Onderhoude

Saturday, May 8, 2010

Platoniese notas by 'Portrette, private dele & kanttekeninge' - Deel 1

’n latter-day memorie


Stephan Bouwer (1948 - 1999)

I

Daar is nie baie boektitels waarop ek jaloers is nie, maar een van hulle is Stephan Bouwer se Portrette, private dele & kanttekeninge (hierna PPD&K), & die ander is Zirk van den Berg se Ekstra dun vir meer gevoel. Stephan Bouwer was egter op baie ánder maniere belangrik vir my ontwikkeling as digter, & vir die Afrikaanse poësielandskap soos dit vandag daar uitsien.

Stephan Bouwer debuteer met So sal ons uitpasseer (Perskor, 1969). Dis die werk van ’n jongmens wat nog sy eie stem moet vind. Sy debuut het nog swaar gedra aan die invloed van Ingrid Jonker & was verstegnies onbeholpe.

Vir baie jare ná haar dood was Jonker ’n soort Lorelei figuur wat menige jong digter afgetrek het in die dieptes van haar wanhoop & die bekoring van haar unieke stem. Ek het self as ’n jong digter vir ’n tyd lank daardie aantrekking baie sterk gevoel, in só ’n mate dat ek ’n bewuste besluit geneem het om haar vir byna ’n dekade lank glad nie te lees nie. Ek moes eers my eie stem vind voordat ek daardie soort swaartekrag kon trotseer.

Om te beweer dat Stephan Bouwer as digter nie eintlik gegroei of ontwikkel het nie, soos onder meer A.P. Grové gedoen het, is om hom ’n groot onreg aan te doen. Hoewel hy waarskynlik primêr vir Soldag & PPD&K onthou sal word (méér so vir lg.), het sy werk oor die algemeen ’n stygende kurwe gevolg, met die grootste sprong tussen sy debuut & Soldag.


II

Soldag, Bouwer se tweede bundel, verskyn in 1973, & dis duidelik dat hy sy stem gevind het. Die invloed van Jonker is verwerk, & die gedigte getuig van groter tegniese beheer & meer selfvertroue. Méér nog, die bundel is sonder twyfel die wegbreider vir PPD&K, soveel so dat sommige van die gedigte daarin ewe tuis in lg. bundel sou wees. Ek dink hier bv. aan “Ek wens ek was ’n banneling”, & “In my aandse huis”:

In my aandse huis
met net drie mure
weet ek wat my bestemming is
weet ek dat jy altyd
op die gegewe oomblik moet weggaan
maar op die regte oomblik weer sal terugkom

In hierdie vierkantige kamer
is daar geen aanwysings nie
ek weet nie waarheen om te beweeg nie
jy reageer verkeerd op al my skakelwoorde
en ek weet nie eens of ek en jy
’n gelukkige afloop gaan hê nie

In hierdie vers het ons die metafoor van die teaterwêreld, die enscenering van ’n drama-in-die-kleine wat so prominent in PPD&K sal figureer, & ánder Bouwer-handelsmerke soos die spel met teenstellings, die ommekeer waar die twee dele van ’n vers teenoor mekaar gestel word & die ironiserende slot.

Soldag bevat ook die pragtige “Graham Greene” wat begin:

Mnr Greene
jy wat jou private lewe so jaloers beskerm
teen loeroë
wat hardkoppig in die coulisse wegkruip
kan maar net sowel uitkom na die middelverhoog:
geen held kan verewig volhard nie

’n Ander vers wat ook goed in PPD&K sou kon pas, is “Notas gemaak by ’n geslotebaantelevisie-demonstrasie” met die pragtige slot waarin Opperman se bantam ten tonele gevoer word:

Ta’ Bellie in die hoek
– “dertig jaar onafgebroke op dertien deser D.V.” –
beskou die hele affêre as ’n sameswering van die jeug
kloek agterdogtig (soos ’n bantam) en
kyk met onverbloemde haat na
die triumviraat kollege-ou(d)meisies
wat hul wysheid ’n geurtjie gee van déjà-vu

Dan is daar die hunkering na ánder plekke wat onder meer die reismotief in sy werk inlei. “Eklips” is hiervan ’n besondere mooi voorbeeld:

Ek moet wegkom uit hierdie kontrei
waar bome teen die Oostewind beur
en beesgeraamtes in die soutpanne kom lek
Hier is die son ’n spons
wat groen uit die bossies suig
en bruin oor die aarde drup

In my streek is die son     ’n goudkwas vir hare
’n strandbal     ’n vriend
Heerlike bondgenoot wat jou bene verander in brons

Die herkenbare stemtoon wat tegelykertyd vertedering & die pyn van onbeantwoorde of onmóóntlike liefde so skrynend kombineer in PPD&K kan ook al in “Exit” afgelees word:

Ek het net vir jou kom sê dat ek weggaan

jou beer
jou grapjas
jou slimkop
het kom afskeid neem

jy kan maar skryf –
jou briewe sal terugkom:
bestemmeling onbekend

jy kan maar bel –
die outomatiese antwoordmasjien sal sê:
so iemand bly hier nie

as jy dus skielik
jou al-om-die-ander-weekse gemis begin voel
drink ’n tonikum
of klim in die bed met
’n teddie
’n strokiesprent
of Roget se Thesaurus

die verlore stukkie in jou legkaart
die seeroog op jou landskap
dít is my polfyntjie aan jou

Of “Oktober-blues” waar die uitgelatenheid van jong liefde lepellê met ontnugtering:

...
ek onthou jou
en ek onthou die knoop wat jy daardie aand
in my laat lostrek het
hoe ons dinge gedoen het
wat visse nooit in die blomme doen nie
en hoe ek later heelnag deur die strate
op my motorfiets moes jaag
sodat die bome hul confetti
op dié bruidegom kan bombardeer

ons was toe net nóg vis nóg vlees
en onskuld was reeds nie meer
’n verskoning nie
en nou sit ek heeldag al dikbek en wonder
wat de hel van jou geword het

Ek kan nóg verse noem: “dié aand sal ons mekaar van kop tot tone fynkam”, “Oktober-blues”, “Sondag”, “Isebel”, “Afskeid”, “Broeikas”. En wat ’n heerlike ontdekking om met die herlees weer dié juweeltjie raak te lees in ’n vers waarin Stephan sy ouma se onskuldige dagboekinskrywings afwissel met sy eie, meer wêreldse kommentaar:

I had the nicest of boys whom I flirted
with – in fact my heart has been stolen
and although I can get it back, I won’t
take it because I love to slay.
Skaam jou!
dis natuurlik daardie wit rok
met die blou strikkie
wat van Mrs. Clarke af kom
wat jou so harteloos maak

(“Diary”, 46)


III

Met die herlees van Soldag – die eerste keer in seker dertig jaar – word dit vir my duidelik presies wát Stephan op persoonlike vlak vir my vorming as digter beteken het, maar ook in welke mate sy werk die landskap voorberei het vir verál gay digters wat later sou kom, onder meer myself & ook Joan Hambidge.

Sy verse, verre van onskuldig of inkennig soos so maklik aangeneem word, was eintlik nogal heel uitgesproke vir sy tyd. Hoewel hy nie die gay element voorop gestel het soos ons later sou doen nie, is dit oral aanwesig vir die ingeligte leser (“everywhere present but nowhere apparent”, om Flaubert aan te pas).

