Onderhoude

Tuesday, April 6, 2010

God se ars poetica




T. T. Cloete

Die term “ars poetica” beteken die “kuns van poësie” of die “aard van poësie”, & dit is ’n uitgebreide, goed gevestigde tradisie. Die vroegste voorbeelde is dié van Horatius & Aristoteles. Daar is nie, glo ek, enige digter van belang wat nié ten minste een ars poetica geskryf & vele inspireer het nie. Dit is ’n natuurlike uitvloeisel van die digterlike aktiwiteit, die behoefte om oor eie aard te besin. En as jy dit mooi tref met die heelal, is “kuns en beskouing [...] êrens een aktiwiteit”, soos Cussons skryf in “Die blaar” (Verwikkelde lyn, 8), háár ars poetica.

Die digter T. T. Cloete is loshande die Afrikaanse digter wat die meeste oor eie praktyk besin: soos God teenoor Sý skepping, staan die digter teenoor sýne. Dit is dus nie vreemd dat Cloete in sy oeuvre hom ook sal verwonder aan & bemoei met die heelal, die kosmiese nie – Gód se ars poetica.

Wat hier volg is net los aantekeninge by enkele verse van Cloete in sy bundel Idiolek wat as ars poeticas gelees kan word, hetsy van die digter of Die Digter.

In “glasharmonika” (1986: 9), wat as programgedig van Idiolek gelees kan word, besing die digter 'n “tyd toe bottels / nog bottels was”, toe die máák van die artefak nog belangrik was, in kontras met ons era van massaproduksie (“vandag se bottels en bottels”).

Die afdelingtitel, “pegasea”, met sy toespeling op Pegasus, die perd van poëtiese inspirasie, stel alreeds die kreatiewe impuls voorop. Die tradisionele digterlike lier het hier plek gemaak vir 'n glasharmonika. Die digter haal sy rou materiaal uit die aard(s)e (die “dor sand”), & met die transformerende vuur bring hy sy kunswerk tot stand, die bottel – 'n uiters geslaagde beeld vir die gedig waar die vorm & inhoud nie net één is nie, maar nog boonop síng ook.

“voëls met nuwe teks” (1986: 11) is een van my gunstelingverse in Cloete se oeuvre, nie slegs om die speelse daarvan nie, maar omdat dit as ars poetica die digter se ervaring van sý wêreld as teks so pragtig uitbeeld:

voëls bring met dagbreek
nuwe teks aan my tuinboom
ontsteek
'n nuwe droom

miere voer smiddags teks verby
regop skyfies blaar
laat op 'n blink see voor my
seiljagte vaar

my vrou lees nuwe teks voor
saans vir my haar
gefraseerde hand maak in my oor
teks met 'n gebaar

'n meteoriese parabool
die onderlipmaan
vrou mier voël
hulle dra dag en nag teks aan

“ongeluksvoël” (1986: 17), kan beskou word as 'n voortdigting op die idee van Martinus Nijhoff soos uiteengesit in sy belangwekkende artikel “De pen op papier”, nl. dat die digter nie klank voortbring met sy lippe nie, maar met die fluit. In Cloete se vers het die digter benewens sy “eie stem” ook nog die viool sodat hy, ánders as die voël wat “net die lus / van die vreugde” ken, ook nog “die de profundis / en talle soorte ander seer” kan verken.

Vir die digter is dit dikwels pyn wat betekenis gee, wat as't ware 'n mistieke gawe is van God ("dat pyn bestaan, is nodig, Heer", hoor mens Louw via die mistikus Ignatius Lojola meepraat), & dáárom breek sy “stukkende verruk / ... eindeloos mooi”.

Hierdie gedagte word verder gevoer in “Johannes die doper” (1986: 19) waar die spreker armoede verkies, & behoedsaam wees ('n vers wat sinvol gelees kan word naas Eybers se “Poësie” (1990: 379) waar sy skryf digkuns word “gestook: uit pyn & afstandneem”). Cloete beken:

meer as flambojant
is grou na my smaak
onvolkome is interessant
vir my en mismaak

Nie dat die digter “natuurlike heerlikheid verdoem” nie (“Strand”: 23). Hy wil trouens

... tog ook tydelik
van ú tyd geniet as dit mag

hoe kan ek die onvermydelike ewig liefhê
as ek my die versadiging van die aarde ontsê

(“minus maal 'n minus”: 104)

Die vers “Babbelwaggel” (1986: 34-35) wat heel betenisvol in die afdeling “vertekendes” opgeneem is, is 'n selfportret van die digter as vertekende spekskieter:

sy groter geverfde bek
praat met dik lippe spek

Cloete se eie hinkepink manier van loop (as gevolg van polio toe hy jonger was) kom aan die bod:

Moet Hy Hom my verwyt
my Chaplin-poot my hoepelhink
is ek sy groot spyt?

