Onderhoude

Sunday, March 28, 2010

Uit hierdie Valkenburg



Ingrid Jonker, foto in rooi

Pres. Nelson Mandela het tydens sy eerste opening van die Parlement op 24 Mei 1994 ’n gedig van Ingrid Jonker aangehaal, & daarmee opnuut die aandag op dié enigmatiese digter & persoonlikheid gevestig. Sy was “’n Afrikanervrou wat ’n spesifieke ervaring transendeer het & ’n Suid-Afrikaner geword het, ’n Afrikaan & ’n wêreldburger”, het hy gesê. “Sy was beide digter & Suid-Afrikaner. Sy was beide Afrikaner & Afrikaan. Sy was beide kunstenaar & méns. Te midde van wanhoop het sy hoop gevier. Gekonfronteer met die dood, het sy die skoonheid van die lewe bevestig.”

Wie wás Ingrid Jonker, die Afrikaanse digter & Afrikanerdogter wat pres. Nelson Mandela só ontroer het met haar gedig “Die kind”? ’n Gedig wat kultusstatus in Afrikaans & ook in die buiteland geniet.

In die vroeë oggendure van 19 Julie 1965, ’n jaar ná haar terugkeer uit Europa, depressief as gevolg van die einde van verhoudings met Jack Cope & André Brink, sonder geld & met haar roem alreeds aan die verdof, het Ingrid Jonker in Drieankerbaai verdrink. Hoewel die romantiese weergawe dit wil hê dat sy die see ingestap het, het sy waarskynlik eerder onder die invloed van drank & pille op die sand aan die slaap geraak “in wier en gras”, & is later deur die gety weggedra & weer teruggegee. Dit is die deel van haar verhaal waarvan die meeste mense iets weet. Maar daar is veel meer.

Sy is in die lente van 1933, op 19 September in Douglas, ’n dorpie naby Kimberley, gebore. Haar pa, Abraham Jonker, was ’n jong skrywer & ambisieuse politikus, & haar ma, Beatrice Cilliers, ’n lid van ’n gesiene Hugenotefamilie. Die gesin het verbrokkel, & op driejarige ouderdom het Ingrid saam met haar ma & ouer suster, Anna, na Durbanville, buite Kaapstad, verhuis waar hulle by haar oupa & ouma ingewoon het. Ná haar oupa se dood het hulle in armoede geleef, onderhou slegs deur haar ouma se ouderdomspensioen & ’n karige toelaag van haar pa wat intussen weer getroud is.

Op Somerset-Wes, Strand & Gordonsbaai het hulle ’n byna nomadiese bestaan gevoer, geteister deur armoede & ontbering. Ná die dood van hul ma & ouma het dié twee in ’n kinderhuis beland, & later by hulle pa ingewoon. Ingrid se ouma was ’n sterk, vormende invloed in haar lewe. Sy was ’n afstammeling van ’n ou Hugenote familie, hardkoppig & deugdelik, maar met min trek vir hulle stugge godsdiens. Sy het haar meer aangetrokke tot die eenvoudige, openhartige kleurlinggemeenskap gevoel.

Elke Sondag het Ingrid haar ouma deur die sand & struike rondom Valsbaai vergesel wanneer sy gaan preek & Sondagskool hou. Tydens dié informele dienste is Ingrid se herskrywings van die hallelujaliedere voorgelees & gesing. Haar eerste gedigte het reeds op sesjarige ouderdom in skoolblaaie & later Die Jongspan verskyn. As skooldogter aan die Wynbergse Hoër Meisieskool, ’n skool met Engels as voertaal, het die jong Ingrid Jonker steeds gedigte geskryf. Sy het later onder die invloed van die gedigte van N.P. van Wyk Louw & D.J. Opperman gekom, & op sestienjarige ouderdom het sy haar eerste manuskrip, getiteld Na die somer, aan ’n uitgewer voorgelê. Hoewel dit afgekeur is, het die verse die aandag van die keurder, D.J. Opperman, getrek & in die volgende jare word hy ’n soort mentor-figuur wat haar aanmoedig & help.

Ses jaar later, in 1956, het haar debuut, Ontvlugting verskyn, ’n dun bundel van 25 verse wat nie veel aandag getrek het nie, hoewel skrywers soos Jan Rabie & Uys Krige onmiddellik haar potensiaal raakgesien het.


Ingrid & Simone

Sy is in 1957 met die digter Pieter Venter getroud & die paartjie het Johannesburg toe verhuis. Aan die einde van daardie jaar is haar enigste kind gebore, ’n dogter wat sy Simone gedoop het.Die huwelik het na drie jaar verbrokkel & Ingrid het met Simone alleen teruggetrek na Kaapstad.

In daardie tyd het sy verhoudings gehad met beide Jack Cope & André Brink, & een van hierdie verhoudings het in ’n swangerskap & uiteindelik aborsie geëindig. Die stres van die aborsie gekoppel met die konflik met haar pa & vrees dat sy straks dieselfde geestesongesteldheid as haar ma kon ontwikkel, het ongetwyfeld daartoe bygedra dat sy haarself in 1961 by Valkenburg ingeboek het, dieselfde inrigting waar haar ma jare vantevore oorlede is.

Haar tweede bundel, Rook en oker, verskyn in 1963 te midde van reaksies wat gewissel het van vyandigheid tot stilswye. Die poëtiese krag & oorspronklikheid van die gedigte kon egter nie geïgnoreer word nie. Dis ’n intens erotiese bundel waarin, volgens John Kannemeyer, “gesoek word na ’n verlore geliefde, in so ’n mate dat die verhouding tussen die ek en die afwesige jy tot enigste werklikheid verhef en die omringende wêreld en mense tot illusie gereduseer word”.

In 1964 word Rook en oker bekroon met die Afrikaanse Pers-Boekhandel prys, & Ingrid het besluit om die prysgeld van £1000 tesame met ’n toelaag van Anglo American Corporation te gebruik om oorsee te gaan. Sy vertrek op die Union Castle na London met die bedoeling om ’n tyd lank daar te bly. Maar Jack beëindig kort daarna sy verhouding met haar, per brief, & Ingrid se fragiele gemoed het heen & weer tussen uiterstes beweeg. Vandag sou sy straks as bipolêr gediagnoseer & behandel kon word, maar in die Sestigerjare was daar nie vir haar uitkoms nie.

