Onderhoude

Onderhoude

Onderhoud met Wyn Roux vir die Lente 2008 uitgawe van p~yp!



Johann de Lange is op 22 Desember 1959 in Pretoria gebore. Hy woon verskeie laerskole by & matrikuleer in 1977 aan die Hoërskool Hans Strijdom op Naboomspruit.

Hy is saam met Johann Lodewyk Marais & René Marais stigterslid van die literêre tydskrif Ensovoort, & bied vir 'n aantal jare 'n kursus in kreatiewe skryfwerk aan by UNISA se Instituut vir Voortgesette Opleiding. Hy bied ook by geleentheid 'n poësiewerkswinkel by PU vir CHO aan. Sedert sy verhuising na Kaapstad het hy vir twee jaar 'n poësiewerkswinkel by die Universiteit van Kaapstad aangebied.

Hy debuteer in 1982 met die digbundel Akwarelle van die dors waarvoor hy in 1983 die Ingrid Jonkerprys vir debuutpoësie ontvang. Daarna volg Waterwoestyn (1984), Snel grys fantoom (1986), Wordende naak (1988) waarvoor hy die Rapportprys vir Poësie ontvang, Nagsweet (1990), Vleiswond (1993) & Wat sag is vergaan (1995). In 1996 maak hy sy prosadebuut met Vreemder as fiksie. Sy jongste kortverhaalbundel is Tweede natuur (2000).

In 1997 stel hy 'n bloemlesing gay kortverhale saam getiteld Soort soek soort, & in 1998 'n bloemlesing erotiese poësie saam met Antjie Krog, getiteld Die dye trek die dye aan.

Benewens die Ingrid Jonker- & Rapportprys vir Poësie wat vir individuele bundels toegeken is, ontvang Johann de Lange ook die Pankratorprys vir sy gedig "Skerpskutter" in 'n internasionale poësiekompetisie deur UNESCO uitgeskryf, & 'n Avanti-toekenning vir sy draaiboek oor die lewe van Ingrid Jonker (“Verdrinkte hande”).

In sy vrye tyd vertaal hy gedigte van onder meer Wilma Stockenström, Sheila Cussons, Antjie Krog, Lucas Malan & Ernst van Heerden. Heelparty van sy vertalings is sedertdien in lokale & oorsese publikasies opgeneem. ‘n Keur uit sy vertaling van Wilma Stockenström se gedigte, getiteld The wisdom of water, verskyn in 2007 by H&R.

Sy Engelse vertalings van Afrikaanse verse is opgeneem in The Penguin book of Southern African Verse (1989), Breaking the silence – a century of South African women’s poetry (1990), Soho Square: a collection of new writing from Africa (1992), The heart in exile: South African poetry in English 1990-1995 (1996), & The lava of this land: South African Poetry 1960-1996 (1997).

Ek bly op die oomblik in Vierlanden, Kaapstad. Nog steeds aan die skryf. Hoewel ek 13 jaar laas ’n digbundel gepubliseer het, het ek gedurende daardie tyd aanhou skryf, voortdurend nuwe huide uitprobeer. Daar was ervarings wat ek opgedoen het tydens my ekskursie deur die dwelmkultuur, ervarings wat ek nie verlore wou laat gaan nie. Die eerste poging om sin daaruit te maak, was die kortverhaalbundel Tweede natuur. Maar om dieselfde soort ervarings, verál van verskillende realiteite, in digvorm vas te lê, was onverwags moeilik. ’n Paar honderd gedigte later is ek nog steeds nie waar ek wil wees nie, maar ek het intussen ’n ander koers ingeslaan, weer terug gekeer na die dinge wat my in my eerste bundel interesseer het: ons plek in die natuur, in die kosmos.

Vraag 1
In gesprek met Hennie Aucamp in 2006 vertel jy dat jy eers betreklik laat in jou lewe die kortverhaal in alle erns begin beoefen het. Op watter ouderdom het jy begin dig, & wat gee aanleiding tot die skryf van gedigte?

Die vroegste herinneringe wat ek het van gedigte skryf is in die laerskool, standerd 1 of 2, ek kan nie vir seker sê nie. My poëtiese model op daardie stadium, vreemd genoeg, was A. G. Visser. Ek het leer skryf op instinktiewe manier deur my gunsteling digters & verse na te boots. Op dié manier tel jy waardevolle ondervinding op wat formele elemente soos rym, metrum, progressie aanbetref.

Daar is baie dinge wat as prikkels kan dien vir die skryf van ’n gedig: ’n nuwe ervaring, iets wat mens sien of hoor, die lees van ’n gedig kan nóg ’n gedig in jou afvuur. Die lees van nie-fiksie is dikwels baie stimulerend, & ek is baie lief vir optelgedigte – die Engelse ‘found poetry’ sê dit vir my beter. ’n Paragraaf of twee prosa wat die kern van ’n gedig bevat & wat jy dan omwerk tot gedig. Hierin was Van Wyk Louw my model.