Ek is op aarde so onelegant
soos die malmok, aan Hefaistos verwant

Die vers sluit met:

'n Tong wat kan praat
'n homo erectus-postuur
moet tot iets beters in staat
wees, tot 'n minder vertekende karikatuur.

In Cloete se digterskap is die visuele baie belangrik. In “neem jou oë saam” (1986: 39) - aan die begin van die afdeling “life is in the eye of the beholder” - met sy toespeling op Van Melle se “Oom Karel neem sy geweer saam” maan die spreker Oom Karel ('n “transendentale / siener”):

vat net jou visier, los die lope,
neem jou oë, bril, ander fokale
hulp, verkykers, teleskope
en dergelike saam. Kyk en
die res word verniet
saamgegee. So ver die oog kan teiken
word lewe geskiet.

In 'n vers soos “Olympia word wakker” (1986: 40) – een van vele verse waarin Cloete die klassieke mitologie & die banale alledaagse saamdig – word deur die oog van die advertensiewese gekyk na 'n omgevalle fles. Die drambuiefles word uiteindelik

glasstyf ontlyf 'n fallus uitgestrek
sy lengte na haar gerig,
'n snuffelende uitreikende loop.

Hier is dit die visuele konsentrasie & fokus tipies van die fotografie & advertensiewese, die onmiddellike kommunikasie van visuele metafore, die voyeurisme, wat Cloete aanwend om die vers amper in stadige aksie eroties te laai.

Van Wyk Louw se slotreëls “Iets staan in sterre-en-helderte geskryf; / en ek skryf ná in stof” (uit “Ex unguine leonem”, Tristia: 12) word by Cloete “ons beskoulike raaiwerk en rot” gesien teen die “geniale raak radar” van God (“Vlermuis”: 41).

In “glaasoë” (1986: 47) is dit die ouer, wyser blik wat die vlugtigheid & prekêre van die jeug beter verstaan as wat die jeug ooit sélf kan:

... hulle kyk die jonkheid deur
goed deur mooier as wat die jeug

sélf kan die ouer oë wat vlak en donker
lyk en wat al leper
sien kyk skoner hoe flonker
die jeug op die keper

In die afdeling “toepassings van dante” is “Silhoeët van Beatrice” as’t ware 'n teleskopering van Dante se geliefde & 'n byna liefderyke ná-tekening, as’t ware met die digterlike vinger, met die silhoeët van 'n latterday seksgodin. In “mooi marilyn monroe in rooi” kyk Cloete  na Marilyn Monroe deur die oog van Dante, & word sy

'n fenomeen
liefderyk
deur 'n lenige Volmaakte Vinger gestryk
skrander van skedel tot skeen

(1986: 52)

“transkripsie” is 'n afdeling waarin Cloete kreatief op ánder tekste reageer, hulle palinodies hérdig. Verál Job, maar ook Hooft, Leopold, Nijhoff, Leipoldt. Dit is in “Leopold” (1986: 63) wat Cloete tot die slotsom kom dat die universum materiaal vir die digter is:

die ganse heelal
is daar ter wille van 'n taalkristal

In “Ballade van die digter” (1986: 66-67) sien Cloete die rol van die digter as volg:

Hy is besig om in elke plek
van die kort vers in die lang sloer
van die eeue en aarde 'n roekelose ydel gesprek
met ewighede te voer.

(1986: 66)

Die digkuns besweer, bewaar, dit stol die oomblik, maak die tydelike tydloos:

Die digter gaan onbarmhartig onverstoord
te midde van die algemene verderf
met sy taalskadeloosstelling voort.

(1986: 66)

Dit herstel ook wat verweer het, haal die angel uit die lewe, soos Ina Rousseau skryf in “Beswering” (2003: 34-35). Die digter glo selfs dat God net vir hóm “die oordeelsdag” uitstel

die aarde soos dit is bestaan voort
ter wille van dié guit dié ydeltuit

(1986: 67)

Die helende krag van die woord (“woorde genees”) is die fokus van “openbaring marsman leipoldt mulisch” (1986: 71), die woord wat uiteindelik ook gebanaliseer as produk “voer (word) vir die filoloog”.