Ook die reis na Parys & Barcelona in die geselskap van André Brink het nie verloop soos sy gehoop het nie, & hy het haar meegedeel dat hy besluit het om nié sy vrou vir haar te verlaat nie. Ingrid het in ’n diep depressie verval & is uiteindelik deur André Brink na ’n Paryse hospitaal geneem.

Ná haar terugkeer het sy aan ’n vriend geskryf dat sy uitgeskryf is & nie beter as Rook en oker kan doen nie. Maar die gedigte wat sy geskryf het in die periode tussen haar terugkeer & haar dood ’n jaar later is ongetwyfeld van haar beste ooit, gedigte wat getuig van ’n buitengewone taalaanvoeling, tegniese vaardigheid, metaforiese vermoë & ’n onmiskenbare eie stempel.


Die Sharpeville-slagting

’n Koerantberig oor ’n baba wat in sy ma se arms deur die kop geskiet is tydens die onluste van 1960, het ’n geweldige indruk op die gemoed van Ingrid Jonker gemaak. Sy sê hieroor in ’n onderhoud: “I saw the mother as every mother in the world. I saw her as myself. I saw Simone as the baby. I could not sleep. I thought of what the child might have been had he been allowed to live. I thought what could be reached, what could be gained by death? The child wanted no part in the circumstances in which our country is grasped. He only wanted to play in the sun at Nyanga”.

Uit die persoonlike van dié insident ontstaan die universele gedig, tegelyk ’n aanklag & ’n kreet, & sekerlik een van Ingrid Jonker se bekendste gedigte: "Die kind", vertaal in meer as nege tale, onder meer Engels, Nederlands, Duits, Pools, Frans, Zoeloe & Hindi. En dit is hieruit dat pres. Mandela meer as dertig jaar later aanhaal:

Die kind wat dood geskiet is deur soldate by Nyanga

Die kind is nie dood nie
die kind lig sy vuiste teen sy moeder
wat Afrika skreeu skreeu die geur van vryheid en heide
in die lokasies van die omsingelde hart

Die kind lig sy vuiste teen sy vader
in die optog van die generasies
wat Afrika skreeu skreeu die geur
van geregtigheid en bloed
in die strate van sy gewapende trots

Die kind is nie dood nie
nòg by Langa nòg by Nyanga
nòg by Orlando nòg by Sharpville
nòg by die polisiestasie in Philippi
waar hy lê met ‘n koeël deur sy kop

Die kind is die skaduwee van die soldate
op wag met gewere sarasene en knuppels
die kind is teenwoordig by alle vergaderings en wetgewings
die kind loer deur die vensters van huise en in die harte van moeders
die kind wat net wou speel in die son by Nyanga is orals
die kind wat ‘n man geword het trek deur die ganse Afrika
die kind wat ‘n reus geword het reis deur die hele wêreld

Sonder ‘n pas

Maart 1960

’n Gedig wat tegelykertyd ’n profesie was, & in vervulling gegaan het; die gestalte van die onskuldige kind groei uit tot dié van ’n reus wat “reis deur die hele wêreld”.

Hier volg vertalings in Engels, Nederlands & Duits:

The child who was shot dead by soldiers at Nyanga

The child is not dead
The child lifts his fists against his mother
Who shouts Afrika ! shouts the breath
Of freedom and the veld
In the locations of the cordoned heart

The child lifts his fists against his father
in the march of the generations
who shouts Afrika ! shout the breath
of righteousness and blood
in the streets of his embattled pride

The child is not dead
not at Langa nor at Nyanga
not at Orlando nor at Sharpeville
nor at the police station at Philippi
where he lies with a bullet through his brain

The child is the dark shadow of the soldiers
on guard with rifles Saracens and batons
the child is present at all assemblies and law-givings
the child peers through the windows of houses and into the hearts of mothers
this child who just wanted to play in the sun at Nyanga is everywhere
the child grown to a man treks through all Africa
the child grown into a giant journeys through the whole world

Without a pass

Translation from the original Afrikaans by Jack Cope

***

Het kind dat doodgeschoten is door soldaten bij Nyanga

Het kind is niet dood
het kind heft zijn vuisten naar zijn moeder
die Afrika schreeuwt de geur schreeuwt
van vrijheid en heide
in de townships van het omsingelde hart

het kind heft zijn vuisten naar zijn vader
in de optocht van de generaties
die Afrika schreeuwen de geur schreeuwen
van gerechtigheid en bloed
in de straten van zijn gewapende trots

Het kind is niet dood
noch bij Langa noch bij Nyanga
noch bij het politiebureau van Philippi
waar het ligt met een kogel door zijn hoofd

Het kind is de schaduw van de soldaten
op wacht met geweren pantserwagens en knuppels
het kind is aanwezigbij alle vergaderingen en wetgevingen
het kind loert door de vensters van huizen en in de harten van moeders
het kind dat alleen maar wilde spelen in de zon bij Nyanga is overal
het kind dat een man is geworden trekt door heel Afrika
het kind dat een reus is geworden trekt door de gehele wereld

Zonder pas

(Uit Ik herhaal je, die biografie deur Henk van Woerden, Podium Uitgewers, 2000. Die vertaling is deur Gerrit Komrij)

***

Das Kind das erschossen wurde von Soldaten in Nyanga

Das Kind ist nicht tot, nein
Das Kind hebt die Fäuste gegen deine Mutter
Die Afrika schreit, schreit der Geruch
Von Freiheit und Heide
In den Ghettos des umzingelten Herzens

Das Kind hebt die Fäusste gegen seinen Vater
In dem Zug der Generationen
Der Afrika schreit, schreit der Geruch
Von Gerechtigkeit und Blut
In den Straßen seines bewaffneten Stolzes

Das Kind ist nicht tot, nein
Weder in Langa noch in Nyanga
Noch in Orlando noch in Sharpeville
Noch auf der Polizeistation in Philippi
Wo es liegt mit einer Kugel durch den Kopf

Das ist der Schatten der Soldaten
Auf Wache mit Gewehren Sarazenenpanzern und Knüppeln
Das Kind ist da in allen Versammlungen und beim Beschluß über Gesetze
Das Kind schaut durch die Fenster der Häuser und in die Herzen der Mütter
Das Kind das jetzt in der Sonne bei Nyanga spielt ist überall
Das Kind das zum Mensch geworden ist zieht durch ganz Afrika
Das Kind das zum Riesen geworden ist reist durch die ganze Welt

Ohne Pass.