My belangstelling in prosa het min of meer dieselfde verloop gehad. Op hoërskool was ek gek oor die stories van P.H. Nortje & het hope stories geskryf waarin ek sy karakters, veral die twee seuns, deur ander avonture geloods het. En nee, daar was niks eroties omtrent dié stories nie. Later van tyd het ek wel straight porno-stories (met ’n gay karakter wat gewoonlik iewers wreedaardig verkrag word – as toegif aan die mores van die tyd) geskryf wat in die koshuis gesirkuleer het. Die tekste sélf het ek nooit terug gekry nie.

’n Ander skrywer wat ek geweldig bewonder het, was C.M. van den Heever. Ek onthou dat ek ’n high camp weergawe van Somer begin skryf het deur sommer in die boek self uit te krap & sinne te verander. Ek het dit ongelukkig nooit voltooi nie. Daar was altyd iets anders wat ek wou probeer.

Na skool het ek kennis gemaak met die volgende teks wat my lewe ingrypend verander het: Die eerste lewe van Colet. Onder die invloed daarvan & van D.H. Lawrence se romans het ek ’n novelle geskryf vol simboliek in die plante & die natuur rondom die karakters, & genoeg sielkundige verknoeidheid om ’n paar psigiaters besig te hou. ’n Ander invloed op die teks was Die son struikel van Dolf van Niekerk. Dit het ’n absoluut onweerstaanbare styl gehad wat ek onmiddellik ‘aanprobeer’ het. Ek het nog steeds die manuskrip van hierdie novelle iewers in ’n laai.

Vraag 2
In die gesprek met Aucamp wys jy ook dat jy die digkuns as ’n verhewe medium beskou. Wil jy vir ons redes gee waarom jy hierdie standpunt huldig?

Ek dink dis poësie wat die grense van taal versit. Dis ’n baie ‘unforgiving’ medium. Jy skryf so op die woord af, & teen die tyd in. Waar die gedig probeer om die oomblik te stol, rek prosa dit weer uit – die mees ekstreme voorbeeld hiervan moet Proust se Remembrance of things past wees. Poësie is die medium waarin die “nooit gehoorde” dinge gesê word. Dit is die beiteltjie waarvan die ligte tik ’n bars laat begin wat tot anderkant die sterre loop.

Vraag 3
Jy word saam met Joan Hambidge gereken as die “oopskrywer van die homoseksuele vers” (Beukes, 2008: 248) in die Afrikaanse poësie. Lig asseblief vir ons die verband uit tussen erotiek, die skrywe aan die geliefde & die digkuns.

Geen skrywer skep in ’n vakuum nie. My verse sou nie moontlik gewees het sonder die aanvoorwerk van ander voor my nie. Almal het nie weliswaar die luukse gehad om onbeskroomd & onbeskaamd te bely nie; die grense is bietjie vir bietjie verskuif. Ek dink hier bv. aan I.D. du Plessis & Hennie Aucamp in sy fiksie & kabarettekste, maar verál aan die baanbrekerswerk van Stephan Bouwer met Portrette private dele & kanttekeninge – daarsónder sou ek nooit die koers ingeslaan het wat ek hét nie.

Wanneer ’n gay kunstenaar deur die maatskappy volledig in terme van sy seksuele oriëntasie gedefinieer word, is dit nie vreemd as hy die erotiese kies as metafoor nie, as wapen van verset, as ondermyning van die groter narratief wat van hom net ’n voetnoot wil maak. By my was dit nooit ’n bewustelike keuse nie. Toe ek uiteindelik genoeg moed bymekaar kon skraap om gay verse te skryf, het hulle in daardie gedaante na my toe gekom. Dit was die beeld wat ek van die wêreld gehad het, die wêreld waar jou seksualiteit nie vanselfsprekend & transparant is nie, maar iets wat jy brutaal téén die stroom in moet blý definieer & verwerf.

My verse was nie gewild toe ek hulle begin skryf het nie, & is nog steeds nie gewild in sekere kringe nie, maar dit skeel my g’n lor. Ek skryf in die heel eerste instansie vir myself, om dinge vir myself uit te werk. Ek het deur die jare briewe gekry van volwasse lesers wat my vertel het hoe die lees van my gedigte vir hulle as jongmense in dikwels repressiewe gemeenskappe baie gehelp het. Dit is onverwagse vreugde waarop ek nooit gereken het nie. Ek skryf op die impuls af. Ek is ’n kompulsiewe mens & my kreatiwiteit word daardeur gelei.