Hy het bv. nie teruggeskrik daarvoor om die Onse Vader te herdig in “’n Nuwe liedjie op ’n ou deuntjie”:

By jou is ek in die hemel
Jy laat my elke oomblik geheilig word
Jy laat my koninkryk kom
Want jy laat my wil geskied

Jy is my daaglikse brood
Jy vergeef my my skulde
Soos ek jou jou skulde vergewe

Jy lei my keer op keer in versoeking
Maar verlos my dan

By jou is die heerlikheid
Tot in die ewigheid

En jy min my salig lot

Of om “Requiem” af te sluit met:

Op ’n verlate Kerkplein
tussen die kannas
het ek Saartjie afgeskil
’n vlag oor haar gesig gegooi

En dit vir volk en vaderland gedoen

Of hy nou die spot dryf met die dubbelsinnighede van kru kroegpraatjies in “Dionysia in Wolmaransstad”, of die “kultuurmoffie” betrek in “Macbeth in Wes-Transvaal”, of “laasjaar se terloopse kieliekoekie” in “By die tweede asem van middeljarige skrywers”, dit was altyd getemper met sy bittersoet humor & sy satiriese aanslag. Hierdie meer “gewaagde elemente” lyk, vir ’n moderne oog gewoond aan véél meer, nou heel onskadelik.

Stephan het eweneens op ander maniere die weg berei: sy gebruik van motto’s uit die werk van Amerikaanse skrywers soos Gore Vidal & Anne Sexton by sy gedigte (nié die mode in 1973 nie), verwysings na figure soos Arthur Frommer & Paul Cadmus, of die skryf oor kultuurfigure soos Graham Greene - alles aspekte wat later in die werk van onder meer Joan Hambidge ’n belangrike & byna vanselfsprekende faset sou uitmaak.

As onversadigbare reisiger het hy deur sy reisverse ander kultuurswêrelde & verwysings deel van die poëtiese verwysingsraamwerk gemaak (iets waarin hy ’n nogmaals ‘n voorganger was vir Joan), & ook hierin is daar vir die oplettende leser kodes ingebed wat van ’n gay sensibiliteit getuig. Hierdie kodes gekoppel met taalspel & besoeke aan plekke soos België, Frankryk, Holland & later Ysland het aan sy verse ’n soort Eurosentriese sensibiliteit gegee.

Stephan het vir die eerste keer liefdesgedigte geskryf waarmee gay lesers kon identifiseer, & is daarin ’n belangrike pendant vir onder meer die heteroseksuele liefdesverse van Lina Spies & Antjie Krog.


IV

Die publikasie van PPD&K was ’n waterskeiding vir die Afrikaanse poësie, vir die gay poësie, & definitief vir my. As gay leser & skrywer was daar géén manier wat ek daardie omslagontwerp met die mooi blonde jongman wat sy private dele so toehou met ’n handdoek wat sinspeel op die gay vlag, & die suggestiewe titel kon misverstaan nie. Ek onthou dat ek gedink het hoe dapper dit was vir Stephan om sulke “openlike gay” verse te publiseer & vir H&R om dit uit te gee, & nogal met dáárdie omslag! Onthou, dit was ’n tyd toe homoseksualiteit nog onwettig was, & selfs die letterkunde nie baie ontvanklik vir dié soort ding nie.

Met die eerste ademlose lees daarvan het ek meteens besef dat dit die begin was van ’n nuwe era, dat niks ooit weer dieselfde sou wees nie, & ek het opeens geweet watter koers ek sou & wóú inslaan: ek wou ongetwyfeld verse skryf wat dieselfde waagmoedigheid aan die dag lê. Ek het nooit, of nie op daardie oomblilk, kon weet waarheen hierdie besluit my uiteindelik sou lei nie – & hoe vér ek van die ideaal sou afdwaal nie in my soektog na ’n eie stem & na persoonlike bevryding.

Stephan se bundel was ’n belangrike wegwyser vir die pad waarop ek my teen wil & dank wou begewe, & die grootste enkele invloed op die vorm wat my gay gedigte uiteindelik sou aanneem. Daar was vele ander leermeesters. Ek het élke Afrikaanse digbundel waarop ek my hande kon kry gelees. Mettertyd het die groep uitgedun geraak & óm die séance-tafel het uiteindelik net Sheila Cussons & Van Wyk Louw oorgebly. Maar vóór hulle het ek báie geleer by Opperman, Blum, Eybers, Spies, Krog, Johan van Wyk, fanie olivier, oneindig baie by Ina Rousseau.

Wanneer dit egter gekom het by die gay faset van my skryfwerk, by aspekte wat later kontroversieel sou word, was dit die Stephan van PPD&K wat my gewys het wat moontlik is. Later sou ek my verdiep in die letterkundes van Amerika & Brittanje op soek na voorgangers, op soek na ’n tradisie waarby ek kon aansluit & waarteen ek kon reageer.

Hoewel daar gay skrywers & uiters subtiele gay tekste in Afrikaans bestaan het in daardie tyd (verál in die prosa van Hennie Aucamp) was daar nie eintlik sprake van ’n gay tradisie nie, definitief nie wat die poësie aanbetref nie. Ek het besef dat dit was iets wat ek sélf sou moes help skep. PPD&K het egter altyd vir my die suiwer oomblik van selfherkenning gebly.

Selfs tóé nog het dit ’n tyd gevat voordat ek dapper genoeg sou wees om te skryf oor wat ek gevoel & ervaar het. Die druk van die poëtiese tradisie & die kanon was intimiderend, & daar was ook persoonlike & sosiale konsekwensies wat ek rekening mee moes hou wat betref familie, vriende & werk, met die gevolg dat Akwarelle van die dors nog heelparty verse oor meisies & vrouens bevat het. Wat die liefdesverse aanbetref, het ek die “tried & tested” tradisie gevolg van wegkruip agter ’n ongespesifiseerde “jy”.

Met Waterwoestyn het ek effens meer gewaag, maar o, hoe het ek gebránd om daardie “jy” by sy naam te noem, & sy private dele te beskryf, & basta met die apologetiese “vreemde liefde” & die “liefde sonder naam”! Ek wóú & móés dié liefde & die geliefde ondubbelsinnig & baldadig by die naam roep, alle vyeblare afruk & die manslyf besing & beskryf, na die lewe & ten voete uit.

Dit was my taak, my opdrag aan myself, & ek het besef dat dit nie maklik sou wees nie, dat ek familie, vriende & uiteindelik potensiële lesers sou vervreem, maar dit was 'n prys wat ek bereid was om te betaal. Ek was ’n penis met ’n pen, & ek sou seker maak dat die belewenis van ’n gay man in al sy geur & kleur op papier beland, dat geen faset daarvan & geen woord daavoor taboe sal wees nie. Dit was ’n wilde onderneming & sou beslis nie Stephan se goedkeuring weggedra het nie.

My kontak met Stephan was skraps, & hoewel hy ondeund & waagmoedig was, dink ek hy het nogal ferm idees gehad oor wát in goeie smaak was & wat nié. Maar die geleentheid om ’n terrein wat braak gelê het, ’n landskap wat geroep het na ’n pionier, te ontgin, óóp te skryf & vir myself toe te eien was onweerstaanbaar. Wat nie beteken dat ek nie ook my Getsémane-oomblikke gehad het nie. Ek het maar alte goed geweet dat wat ek op papier sit konsekwensies sou hê in die werklike lewe waarvan name calling die geringste was.

Dit wás after all ’n tyd waar paartjies lángs jou op die dansbaan gearresteer is omdat hulle gesoen of ge-close-dans het, & drag queens met hulle gebruiklike joie de vivre, hoë hakke & selfgemaakte tabberts sonder seremonie & al hekelend agter in vangwaens geboender is – die ware helde van die gay scene, soos John Rechy tereg opmerk in The Sexual outlaw.

In my ontginning van die tema was ek onapologeties & gedrewe. Ek het die intimiderende male gaze omgekeer & op máns gerig. Dit kon nie anders nie. Doen dit vóluit, of los dit. Ek hoor vandag nog besware van lesers dat van die gedigte sg. in die seksuele bly vassteek – wel, daar ís gedigte wat nét oor die seksuele gaan, waar die lyf nie simbool of metafoor word nie, waar daar nie die pretensie van literêre “diepte” is nie. Sommige seksuele ervarings kan transenderend wees, maar soms is dit gewoon net ’n lekker blow job in ’n park. Sometimes a cigar is just a cigar.