In sy opstel skryf Uys Krige: “Die kind is geen politieke, maar ’n menslike protes teen wit geweld sowel as swart geweld.” En dit is dus in ’n sekere sin nie vreemd dat pres. Mandela juis uit hierdie gedig van Ingrid aangehaal het nie: Sy was, in ’n tyd toe dit nog nie mode was nie, volledig ’n inwoner van Afrika. Sosiale onreg van enige aard was vir haar ’n persoonlike affront. In ’n artikel in Drum sê sy: “I have never been conscious of racial feelings. I have seen people simply as people. I think it has been an advantage to my development as a writer and as a human being.”

Daar word vertel dat sy eenmaal tussenbeide getree het om te keer dat ’n gekleurde passasier uit ’n bus gesit word, deur die kondukteur se arm vas te gryp. Gegrief deur haar inmenging het hy hom losgeruk & haar gevloek. Sy het al haar krag saamgebol & hom geklap. In die worsteling wat daarop gevolg het, het sy op die vloer beland & van die ander passasiers het haar opgehelp.

Haar politieke uitlatings was vir haar pa ’n groot verleentheid & het ’n verdere wig ingedryf tussen hulle. N.P. van Wyk Louw skryf na haar dood: “Ek vra my af of ek al ooit iemand ontmoet het wat só van die begin af alles teen haar gehad het, iemand wat so ’n swaar lewetjie moes deurmaak. En dan tog iemand wat só relatief vrolik binne daardie swaar omstandighede kon lewe”.

In ’n huldigingsbundel wat ná haar dood verskyn, Oggendlied, verskyn die volgende huldigingsgedig deur Wilma Stockenström, die enigste soortgelyke gedig deur Stockenström na my wete:

By die selfmoord van jong skrywers
Ter nagedagtenis van Ingrid Jonker en Nat Nakasa

Want wanneer hulle sterf
is daar nie formasievlugte nodig nie
gillende spreeus begelei hulle en die makaber meeue
hoef daar nie 'n kanonwa gesleep te word nie
gedigte dra hulle
sketse vertel klein intieme besonderhede
lank na die laaste berig oor die ontslape politikus

Maar wanneer hulle te jonk sterf
– afgeskeurde tak van 'n stralende perskeboom –
is dit 'n arm wat afgeruk word
drup die bloed op ons ontbyttafel
koes die huise, krimp die godspaleise ineen
waai 'n bitter rook oor die land uit eindelose spelonke.

Bibliography

Ontvlugting, Culemborg, Kaapstad, 1956
Rook en oker, Afrikaanse Pers, Johannesburg, 1963
Kantelson, Afrikaanse Pers, Johannesburg, 1966
'n Seun na my hart; 'n drama in een bedryf, Johannesburg, 1968, Dalro
Versamelde Werke, Perskor, Johannesburg, 1975
Collected Works, vertaal deur Jack Cope & William Plomer, Kaapstad: Human & Rousseau, 2001
Black Butterflies, vertaal deur Antjie Krog & André Brink, Kaapstad: Human & Rousseau, 2007

(C) Johann de Lange, 2010

W. H. Auden: 'n Platoniese raps

W. H. Auden

W.H. Auden het sy pornogedig “The Platonic Blow” so ongeveer in 1948 geskryf. Dit was oorspronklik getiteld “A day for a lay” & is as tikskrif onder sy persoonlike vriendekring gesirkuleer, voordat dit in 1965, tot sy wrewel, deur die tydskrif Fuck, ’n New Yorkse samizdat kunsblaadjie, gepubliseer is.

Alhoewel Auden nooit in die openbaar erken het dat hy die gedig geskryf het nie, was hy nietemin baie omgekrap dat Fuck dit sonder sy toestemming gepubliseer het, & nie eens die ordentlikheid gehad het om hom daarvoor te betaal nie. Toe die tydskrifredakteur aanbied om hom te vergoed, het Auden geweier om enige betaling te aanvaar aangesien hy, so het hy volgehou, nie die gedig geskryf het nie!

“The Platonic Blow” het ’n kort & baie stormagtige openbare bestaan gevoer. Kort nadat dit gepubliseer is, is al die kopieë van Fuck tydens ‘n polisieklopjag gekonfiskeer & vernietig. Die gedig is terstond hertitel as “A gobble poem” & in 1967 deur Fuck Books in London, & in 1969 deur die tydskrif Suck in Amsterdam uitgegee. In 1970 het Guild Press ’n spesiale geïllustreerde uitgawe daarvan gepubliseer. Die outeurskap van die vers word nie langer betwis nie, verál sedert ’n kopie daarvan in Auden se handskrif ná Christopher Isherwood se dood tussen sy dokumente gevind is.

Die gedig is egter nie deur Auden sélf, sy eksekuteurs of enige latere samestellers by sy versamelde gedigte of gedigversamelings ingesluit nie. Wat nogal jammer is, want niks wat Auden geskryf het, was ooit weglaatbaar swak nie, & “The platonic blow” is ’n klassieke gedig wat uit & uit Auden se stempel dra, tegnies bedrewe & m.i. ’n waardige bydrae tot sy oeuvre, & ’n blitskursus in tegniek & vormbeheer vir enige jong digter. Auden slaag daarin om aan die vers ’n gespierde vleeslikheid te gee deur die gryp-&-los van binne- & eindryme, & ‘n pulserende ritme onder meer deur vernuftige enjambemente.

Ek het tydens my besoek aan NY in 1987 ’n paar kopieë van ’n beperkte-oplaag-uitgawe gekoop & leef sedertdien met dié gedig saam. Verlede jaar het ek vir die eerste keer die moed gehad om ’n vertaling daarvan te probeer maak & op dié manier iets daarvan vir myself & vir die Afrikaanse digkuns toe te eien. Wat hier volg, is ’n eerste poging, sonder om by die kruisrym & vernuftige binneryme te hou. Sónder rym kon dit darem ook nie.

Oor nog ’n jaar of drie sien ek straks kans om daardie binneryme by te werk, of nóg ’n rympaar per strofe. Die vertaling het opnuut my waardering vir Auden se vakmanskap bevestig.

Platonies
W. H. Auden

Dit was ’n lentedag, net die dag vir ’n lê, & die lug
ruik die ene kleedkamer; ’n dag om te suig of gesuig te word.
Toe ek hoek-om kom na my middagmaal sien ek hom
naby op ’n rooi stoep staan, vars asof pas uit die stort.

