Ure Abraham Sutzkever Jy onthou toe jou ure een vir een gebore is: elke uur – ’n ander tint en lot. Nou staan jy voor die ure, krom: all die giwwe saamgemeng deur ’n gek apteker. In ’n vysel, in die donker, meng hy blindelings en in haas: yster, pêrels, kruie, narkotika, al die Daar’s en al die Hier’s, in een konkoksie wat oorweldig – Hy laat jou drink vir ure. *** Van myself na myself Abraham Sutzkever Hoe lank is die pad van myself na myself? Soms ’n halwe oomblik, dis al. Hier is heelheid. Maar ’n slang op die pad tussen twee hekke. En soms is sewe wêrelde, sewe winters lank die korste pad van jouself na jouself. *** uitEkstases Abraham Sutzkever Toe ek met oë toe ’n gedig skryf, is my hand meteens verbrand, & toe ek weer begin vanuit die swart vuur, het die papier ’n naam geadem soos ’n lelie: God. Maar my pen, in ontsag & verwondering, het die woord uitgekrap & in die plek daarvan ’n bekender woord geskryf: Mens. Sedertdien spook ’n ongehoorde stem by my soos ’n onsigbare voël wat pik, pik aan die deur van my siel: – Het jy my vir dit verruil? Vertaal deur Johann de Lange
Portret van myself aan die begin Mutsuo Takahashi ’n Jongman hurk om sy veters vas te maak Hoe delikaat lyk sy agternek nie Die vlees van sy skouers beweeg lui & sloom & die twee dye wat opstaan uit sy lendene is jonk & rond (Die man-tepel styf vasgedruk tussen lieste is blaspienk) Die helder openhartige kykers van ’n stil jong dier stip op die vingers wat die veters knoop Maar die knopende vingers droom verdiep van die gebied ’n entjie hoër op van die fles van sy buik lenig soos dié van ’n honger wolf waar hulle sal speel met sagsinnige Eros wat skuil in sy dun huid wat nou sluimer in sy luisterryke sagte grasse Die jongman staan op & begin loop heeltemal kaal behalwe vir sy opgerygde stewels Hy hou aan met loop & word oud ’n ou man wat sy gesig verhard & nooit terugkyk nie Maar agter die ou man buk ’n jonge dikwels om sy veters vas te knoop & staan op & begin loop vir die soveelste keer. [Vertaal deur Johann de Lange] Portret van myself by ‘n loergat Mutsuo Takahashi Here, wanneer sal dit gebeur? Hoe lank nog voor u besoek? Ek kniel hier op die smadelike vloer, wagtend; voor my prente van gevlerkte engele & heiliges. In die middel van die muur & versier met heilige inskripsies in silwer & goud ’n gloriegat: u stralende besoek – het die tyd daarvoor nog nie gekom nie? O dán sal ek voor U kniel, koorsig my lippe oopmaak, droog & gebars van dors, soos daardie skrikwekkende profeet gesê het, & my mond vul met U. U gewyde gulp sal gul oorvloei, reën in my oopgesperde oë, my mond, oor my kortgeskeerde kop met jong gryshare. In u weergalose medelye sal ek, soos een verkrag, my oë toemaak asof ek ly, & snak. . . Wanneer sal dit gebeur? Hoe lank nog voor U kom? Met dié woorde het die gesig soos ’n wynsak waaruit die wyn gelek het in plooie teruggesak. Met dié openbaring skaars verby, nog knielend voor die toilet, die muur bedek met banale graffiti, het van die ander kant deur die gloriegat in die middel van die muur ’n droë oog vurig teruggegluur. [Vertaal deur Johann de Lange] Myself met ’n motorfiets Mutsuo Takahashi Motorfiets, die rytuig van langhaar gode. My god spog met ’n eikelvormige versierde kroon wat ons ’n valhelm noem, steek sy bene met lang skene in asuurblou jeans trek swaar stewels aan beslaan met baie goue klinknaels, & snel deur die skemer van purper gode. Juis nou, halfpad op die kliptrappe agter ’n teater, byvoorbeeld, is my god in die middel van ’n bloedgeurende sameswerende gesprek met ander langhaar gode. Hulle jeugdige sameswering is te stralend, te welriekend vir my, wat aan die onderpunt van die strappe verbystap, om helder te onderskei. Onder die trappe, is dit net die god se saal van staal wat straal soos ’n lewende ding. Ek raak aan die motorfiets, veral die deel van die saal wat sopas vasgegom was aan die sitvlak van my god, steeds die hitte van sy boude behou. My god eet Kentucky fried chicken, drink Coca-Cola, & uit die gleuf van sy lieflike boude die kleur van dagbreek werp hy stront. [Vertaal deur Johann de Lange]
Wanneer ek dit doen, onthou ek hoe dit was met ons. Dan onthou my hande ook, en jy’s weer by my, net soos dit was. Na werk sou jy inkom en die TV afsit en op die rand van die bed gaan sit, die vertrek vul met petrolreuk van jou werkklere, probeer om my nie wakker te maak nie hoewel jy altyd het. Ek sou stadig uitadem en sê, ‘Hi Jess, jy moeg beertjie?’ Jy sou sê nie te veel nie en my maag vryf, nie jags vir my nie, net baie dierbaar, en ek sou altyd ’n klein bietjie doodgaan want jy het geruik na verbrande blare of bosrook. Ons was so arm soos Job se kalkoen maar het ’n goeie lewe gehad — kos, ’n paar goeie flieks, goeie dagga, baie gesels, baie van jou en my wat in mekaar se velle probeer glip. Wat ’n bedagsame geskenk is dié nie, gemaak met my geheue, my voël en hande. Soms word ek wakker en wonder of ek vir ons moet koffie maak voor werk, glo amper jy is weer hier, sien amper jou werksbaadjie op die stoel. Ek wonder of jy onthou wat ons mekaar belowe het toe jy die werk gevat het in Laramie? Ons manier van bymekaar bly. Ons het belowe daar sou altyd tye wees wanneer die lug absoluut helder is, dat ons mekaar daardeur kon onthou. Jy kon my onthou by my lessenaar of en die deurnag restourante, hoewel ons nooit sou bel of skryf nie. Ek moet hier ophou Jess Ek moet nou ophou. [Vertaal deur Johann de Lange]