Vraag 4
In jou gedigte tree jy telkens in gesprek met jou voorgangers. Om ’n paar voorbeelde te noem: in Akwarelle van die dors (1982) tree jy in gesprek met C. Louis Leipoldt. In Waterwoestyn (1984) tree jy in gesprek met Ingrid Jonker. In Snel grys fantoom (1986) tree jy in gesprek met N.P. van Wyk Louw. In Vleiswond (1993) tree jy in gesprek met Etienne Leroux, & in Wat sag is vergaan (1995) met Koos Prinsloo. Watter raakpunte vind jy onderskeidelik met elkeen van die skrywers met wie jy hierdie letterkundige gesprekke aanknoop?

Van die gestaltes wat jy noem – Leipoldt, Ingrid Jonker, Etienne Leroux, Koos Prinsloo – is nie skrywers met wie se wérk ek in gesprek tree nie. Ek skryf graag ‘gestalteverse’ oor figure met wie ek ’n affiniteit voel. Ek het altyd ’n slotafdeling in my bundels met huldigingsverse, & dié verse handel oor figure wat my interesseer, soos bv. Marilyn Monroe of Robert Mapplethorpe, mense wie se lewens dikwels tragies was. Dink maar bv. aan Eugene Marais.

Dan is daar skrywers by wie ek in die leer gegaan het: Ina Rousseau, Eybers, Opperman, Jonker, etc. Dit het gewoonlik beteken dat ek vir ’n tyd lank daardie skrywer se invloed ‘ondergaan’ het, opgeneem het wat bruikbaar was, & dan aanbeweeg het. Op dié manier ontwikkel ’n skrywer oor ’n tydperk uiteindelik ’n eie styl. In die skilderkuns word jong skilder aangemoedig om die meesters se werk te kopieer, & ek dink steeds dat nabootsing die beste manier is van leer. Maar moenie verse publiseer voordat jy die skrywer wat jy kopieer nie eers úit jou sisteem gekry het nie.

In gesprek tree met ’n skrywer se wérk veronderstel ’n meer wesentlike, diepgaande verbintenis, verbý affiniteit of blote verwysing. Daar is in my werk twee sulke figure waarmee ek bewustelik in gesprek tree, & dit is N.P. van Wyk Louw & Sheila Cussons. Cussons se werk het eerste vir my oopgegaan, & deur haar werk het ek by Van Wyk Louw uitgekom – vreemd, ek weet.

Ek het die voorreg gehad om in Sheila ’n soort mentor te gehad het vir ’n kort periode. Sy was ’n gulhartige leser & het geweet hoe om jou in die regte rigting in te stuur. Haar gevoeligheid vir klank & beeld, haar komplekse sintaksis, was vir my baie aantreklik. Plektrum is seker een van die mees regskape, sublieme debuutbundels in Afrikaans. Die ekonomie van segging gekoppel met ’n sterk sintuiglikheid & skerp intellek sorg vir foutlose gedigte, ‘n vars benadering tot die metafisika & eerste aanduidings van haar latere mistiek.

Ander bundels wat ’n bepalende rol in my ontwikkeling gespeel het, was Digby vergenoeg van Lina Spies (sy het van die mooiste liefdesgedigte geskryf in Afrikaans), Taxa deur Ina Rousseau (gedigte wat hulle binnegoed wys soos verwikkelde uurwerke), Johan van Wyk se Heldedade kom nie dikwels voor nie (’n ongelooflike boek, in sy soort nooit weer geëwenaar nie), J.C. Steyn se Grammatika van liefhê, Peter Blum se Steenbok tot poolsee.

Daar is nogal ’n amusante storie agter my vriendskap met Johan van Wyk: Human & Rousseau het een jaar per ongeluk Johan se ms. Die kolonel in die roosboom (later gepubliseer as Bome gaan dood om jou) vir my gepos in plaas van vir Johan. Ek was tóé reeds ’n fan van Johan se gedigte & het aangebied om die ms. vir hom te vat. Ons het onmiddellik gekliek & groot vriende geword.

Van Wyk Louw is vir my ongetwyfeld die grootste digter wat Afrikaans nóg opgelewer het, & Tristia een van die grootste bundels in Afrikaans. Ek herlees dit ten minste twee keer ’n jaar. Dit is die enkele boek waarmee ek op ’n eiland gestrand sal wil wees (met Colin Farrell vir afleiding). Ek vind dat ek voortdurend na hom terugkeer, dat hy met my praat wanneer ek skryf. Ek weet nie of hy die ‘vader-digter’ is waarvan Harold Bloom praat nie, want hy is nie gerepresseerd nie. Bedoel Bloom nie dat die vader-digter die een is wat áfwesig is in die verse nie?