Ek gluip & ek sluip. Die kraakwit t-hemp omlyn
’n kragtige bolyf, die verbleikte denim verraai
net soveel. Ek merk die snoes kurwes waar dit fyn
die agterstewe omhels, die mik waar die lap tergend aai.

Ons oë ontmoet. Ek voel siek. My knieë wil swik.
Roer kan ek nie. Weet nie wat om te sê of vra.
In ’n waas, soos ’n vreemde, hoor ek myself praat:
“Wil jy saamkom?” En hy wat bukserig sê: “Ja.”

Ek haal bier vorendag, ons gesels. Skugter soos ’n jong seun
vertel hy my sy storie. Huidige adres: die huis neffens my,
half Pools, half Iers. Die jongste. Van Illinois.
Ambag: handwerker. Naam: Len. Ouderdom: 24, om & by.

Hy sit sy bierglas neer & strek sy kaal arms oor
die rug van my sofa. Die namiddagson slaan
vonke uit die hare op sy gewrig. Sy ken is sterk,
sy mond smakkig. Ek voel my geluk op losse skroewe staan.

Maar hier sit hy, reg langs my, met sy bene wyd-oop.
Langer kan ek dit nie hou. Ek streel sy binnedy.
Hy antwoord met nader skuifel. Ek bewe, my hart
klop & skop terwyl my vingers sy gulp oop probeer kry.

Die gleuf in die flap gaan oop. My hand glip na binne.
Ek vroetel na ’n spleet in die boxers wat sag vou oor
die peulvrug waarna ek smag. Ek voel warm vlees, dan krullevag.
Ek vors verder. Ek vind wat ek verwag. Ek gryp. Dis dubbelboor.

Hy reageer op my vertroeteling op ’n onbehoorlik bekoorlike manier:
Sonder ’n woord maak hy sy lyfband los terwyl ek vrywe & klou,
leun behaaglik terug, bene uitgestrek. Sy broek val om sy enkels.
Ek wikkel hom behendig los, & aanskou wat ek in my hande hou.

Die besnyde glans was die werk van ’n meester
met ’n volmaak geslypte velling, van ongewone karaat
& die plesierigste rooi. Selfs ontspanne, was die skag
van vorstelike formaat met plooie wat die geheim uitlaat

van uitsonderlike verlengingskrag. Vir ’n sekonde of twee
bly dit roerloos lê, voor dit skielik in my hand roer,
dan huiwer asof onbeslis oor die volgende skuif,
& dan met ’n wilde bokspring uitdy tot dóér.

Geluidloos verleng dit maat vir maat & verbrei, klim
met rats bokspronge, bloos, tot volle grootte uitgegroei,
so byna nege duim lank, sy dikte omvat deur middelvinger & duim,
’n vorstelike suil, onsegbaar plegtig, onder g’n kalkoen uitgebroei.

Ek toets sy torsie & proporsie met ’n druk van my hand,
Ek bondel my vingers & omkring die kloppende knop,
ek streel dit op & af. Ek sak af op my knieë.
Ek laat sak my kop & maak my mond oop vir die job.

Maar hy stoot my sagkens weg, buk af & knoop
sy veters los. Hy trek sy kouse uit. Staan op. Raak
van die boxers ontslae. Spiere in sy arms & heupe
golf as hy sy t-hemp oor sy kop trek, nou heeltemal naak.

Ek bekyk sy brons vel, geprikkel deur die kontras van bruin
lyf teen wit onderbroek styf gespan om smal malse
heupe. Met ’n duimhaak & wikkel skil hy dit af.
Ek pluk my klere af. Hy kyk na my, glimlag. Ek sien als.

Die pragtige orgaan staan reguit óp & styf
effens breër van onder na bo. Elke hartklop word aanloop
vir ’n vreemde klein knik na my kant toe. Uit die gleuf van die tuit
vorm traag ’n druppel deursigtige, klewerige stroop. 

Die krullevag was blond & sag, ’n jongman se boskasie,
’n ruigte van krulle & kartels, weelderig, nie kru of plat.
Behalwe vir die kam van goue haartjies wat uitwaaier
na die netjiese naeltjie, is die res van sy maag haarloos & glad.

Goedbedeeld, swaaiend in die vurk van gespierde bene,
die ferm kalbas van sy saad soos ’n bultende peer,
knaters wat knewelig wieg, twee swaar balle
wat swaai soos hy naderkom, sy parte onbeskaamd paradeer.

Ons lippe kom saam. Ons raak verstrengel. Elke greep word gryp,
elke daad, kontak, die slaags raak & die ineenhaak
van tonge, die sjarme van arms. Ek sidder by die blote gly
teen sy jong vlees. Ek swik van die skok van sy voël teen kloaak.

My bene skrylings oor syne werk ek rapsie vir rapsie sy wiggel-
roede in my op & trek strop daaróm so styf as ek kan.
Die lankuit hitte van sy pens & flanke druk teen myne.
Kaal, aan mekaar gegom, bly ons ’n wyle so staan.

Ek knibbel sy oorlelle, die rugkant van sy nek
& die breë skouers. Ek kry pront die kompakte half-
rondes van sy agterstewe beet. Ons wankel. Hy val op die bed.
Lippe oop, oë toe, lê hy daar, gereed om my in te salf,

ryp vir gryp, om te ruik & te bevoel. My lippe
verken begeerlike man-tepels. My oë in tweevoud
takseer die borskas. Ek liefkoos die atletiese buikspier
& die lenige lede. Ek beproef die groef van die binneboud.

Ek koester, ek snoes in sy oksels, ek snuif
die subtiele snuf van elke klos, lek smagtend die stuif-
sout van die warm holtes. My vingers dwaal
af op inspeksie, ’n tydsame toer van die lyf.

Afwaarts in ál nouer kringe kronkel hulle speels,
oortree op die gebied van sy geslag soos diewe, omsingel die piel,
maar swenk tergend weg, ontwyk die samekoms. Dié verraai
sy polsende nood met ’n taamlik onbetaamlike soebatsriel. 

“Moet ek jou tongnaai?” fluister ek. Hy versit sy waaie & willig in,
draai op sy sy, sprei sy dye, laat my afsak ent vir ent
na die donker plek daaronder. Ek soen elke duim
van die dik koord wat strek van sy balle tot by sy agterent.

Ek sprei sy sitvlak oop, ek snuffel my pad oop
met die harige hellings langs. Bereik die gerimpelde roset.
Dit kriewel onder my tong. Hy druk sy mik teen my ken.
Sy dye kronkel as my tong in sy hol wikkel sonder belet.

