Onderhoude

Friday, March 19, 2010

Huldeblyk: Wilma Stockenström 75

Wilma Stockenström (Fotograaf: Philip de Vos)

Wilma Stockenström verryk al die afgelope 38 jaar die Afrikaanse letterkunde met haar satiriese, wederstrewige, deernisvolle stem. Sy is saam met Elisabeth Eybers, Sheila Cussons en Ina Rousseau een van die belangrikste vroueskrywers in Afrikaans.

Sy is op 7 Augustus 1933 op Napier in die Overberg gebore waar sy ook in 1949 haar skoolopleiding voltooi. Sy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch waar sy in 1952 ’n BA-graad in Drama verwerf. Daarna werk sy vir 'n jaar as radio-omroepster in Kaapstad. Sy verhuis in 1954 na Pretoria en trou in dieselfde jaar met Ants Kirsipuu, ’n gebore Estlander en taalfilosoof. Sy werk hier aanvanklik as vertaler maar later ook as aktrise.

Haar vroegste skryfwerk was op die terrein van die drama: twee eenbedrywe, Katlagters en Op deurrys wat in die tydskrifte Wurm en Contrast gepubliseer is, daarna Dawid die dik dom kat en Trippens se patatta wat deur Dalro uitgegee is. Dit is egter eers met Laaste middagmaal (1978) dat sy aandag trek as dramaturg.

Drama is haar eerste liefde en sy vertolk rolle in onder meer Hugo Claus se Bruid in die môre, in Ionesco se The chairs, en Tsjechof se Drie susters onder regie van Robert Mohr. Later het sy ook bekendheid verwerf vir haar optredes in rolprente en televisieproduksies soos Manakwalanners, Hoggenheim Edms Bpk, Die Besoeker (1977) - Athol Fugard se drama oor die lewe van Eugène Marais - waarvoor sy die Rapport-Oscar verower het, Die Perdesmous (1982), Verspeelde lente (1983), Die Storie van Klara Viljee (1992), Friends (1993), en Promised Land (2002), gebaseer op die roman van Karel Schoeman.

Haar digterlike debuut met Vir die bysiende leser (1970) op 37-jarige ouderdom sou ongesiens verbygegaan het, was dit nie dat die bundel Opperman se kennersoog gevang het nie. Hy het H&R oorreed om die regte en voorraad van Vir die bysiende leser by Rijger uitgewers oor te neem en haar as belangrike digter te kultiveer.

Wilma erken ruiterlik dat haar “gedigte... eintlik as ’n grap begin” het. Haar eerste gedigte is in die sestigerjare in die tydskrif Wurm gepubliseer, saam met dié van tydgenote soos Wilhelm Knobel, Phil du Plessis & Casper Schmidt. Omdat sy in daardie stadium net 12 gedigte gehad het wat gereed was vir publikasie, het Wilhelm Grütter voorgestel dat hulle dit op mooi papier & in groot letters druk. Wilma het toe voorgestel dat hulle die bundel Vir die bysiende leser moet noem. Later is natuurlik veel van die betekenis van die titel gemaak, tot Wilma se verkneutering.

Reeds in haar debuut is die volledige Stockenström ten voete uit aanwesig. Die verse is onopgesmuk en ontdaan van enige affektasie. Poëtiese elemente soos rym, konvensionele musikaliteit en tradisionele vorme maak plek vir nugter taalgebruik, ’n sterk ironiese aanslag en ’n aweregse benadering tot sinsbou. Hierin, sowel as in haar liefde vir neologismes toon sy ’n verwantskap met Peter Blum. Dit is verse wat voortkom uit die “‘klipperige bed van geboorte en dood” wat Afrika is, van meet af aan aktueel sonder om plakkaterig te raak, verweef met die politiek, voorgeskiedenis, mites en folklore van Afrika.