Die seksuele is ’n belangrike aspek van die blote lyf-wees van bestaan, ervarings waarvoor ek nie maskers nodig het nie, of wat ek nie in die trant van vorige generasies agter metafore wou verhul nie. Vir my was die metafoor eerder ’n manier om te ónthul, al het dit soms die kritiek die harnas ingejaag of besware van “direkte beelding” uitgelok. (Ek was & is nie ongevoelig vir kritiek nie, & glo dat mens uiteindelik meer leer uit negatiewe reaksies as uit lof. Gebruik wat nuttig is & ignoreer die res.)

Seks uit ’n manlike persektief ís anders, & uit ’n gay perspektief nog méér so, & dis hierdie ándersheid waarin begeerte vir my setel. Dit is presies in hoe dit verskil van die norm, in hoe die manlike liggaam ánders is as dié van ’n vrou wat vir my die locus van begeerte lê.

En dan is die lyf – man óf vrou – nie altyd ’n kliniese, geur- & smaaklose ding nie. Dit het reuke & kleure, dit het stemmings & buie, dit het hare & allerlei uitskeidings – & dit móét deel uitmaak van my gedig anders is ek nie getrou aan die ervaring nie.


V

Kritiek teen kruheid of ’n geobsedeerdheid met seks of met die lyf of met cruising het my eerlikwaar nog nooit ’n lor geskeel nie. Ek het my geloofsbriewe gehad & ek sou nie toestemming vra of goedkeuring soek nie. Skryf was self-ont-dekking & alles & almal was geoorloofde wild.

Daar is ’n tyd wanneer jy ryp is om sekere gedigte te skryf, & as jy nie daardie geleentheid aangryp nie, is dit vir altyd verby. Wat ek hiermee bedoel, is dit: die unieke perspektief & ervaring wat jy op enige gegewe oomblik besit, wanneer dít alles bymekaarkom & die kreatiewe vonk is daar, dan moet jy die geleentheid aangryp & skryf.

Ek sou 10 jaar kon wag & dán eers die seksueel eksplisiete gedigte wat in Nagsweet verskyn, geskryf het. Maar die gedigte sou ánders gelyk het. Hulle sou dalk selfs béter gewees het. Maar hulle sou ánders gewees het. Hulle sou nie langer my ervaring & perspektief op dáárdie ouderdom kon uitdruk nie. ’n Eenvoudiger vergelyking: as jy nie foto’s neem van jouself terwyl jy jonk is nie, maar wag tot jy ’n beter fotograaf is, sal jy geen foto’s van jouself hê as jongmens nie. En met die beste tegniek op aardse sal jy hulle ook nie agterna kan neem nie. Die oomblik is verby. Dis hoe dit vir my was met Nagsweet. Ek kon wag, maar ek wou juis daardie kwaliteite vasvang wat ek weet verlore sou gaan as ek wag.

Daar is parallelle tussen my lewe & my skryfwerk & dis nie toevallig nie. Dis frustrerend op ’n wonderlike manier, maar ek voel, 28 jaar later, dat ek nog steeds nie heeltemal daarin geslaag het om reg te laat geskied aan die skoonheid & krag van die manlike liggaam & sy kapasiteit vir genot nie. Ek vind dat ek nou anders daarna kyk, & dis ook goed want geluk kry eers betekenis wanneer dit in die konteks van verlies beleef word.


(c) Johann de Lange, 2010

Wednesday, May 5, 2010

In Memoriam: Ernst van Heerden (1916-1997)

Praatjie gehou voor die Cliftonse Leeskring




Met die dood van Ernst van Heerden, 20 minute oor 7 op Dinsdagoggend, 30 September, het daar 'n einde gekom aan die skeppende lewe van een van Afrikaans se bekendste & mees gerespekteerde digterstemme. 'n Skeppende loopbaan wat gestrek het oor ses dekades: sedert sy debuut in 1942 met Weerlose uur, het hy onder meer 17 digbundels, 2 reisbundels, 2 outobiografiese vertellings & 7 literêr-teoretiese tekste gepubliseer.

'n Ou spreekwoord lui: As 'n ou man sterf, is dit soos 'n biblioteek wat afbrand. Dit is 'n uitspraak wat veral op Ernst van Heerden van toepassing gemaak kan word.

Ernst van Heerden is op 20 Maart 1916 op die Oos-Kaapse dorp Pearston gebore, 'n wêreld & sy mense waarna hy dikwels in sy verse teruggekeer het. Beide sy B.- & M.-grade slaag hy met lof aan die Universiteit van Stellenbosch. Daarna studeer hy vir twee jaar aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam voordat hy as gevolg van die uitbreek van die oorlog vroeër na Suid-Afrika moet terugkeer.

In 1951 kon hy met 'n uitruilbeurs van die Belgiese regering sy doktorale studie aan die Rijksuniversiteit te Gent hervat. 'n Reisbeurs in 1959 stel hom in staat om aan verskillende Amerikaanse universiteite kursusse in die moderne letterkunde te volg, & dis ook tydens hierdie studiereis dat hy bekende Amerikaanse digters soos Randall Jarrell, Theodore Roethke, Richard Wilbur & e.e. cummings ontmoet. Vanaf 1960 tot & met sy aftrede in 1981 was hy verbonde aan die Departement Afrikaans & Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Hy ontvang in 1962 die Hertzogprys vir Die klop, & in 1975 die W.A. Hofmeyrprys vir Teenstrydige liedere. Amulet teen die vuur word in 1988 met beide die CNA- & die W.A. Hofmeyrprys bekroon, & in 1991 ontvang hy die Gustav Preller-prys vir sy literêr-wetenskaplike bydrae. Ernst van Heerden se gedigte is in onder meer Engels, Duits, Frans, Portugees & Italiaans vertaal, & in 1948 by die Kunsfees ten tyde van die Olimpiese spele in London word ses van sy Afrikaanse sportgedigte met 'n silwer medalje & ere-diploma bekroon. Hy was ook die ontvanger van vier eredoktorsgrade.

My eerste kennismaking met Ernst van Heerden was, soos dié van vele generasies voor & na my, deur sy digkuns. Sy gedigte “Die gewigopteller” & “Fusillade” het my as hoërskoolkind aangegryp. Hier was twee verse waarin die mens hom opgestel het teen twee onoorwinlike magte, swaartekrag & die dood, & nietemin, hoe tydelik dan ookal, triomfeer.

Dat ek hom later in my lewe sou ontmoet, & méér nog, as vriend sou kon reken, het ek nooit kon droom nie. Ek is dankbaar vir die geleentheid om te kon leer van sy menslikheid, sy vasberadenheid & sy positiewe lewensfilosofie; vir die kans om kontak te kon hê met een van die pioniers van die Afrikaanse poësie, een van die Titane van ons letterkunde. Sy passie vir die lewe & die letterkunde was tot maande voor sy dood steeds onblusbaar, & in kontras met die opvatting van die jonger generasie, was letterkunde & skryf vir hom 'n adelike bedryf, iets wat met erns & respek bedryf moes word.

Vir Ernst was die lyf reeds van die begin af nou verbonde met skryf, soos blyk uit die gedig “Vers” opgeneem in Die sewe vrese waarin die liggaam self helende gestalte gee aan 'n gedig:

Wat drup in blinde hart en nier,
gesyfer uit verborge klier:

geheime intog in die bloed
van vrees, begeerte wrang en soet

- die lus se hemel, walging hel,
in rooi, in wit kiem uitgetel; -

dit golf (brilglase vasgepaar)
langs dun doolhowe van die aar,

om traag-opstuwend uit te mond
by ruwe kerwe van die wond,

en oor die sny stol daar 'n wig:
met limf en roof 'n klein gedig.

Later sou hy besef dat skryf ook 'n vorm van geweld is, dat die digter ook moet sny aan die ervaring, dit moet onderwerp aan die “streng tug van die dink”:

Sal ek met streng tug van die dink
die snelle vreugdespel laat slink,
en deur die woord se dwinglandy
'n hele hart tot klein gedig vermink?