Sy wulpsheid hunker na vervulling. Hy laat sak
sy bene, sy asem rasper, geil soos ’n jong reun, loops,
kaal, tot barstens geswel, hitsig & ruig om gesuig te word,
hande wat die beddegoed gryp, al sy porieë vir die vreugde oop.

Ek takseer sy pielstyf. Neem bestek op van sy parte met my staar
van balsak tot tepel. Korrel af langs die onderste rif
van sy voël, loer deur die ruigte van sy skaamhare
op na die terrein van die borskas, wat fier & ruim val & lig.

Ek bewonder die tekstuur, die fyn plooie & die haarfyn
genaaide nate van die ruim balsak. Ek verafgod & swig
voor die swier van roede. Ek lig die verruklike vleis
na my mond, bring die aansig van horing na my gesig.

Ek glip my lippe om die Bisantynse dom van die kop,
met die tip van my tong liefkoos ek die gevoelige keep.
Die trilling laat hom ril. “Dis heerlik!” fluister hy skor.
“Hou aan! Moenie stop!” Stadig laat ek my tong dweep.

Sagkens, & agsaam, gly ek na die massiewe anker
van sy magtige suil, om vir ’n wyle te stop
in die warm vogtige ruigte, & dan op my spoor terug
duim vir duim die gladde weg na die helmknop.

Opwindings van binne swel aan, voorspel van verrukking,
as ek afsak & opkom langs daardie geswolle wande.
Ek omvat sy stam tussen linkervoorvinger & duim
& kielie sy swaar, bultende balle met beide my hande. 

Ek duikel met ritmiese slukke, stadig & sekuur,
& maak elke slag met my tong ’n kurktrekkerdraai.
Sy siel duisel van die sensasie. Hy kerm “O my fok!”
soos ek lek & por, kielie, skommel & aai.

Dan druk ek op die plek waar die kruis hom las met die kloot,
glip ’n vinger glad in sy aars & begin hom van binne masseer.
Die geheime sluise van sy sappe raak stadig ontsluit.
Die ene begeesterde peester roep hy “Bliksem!” weer & weer.


Golwe van baldadige genot stoot op in sy voël, trek saam in sy mik.
Ek lê stil in die wig van sy kruis, die geur van sy sweet maak my hoog.
Sy sfinkter trek stuip om my vinger. Regoor my rug, kwistig & dik,
pomp hy warm sarsies sponk, spuit dit uit boog op wit boog.

(Vertaal deur Johann de Lange)

Wednesday, March 24, 2010

Reise van die rusbank



Adriaen van Ostade, Taverne



“What was the good of moving when a person could travel so wonderfully 
sitting in a chair?”
- Duc des Esseintes

Alain de Botton. 2002. The Art of Travel. Penguin

Duc des Esseintes, die eksentrieke held van Joris Karl Huysmans se roman A rebours (Against nature), & die peetpa van leunstoelreis, bly op sy eentjie in ’n villa net buite Parys. Hy reis nooit uit vrees dat hy teleurgestel mag word.

Maar een oggend, terwyl hy Dickens lees, word hy beetgepak deur ’n sterk begeerte om London te besoek. Hy pak sy tasse & kry koers na die treinterminus in Parys. Terwyl hy vir sy trein wag, luier hy in ’n Engelse boekwinkel in die Rue de Rivoli waar hy deur Baedeker se London blaai, maak ’n draai by ’n kroeg waar Britte graag uithang, eet beesstertsop by ’n taverne in die Engelse styl, & verwonder hom aan hoe absoluut outentiek hierdie ervarings van hom is.

Maar hy kom nooit verder as Parys nie. Toe sy vertrektyd aanbreek, word hy oorweldig deur ’n gevoel van vermoeienis & besluit om nié te gaan nie. “The imagination”, besluit hy, “could provide a more-than-adequate substitute for the vulgar reality of actual experience.”

’n Vroeër besoek aan Holland, geïnspireer deur die skilderye van Teniers, Jan Steen, Rembrandt & Ostade, was net so teleurstellend. Dis nie dat die skilders hom bedrieg het nie (al die juweeltjies wat hulle so getrou geskilder het, was daar), maar eerder dat hulle nogal báie detail uitgelaat het. Des Esseintes het hom in ’n paradoks bevind: hy het hom meer ín Holland gevoel wanneer hy kyk na geselekteerde afbeeldings van Holland in ’n museum as wanneer hy deur die landskap sélf reis.

In The Art of Travel verken Alain de Botton waarom reis dikwels nie voldoen aan verwagtings nie, maar waarom dit noodsaaklik is as die mensdom wil floreer. “If our lives are dominated by a search for happiness,” skryf hy, “then perhaps few activities reveal as much about the dynamics of this quest – in all its ardour and paradoxes – than our travels.”

De Botton soek onder skrywers & kunstenaars vir reisgenote: van die Franse 19de eeuse esteet Joris Karl Huysmans leer hy dat daardie gewaarwording van plek nie noodwendig verbonde is aan geografie nie. Deur Edward Hopper & Charles Baudelaire leer hy sy liefde vir die kortstrondige & anonieme verstaan. Flaubert se Egiptiese dagboeke verduidelik waarom ons aangetrek word deur eksotiese plekke. Die ontdekkingsreisiger Alexander von Humbolt se verkennings van die onbekende leer hom hoe om weer die opwinding van die bekende te waardeer, & die filosoof Edmund Burke definieer vir hom die idee van die sublieme. Rushkin, soos John Berger in Ways of seeing, leer hom waarom dit belangriker is om te sien as om te kyk, & dan is daar mede-outeur Xavier de Maistre wat die weg berei het vir die konsep van kamerreise met sy boek Journey around my bedroom.

“Journeys are the midwifes of thought,” skryf De Botton . “Few places are more conducive to internal conversations than moving planes, ships or trains. There is an almost quaint correlation between what is before our eyes and the thoughts we are able to have in our heads: large thoughts at times requiring large views, and new thoughts, new places."

Mag wees, maar mens kan verreikende & verrykende reise beleef sonder om ooit jou rusbank te verlaat. Soos Pascal dit gestel het: "the sole cause of man's unhappiness is that he does not know how to stay quietly in his room". En Baudelaire beaam: “Life is a hospital where every patient is obsessed with changing beds."