Dit word sekerlik ’n probleem vir sommige lesers, maar vir my is die gesprek met Louw ’n durende ontdekkingstog. Ek probeer dit nie afweer nie, maar ek probeer ’n balans handhaaf sodat daar genoeg gedigte is wat nie direk met Louw of sy verse praat nie. I could do much, much worse.

Vraag 5
Die verhouding tussen mentor & student word indringend beskryf & ondersoek in die kortverhaalbundel Vreemder as fiksie (1996). Daar word veral klem geplaas op die mentor/student-verhouding tussen Ernst van Heerden, asook die verhouding tussen Hennie Aucamp & Koos Prinsloo. Jou kortverhale is geskryf in die skryftradisie van Koos Prinsloo. Beskou jy hom as ’n leermeester? Kan jy ons vertel van jou eie leermeesters in beide poësie & prosa?

Skrywers is, heel verstaanbaar, huiwerig om mentor te speel. Die verhouding tussen mentor & student is baie kompleks. Daar kom onvermydelik ’n tyd dat die student hom van die mentor moet distansieer ten einde sy eie stem & identiteit te vestig. Die manier waarop Hennie Aucamp & Koos Prinsloo hulle losgemaak het van hulle onderskeie mentor, sê baie omtrent hulle ‘strength of character’.

Ek was gelukkig genoeg om toe ek nog op hoërskool was gedigte vir André Brink te kon stuur vir kommentaar. Tot sy ewige krediet was hy onmiddellik gewillig om na my skryfsels te kyk. Sy kommentaar in die vorm van kriptiese tekens, woorde of kort frases in die kantlyn was nie altyd onmiddellik verteerbaar nie, maar met die verloop van tyd het hulle een vir een duidelik geword. Belangriker as sy kanttekeninge was sy entoesiasme & sy aanmoediging.

Hoewel Hennie Aucamp in die vroeë fase van ons vriendskap na my verhale gekyk het & met kenmerkende deeglikheid & deernis gereageer het, wou hy nooit die rol van mentor speel nie. En ek het dit verstaan. Hy het in sy lewe onaangename ervarings gehad in dié rol. Dit was juis die hartelose manier waarop Koos Prinsloo vir Hennie ontluister het wat my aangespoor het om fiksie te skryf & uiteindelik tot die ontstaan van Vreemder as fiksie gelei het.

Ek het aanvanklik net een verhaal beplan: “A portrait of the artist as a young dog”. Met dié verhaal wou ek ’n spieël-vertelling skep, ’n storie waarin ek Koos se verhaal hérskryf aan die hand van wat in sý verhaal verswyg word, nl. sy briewe aan Hennie. Ek wou daarop wys dat ’n skrywer in seleksie ’n baie kragtige wapen het. Die twee verhale saam sou as’t ware mekaar se ‘oop plekke’ invul & sáám die hele storie vertel, of ten minste ’n meer getroue weergawe word. Maar natuurlik is die skrywer in beide gevalle dieselfde slu marionettemeester.

Die een verhaal het aanleiding gegee tot nóg ’n verhaal & nóg ’n verhaal, & voordat ek my kon kry was daar genoeg vir ’n bundel. Die boek is redelik vinnig geskryf & dit was een van die mees bevredigende skryfervarings in my lewe. Die skryf van fiksie kom nie vir my maklik nie. Dit vereis ’n kreatiewe heroriëntasie. Ek het besluit om die skryf van die verhale te vermeng met die navorsing & studie wat agter die skerms gebeur het, om sodoende verslag te word van hoe ek daardie soort verhaal leer skryf het. Meestal aan die hand van Aucamp se handleidings, maar op ’n manier was Koos Prinsloo nádoods ook ’n soort mentor, iets wat hom eindeloos sou irriteer het.

Daar is so ’n komplekse spel van verhale wat terugvou op hulleself, onbetroubare vertellers & misleidende voetnote, opsetlike foute & versinsels tussen absoluut betroubare dokumentasie etc. dat ek nie seker is of ek sélf nóú alles sou kon ontwaar nie.

Vraag 6
Jy lees kennelik baie ander tekste in die skep van ’n kortverhaal gesien al die tekstuele verwysings in die kortverhale. Hoe gaan jy te werk met die skryf van ’n kortverhaal? Het jy ’n werksmetode?

Ek het nie soseer ’n ‘metode’ met die skryf van verhale nie. Die verhale in Vreemder as fiksie het ander eise gestel as dié in Tweede natuur: die een bundel is ’n postmoderne teks wat bewustelik ‘’n magdom ánder tekste betrek, terwyl die ander een meer tradisioneel is, maar steeds die spel met verskillende realiteite speel – dié keer deur middel van dwelms in plaas van deur ander tekste. Beide boeke is ’n spel met die ontiese & ontologiese.