Hoe seer die poësie later in sy lewe fisiese & geestelike verminking sou moes heel, het hy straks nie geweet nie. Maar die siel is ouer & wyser, & party digters & sielkundiges glo dat die lewe die kuns naboots & nie andersom nie, & dat digters onbewustelik hulle lot vooruit weet. In die werk van Ingrid Jonker kan ons in retrospek tekens van haar dood aflees, so ook in die werk van die Engelse digter Sylvia Plath.

In sy omgang met vriende was dit sy fyn estetiese gees wat opgeval het, die genot wat skoonheid & die aardse hom gebring het, die versamel van mooi dinge, sy liefde vir kos & wyn, & die vertroosting wat hy uit vriendskappe geput het.

Dis veelal in die kuns dat hy troos gevind het:

Aan hierdie hart se tenger kelk
het U getik en fyn
uitdeinend sing die glas
sy melodie van pyn.

U lê 'n vinger op die rand
wat skrynend, weerloos tril,
en skielik word my hart
se fyne smartsang stil.

(Reisiger, “Musiek”)

Toe hy op 'n keer noem dat hy 'n ekstra tikmasjien soek om in sy studeerkamer te gebruik (die ander een was in die stoepkamer waar hy soms sit & skryf het), het ek hom my heel eerste tikmasjien gegee. Dié het hy laat diens, & nooit 'n geleentheid verby laat gaan om te sê hoe lekker hy daarop skryf nie. Hy was 'n lojale & bedagsame vriend.

Hy het ook groot plesier daaruit geput om my literêre kennis te toets of my met ’n verwysing te laat kopkrap. Ek sien hom nou nog in sy stoel sit, onderkant ’n pragtige stillewe van Wenning, & glunderend na my kyk & sê: “Johann, nou sê bietjie vir my uit watter gedig kom....?”

Sy kunsversameling was legendaries & hy het graag vertel oor sy kontak met die kunstenaars, waar & wanneer hy ’n betrokke kunswerk gekoop het. Daar was onder meer werke van Pierneef, Irma Stern, Maggie Laubser, Pieter Wenning, Jean Welz, te veel om op te noem. Dit was ’n wonderlike ervaring om hierdie werke tydsaam & van naderby te kon verken.

En dan was daar sy boeke. Hy is die enigste persoon wat ek geken het wat ’n volledige versameling gehad het van die Afrikaanse poësie! Menige daarvan onderteken & met inskripsies. En sy kennis van die Afrikaanse poësie was ensiklopedies. ’n Jaar of wat voor sy dood het hy vir my ’n kopie present gegee van die eerste druk van Sy kom met die sekelmaan. Hy het ook gesorg dat ek 'n volledige versameling van sy eie boeke het & dat hulle geteken is. Hy was een van daardie vriende wat, as mens gelukkig is om selfs net één op jou pad te kry, jou lewe verryk op soveel vlakke.

’n Ander herinnering wat my altyd sal bybly, was die kersete wat ek & Lucas Malan een jaar by hom deurgebring het. Maggie, sy huishulp, was ’n voorslag-kok & die lang eetkamertafel het gekreun onder die kos. Boerekos soos ek dit uit my kinderdae geken het: daar was drie groot vleisdisse, gebakte aartappels & nog meer bakke & skottels met heerlikhede. En agterna ’n skeutjie van sy 10-jaar-oud KWV brandewyn wat my ’n verskriklike hoofpyn gegee het. Ons het heerlik geëet & geklets, drie alleenlopers, & kort-kort, net as ek mooi vordering maak met my bord kos, sal hy vir Lucas sê, “Lucas, skep vir die kind nog in, wat eet hy vandag soos ’n vinkie!”

Op 'n dag kry ek 'n dikkerige koevert in die pos & skeur dit opgewonde oop: binne was 'n klompie foto’s van Ernst as student, as jongman, as gewigopteller. Wat my veral getref het, was die foto van hom as gewigopteller, met die twee massiewe bene effens uitmekaar geplant, die reguit blik waarmee hy teen die son in na die fotograaf kyk. Die “voortreflikheid en enkelvoudige strewe” van sport het vir hom sy sin vir die volmaakte, & later die poëtiese aangewakker. Vir hom het skryf ‘n plaasvervanger geword, 'n soort bevryding uit sy gestremde wêreld.

Want die verlies van eers sy linker-, & toe sy regterbeen vanweë 'n vaskulêre siekte in 1973-74, het verreikende gevolge vir sy lewe gehad. Ook vir sy poësie: met die publikasie van Tyd van verhuising in 1975 was dit duidelik dat daar 'n wending ingetree het: die verse het 'n persoonliker klank gehad, 'n meer gelouterde skoonheid. Die persoonlike tragedie het sonder twyfel sy poëtiese vermoëns gefokus, sodat hy in die laaste 8 bundels van sy beste & onvergeetlikste gedigte geskryf het. Deur sy ganse digkuns loop die besef van verganklikheid.

In die gedig “Boek” uit 'n vroeë bundel Reisiger (& met 'n toespeling op 'n vers van Yeats rondom dieselfde tema) voorsien hy reeds 'n tyd wanneer “al dié goue dae” slegs 'n herinnering sal wees, “dié vreugde net 'n ou vergeelde boek”, & dat die oopslaan van so 'n boek, die herroep van gelukkiger tye, die soeke na sin, ook 'n daad van selfontferming sal wees.

As al dié goue dae herinnering word,
dié vreugde net 'n ou vergeelde boek
wat ek al peinsend oopslaan om
'n glansende woord of sin te soek,

dan sal dit selfontfermend wees,
as skemer oor my mure daal,
om ál gereelder voor die vuurherd saans
die ou boek van die rak te haal.

Daarom dat die spreker in “Afskeid” kan sê: “Ek… weet slegs dat die aarde / kleiner en ryker met die jare word.” In die latere bundels sal hy as ingekluisde (voorheen “wanderlustige” reisiger) vir sy verse al hoe meer op herinnerings teer.

In sy vroeër bundels staan dikwels verse oor erotiese ontwaking of die meer makabere simbiose van begeerte & dood, soos die volgende twee verse getuig:

Seun in vyeboom

“Plesier my nou
en gaan pluk
die adamsvye,”
beveel Ouma
tussen rituele van seepkook,
bak-vir-die-basaar en biltong-sny;

en ek drentel
verveeld werf toe
en klouter dikbek
teen die knoestige takke op,
my mandjie leeg
en uitnodigend;

sien
die ryp, gebarste vrugte
druppeltaai
teen dofgroen blare nestel:
borsies,
dytjies,
spleetjies –
van nou die dag
se klein ontdekkingstog.

(Teenstrydige liedere, “Seun in vyeboom”)


Ontmoeting

Dié koue bors vannag soek vuur,
die vlees wat klop soek warm vlees;
bloed wil deur bloed sy las verduur,
saad wil in saad weer blomknop wees.

Die rowersnag is vasgevang
in klein sinjaal van sigaret –
die maan strak op 'n oog en wang
wat uitnooi na 'n solderbed.

Die maagdelike lyf is maer en wit,
tot bekkendrif en –draf gereed;
my walg en hunkering word pit –
ek slag die soetvleislam… en eet.

(Die klop, “Ontmoeting”)

Dit moet sekerlik staan as een van die skrynendste ironieë in ons digkuns dat die skrywer van die treffendste sportgedigte in Afrikaans (eintlik in enige taal), later sy lewe as gehalveerde mens moes slyt. In sy hande het dié soort gedig 'n miniatuur geword van die mens se stryd teen bomenslike magte, 'n fyn balans tussen weerloosheid & weerbaarheid.