En alhoewel reis beslis die maklikste manier is om te ontvlug (“Anywhere! Anywhere!” het Baudelaire geskryf, “So long as it is out of the world!”), & die moontlikheid van ’n beter wêreld bied, is daar geen ontvlugting van die eie lyf & gedagtes nie. “My body and mind”, skryf De Botton, “were to prove temperamental partners in the goal of appreciating my destination.”

“People are not always of the country in which they are born,” het Gautier op ’n keer gesê “and, when you are prey to such a condition, you seek everywhere for your own country.” Dit is ’n sentiment wat Flaubert onderskryf wanneer hy ’n nuwe manier voorstel om nasionaliteit te bepaal: nie deur jou land van oorsprong , of waar ookal jy uiteindelik bly nie, maar op grond van watter plekke jy aangetrokke tot voel.

De Botton laat homself op pittige wyse hieroor uit wanneer hy heel filosofies skryf: “We may best be able to inhabit a place when we are not faced with the additional challenge of having to be there.”


(C) Johann de Lange, 2010

Monday, March 22, 2010

Die poësie van reis





Truth is, I've never been to America.
Like everyone else, it's entered my bloodstream in films, in dreams, and in wars...
- Amjad Nassar

My eerste & enigste besoek aan New York was in Junie 1987. Ek het ’n tyd lank al gespaar vir die reis toe ’n vriend wat in New York bly aangebied het om vir my kaartjie te betaal & te reël vir goedkoop verblyf. Dié aanbod ten spyt het maande verbygegaan voordat ek genoeg moed bymekaar geskraap het om die nes te verlaat. Ek was 28.

New York het vir my ’n betowering ingehou vandat ek kan onthou. Ek het op laerskool reeds van die stad begin bewus raak. Net die noem van sy naam het my hart in my borskas laat bons. Mettertyd is my verwagtings & fantasieë aangevul deur foto’s in tydskrifte & boeke. Ek kon nooit genoeg kry van lugfoto’s nie. Ek kon vir ure staar na die strate uitgelê met die wiskundige presisie van ’n ruitekaart, of nalees oor die beroemde geboue wat opstu in die vliegtuigbestippelde lug. Die vertikale stad. Ek het ’n onverklaarbare verbintenis met die stad gevoel, & daarmee saam die wete dat ek dit eendag sou besoek, & die naelstring wat ons verbind sou verstaan.

The construction rises and with it the crane, as if
the building were being lifted up off the ground
by its pigtail. It is hard to take it seriously.

The buildings are glowing with electricity; their evenly
cut-out windows are like a stencil. Under awnings
the papers lie in heaps, delivered by trucks.
It is impossible to tear oneself away from this spectacle.

[Annie Dillard: "Mayakovsky In New York: A Found Poem"]

Ek het in ’n goedkoop hotel gebly, ’n digterlike krot aan die hoër Westekant. Die voorportaal was groots op ’n opgesmukte manier, met ’n marmervloer, ’n sirkel goudbeskilderde suile & ’n hoë plafon. Maar die oomblik as die deure van die lankmoedige hysbak agter jou toe ratel & die reuk van ou urine in jou neusgate opstuif, besef jy dat jy die beskawing agtergelaat het.

Die kamer was Spartaans: yl gemeubileer met ’n uitgesakte bed, verinneweerde stoel en ’n roesbevlekte wasbak teen die muur. Die mat was gedaan & gevlek, plek-plek losgetrek van die vloer & die vloerlys. Die mure was nie in ’n beter toestand nie met verf wat afskilfer en watervlekke. Daar was een klein badkamer in die gang, met ’n stort (meestal kouewater), toilet & wasbak wat ek met die res van die ander inwoners op die vloer gedeel het, een van hulle ’n wilde, intimiderende Indiaan met swart vloeiende hare. Ek was absoluut gek oor elke klein detail. Hier was ’n kamer waarin daar gelééf is, ’n plek van swaarkry, ’n plek waar ek kan skryf, a room with a view.

Maar meer as amper enigiets anders het die moltreine my bekoor. Hoe hulle voortspoed deur die ondergrondse tonnels, met die reuk van osoon waar elektriese vonke spring. Ek was gek oor die moltreinkarre tot oorlopens toe volgepak vieruur in die middag, die intieme stamp & skuur teen vreemdelinge, die heimlike oogkontak, die geklingel van die moltreinmunte in my sak, of om net buite te wees, op die besige sypaadjies met die moltreine verbydonderend onder my voete onderweg op die maat van onkenbare tydroosters.

Nes die stad kon ek beswaarlik slaap. Ek was onuitputbaar in my najaag van onmiddellike gratifikasie. In 42ste straat, 'n blok of wat van Times Square was die porno-nagklub waar die eienaar my werk as een van sy dansers aangebied het. In Greenwich Village die talle laatnagkroeë & bookshops (nie te verwar met die meer tradisionele book stores nie).

You stay. Yet she is occupied, apart.
Out of a mist the river turns to see
Whether you follow still. You stay. At evening
Your blood gains pace even as her blood does.

[Thom Gunn: "In praise of cities"]

Poësie is die reisliteratuur van die verbeelding. Soos ’n foto kan ’n gedig die oomblik vaslê. Dit is ’n poskaart aan jouself. Ek het opsetlik nie ’n kamera saamgevat nie want ek wou soveel as moontlik onthou. In stede daarvan het ek ’n klein notaboekie in my hempsak saamgedra om gedagtes of ingewings in te noteer. Beelde of frases wat by my opkom. En ek het gedigte geskryf; dit was die regte stad om dit in te doen. New York is per slot van rekening die middelpunt van Amerikaanse digkuns, & huisves op enige gegewe oomblik die grootste konsentrasie digters in die land.

Walt Whitman

Ek het New York verken lank voordat ek dit besoek het, deur die gedigte van digters soos Hart Crane, Allen Ginsberg, Walt Whitman, Thom Gunn & Lorca. Lorca se “Ode to Walt Whitman” bly vir my een van die mooiste & indrukwekkendste gedigte van die 20ste eeu:

By the East River and the Bronx
boys were singing, exposing their waists
with the wheel, with oil, leather, and the hammer.
Ninety thousand miners taking silver from the rocks
and children drawing stairs and perspectives.

But none of them could sleep,
none of them wanted to be the river,
none of them loved the huge leaves
or the shoreline's blue tongue.

By the East River and the Queensboro
boys were battling with industry
and the Jews sold to the river faun
the rose of circumcision,
and over bridges and rooftops, the mouth of the sky emptied
herds of bison driven by the wind.

But none of them paused,
none of them wanted to be a cloud,
none of them looked for ferns
or the yellow wheel of a tambourine.

