net om deur die mans van die insleepdiens verkrag te word. Sy word ten slotte deur ‘n man met ‘n lykswa opgelaai waar sy langs die pad staan & huil. Ek het dit gelees & gedink dit kon net sowel ‘n Koos Prinsloo-storie gewees het. As laaste kinkel maak ek toe die lykswa dieselfde een wat vroeër die aand Koos se lyk opgelaai het & ek maak haar verwagtend & bring lewe & dood, waarheid & leuen, feit & fiksie, wet dream & nagmerrie op makabere wyse bymekaar uit.

V

Ek het solank ek kan onthou ‘n fassinasie gehad met Leipoldt. Hy was nie net die enigste Afrikaanse skrywer met wie ek graag sou wou knip nie, maar die vaagheid rondom sy seksualiteit het hom net nog boeiender gemaak. Wanneer Leipoldt se seksuele orientasie ter sprake kom, is daar gewoonlik baie sterk gevoelens. Hy is toetentaal volksbesit, ‘n nasionale instelling, lank nie meer vlees-&-bloed nie, & die volk hoor nie graag iets negatiefs omtrent hom nie. Stel julle my opgewondenheid voor toe John Kannemeyer op ‘n dag by my werk opdaag & in ‘n gesprek noem van die interessante brief waarop hy in sy navorsing rondom sy Leipoldt-biografie afgekom het. ‘n Brief wat ‘n mediese student aan Leipoldt (toe self ‘n mediese student in London) geskryf het. Die briefskrywer se seksuele orientasie was baie duidelik & die beskrywing van sy obsessie met ‘n ander seun & die feit dat hy homself besny het omdat die seun ook besny was, ‘n grillige wond wat uiteindelik septies geraak het, het my geboei, & ek het gewonder waarom Leipoldt dié brief gehou & nie vernietig het nie.

Kannemeyer het my ‘n kopie van die brief laat kry & dit het die raamwerk van my vertelling uitgemaak. As meesterverhaal het ek Oscar Wilde se “Portrait of W.H.” gebruik - ‘n vernuftige vertelling gebou rondom die misterie van die W.H. aan wie Shakespeare sy sonnette opgedra het (man? vrou?), & oor die konsep van waarheid & vervalsing & hoe ver iemand sal gaan om die waarheid te lieg. As teenpool vir Leipoldt se seksuele ambiguity het ek blatante gay karakters gebruik: in dié geval die Britse skrywer Francis King wat ek een middag by Stephen Gray aan huis ontmoet het. Die gesprek oor die Noorweegse gentleman companion & die hoerjonge waarvoor King se skrywersvriend Tom Wakefield moeg geraak het & toe na die plaaslike pastoor aangegee het, is feitelik akkuraat. Die professor is ‘n saamgestelde karakter: daar is ‘n knertsie in van John Kannemeyer, van Dr. Con (wat ek nooit geken het nie, maar oor wie ek by vriende bits & pieces gehoor het) & van Hennie Aucamp se Markies-karakter uit die laaste vier verhale in Wat bly oor van soene? - op sigself ‘n samestelling van Dr. Con & Robert Mohr. Daar is eweneens verwysings na Johannes Meintjes se dagboekinskrywings oor Leipoldt. In die verhaal sélf word daar plek-plek gepraat van Leipoldt, & op ander plekke net van L. & daar word nooit gesê of dit dieselfde persoon is nie. Die voetnotas nooi die leser uit om tóg daardie identifikasie te maak, maar dan op eie risiko.

Daar is woorde gelê in die monde van karakters wat dit nooit gesê het nie, maar dit is opgetekende dialoog wat kom uit gesprekke met vriende & vyande wat nié in die verhaal figureer nie. Elke verhaal in hierdie bundel het hierdie mengsel van feit & verdigsel, van waarheid & leuen, & oral is verwysings na ander verhale ingebou, of tussen verhale in die bundel self onderling, ‘n verwikkelde, digte web wat ekself teen die einde nie meer sonder groot moeite sou wou ontwar nie.

VI

“An author in search of some characters” was as titel eenvoudig onweerstaanbaar & het begin vorm aanneem toe ek een naweek deur ‘n boek oor Rembrandt lê & blaai het - nie met ‘n storie in gedagte nie, net as ontspanning. Toe ek egter lees dat daar twyfel bestaan oor die egtheid van die middelste van drie panele, & dat dié middelste paneel in 1959 (my geboortejaar) ontdek is, het my kop begin kletter. Een aanloop vir die verhaal was die feit dat Rembrandt homself dikwels in sy doeke ingeskilder het, soos Hitchcock se kamee-verskynings in sy films: ‘n feit wat ek kon gebruik om te besin oor die teenwoordigheid van ‘n outeur in sy werk. Vandaar was dit ‘n klein sprongetjie na Italo Calvino se When on a winter’s night a traveller waar die vertellende & skrywende “ek” voorop gestel word, & Johann de Lange word tegelykertyd verteller, outeur & karakter.