Dit is in Teenstrydige liedere & Tyd van verhuising wat ons vir die eerste keer verse kry waarin Ernst op kreatiewe wyse die verlies van sy bene konfronteer:

Lêgemaak, binnegestoot, opgekatrol,
is ek
bo-vels en binnenshuids
gesteriliseer: asepties, kuis;
van kop tot toon so goed gesuiwer
met Dettol, jodium, purgasie,
mondgorrel en karbolseep –
be-X-straal, be-bloedtoets,
ge-lipogram, ge-arteriogram, ge-ander-gramme,
hokgeslaan, dronkgespuit,
onthaar, ontlas, ontwater en ontkos,
ver-skoon, ver-rein, ver-puur –
dat ek,
ontdaan van alle vuil,
retrogressief vloei
na 'n verre verlede,
terug na die moederlike waters,
na die wurmpie in sy sak –
en al die lyding,
voorbereiding,
wyding (ook toewyding),
alles net
vir die so vlotte,
saaklike, geoefende, doel-treffende
gebaar
van die snyershand
in sy kondoom-handskoen
met 'n stiletto-skerp
priemende mes
platter as 'n knipmes
kleiner as 'n eetmes
langer as 'n jagtermes
venyniger as 'n skeermes
oopklowender as 'n slagtersmes:
Anatomiese Les
se Mes.

Selfs die geliefde word in die gedig “Slaghuis” in slagtersterme beskryf:

Filet en harslag,
lende, niere,
prima kruisskyf,
soetvleis, boud:
hoe kry ek elke stuk
– deur mes en saag
en byl geskend –
weer ongeskonde
terug tot
die voormalige
wat jy, my liefling,
eenmaal was.

In Teenstrydige liedere staan dan ook van Ernst se aangrypendste & gewildste gedigte: “Aan die verhuisingsmanne”, “Algemeene handelaar”, “Vrae”, “Droom”. Ek lees “Vrae”:

Sal jy my nog liefhê,
noudat ek onvolkome is,
en die wuiwende liggaam
se fyn haaraartjies
en polsende arterieë
langsaam gestol het;

Sal jy my nog liefhê,
noudat ek verbrysel is
en ingekerker soos 'n dier
aan 'n magtelose ketting
wat net kan kerm
en ongeneeslike wonde lek;

Sal jy my nog liefhê,
noudat ek gevonnis is,
gedoem tot 'n eiland,
ontoereikend en verlate,
met die onagterhaalbaarheid
van leë horisonne;

Sal jy my nog liefhê,
noudat ek die donker man ken,
daagliks die bitter brood eet
en verskriklik weet:
die lewe is eensaam,
soos die dood.

Regdeur sy lewe het die liggaam na sy vroeëre staat van heelheid terugverlang, hetsy deur fantoombelewings, of drome of pyn. 'n Wonderwerk wat egter net in die poësie kon gebeur.

Droom

Helder herinnerde heerlikheid
van beurende
tone, knieë, dye
van destyds…

Dit was my droom vannag:
ek kyk by my verminkte dye langs,
en sienderoë
word 'n klein mirakel
onder my voltrek:
soos kruise
waaruit die wonderrose bloei,
spruit uit my stompies,
uit die afgekapte onderlyf,
gaaf en heel,
die bene roserooi.

Hy het in sy verse gestalte gegee aan die skoonheid van die liggaam & die suiwerheid van menslike aspirasies. Net 'n mens van uitsonderlike innerlike krag kon so 'n tragedie te bowe kom, & dan op so 'n manier dat mens in jou kontak met hom totaal van sy gestremdheid kon vergeet.

Ernst was iemand met wie ek my leesontdekkings kon deel. Een so 'n ‘ontdekking’ was die Amerikaanse digter Thom Gunn, vir wie ek tydens my besoek aan San Francisco in 1987 Engelse vertalings van Ernst se gedigte saamgeneem het. Gunn se gedigte oor sy sterwende & gestorwe vriende het Ernst diep geraak, in so 'n mate dat hy daarvan in sy laaste bundels gebruik het: Die titel “Come out into the cold” wat die slotreël is van Gunn se aangrypende gedig oor die dood van Christopher Isherwood, of die aanhaling uit “Memory unsettled” wat Ernst as motto voorin Die herfstelike lig gebruik het:

When near your death a friend
Asked you what he could do,
‘Remember me,’ you said.
We will remember you.

(Uit: The Man with Night Sweats, “Memory Unsettled”)

Die slotparagrawe van Die ligtende trein is terugskouend 'n goeie opsomming van Ernst se lewensfilosofie (ek haal aan):

Al sou ek in 'n “gewone” goeie fisieke toestand kon bly voortleef het, al sou ek my bene behou het, die lewe bepaal dat jy weerloser word met die toenemende jare. Jy word makliker fisiek én geestelik seergemaak, jou gelatenheidsdrumpel begin wankel, jou begrip van oorgang en betreklikheid word verskerp. Dít is die waarheid, 'n waarheid wat hom elke dag by jou aanmeld.

Nostalgie word 'n soort lewenspatroon waaruit jy poog om steeds die positiewe te haal. Jy wil gereeld iets besonders onderneem, iets wat vir jou betekenis inhou en die enkele dag sy voorraad vreugde gee – soos om na 'n simfonie van Mozart te luister, 'n vergete boek van die rak te haal, na een van Maggie Laubser se oeslandskappe te kyk, 'n dood-gewaande ou vriend op te bel.

Wat bly oor? Die liefde: g’n wonder dit staan éérste in die Bybel nie. Die Amerikaanse digter Theodore Roethke skryf êrens: “Love is not love until love’s vulnerable” – 'n insig wat 'n ondeurgrondelike wysheid bevat. Ek sal effens meer prosaïes wees en net herhaal wat soos 'n klein lewensrefrein in my geheue náklink: “Liefde is ons deernis vir mekaar”. Dis ook genoeg.”

Sy laaste twee bundels, Najaarswys & Die herfstelike lig, is beide sterk elegies, beide staan in die seisoen van afskeid. Daar was by Ernst 'n droefheid oor wat van ons land geword het, & oor sy greep op die lewe wat sienderoë begin glip het. Ten slotte, in sy “weerlose uur”, was hyself die gefusilleerde wat in sy laaste verse momente van vreugde opgeroep het, maar dan gesien in 'n herfstelike lig; wat die laaste maande & weke voor sy dood soos 'n veroordeelde daardie sekondes voor die skietbevel as 'n ewigheid ervaar het.

Maanreis

Miskien is dit ons weg na vrede
na 'n ander soort liefde
wat net in die verste blou
buitenste duisternis bestaan;

Miskien is daar êrens
tussen maankraters en droë geule
die aanskemering van 'n liefde
wat ons hier nie geken het
of kon ken nie;

Miskien is dáár ander woorde
vir jy, en ek, en ons twee,
en ek het jou nodig,
en jy is begin en einde vir my,
en ek het jou lief;

Miskien kan 'n bar en leë wêreld
dié soort liefde verdra,
en dit uitsê,
en dit wedersyds herhaal,
dit in die lugloosheid
na mekaar toe kaats,
en dit met die opgang van die aarde
in 'n nuwe straling vang.

Ek sluit af met 'n gedig wat ek begin skryf het voor Ernst se dood, maar eers maande na sy dood kon voltooi:

Ernst van Heerden (1916 - 1997)
voorlaaste besoek

Selfs net gaan
sit word
’n kragtoer:
om die bo-
lyf te hys
van rol-
na leun-
stoel,
te laat
sak, & weer
te lig
om die kussing
reg te skuif.

Ek kyk sy-
delings na
die ver-
kapte onder-
lyf rou
teen die growwe
tyk (geluk-
kig is daar-
die wond
ten minste
al geyk.)
Hy vou
’n sagte
trypkombers
oor gapende
broekspype,
die been-
stompies
& geslag.
Sy oë lag
na my op,
twee fel
regters
wat nog
so vriendelik
gesel.