Anders as met gedigte, kan ek nie aan ’n verhaal begin skryf as ek nie die slot het nie. Die slot kan verander gedurende die skryfproses, maar ek móét dit hê voordat ek begin skryf. Ek beplan nie ’n storie vooraf skematies nie, ek dink oor die storie, die karakters, ek loop daarmee rond totdat ek ’n sin of ’n paragraaf in my kop hoor, die stém van die verhaal. En dan volg ek dit.

Die vormgewing is ’n proses wat ná die eerste weergawe van die verhaal voltooi is, begin. Dis dán wat ek struktuurelemente identifiseer, patrone, simbole, temas etc., & dan sal ek ’n soort skema opstel van die struktuur: ’n struktuur wat vir my doeleindes die inhoud ten beste sal dien. Op daardie stadium begin ek skaaf & skuif, cut & paste, totdat ek daardie struktuur gerealiseer het.

Met gedigte daarenteen kan omtrent enige plek begin: partykeer kry jy net die begin, of die slot, of ’n paar reëls iewers in die middel van die gedig, & dan werk jy van daaraf. Cussons gebruik die beeld van die vorming van ’n suikerkristal vir die skryf van ’n gedig & dis akkuraat vir hoe ek ook skryf. Daar is natuurlik die begenadigde oomblikke wanneer ’n gedig soos ’n groot wind kom & jy hom feitlik in een sitting voltooi. Dit gebeur egter nie naastenby genoeg nie.

Vraag 7
Is daar enige nuwe skryfwerk waarna ons kan uitsien in die nabye toekoms?

Ek is besig om die finale skaafwerk te doen aan ’n nuwe digbundel getiteld Die algebra van nood wat einde Februarie by H&R verskyn. As alles goedgaan, verskyn daar in Julie 2010 ’n keuse uit my agt bundels onder die titel Judasoog, ook by H&R. Maar dis ver in die toekoms & baie kan gebeur.

***

Onderhoud met Murray la Vita (Oop Kaarte, Vrydag 27 Februarie 2009)
De Lange se stem keer terug

Fotograaf: Edrea Cloete

Ná 13 jaar het daar nou weer ’n digbundel van die bekroonde digter en skrywer Johann de Lange verskyn. Die algebra van nood, sy agtste digbundel, word deur die uitgewer Human & Rousseau beskryf as ’n belangwekkende gebeurtenis wat menige poësieliefhebber sal laat regop sit.

Iewers by Somerset-Wes is ’n brand wat so groot is dat ’n vlokkie as tot hier in die binnehof van die Willowbridge-winkelsentrum in Durbanville op die skouer van die digter Johann de Lange neersif.

Benewens die brandreuk is daar ’n ander, subtieler – en vaagweg bekende – geur in die warm lug aanwesig.

Aan die einde van ons onderhoud stel ek vas dit is Calvin Klein se ikoniese eau de toilette ck one van die jare negentig. Die digter dra ck one. Wat in ’n interessante verhouding staan tot die robuuste manlikheid van sy stapstewels en wat lyk na die verbleikte langbroek van ’n seesoldaat.

Hierdie geur is ’n stigmatum van die rave-kultuur (hy gaan netnou daaroor praat) wat nog ironies om De Lange draal. ’n Kultuur waarin hy diep betrokke geraak het voordat hy dit verlaat het.

Op die tafel lê sy bundel Die algebra van nood. Die omslag is deur die kunstenaar Christiaan Diedericks ontwerp.


Daarop is ’n ets van De Lange wat sy kop vashou in sy sterk hande (waarvan die naels kort gekou is). Hy kyk reguit na jou met oë wat (op die ets) intens en donker is. In werklikheid is sy oë ’n ligte blougrys. Wat op die ets nie so duidelik uit die oë straal nie, is die digter se afstandelikheid; selfs kilheid. Hierdie energie staan in teenstelling met sy hartlike lag en die weerloosheid wat ’n mens ervaar wanneer hy soms effens hakkel, soos as hy die voorsetsel ‘met’ in ’n oomblik van huiwering herhaal.

Dit is die oë van ’n randfiguur wat nie deel is van die sosiale lewe van (onder meer) die Afrikaanse letterkunde nie. ’n Mens begryp waarom hy soveel aanklank gevind het, en vind, by kunstenaars soos Ina Rousseau, Sheila Cussons en Wilma Stockenström. Hy is iemand wat waarskynlik die geselskap van sy katte (Yoshi en Toulouse) verkies bo die meeste ander gesprekke.

