Onderhoude

Wednesday, April 13, 2016

Die UJ Prys toekennings vir 2016 bevraagteken


Die wenners van die UJ pryse. Mens kan nie vir hulle kwaad wees nie, dis nie hulle skuld dat die beoordelaars die kluts kwyt is of deur buite-literêre oorwegings moveer is nie. Wat die toekennings verder vertroebel is dat Ena Jansen 'n navorsingsgenoot is by UJ, & Roela Hattingh tydelik dosent in die departement. 



Ena Jansen se Soos familie is 'n versameling van vertellings/stories oor werkersklasmense wat sy byeengebring het met kommentaar, nie iets wat ek as kreatiewe skryfwerk sou beskou nie. Vir my lyk dit asof politiek en die onlangse gebeure op kampusse daartoe gelei het dat UJ 'n opportunistiese, polities-korrekte bekroning gemaak het. Asof dit die kampus van soortgelyke optrede sal vrywaar. Dié wat agter die geweld sit, is kwalik Afrikaanse letterkundelesers.

Ek misgun Ena Jansen nie 'n pennie van die R75 000.00 wat sy gekry het vir wat basies 'n sosiologiese projek is nie, & ook nie Hattingh haar R30 000.00 nie.




Die beoordelaars, met hulle toekenning van die prys aan Soos familie bó Zander Strachan se Brandwaterkom, of Ingrid Winterbach se Vlakwater, gee te kenne dat 'Soos familie' die sterkste kreatiewe teks is. En dis pure nonsens.


Ditto die toekenning van die debuutprys aan Roela Hattingh se kortverhaalbundel Kamee terwyl Lien Botha se Wonderboom duidelik 'n veel sterker teks is.


Kyk, pryse sê uiteindelik weinig oor die literêre gehalte van die tekste, en meer oor die tydsgees, literêre alliansies, politieke oorweginge, gebrekkige oordeel, etc. Mens kan maar net na die geskiedenis van die Hertzogprys gaan kyk om te sien hoe dikwels politiek 'n rol gespeel het. Maar moet nou nie perdedrolle as vye kom aanbied nie.

Die paneel, meer spesifiek Karen de Wet as voorsitter, het m.i. baie om te verduidelik. Selfs al sou die definisie van wat 'kreatiewe skryfwerk' behels breër gedefinieer word, bly hierdie bekronings aanvegbaar. Dalk het die Gupta's hulle voorgesê wie moet wen...


Maar Karen de Wet, wat gewoonlik nie 'n wag voor haar mond plaas nie, & wie se styl in 'n debat klaarblyklik is om die hardste te praat van almal & nie op te hou totdat sy haar sin gekry het nie, dié swyg nou inkennig.

Die Paneel


Karen de Wet (UJ)  (Voorsitter)













Frederick Botha (UJ)
Marné Pienaar (UJ)
Ronél Johl (UJ)
Karin Catell (US)
Marius Crous (NMMU)
Alwyn Roux (UNISA)
Corina van der Spoel (Wits UP)
Ilse Salzwedel (RSG / Skrywers en boeke)


© Johann de Lange

Monday, April 11, 2016

William Dicey – Mongrel (2016)



William Dicey – Mongrel. Umuzi, 2016. ISBN: 9781415206881

Resensent: Johann de Lange

Die 6 tekste in William Dicey se Mongrel is nie sonder meer essays te noem nie. Hulle is eerder ‘n verbastering van verskillende genres, elk ‘‘n variasie op die tema.

“Miss Meat Festival” wat afspeel tydens die jaarlikse Hantam Vleisfees in Calvinië is pure boere-burlesk, waar ’n versameling rare karakters saamgesnoer word deur hulle passie vir vleis. Dit is ‘n teks wat die gruwelikheid van die vleisetersbedryf, verbind met al die pomp and circumstance van ’n skoonheidskompetisie.

Die tweede essay, “A story in which everone looks bad” vertel die verhaal van die moord op  eenspaaier Geoffrey van Seepunt (Teffy vir familie en vriende), deur sy gay lover Ismail S. van Hannover Park, óf dié se neef Egshaan, ‘n gebeurtenis wat daartoe lei dat Teffy se familie vir die eerste keer van hulle oom se homoseksualiteit te hore kom.

‘n Regsisteem verswelg deur werklas en 'n kultuur van middelmatigheid en luiheid, maak dit moeilik om geregtigheid te kry vir slagoffers. Só word beide Ismail en Egshaan eers 5 jaar na die hofsaak begin het tot tronkstraf gevonnis.