Ek dink aan jou
dood, Ernst:
Gaan ons
jou eendag
drywend
in die swembad
kry, gewig-
loos in die dood
se greep?
Of dalk oop-
oog op jou
bed waar jy
vir oulaas
in verbeelde
spel
met bene
wyd-
geplant
jou swaarte-
punt
vir goed
verstel?

Verwysings

Ernst van Heerden. 1951. Die sewe vrese. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.
Ernst van Heerden. 1953/1977. Reisiger. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.
Ernst van Heerden. 1961. Die klop. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.
Ernst van Heerden. 1972. Teenstrydige liedere. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.
Ernst van Heerden. 1975. Tyd van verhuising. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.
Ernst van Heerden. 1988. Die ligtende trein. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.

Thom Gunn. 1992. The Man with Night Sweats. Faber & Faber.

***

Biografies & Bibliografies

Pryse en toekennings

1948: Silwermedalje by die Internasionale poësiekompetisie van die Olimpiese Spele vir Ses gedigte / Six poems
1949: SAUK Prys vir ’n gedig wat hy later publiseer as Die bevryding
1962: Hertzog Prys vir Die klop (1961)
1975: Hertzog Prys vir Teenstrydige liedere (1972)
1977: Diploma van die União Brasileira de Escritores van Manaus
1981: ’n Spesiale uitgawe van Standpunte, gewy aan Ernst van Heerden verskyn in Maart 1981.
1981: Hulsels van kristal (opstelle byeengebring deur A.J. Coetzee en gepubliseer ter herdenking van die digter se 65ste verjaarsdag)
1982: Doctor honoris causa: Universiteit van die Witwatersrand
1985: Doctor honoris causa: Rhodes Universiteit
1988: W.A. Hofmeyer Prys vir Amulet teen die vuur (1987)
1988: C.N.A. vir Amulet teen die vuur (1987)
1991: Gustav Preller Prys vir Literêre Kritiek
1991: Doctor honoris causa: Universiteit van die Oranje Vrystaat
1991: Verse vir Ernst, ’n geleentheidsbundel met gedigte in sy eer deur kollegas
1995: Doctor honoris causa: Universiteit van Stellenbosch

Poësie

1942: Weerlose uur
1946: Verklaarde nag
1951: Die sewe vrese
1952: Die bevryding (epiese gedig in drie dele)
1953/1977: Reisiger
1956: Koraal van die dood
1961: Die klop
1963: Op die mespunt (1982: nuwe uitgawe van hersiene gedigte, saamgestel deur A. P. Grové)
1966: Anderkant besit
1972: Teenstrydige liedere
1975: Tyd van verhuising
1976: Die ysterwoud (faksimilee-uitgawe ter herdenking van sy 60ste verjaarsdag, later opgeneem in Kanse op 'n wrak, 1982)
1981: Kleur van donkerte: Verse 1942-1956 (Versameling van eerste 6 bundels gepubliseer ter herdenking van sy 65ste verjaarsdag)
1985: Die swart skip
1986: The runner and the shadow (’n seleksie van verse vertaal deur Jean Branford et al)
1987: Amulet teen die vuur
1990: Kwadratuur van die sirkel
1993: Najaarswys
1996: Die herfstelike lig

Outobiografies

1966: Die aamborstige klok
1988: Die ligtende trein

Reisboeke

1961: Etikette op my koffer
1964: Wolk van die mooi weer

Literêre Kritiek

1963: Rekenskap
1963: N.P. van Wyk Louw
1969 : Die ander werklikheid
1977: Digterlike diagnose
1984: Huis van stemme




(c) Johann de Lange, 2010

Monday, May 3, 2010

Die oog wat dink

Kuns en beskouing in die digkuns van Sheila Cussons. ’n Voorlopige verkenning



Bloedende praktyk

This benefit of seeing... can come only if you pause a while, extricate yourself from the maddening mob of quick impressions ceaselessly battering our lives, and look thoughtfully at a quiet image... the viewer must be willing to pause, to look again, to meditate.
Dorothea Lange

The poetic act consists of suddenly seeing that an idea splits up into a number of equal motifs and of grouping them; they rhyme.
Stephane Mallarmé

The art of contemplation is hard. Gazing creatively at the world demands austerity, the ability to engage in uninterrupted, serious reflection; the reward will be... only the pleasure of knowledge and growth, of touching the universe at a deeper level.
Novalis


Verwikkelde lyn, die laaste bundel wat nog in Spanje voltooi is, bevat 'n hele aantal kunsteoretiese verse, ars poeticas, onder meer “Die blaar”, “Teesuiker”, “Daad en beskouing” & “Sonkol op 'n wingerdstam” (die “verwikkelde lyn” kan natuurlik ook verwys na Cussons se hantering van die digterlike versreël). In hierdie artikel wil ek in meer detail kyk na “Die blaar” & hoe dit aansluit by Cussons se poëtiese praktyk (sien "Sheila Cussons: Fabrieksgeheime").

Haar beskouing van die skryfproses word onder meer gevoed deur haar belangstelling in die visuele kuns, & by haar is die visuele dan ook die primêre sintuig. Sy is van meet af aan & by uitstek digter van die fel belewenis, die intens-deurvoelde, -deurdagte emosie. Sélf praat sy van:

die sagte vyf sluitspiere wat sintuie is
laat die buite net bietjies binne
keer dat ek nie ken soos ’n engel ken nie
my staat te delikaat om meer te kan duld
as sypelweet”

(“Die druif: Membraan)

En elders:

Van die vyf sintuie
is die oë die baas
en daarom sal hy bly
omdat ek gesien het

(“Die pruim”, Die heilige modder)

In 'n vers soos “'n Sny brood” is daar die besef dat ons die wêreld deur die sintuie verken & verstaan. Maar eers wanneer die kunstenaar die regte woord vind vir wat andersins “legio en subtiel” is, eers dán

maak elke
duister en tergende en verwikkelde
ding meteens verbasend sin.

(Die sagte sprong, 53)

Wat nie beteken dat die brein, die intellek, nie ook weldeeglik in die spel kom nie. Sy skryf wat getipeer kan word as beeld-gedig waar hart & brein in waaghalsige ewewig verkeer:

Ek het nog altyd my woorde vertrou,
hulle laat begaan
agter hulle eie instink aan –
behalwe dat ek altyd meedoen,
gewiekte angs in vervoering,
valk in valkenier –
tót ek dit in my besit het:
die ontskuilde, begeerde, bonsende sin.

(“Jag”, Die heilige modder, 45)

Reeds in “Stillewe” skryf sy boeiend oor die relasie tussen teken & skryf, uiteindelik ook tussen kuns & beskouing:

Vierkant, wat ons altyd gou teken
óm die ontwykende en om die sfeer
te beredeneer, toon kleure en volumes
in verhouding tot mekaar, komposisie
op 'n vlak wat gaan lyk na 'n ruimte.
En woorde staan op 'n vlak
wat 'n ruimte gaan word en nie gaan stil
leef nie maar kwellend.

(Die swart kombuis, 59)

Terwyl “Die wond wat dink” in die teenstelling tussen Adam & Aquinas, (“Adam het God gesien maar Aquinas / het Hom bepeins” – kursivering van my) 'n verdere variasie op die tema bring:

...Adam was ongerep maar Aquinas
van die skitterende wond, 'n heilige.

(“Die wond wat dink”; Die skitterende wond, 28)

Waar Eybers se bekende dictum, “eers teorie, / dan bloedende praktyk” (1), kousaliteit veronderstel, is daar by Cussons eerder 'n element van misterie in die spel, van 'n aandagtige wag, van woorde wat beweeg "een ontvangende grenslose Aandag in" (“Los”, Verwikkelde lyn, 29). Haar beste verse sal met groot vrug vergelyk kan word met dié van Gerard Manley Hopkins, 'n digter met wie sy 'n geestelike & intellektuele verwantskap gevoel het. Sy invloed kan verál in haar lang, uitgebreide, komplekse sintaksis afgelees word.