“Hy het vir my ’n ets gemaak van ’n foto af. Ek het die etsplaat gesien. Dit moes úre en daé gevat het. Dis van ’n foto af wat ek sommer self met my Mac geneem het met daai ingeboude kameralensie. Ek het baiekeer net as ek so sit en bored is, sit en fototjies neem. Van my, of van my en die kát.”

Hy maak ’n opmerking oor die blou op die omslag waarvan hy so baie hou.

“Kyk, daardie titel kom natuurlik van William Burroughs se "the algebra of need", wat gaan oor die verhouding tussen die junkie en die dealer en daai soort van ’n wiskunde van nood: "Beyond a certain frequency need knows absolutely no limit or control." En daarom het ek hierdie spuitnaald ingewerk.”

Hy wys na die spuitnaald wat bo sy kop dwars oor die blad lê. “Ek het die foto op e-bay gekry. Om net daai suggestie van need te ondervang, en natuurlik die hele kode van dwelmgebruik waaroor daar ’n afdeling (”Bedrieglike paradyse”) is.

“Hopelik is daar in hierdie foto iets van die aftákeling van die jare. Miskien.”

Hy lag.

“Poësielesers is ’n tough breed. Ek dink nie enige van die poësielesers gaan deur hierdie omslag afgesit word nie. Ek sien dit nie as donker nie, ek sien dit meer as introspeksie.”

Die bundel is opgedra aan sy jarelange vriendin die digter en skrywer Joan Hambidge, wat hy beskryf as a force of nature. Sy is tans, in haar hoedanigheid as akademikus, besig om ’n boek oor sy werk te skryf.

Oorrompelende ervarings

Akwarelle van die dors, Waterwoestyn, Snel grys fantoom, Wordende naak, Nagsweet, Vleiswond, Wat sag is vergaan.

En nou: Die algebra van nood.

“Ek het nooit ophou skryf nie, ek het net belangstelling verloor in publiseer. Dit klink vreemd, maar . . . hoe langer jy uitgestel het, hoe moeiliker het dit geword om te begin dink aan sit en ’n boek bymekaarbring. Toe het ek vir Human & Rousseau gevra of hulle belang sou stel om ’n keuse uit my bestaande bundels uit te gee. Want ek het basies gevoel – wérklik gevoel – dis klaar, ek is uitgeskryf.

“En toe het hulle gesê hulle sal ’n keuse uitgee, maar dan wil hulle twintig nuwe gedigte hê – net om die bundel darem interessant te maak vir kopers.

“Toe sê ek oukei fine. Ek het ’n kakhuis vol gedigte op my rekenaar gehad; en ek het ’n klomp daarvan uitgedruk en ek het dit vir (prof.) Henning Snyman (die literator wat ook sy studieleier is vir die magistergraad oor die metafisiese ruimte by Sheila Cussons) gegee en gesê hy moet net deur dit gaan en vir my help om twintig te kies waaraan ek kan werk vir hierdie bloemlesing.

Snyman se bevinding was: hier is ’n hele bundel se nuwe gedigte.

“Ek het werklikwaar nie gedink daar is nog ’n bundel in . . . jy bereik ’n punt waar jy voel jy het eintlik alles al gesê wat jy wou sê.”

De Lange sê hy “het nie verskriklik baie verbeelding nie”. “As ek oor iets wil skryf, onderdompel ek my gewoonlik daarin en dan oordoen ek dit. Byvoorbeeld in die tyd van Nagsweet het ek kompulsief gecruise – dag en nag . . . dag en nag, naweke, in die etensuur . . . net konstánt gecruise. En toe die boek uitgekom het, het ek belangstelling verloor daarin.

“Toe’t ek ’n ander kompulsie gesoek. En ek het toe ingeval by die rave-kultuur so in 1998 se kant rond. En toe het ek begin om die hele alfabet (dwelms) te doen, want ek het eintlik, ek was aangedraai... nuuskierig, veral met psigedeliese goed, ek dink ’n mens kan geweldig baie léér as jy nie net hedonisties ingestel is nie. Toe het ek my dáárin onderdompel en Tweede natuur (kortverhale) het daaruit gekom.

“Ek wou vreeslik graag ’n digbundel maak, maar ek kon nie ’n vorm kry om daaroor te skryf in gedigte nie; dit wou net nie wérk nie. Maar dit is seker nou omtrent al vyf jaar wat ek nie meer indulge nie. Miskien is dit ook waarom ek gevoel het ek is nou klaar, want ek het nie meer ’n kompulsie wat my aandryf nie.”

Hy lag.

“Ek soek nou iets anderster. Ja . . . ek soek oorrompelende ervarings. Ek dink ’n mens moet probeer verby die banaliteite kom van net gewone lewe. Ek is op soek na ’n wat iemand genoem het ravishing experiences. I want to be ravished, jy wil nie net . . . jy kry dit met seks en jy kry dit met dwelms.”