Dicey se rapportering van die hofsaak belig nie net die spanning tussen waarheid en leuen in die regsisteem en die lewens van die karakters sélf nie, die essay is tegelyk ’n handleiding by die skryf van dié tipe verhaal, en Dicey se vernuf as skrywer is hier niks minder as virtuoos nie.

Die plaasgenre is volgende aan die beurt in die ironiese “South African pastoral”. Buchuland, ‘n peerplaas wat Dicey saam met sy broer bedryf, word gaandeweg ’n mikrokosmos van die breër problemetiek van die land.

Die verhaal is gestruktureer rondom enkele boekhou-inskrywings wat elk ’n nuwe faset belig van die komplekse verweefdheid van boer en werkers, hulle betrokkenheid by mekaar se lotgevalle, vasgevang in ‘n soort patriargale dans.

As byvoorbeeld neem Dicey die besluit om die dopstelsel op wynplase af te skaf, waar werkers op ‘n Vrydag ‘n gedeelte van hulle loon in wyn ontvang het. Reaksie teen dié besluit was snel, maar uit ’n onverwagse oord: die vrouens van die werkers het gevra dat die dopstelsel teruggebring word, want nou drink hulle mans ál die loongeld uit oor die naweek, sodat die kinders nie kos het vir die res van die week nie.

Omdat werkers dikwels oor generasies op ‘n plaas woon, dink hulle aan die plaas as ook húlle s’n, en so kom die emosionele kwessie van grond ook ter sprake. Daar ís oplossings, soms heel  vindingryke oplossings, maar dit vra vir ‘n nuwe perspektief.

“No ship exists” is ‘n distopiese visie op ons moderne beskawing. ‘n Boek deur Derrick Jensen getiteld Endgame, dompel Dicey in 'n soort geloofskrisis. Jensen se boek is gebou rondom twintig leerstellings waarvan die eerste bv. lui: “Civilization is not and can never be sustainable. This is especially true for industrial civilization”. Hy begryp sy aandadigheid as gebruiker, en hoe onversoenbaar die begrippe ekologie en ontwikkeling is.

Op soek na antwoorde pak hy ‘n reis aan na Indië, ‘n reis wat hom nie alleen voer deur ’n vreemde landskap nie, maar ook terug in die tyd deur die landskap van boeke en studies wat sy beeld van die werklikheid help vorm het.

“What goes on inside is just too fast” is ’n teks wat teen ’n dolle vaart ontplooi, ’n teks binne ’n teks, straks ’n binnestebuite glimps in die werking van die skrywer se vry assosiatiewe verbeelding waar hy op verskillende vlakke, tektueel sowel as tipografies, speel met sy eie besinnings in gesprek met tekste van drie baie bedrewe reisskrywers.

Die laaste essay, “D’Arcy and I” is nóg ’n variasie op die tema van identiteit, werklikheid, fiksie. Dit is ‘n vernuftige spel met die leser, ‘n vertelling wat as’t ware uitgedop word op homself. Soos Dicey in die ander essays demonstreer het, is die werklikheid, nes die waarheid, nie eenvoudig nie. En soms vreemder as fiksie.

Die suksesvolle essayskrywer slaag daarin om die leser te betrek deur iets van sy eie persoonlikheid en stem in die vertelling oor te dra. Dicey se styl word gevoed deur sy wye belangstellingsveld, sy oog vir detail, vir ironieë en die absurde, sy onteenseglike taalvermoë, sy ratse intelligensie en sy vermoë om disparate dinge bymekaar te bring op só ’n wyse dat daar nuwe insigte uit na vore kom. Dicey is ewe tuis in die pastorale sowel as die digitale, in die karnavaleske sowel as die pynlik persoonlike.

Sy essays is ’n geleentheid om die vrye spel, die vlugvoetigheid van die skrywer se gedagtewêreld en verbeelding te beleef. Die essays in hierdie boek kon maklik ondraaglik donker gewees het, maar Dicey weet hoe om sy narratiewe met die “brewwe ligmomente” van humor te verlig.

Ek dink nie dit sou verkeerd wees om om Dicey te vergelyk met Hunter S. Thompson nie. Maar met ‘n unieke Afrika kinkel.


(Hierdie resensie het eerste verskyn in Beeld, & word herhaal met vergunning.)