In “Die blaar” word “kuns en beskouing” as een & dieselfde aktiwiteit beskou: of dit Kirilof se kontemplasie van 'n enkele blaar is, of Monet wat obsessief “dieselfde mure, dieselfde hooimied / ... deur/duisende verskuiwings van lig en seisoene” deurvors, albei poog om deur 'n gerigter waarneming “die virginale essens” te probeer peil van dit waarna daar gekyk word, met altyd die gewaarwording dat daardie essensie, daardie éérste kyk na iets wat oorbekend is (daarom “virginale essens”) immer “lob binne lob binne lob/die verkenning bly ontwyk”.

Kuns en beskouing is êrens één aktiwiteit.
Kirilof het hom aan sy blaar:
“ek praat van ’n blaar, ’n groen blaar, effens bruin
aan die randjies”, skoon uit die tyd uit verkyk;
Stawrogin het gedink hy is gek –
Monet het dieselfde mure, dieselfde hooimied,
altyd die sogenaamde dieselfde, deur
duisende verskuiwings van lig en seisoene met alles
in sy vorsende vermoë deursoek op soek na die kern,
die virginale essens wat lob binne lob binne lob
die verkenning bly ontwyk –
Vlugtige aandag glíp, verwylende aandag wórd;
die een bly kliphuids heel, die ander brokkel, week,
syg weg, en stoot ’n oerwoud oë uit eie kompos op.
Niks is geskep en klaar, maar verbrei oneindig
genuanseerd die eie aard om eie aard; daar is geen
grens aan ’n blaar effens bruin om die randjies;
nóg blaar nóg bruin is ooit finaal –
Lob binne lob binne lob: die verste ruim is die ui nog nie:
die woord, die sin begin in die wegsterf van die vokaal.

Die WAT (2) gee vir “beskouing” die volgende tersaaklike verklarings: oorweging & beoordeling; bespiegeling; opvatting, mening; &, godsdienstige oorpeinsing (in mistieke sin), kontemplasie.

Wat Cussons in die openingsin van die gedig wil suggereer, is dat kuns & beskouing (teorie & praktyk?) in sekere omstandighede (want “êrens” veronderstel & tyd & ruimte) een aktiwiteit kan wees. Die vereistes vir hierdie magiese toestand behels ‘'n spesifieke manier van kyk, 'n “binnesien” (“Sonkol op 'n wingerdstam”, Verwikkelde lyn, 24), 'n “sibille-blik” wat “oralsien” (“Meridiaan”, Plektrum, 19), “die implosiewe blik / betyds vang en verlos in ‘n gerigter kyk” (“Die etser”, Plektrum, 25), 'n “heldersien” (“jackson pollock”, Plektrum, 31), dat die oog as’t ware “luik-geslote ateljee” word (“En verder”, Verf en vlam, 19). In “Die blaar” beskryf sy dit as 'n “verwylende aandag” (3). Hierdie gedagte van “skerp sien” (“Die dooie bome”, Die somerjood, 23) is een wat telkens in haar uitsprake rondom skryf na vore kom. Maar by Cussons is dit geen maklike vereenselwiging mét nie, maar 'n uitvloeisel van kreatief lééf & van God sóék in alles waarna jy kyk, in 'n “roes van / dwarrelende woorde een ontvangende grenslose Aandag in” (“Los”, Verwikkelde lyn, 29).

Kuns en beskouing

Dostojefski is op 11 November 1821 in Moskou gebore in die Hospitaal vir Armes waar sy pa ook 'n militêre dokter was. Op dié manier het die jong Dostojefski op vroeë ouderdom reeds kennis gemaak met die donker kant van die menslike belewenis, met die effek van armoede, lyding, siekte, dood op die menslike psige. Dostojefski het nietemin 'n streng religieuse opvoeding gehad. Die dood van sy pa het Dostojefski diep geraak & ontnugterd gelaat met die veranderinge wat in Rusland aan die gebeur was.

“In April 1849 he was arrested in the early hours of the morning, ostensibly for a public reading of a seditious letter written by Belinsky to his erstwhile idol Gogol, though there is evidence that Dostoevsky was involved in a more serious conspiracy involving a printing press. After interrogation he was sentenced, along with other members of the Petrashevsky circle, to death by firing squad.” (4)

'n Eenvoudige teregstelling sou dit nie wees nie, daarvoor het die destydse Tsar gesorg:

He was placed in solitary confinement in the Petropavlovsky Fortress for eight months. During this time, Tsar Nikolai I changed the sentence, but ordered that this change only be announced at the last minute. On December 22, Dostoevsky and his fellow prisoners were led through all the initial steps of execution, and several of them were already tied to posts awaiting their deaths when the reprieve was sounded...

Dostoevsky's harrowing near-execution, and his terrible years of imprisonment, made an indelible impression on him, converting him to a lifelong intense spirituality and embracing of his Russian Orthodox values. These beliefs formed the basis for his great novels which were to follow (5).

Sy tien jaar in Siberië het Dostoefski van sy rewolusionêre romantiek genees & 'n soberheid & dissipline gebring waarby sy latere skryfwerk veel gebaat het.

Een van Dostoefski se donkerste werke, The devils, het in 1872 verskyn. Kirilof en Stawrogin is twee karakters in hierdie roman (Kirilof ironies genoeg 'n ateïs):

Kirillov believes that life consists of pain and suffering. He further believes that God does not exist and, therefore, anything is possible. Consequently, without the existence of God, Kirillov suggests that suicide is the ultimate expression of man transcending into a greater form, i.e. a godlike existence. He believes happiness has no bearing on one's surroundings, but rather is a state of mind. According to Kirillov, if one believes in happiness; he will be happy and there will be nothing to deny his happiness. Kirillov's understanding of God or the lack thereof allows him to be one of Dostoevsky's most powerful characters. (6)

In “Tragic rites in Dostoevsky’s The Possessed” skryf Joyce Carol Oates:

By temperament he [Kirilov] is not an unhappy man. He tells Stavrogin and Shatov that he is, in fact, very happy, as a consequence of experiencing certain ‘eternal moments’ that obliterate all disharmony. Like Prince Myshkin (and Dostoyevsky himself), Kirilov is subject to ineffable ‘mystical’ visions of the sort that sometimes precede an epileptic fit, though not necessarily; these visions have the power to reorganize the personality and to cleanse perception in such a way that the individual's ego is destroyed.” (7)

Kirilof sélf verduidelik dit as volg:

There are seconds—they come five or six at a time—when you suddenly feel the presence of eternal harmony in all its perfection. It's not of this earth, I don't mean by that that it's something heavenly but only that man, as he is constituted on earth, can't endure it. He must be either physically transformed or die. It is a clear, unmistakable sensation. It is as though you were suddenly in contact with the whole of nature, and you say, "Yes, this is the truth." When God was creating the world, He said, after each day's creation, "Yes, this is the truth, it's Good." It's not elation, really, it's simply joy.... If it lasted for more than five seconds, the soul wouldn't be able to stand it; it would have to disappear. [1962, 609] (8)

Die déúrskou van die blaar word vir Kirilof 'n mistieke ervaring, & daarmee saam ontstaan die besef dat hy gelukkig (9) is:

“Have you seen a leaf, a leaf from a tree?”
“Yes.”
“I saw a yellow one lately, a little green. It was decayed at the edges. It was blown by the wind. When I was ten years old I used to shut my eyes in the winter on purpose and fancy a green leaf, bright, with veins on it, and the sun shining. I used to open my eyes and not believe them, because it was very nice, and I used to shut them again.”
“What's that? An allegory?”
“N-no… why? I'm not speaking of an allegory, but of a leaf, only a leaf. The leaf is good. Everything's good.”
“Everything?”
“Everything. Man is unhappy because he doesn't know he's happy. It's only that. That's all, that's all! If anyone finds out he'll become happy at once, that minute. (10)