In die verhaal kyk ek na die mens agter die boek: hoe dit nog altyd in die wêreldletterkunde & ook in Afrikaans bestaan het. Koos se laaste verhale het bloot ‘n baie sentrale problematiek belig deurdat hy minder verdoeseld as diegene voor hom met die lewendes & dodes omgegaan het. Hy het trouens met die lewendes omgegaan soos min dit sou waag om met die dodes om te gaan. In dié verhaal laat ek ‘n hele paar ape uit die mou & identifiseer die lewende modelle vir karakters in Afrikaanse tekste, & betrek eweneens ‘n groot klomp ander tekste om die dilemma van postmodernistiese fiksie & die oorskryding van ontologiese grense te belig.

Ek betrek ook die twee akademici wat die manuskrip van Vreemder as fiksie gekeur het & haal uit hulle verslae aan - sonder om hulle pertinent te identifiseer, my lydsame uitgewer ter wille. Fiksie, nes die werklike lewe, het ook sy kompromieë. Ten slotte betrek ek ‘n gesprek met Simon Ford oor die omslag van die boek - ook hy is deur my as omslagkunstenaar gekies vanweë sy assosiasie met Koos (hy het die omslagkunswerk van Die hemel help ons gedoen). ‘n Verdere spinnedraad wat roer in die web wat ons slinkse outeur vir sy karakters & sy lesers spin. Ja, want die gevaarlikste ding op twee bene is ‘n skrywer op soek na ‘n storie. Uiteindelik bely die skrywer sy onmag om die storie tot ‘n klinkende of knallende slot te bring. As die dissipels nie eens kan saamstem oor presies wát Christus se laaste kruiswoorde was nie, hoe op aarde kan ‘n arme beproefde skrywer sekerheid hê oor enigiets?

VII

Die verhaal “En hadde de liefde niet” gaan oor die dood van ‘n vriend aan Vigs soos aan my oorvertel deur ‘n gemeenskaplike vriend, die Bertus waaraan die verhaal opgedra is. Ek het toe reeds geruime tyd in Kaapstad gewoon & nie meer kontak met my sterwende vriend gehad nie & genadiglik nie sy aftakeling & dood meegemaak nie. Plek-plek het ek anekdotiese detail ingewerk wat by my opgekom het tydens die skryf daarvan. Die spelfout van chiascuro in plaas van chiaroscuro: was dit nou ‘n opsetlike verskrywing of nie? Ek wonder… Die verwysing daarna lê egter ‘n verband met die vorige verhaal oor die Rembrandt-skilderye & op die idee van sekerheid & vaagheid, van wat ons uiteindelik kán weet. En hoe onbetroubaar geheue is. Koos gebruik as motto vir sy verhaal “Belowe jy sal niemand sê nie” Guillermo Infante wat skryf “I have decided to be faithful to my memory even though it deceives me,” ‘n uitspraak wat net so ter sake is vir hierdie verhale.

Aangesien ‘n skrywer darem ‘n paar geheime moet oorhou, gaan ek nie die karakters in “A rough guide to Cape Town” identifiseer nie, behalwe miskien Jeff Stryker wat in die werklike lewe net so goed bedeeld is as in sy videos. Prof Libby in die verhaal “Prof Libby neem ‘n notaboek saam” is ‘n karakter wat pens & pootjies uit ‘n storie van Hennie Aucamp na myne oorgeloop het, min of meer ongeskonde. Ek het inderdaad vir Prof Libby (die een in lewende lywe) op ‘n dag by Sandy Bay raakgeloop, maar nie met hom gesels nie, net van veraf gewuif. Die idee vir die verhaal het egter so onmiddellik & so sterk by my opgekom dat ek in my spore omgedraai het & terug is huis toe om dit te gaan neerskryf, ten spyte van die avonture wat ek sodoende in die rooikransbos (oftewel Kom-se-Bos) sou misloop. Die steek met ‘n skroewedraaier het nie met die werklike Libby gebeur nie, maar met iemand wat vroeër jare by die SAUK gewerk het. ‘n Verdere verdraaiing wat ek nie kon weerstaan nie, was om die aanrander se naam Koos te maak, & Libby homself as Hennie te laat voordoen: op dié manier wou ek op grafiese wyse gestalte gee aan die tekstuele geweld van Koos op Hennie deur sy verhaal.

Lesers wat vasgevang raak in die spel om dié of daai karakter in die stories te identifiseer, mis die punt van die verhale & gaan in elk geval bedroë daarvan afkom. Daar is te veel vals bodems & blinde mure. Veel interessanter is hóé ‘n storie aanmekaar gesit is, die “amount and diversity of materials integrated” waarvan Wellek & Warren praat. En ek hoop hierdie praatjie gee lesers ‘n glimps van hoe die kreatiewe proses vir my gewerk het daardie tyd. Net ‘n glimps, meer nié, want misterie in fiksie (nes in die lewe) is noodsaaklik. Sodra mens ‘n toertjie heeltemal verstaan, verloor jy belangstelling.


(C) Johann de Lange, 2010