Ek ontdek nog steeds die stad deur gedigte & foto’s. Heel onlangs kom ek af op ’n gedig van die Jordaniese digter Amjad Nasser, geskryf ná die gebeure van 11 September:

Amjad Nasser

But before what happened had happened –
I mean, before those towers were turned into twin lifts to the apocalypse,
sundering the world into two worlds: one world of sand, one world of water –

I wanted to be
one of those poets
who blasted New York.

Truth is, I'd already written this poem in my head.
Part of that distinguished tradition, after Lorca –
driven by Whitman rather than Gibran –

Lorca who taught us to fire poems like darts
deep in the great apple's flesh –
that cobra of money and sex, that vast Babeltower of newness and nowness –

["An Attempt at a Poem for New York"]


Nuyorican Poets Cafe

Miguel Piñero het grootgeword in die strate van New York, & is tronk toe na ’n inbraak. Terwyl hy in die tronk was, het hy Short eyes geskryf, ’n toneelstuk wat ná sy vrylating verfilm is & talle toekennings ontvang het. Hy het ook vir ’n tyd lank gedigte & draaiboeke geskryf terwyl hy ’n droombestaan gevoer het. Piñero het egter weer dwelms begin gebruik & uiteindelik haweloos gesterf.

well I thought of the pope
welfare hopes
then I thought of the pope again
whose sexual collar musta been tighter
than a pimp's hat band
yeah
that brought a warm beer smile to this
wasteland the mirror called my face
ya see
I left my faith in a mausoleum
when my inspiration ran off with
a trumpet player
who wore double knit suits and stacy adam shoes
this girl left me so broke
my horoscope said
my sign was a dead dog in the middle
of the road
yeah
the morning will be giving up to the noon
and soon I'll hear winos and junkyard dogs
howling at the moon
made the shadows
dance
at jake's juke saloon
as a battalion of violet virgins
sang tunes
of deflowered songs
men poured their
fantasies of lust into young boy's
ears
car stolen
whizzed by
crying hard luck tears in beers
the love conflict of air conditioned
dim lit motel rooms
rumpled sheets with blood stains
explain
my yesterday night of mind

["New York City Hard Time Blues"]

Miguel Piñero is op 16 Junie 1988 aan sirrose van die lewer dood, & sy asse uitgestrooi in Lower East Side Manhattan soos hy versoek het.

Just once before I die
I want to climb up on a
tenement sky
to dream my lungs out till
I cry
then scatter my ashes thru
the Lower East Side.

So let me sing my song tonight
let me feel out of sight
and let all eyes be dry
when they scatter my ashes thru
the Lower East Side.

[A Lower Eastside Poem]

In 2001 het Piñero geopen in rolprentteaters in Amerika. Die film is geskryf & geregisseer deur die Kubaanse filmmaker Leon Ichaso, met Benjamin Bratt in die hoofrol nadat akteurs soos John Leguizamo, Benicio Del Toro, Marc Anthony & Johnny Depp dit van die hand gewys het vanweë die uitbeelding van seks tussen volwassenes & kinders.

Maar Piñero was geen slagoffer nie. Hy het as 13-jarige reeds ouer mans in pornoteaters ge-hustle vir geld & as volwassene ’n aantrekking tot dié soort straatkinders behou. As deel van sy navorsing het Ichaso gesels met Miguel Algarin, die enigste oorlewende lid van die oorspronklike Nuyorican Poets Cafe. Die ander is almal vermoor, dood in die tronk of aan Vigs.

New York is ’n baie veeleisende minnaar, wat niks halwerweë aanvaar nie, maar jou volle aandag eis. Soos ’n vergrootglas oordryf dit alles wat jy voel.

She presses you with her hard ornaments,
Arcades, late movie shows, the piled lit windows
Of surplus stores. Here she is loveliest;
Extreme, material, and the work of man.

[Thom Gunn: "In praise of cities"]

As poësie gedefinieer kan word as die ver-vreemd-ing van wat bekend is, kan dieselfde gesê word van reis. ’n Groot deel van die opwinding van reis is om ’n vreemdeling te wees in ’n vreemde plek, & alles opnuut te ontdek.

Oliver Wendell Holmes, die ondergrondse apteker van San Francisco van die Sestiger-hippie-jare het op ’n keer opgemerk: “A mind that is stretched by a new experience can never go back to its old dimensions.” Amen.


(C) Johann de Lange, 2010

Friday, March 19, 2010

Huldeblyk: Wilma Stockenström 75

Wilma Stockenström (Fotograaf: Philip de Vos)

Wilma Stockenström verryk al die afgelope 38 jaar die Afrikaanse letterkunde met haar satiriese, wederstrewige, deernisvolle stem. Sy is saam met Elisabeth Eybers, Sheila Cussons en Ina Rousseau een van die belangrikste vroueskrywers in Afrikaans.

Sy is op 7 Augustus 1933 op Napier in die Overberg gebore waar sy ook in 1949 haar skoolopleiding voltooi. Sy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch waar sy in 1952 ’n BA-graad in Drama verwerf. Daarna werk sy vir 'n jaar as radio-omroepster in Kaapstad. Sy verhuis in 1954 na Pretoria en trou in dieselfde jaar met Ants Kirsipuu, ’n gebore Estlander en taalfilosoof. Sy werk hier aanvanklik as vertaler maar later ook as aktrise.

Haar vroegste skryfwerk was op die terrein van die drama: twee eenbedrywe, Katlagters en Op deurrys wat in die tydskrifte Wurm en Contrast gepubliseer is, daarna Dawid die dik dom kat en Trippens se patatta wat deur Dalro uitgegee is. Dit is egter eers met Laaste middagmaal (1978) dat sy aandag trek as dramaturg.

Drama is haar eerste liefde en sy vertolk rolle in onder meer Hugo Claus se Bruid in die môre, in Ionesco se The chairs, en Tsjechof se Drie susters onder regie van Robert Mohr. Later het sy ook bekendheid verwerf vir haar optredes in rolprente en televisieproduksies soos Manakwalanners, Hoggenheim Edms Bpk, Die Besoeker (1977) - Athol Fugard se drama oor die lewe van Eugène Marais - waarvoor sy die Rapport-Oscar verower het, Die Perdesmous (1982), Verspeelde lente (1983), Die Storie van Klara Viljee (1992), Friends (1993), en Promised Land (2002), gebaseer op die roman van Karel Schoeman.