As digter het Stockenström ’n gesonde wantroue van woorde. Poësie is vir haar die 'ontbeerlikste der kommoditeite’. Enersyds wantrou sy taal, kan dit alleen die leegte en menslike futiliteit verwoord, andersyds is dit die medium waarin die digter soos die primitiewe kunstenaar in “Die eland” met die “hand wat laat leef” lewe skep en ontruk aan vergetelheid. Die mens self is ’n wese van “vergetelheid en van glans”, alte bewus van sy onvolmaaktheid en sterflikheid (“en niks so onunieks soos die geboorte van 'n mens”). Maar terselfdertyd bewus van die wonder van bestaan:

Dit is genoeg om te gelewe het, een maal,
een maal in eenmaligheid van chromosome
... te kan dink: ek was eenmaal

Eenmaal was ek ’n mens

(Uit: Van vergetelheid en van glans, “Aankoms en vertrek”)

In teenstelling met die dikwels ekkerige poësie van vorige generasies skryf Stockenström eerder oor die menslike kondisie & verál in Monsterverse skryf sy gedigte met ’n kosmiese strekking waaruit ’n basiese panteïstiese ingesteldheid blyk. Sentraal staan die mens: eensaam, uitgelewer aan ’n onverskillige heelal, komieklik in sy vernaamdoenery:

Daar staan hy nou, met sy weekdele bloot,
die mens, die sot, die groot toneelspeler.

(Uit: Monsterverse, “Ecce homo”)

Hy is skepper van vergetelheid, tot stand bringer van beskawings wat opglans en verdwyn in die groter gang van die heelal. Hy is nietig, en tóg gaan hy gierig om met die aarde, onmenslik met die medemens, vol eiewaan en hubris. Net nog een van die monsters wat haar poësie bevolk, maar miskien die onwennigste van almal:

dié behaarde buis van glorie en smet,
'n sotterny van mismoedigheid.

(Uit: Monsterverse, 12)

Stockenström lewer eweneens as prosaskrywer werk van hoogstaande gehalte. Saam met Henriette Grové word sy die tweede vroueskrywer om die Hertzogprys in twee verskillende genres te verower: vir poësie in 1977 en vir prosa in 1991.

Die vertaling van Die kremetartekspedisie in Engels deur J.M. Coetzee in 1983 stel Stockenström aan 'n internasionale gehoor bekend en vertalings in Frans, Nederlands, Duits, Italiaans en Hebreeus volg. In 1997 word Wilma Stockenström deur die Nederlandse Taalunie na Nederland en Vlaandere genooi, waar sy deelneem aan baie gewilde openbare optredes saam met Nederlandse en Vlaamse skrywers. In 1988 ontvang sy die Grinzane Cavour Prys vir die Italiaanse uitgawe van Die kremetartekspedisie, en sy word ook in 2007 met die Afrikaans Onbeperk Kanna vir haar Lewensbydrae tot Afrikaans by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees vereer.

Stockenström het ’n onverdiende reputasie as moeilike digter. Haar gedigte is egter uiters toeganklik & bly ’n sonderlinge leeservaring. Ek sou dit wou waag om te sê dat sy só oorspronklik is dat sy heeltemal onnabootsbaar is. Met Monsterverse lewer sy 'n bundel wat sy plek vol kan staan langs Tristia & Komas uit 'n bamboesstok. Daar is in Afrikaans geen digter wat met haar vergelyk kan word nie.

Wilma Stockenström woon sedert 1993 in Kaapstad.

*

Poësie

1970: Vir die bysiende leser
1973: Spieël van water
1976: Van vergetelheid en van glans
1984: Monsterverse
1988: Die heengaanrefrein
1994: Aan die Kaap geskryf
1999: Spesmase
2007: The wisdom of water (Engelse vertalings deur Johann de Lange)

Prosa

1976: Uitdraai
1979: Eers Linkie dan Johanna
1981: Die kremetartekspedisie
1987: Kaapse rekwisiete
1991: Abjater wat so lag

Drama

1978: Laaste middagmaal (geskryf in 1966, gepubliseer in 1978)
1971: Dawid die dik dom kat: ’n kindertoneelstuk ()
1971: Trippens se patatta (deur Dalro versprei)

Toekennings

1977: die Hertzog Prys vir Poësie vir Van vergetelheid en van glans
1984: die CNA, Louis Luyt en die Ou Mutual Pryse vir Monsterverse
1988: die Grinzanc Cavour Prys vir Spedizione al Baobab (Italiaanse weergawe van Die kremetartekspedisie)
1991: die WA Hofmeyr en Hertzog Pryse vir Abjater wat so lag
2007: Afrikaans Onbeperk prys vir Lewensbydrae tot Afrikaans



(C) Johann de Lange, 2010