Slapende pa

In Die algebra van nood is daar in die laaste afdeling, Memento mori, ook ’n gedig met die titel “Pa”.

Wanneer De Lange oor sy kinderdae praat, is dit met die ironiese afstand wat dikwels by hom na vore tree en wat soms van ’n kort laggie vergesel word.

“Man, ek het soos enige fortunate kunstenaar ’n unhappy jeug gehad. Ek het grotendeels by familie grootgeword. Ek en my ouma het dikwels saam van gesin na gesin verhuis, want sy het my basies grootgemaak. Ek het baie min kontak gehad met my ouers en die paar keer wat ek wel met my pa kontak gehad het, was dit nie altyd gelukkige omstandighede nie.”

Die laaste reëls van die gedig “Pa” lui:

Langs jou op die vaal sement,
val jou skadu ambivalent

“My pa was ’n skadufiguur. Hy was verslaaf aan mandrax. My ma was ’n verpleegster of ’n suster gewees en ek kan onthou dat sy van dórp na dórp toe moes gaan, partykeer met die trein, om voorskrifte te kry vir mandrax want die dokters in Pretoria wou nie vir hom gee nie. Dan moes sy ry; hy het haar absoluut gek gehad.”

Hy onthou sy pa veral as iemand wat dikwels geslaap het.

“Nou nog, as ’n volwassene, kan ek dit nie hanteer as iemand in die huis slaap nie. Dit maak my ongelooflik depressief. Mense moet wakker wees as ek wakker is. Ek het in ’n vroeë gedig gepraat van dat hy die woonstel ‘onherbergsaam gemaak het’ met sy slapery.

“Ek voel abandoned as ek met iemand involved is – ’n lover – en die lover slaap, bedags, en ek is wakker.”

Hy praat oor die ontstellende geluide wat uit ’n vertrek van Ernst van Heerden se huis gekom het die dag toe hy van die ou digter wou afskeid neem; die ongelooflike eksentriekheid van die sku Ina Rousseau by wie ’n eekhoring eendag ’n gedig “gesteel” het toe sy haar skryftafel in die tuin verlaat om te gaan tee maak; en hy praat oor wat hy in Sheila Cussons se notaboeke aangetref het.

Toe die muse haar verlaat het, het sy met God “onderhandel”.

“Sy’t vir Hom gesê: ‘Jy kan énigiets vat! Vat enigiets van my weg wat jy wil, maar gee net weer daardie moeitelose skryf vir my terug.”

Die digter vind dit klaarblik ontroerend. Sy stem is hees.

***

Onderhoud met Herman Wasserman
Raves ‘wis grense tussen mense uit’

Die Burger 11 Desember 2000


Die digter en skrywer Johann de Lange se nuwe boek; Tweede Natuur, handel oor sy ervarings van die rave toneel, Ecstasy en wat verder daarmee gepaard gaan. Hieroor het Herman Wasserman hom uitgevra.

HY sit met ‘n stapeltjie stowwerige, ou Afrikaanse boeke wat hy pas gekoop het by die tweedehandse boekwinkel oorkant die straat. Maar die lewe wat hy in Tweede Natuur beskryf, is nie ‘n somervakansie op ‘n plaas nie, rasend kontemporêr eerder as vergeel. En dis eerstehands:

“Op ‘n dag het ek sit en koffie drink saam met ‘n vriend. Hy vertel my toe van Ecstasy, die ene lofsange. En ek dog toe ag jaaa, jaaaa, jaaaa . . . ek was nie eintlik bewus van of geïnteresseerd in dwelms nie, my grootste vergryp was toe nog pynpille... ” Nog nooit eers gerook nie, sê hy.

“Die vriend gee toe vir my ‘n pil, dit was nog ‘n ‘Rolex’, en ek dog ek sou dit hou vir ‘n spesiale geleentheid. Een Saterdagaand besluit ek toe ag fokkit, ek drop die pil en kry klaar. Dit was ‘n daad van geloof. As jy so daaraan dink, is die hele drug scene ‘n leap of faith. En dealers is ‘n subhuman species.”

Met die pil in sy lyf is hy na ‘n klub. “Dit was ‘n magical experience. Ek het vir die eerste keer na rave-musiek geluister en dit was asof ek vir die eerste keer ‘n vreemde taal verstaan. Daarna was daar geen omkeer nie.”

Hy het begin om sy ervaringe neer te skryf: “Ek het heel Calvinisties geglo ek moet iets hiervan maak, ek kan dit nie net geniet nie. Terwyl ‘n mens op E is, dink jy baie lateraal en maak assosiasiespronge. So, op die dansvloer met my oë toe, het ek storylines uitgedink en later neergeskryf.”