Haar digterlike debuut met Vir die bysiende leser (1970) op 37-jarige ouderdom sou ongesiens verbygegaan het, was dit nie dat die bundel Opperman se kennersoog gevang het nie. Hy het H&R oorreed om die regte en voorraad van Vir die bysiende leser by Rijger uitgewers oor te neem en haar as belangrike digter te kultiveer.

Wilma erken ruiterlik dat haar “gedigte... eintlik as ’n grap begin” het. Haar eerste gedigte is in die sestigerjare in die tydskrif Wurm gepubliseer, saam met dié van tydgenote soos Wilhelm Knobel, Phil du Plessis & Casper Schmidt. Omdat sy in daardie stadium net 12 gedigte gehad het wat gereed was vir publikasie, het Wilhelm Grütter voorgestel dat hulle dit op mooi papier & in groot letters druk. Wilma het toe voorgestel dat hulle die bundel Vir die bysiende leser moet noem. Later is natuurlik veel van die betekenis van die titel gemaak, tot Wilma se verkneutering.

Reeds in haar debuut is die volledige Stockenström ten voete uit aanwesig. Die verse is onopgesmuk en ontdaan van enige affektasie. Poëtiese elemente soos rym, konvensionele musikaliteit en tradisionele vorme maak plek vir nugter taalgebruik, ’n sterk ironiese aanslag en ’n aweregse benadering tot sinsbou. Hierin, sowel as in haar liefde vir neologismes toon sy ’n verwantskap met Peter Blum. Dit is verse wat voortkom uit die “‘klipperige bed van geboorte en dood” wat Afrika is, van meet af aan aktueel sonder om plakkaterig te raak, verweef met die politiek, voorgeskiedenis, mites en folklore van Afrika.




As digter het Stockenström ’n gesonde wantroue van woorde. Poësie is vir haar die 'ontbeerlikste der kommoditeite’. Enersyds wantrou sy taal, kan dit alleen die leegte en menslike futiliteit verwoord, andersyds is dit die medium waarin die digter soos die primitiewe kunstenaar in “Die eland” met die “hand wat laat leef” lewe skep en ontruk aan vergetelheid. Die mens self is ’n wese van “vergetelheid en van glans”, alte bewus van sy onvolmaaktheid en sterflikheid (“en niks so onunieks soos die geboorte van 'n mens”). Maar terselfdertyd bewus van die wonder van bestaan:

Dit is genoeg om te gelewe het, een maal,
een maal in eenmaligheid van chromosome
... te kan dink: ek was eenmaal

Eenmaal was ek ’n mens

(Uit: Van vergetelheid en van glans, “Aankoms en vertrek”)

In teenstelling met die dikwels ekkerige poësie van vorige generasies skryf Stockenström eerder oor die menslike kondisie & verál in Monsterverse skryf sy gedigte met ’n kosmiese strekking waaruit ’n basiese panteïstiese ingesteldheid blyk. Sentraal staan die mens: eensaam, uitgelewer aan ’n onverskillige heelal, komieklik in sy vernaamdoenery:

Daar staan hy nou, met sy weekdele bloot,
die mens, die sot, die groot toneelspeler.

(Uit: Monsterverse, “Ecce homo”)

Hy is skepper van vergetelheid, tot stand bringer van beskawings wat opglans en verdwyn in die groter gang van die heelal. Hy is nietig, en tóg gaan hy gierig om met die aarde, onmenslik met die medemens, vol eiewaan en hubris. Net nog een van die monsters wat haar poësie bevolk, maar miskien die onwennigste van almal:

dié behaarde buis van glorie en smet,
'n sotterny van mismoedigheid.

(Uit: Monsterverse, 12)

Stockenström lewer eweneens as prosaskrywer werk van hoogstaande gehalte. Saam met Henriette Grové word sy die tweede vroueskrywer om die Hertzogprys in twee verskillende genres te verower: vir poësie in 1977 en vir prosa in 1991.

Die vertaling van Die kremetartekspedisie in Engels deur J.M. Coetzee in 1983 stel Stockenström aan 'n internasionale gehoor bekend en vertalings in Frans, Nederlands, Duits, Italiaans en Hebreeus volg. In 1997 word Wilma Stockenström deur die Nederlandse Taalunie na Nederland en Vlaandere genooi, waar sy deelneem aan baie gewilde openbare optredes saam met Nederlandse en Vlaamse skrywers. In 1988 ontvang sy die Grinzane Cavour Prys vir die Italiaanse uitgawe van Die kremetartekspedisie, en sy word ook in 2007 met die Afrikaans Onbeperk Kanna vir haar Lewensbydrae tot Afrikaans by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees vereer.

Stockenström het ’n onverdiende reputasie as moeilike digter. Haar gedigte is egter uiters toeganklik & bly ’n sonderlinge leeservaring. Ek sou dit wou waag om te sê dat sy só oorspronklik is dat sy heeltemal onnabootsbaar is. Met Monsterverse lewer sy 'n bundel wat sy plek vol kan staan langs Tristia & Komas uit 'n bamboesstok. Daar is in Afrikaans geen digter wat met haar vergelyk kan word nie.

Wilma Stockenström woon sedert 1993 in Kaapstad.

*

Poësie

1970: Vir die bysiende leser
1973: Spieël van water
1976: Van vergetelheid en van glans
1984: Monsterverse
1988: Die heengaanrefrein
1994: Aan die Kaap geskryf
1999: Spesmase
2007: The wisdom of water (Engelse vertalings deur Johann de Lange)

Prosa

1976: Uitdraai
1979: Eers Linkie dan Johanna
1981: Die kremetartekspedisie
1987: Kaapse rekwisiete
1991: Abjater wat so lag

Drama

1978: Laaste middagmaal (geskryf in 1966, gepubliseer in 1978)
1971: Dawid die dik dom kat: ’n kindertoneelstuk ()
1971: Trippens se patatta (deur Dalro versprei)

Toekennings

1977: die Hertzog Prys vir Poësie vir Van vergetelheid en van glans
1984: die CNA, Louis Luyt en die Ou Mutual Pryse vir Monsterverse
1988: die Grinzanc Cavour Prys vir Spedizione al Baobab (Italiaanse weergawe van Die kremetartekspedisie)
1991: die WA Hofmeyr en Hertzog Pryse vir Abjater wat so lag
2007: Afrikaans Onbeperk prys vir Lewensbydrae tot Afrikaans



(C) Johann de Lange, 2010