Oorlog ter see Günther Grass ’n Amerikaanse vliegdekskip en ’n Gotiese katedraal het mekaar gelyktydig gesink in die middel van die Stille Oseaan. Tot op die laaste het die jong onderpastoor die orrel gespeel. Nou hang vliegtuie en engele in die lug met nêrens om te land. [Vertaling deur Johann de Lange]
Die onderrig van die Meester Miroslav Holub Hy het gepraat en die klere van die boetelinge het swanger op die grond geval. Dit was die Keisersnee van denke, fluweelpoppe is gebore, jubelend. Dit was ’n profiel van Alleman, geknip uit swart papier. Liewenheersbesies het onder ons vingernaels uitgekruip. Trompette is gehoor op die mure van Jerigo. Ons gene het gesis. Dit was groots, terwyl hy gepraat het. Dis net dat ek nie kan onthou waaroor hy gepraat het nie. (na die vertaling van David Young & Miroslav Holub)
Die republiek van poësie vir Chili In die republiek van poësie, ry ’n trein vol digters suid in die reën soos pruimbome wieg en perde opskop in die lug, en dorpsorkeste in die straat af marsjeer met trompette, met hardebolkeile, gevolg deur die president van die republiek wat elke hand skud. In die republiek van poësie, druk priesters verse oor die nag op dose kloostersjokolade, kombuise in restaurante gebruik odes vir resepte van aal tot artisjok, en digters eet gratis. In die republiek van poësie, lees digters vir bobbejane by die dieretuin, en al die primate, die digters soos die bobbejane, skree van vreugde. In die republiek van poësie, huur digters ’n helikopter om die nasionale paleis te bombardeer met gedigte op boekmerke, en almal in die binnehof storm om ’n gedig te gryp wat uit die lug fladder, verblind deur trane. In die republiek van poësie, sal die wag by die lughawe jou nie toelaat om die land te verlaat nie totdat jy ’n gedig vir haar voordra en sy antwoord Aah! Lieflik. [Vertaal deur Johann de Lange]
Swart eilande vir Darío By Isla Negra, tussen Neruda se graf en die anker in die tuin, het’n man met klipkapperhande sy seun van vyf opgetel sodat die seun se oë myne kon deursoek. Die seun se oë was swart olywe. Seun, het die pa gesê, dié is ’n digter, soos Pablo Neruda. Die seun se oë was swart glas. My seun se naam is Darío, na die digter van Nicaragua, het die pa gesê. Die seun se oë was swart klippe. Die seun het niks gesê nie, en my gesig deursoek vir poësie, my oë deursoek vir sy eie oë. Die seun se oë was swart eilande. [Vertaal deur Johann de Lange]