Hy klink so positief oor dwelmgebruik. Is daar dan nie ook aspekte waarteen hy mense wil waarsku nie? “Om te sê jy is vir of teen dwelms is ‘n moeilike issue. Ek glo dis elke persoon se eie keuse of jy dit wil gebruik of nie. Dwelmgebruik as sodanig het verander. Die heroin addict wat in die gutter lê met ‘n vuil naald in sy arm is lankal nie meer die standaard-image nie. Die huidige generasie kyk heeltemal anders na dwelmgebruik. Dis nie langer gestigmatiseer nie. En die konteks het verander. That said, wil ek byvoeg dat nie alle drugs vir almal is nie. En dat net soos die geval is met voorskrifmedisyne of drank of sigarette, sal daar altyd diegene wees wat dit abuse.

“Daar is meer as een soort consciousness, meer as een state of mind, maniere om na goed te kyk. En ek glo nie dis die plek van die staat om vir jou te sê wat jy mag vat of nie, terwyl hy tegelykertyd die gebruik van die mees verwoestende dwelms wat die mensdom ooit geken het, naamlik alkohol en nikotien, ondersteun.

“Dwelmbeheer is mind control. Die Regering sien dit as ‘n destabiliserende faktor. Dink maar aan acid in die Sixties. Mense wat anders dink, of vir hulleself dink, is nie so maklik om te beheer nie. Baie van die geweld in Kaapstad en Johannesburg hou direk verband met dwelmhandel, iets wat beheer sou kon word as die dwelms gewettig word, want dan kan jy die kriminele element wegvat en gehaltebeheer toepas.”

Daar is tog al mense dood van E? “Die oorgrote meerderheid is dood aan iets wat as ecstasy aan hulle verkoop is. Die enigste sterfgevalle wat direk met ecstacy verband hou, was as gevolg van dehidrasie, oorverhitting, selfs in een geval ‘n meisie wat te veel water gedrink het.

“Mense wat drugs wil doen, moet seker maak dat hulle ingelig is oor die risiko’s. Dit geld enige soort medikasie.

“As jy al die sterftes van alkohol en nikotien vergelyk met al die sterftes van heroien, coke en E, is dit nog nie eens ‘n fraksie daarvan nie. Maar dit gaan in die eerste plek om geld, om beheer, en natuurlik om punte te score by Jan Alleman.

“Mense by ‘n regte rave is meer genuinely equal as in die breër samelewing. Daar is nooit geweld of aggressie by sulke geleenthede nie; eerder ‘n samehorigheidsgevoel en empatie wat jy selde elders kry.”

As raves grense tussen mense uitwis, hoekom die boek by ‘n gay uitgewer (Homeros) publiseer? Is dit nie juis marginaliserend om slegs vir gay lesers te skryf nie?

“Hoekom word daar nooit vir ‘n straight skrywer gevra hoekom hy straight skryf nie? As gay skrywer moet jy jouself altyd regverdig. Ek het ‘n boek geskryf vir diegene wat my ervarings sal deel. Ek het nie verteenwoordigend van die ganse rave- of gay-scene probeer wees nie. En geen gemarginaliseerde groep is vir hulle eie marginalisering verantwoordelik nie.

“Daar moet ‘n gay letterkunde wees wat die identiteit van die gay persoon binne die samelewing kan ondersteun. Hoekom moet ons almal een groot grys massa wees? Ek dink nie die bestaan van ‘n gay letterkunde is ‘n probleem nie, dit maak deel uit van die verskeidenheid van die letterkunde.”

Die karakter in die verhale is ene Johann. Moet ‘n mens dit lees as outobiografie, of is dit weer die metafiksionele spel met waarheid en verdigsel soos in Vreemder as fiksie?

“Binne die dwelmkultuur is die ek nie ‘n stabiele ding nie. Jy kyk partykeer na jouself van buite af. Dit was nie my uitgangspunt om mense te ontmasker nie, en ek het toestemming gevra as ek mense se name gebruik het. Die boek is ‘n soort bestendiging, ‘n viering, van psigedeliese ervarings.”

Twee van sy mede-digters, Antjie Krog en Daniel Hugo, het mekaar pas op LitNet gepak oor suiwer Afrikaans. Hoekom skryf hy ook in Tweede Natuur “Engelkaans”?

“As jy daai soort storie in Standaardafrikaans gaan skryf, gaan dit te styf en stram wees. Daar is ook ‘n hele dwelmwoordeskat: die pil ‘kom aan’, iemand ‘fok jou plak op’. Hoe vertaal jy ‘candyflip’ of ‘rush’? Die taal pas in die wêreld wat ek geskep het.”