In “Onblusbaar” (1986: 73) is wind, water & vuur “minderwaardige metafore” vir God. Daarteenoor word die alledaagse, die ondermaanse bestaan in “Bloem” (1986: 78) oorstyg met “'n vlagie woorde wat die verderf 'n vleugie transendeer”, & die psalmdigter in “Ps. 150” (1986: 79) is tussenganger tussen die wêreld & God:

... selfs alles wat afonies leef
het deur my inspraak van die Here

Nog 'n gunstelingvers is “loopskrif in 'n vakansiehotel” (1986: 123) waar die ontstaan van die gedig sélf beskryf word (soos byvoorbeeld ook gebeur in Ted Huges se klassiek-geworde gedig “The thought-fox”). Die digter sit in 'n hotelkamer & skryf terwyl hy luister na die “gier / en gil en die skerp lag” van die ander vakansiegangers om die swembad. Daar is 'n erotiese spanning in sy luister: “my pen staan orent luisterend in my hand”. Dan, meteens, kry die vers sy loop:

wanneer albei ontploffings bedaar
het kry die hand wat koud
geword het weer loop en klier en kwasar
soek daarin 'n nuwe behoud

en gaan aan en aan
waar dit daar aan die loop gaan

Byna soos in Johan van Wyk se vers “Op loop gaan” waarin “meneer Paul Klee” se kierie op die spoor van 'n lyn/reël met hom op loop gaan, “met 'n droom wat wit kierie loop” (1978: 23).

In “Christus, plant, klip, Dias” is dit die digter wat deur die skryfdaad, deur die daad van benoeming, "bedreigde name" aan die vergetelheid ontruk:

ek sit hier as 'n uithoek
en skryf julle bedreigde name
delikaat in 'n boek

(“Historiografie”: 128)

Niks is te gering vir die aandag van die digter nie:

geen klip en spriet is te gering
dat ek dit weet geen ding
dat ek dit in die aandag bring
van my taaldinkversameling

(“goedweteronderhouer”: 131)

In 'n digterskap wat sigself so verwonder aan die heelal, is dit onvermydelik dat die digter 'n raakpunt sal soek tussen sý kreatiwiteit & dié van God:

in die wisseling van die verskynsels
is veral die matesis
een van die weiniges wat blywend en
onvernietigbaar is soos dit is

dan op 'n tydstip my klein bereik
in heilige kortstondige eenvoud
omnia mea mecum porto (1 )
vir Sy deurlopende multimultimeervoud

(“ubiquiteit”: 133-134)

En in sy rol as “mislukte” eendag God se grootsheid & veelvoud aan die mensdom hoorbaar sal maak:

eendag deur my gaan menshede meer
óral beter van U ánders hoor

(“Vivaldi”: 136)


Voetnoot

1. “All that is mine I carry with me.” (“Latin proverbs”. 2005. Wikiquote)


Bibliografie

T. T. Cloete. 1986. Idiolek. Tafelberg uitgewers.

Ad de Vries. 1984. Dictionary of symbols and imagery. Elsevier Science Publishers B.V.

Sheila Cussons. 1983. Verwikkelde lyn. Kaapstad: Tafelberg.

Elisabeth Eybers. 1990. Versamelde gedigte. Tafelberg: Human & Rousseau.

Martinus Nijhoff. 1927. De pen op papier. Joh. Enschedé & Zonen: Haarlem.

F. F. Odendal. 2000. HAT. Johannesburg: Perskor.

Ina Rousseau. 2003. Die stil middelpunt. Kaapstad: Human & Rousseau.

Johan Van Wyk. 1978. Heldedade kom nie dikwels voor nie. Johannesburg: Perskor.

N. P. Van Wyk Louw. 1962 (1975). Tristia. Human & Rousseau.

Wikipedia, the free encyclopedia. “Ars Poetica”. 14 March 2010. Beskikbaar by:
http://en.wikipedia.org/wiki/Ars_Poetica

Wikiquote. “Latin proverbs”. 3 April 2010. Beskikbaar by:
http://en.wikiquote.org/wiki/Latin_proverbs


(C) Johann de Lange, 2010