In sy mistieke vereenselwiging met die blaar was dit vir Kirilof of die tyd stilgestaan het, hy het hom “skoon uit die tyd uit verkyk”. Elders in die roman kom die stilstand van tyd & die gewaarwording van geluk weer ter sprake:

“When did you find out you were so happy?”
“Last week, on Tuesday, no, Wednesday, for it was Wednesday by that time, in the night.”
“By what reasoning?”
“I don't remember; I was walking about the room; never mind. I stopped my clock. It was thirty-seven minutes past two.”
“As an emblem of the fact that there will be no more time!” (11)

Kirilof beskryf die blaar as “a little green. It was decayed at the edges”, & 'n paar reëls verder sê hy dit was “a green leaf, bright, with veins on it”. By Cussons word dit:

... 'n blaar, 'n groen blaar, effens bruin
aan die randjies

En 'n paar reëls verder weer:

'n blaar effens bruin om die randjies

Binne Cussons se oeuvre staan die kleur bruin in die teken van aardsheid. In haar bespreking gebruik Joyce Carol Oates Andrew R. MacAndrew se Engelse vertaling, & hy vertaal dit as “yellow, with some green in it and a bit wilted at the edges” (kursivering van my) terwyl Constance Garnett (12) dit vertaal as “decayed at the edges” (kursivering van my) – 'n vertaling wat nader aan Cussons se beskrywing lê.

Vir Cussons is Kirilof se kontemplasie van die blaar & Monet se skilderwerk dieselfde aktiwiteit, 'n aktiwiteit wat sy beskryf as 'n “verwylende aandag” wat uiteindelik “'n oerwoud oë uit eie kompos” opstoot. Vir beide se soeke na die “virginale essens” is die uiteindelike besef dieselfde:

Niks is geskep en klaar, maar verbrei oneindig
genuanseerd die eie aard om eie aard; daar is geen
grens aan 'n blaar effens bruin om die randjies;
nóg blaar nóg bruin is ooit finaal –
Lob binne lob binne lob: die verste ruim is die ui nog nie:
die woord, die sin begin in die wegsterf van die vokaal.

Monet se verkenning van dieselfde gegewens deur “duisende verskuiwings van lig & seisoene” word vergelyk met die wegdop van lob na lob net om te besef “die verste ruim is die ui nog nie”; Kirilof se kontemplasie van die blaar lei uiteindelik tot die besef “nóg blaar nóg bruin is ooit finaal”. Ook vir die digter bly die skeppende aktiwiteit onvermydelik 'n verkenning van dit wat “verkenning bly ontwyk”, & ontstaan die gedig sélf eers in die “wegsterf van die vokaal”.

Die Franse Impressionis Claude Monet is gebore in Parys in 1840. Die impressionisme is 'n skilderstyl waardeur die skilder met klein kwasvegies weerkaatste lig & sy onmiddellike ‘indruk’ (impressie) van die toneel (gewoonlik ‘n buitelugtoneel) probeer weergee. Klem word gelê op kuns om die kuns self (“art for art’s sake”), & op die genot wat kuns aan beide skepper & kyker gee.

Die skilder Eugene Boudin moedig die jong Monet aan om saam met hom in die buitelug te skets & skilder, & so ontwikkel Monet dan vroeg reeds 'n fassinering met natuurlike ligeffekte, atmosfeer & kleur. Van nóg 'n mentor, die Hollandse skilder Jongkind, sê Monet: “he was from this moment my true Master, and it is to him that I owe the final education of my eye”.

Monet het graag sy skilderwerk in 'n boot gedoen terwyl hy op die Seine gevaar het. Hy is veral bekend vir sy waterlelies, die effek van lig & water.

Daar word vertel dat Monet se tuinier elke oggend vroeg met sy boot op die dam naby Monet se huis sorgvuldig die roet van verbygaande treine van individuele waterlelies afgevee, sodat die hulle in perfekte toestand is wanneer die ou meester later op sý boot uitgaan om te skilder.

The intense research of the Impressionists on light and color effects made them discover new pictorial processes where the juxtaposition on the canvas of brushstrokes of pure color will result in a "optical mixture" only in the eye of the spectator.

Working directly from nature, Monet and the other Impressionists discovered that even the darkest shadows and the gloomiest days contain an infinite variety of colors. The consequence of this can be seen in the chromatic vibrancy of Monet's canvases.

Although Impressionism is essentially an illusionistic style, the illusion comes from what the artist sees rather than, as it was the case before, from what he intellectually knows. Monet eyes perceive nature as a pattern of nameless color patches without any prevailing conceptual knowledge. (13)

Grainstacks at The End Of Summer - Morning Effect

Tussen 1890 en 1891 skilder hy 'n reeks hooimiedens waarin die hooimiedens essensieel dieselfde bly (“dieselfde hooimied), maar die spel van lig & kleur gewissel word namate hy dit in wisselende weersomstandighede geskilder het. Op dié manier word dúúr ook gesuggereer, die verloop van tyd. Dieselfde is waar van sy studies van die Rouen katedraal tussen 1892 & 1894. Vanuit 'n kamertjie bo ‘n winkel het hy die fassade van die katedraal geskilder (“dieselfde mure”) “deur duisende verskuiwings van lig & seisoene”.

Grainstacks in The Sunlight - Morning Effect

Light is always the ‘principal character’ in Monet's landscapes, and because his purpose was always to seize a changing effect, he adopted the practice to paint the same subject under different conditions of light, at various hours of the day.

He started to paint the series of the haystacks which he continued over two years. Monet painted them in sunny or gray weather, in the fog or glazes of snow: ‘Haystacks, effects of snows, morning’ (1890), ‘Haystack, end of the summer, morning’ (1891), ‘Haystack to laying down sun close to Giverny’ (1891).

The famous series of Monet devoted to the Cathedral of Rouen under various lights was carried out from the window of the 2nd floor of a shop opposite the cathedral. He made 18 frontal views.

Changing canvas according to the light, Monet followed the hours of the day, from the early morning, with the frontage in ombré blue of fog, to the afternoon, when the sun, disappearing behind the city constructions, transformed the stone work eroded by time into a strange factory of orange and blue: ‘Rouen Cathedral, the gate and the Saint-Romain tower at dawn’ (1893-1894), ‘Rouen Cathedral, the portal and the Saint-Romain tower, full sunlight’ (1894), ‘The Cathedral of Rouen’ (1893-1894), ‘The Cathedral of Rouen in the twilight’ (1894), ‘The Cathedral of Rouen in the evening’ (1894)... (14)

Monet was meer geïnteresseerd daarin om te skilder wat hy sién, eerder as dit wat hy wéét met sy intellek. Dit was nie soseer die hooimiedens of die katedraal sélf wat Monet geboei het nie, as die subtiele verskuiwings van lig & skaduwee, van seisoene, weersomstandighede: “the building invited and challenged his ability was in the fretting of the surface as it caught the light and the profound effects of shadow in the deep recesses. The heavy grain of his thick paint gave its own animation to the façade.” (15)

Working directly from nature, he and the other Impressionists discovered that even the darkest shadows and the gloomiest days contain an infinite variety of colors. (16)

Paul Cézanne het van Monet gesê: “Monet is the most prodigious eye since there have been painters.” (17)

Rouen Cathedral - Portal In The Sun

Kirilof se mistieke vereenselwiging & Monet se obsessiewe herhaling kan ook in Cussons se “Die blaar” op verskillende vlakke teruggevind word, in die herhaling van klanke, woorde, beelde, frases, & sinskonstruksies.

Verál belangrik op klank-vlak is die herhaling van byvoorbeeld die b-klank & v-klank. Die b-klank (b-, br-, bl-), k-klank en sk-klank word veelal verbind met die aktiwiteit van “beskouing”: kuns, beskouing, aktiwiteit, Kirilof, randjies (x2), ek, skoon, verkyk, gedink, gek, verskuiwings, deursoek, soek, kern, verkenning, ontwyk, kliphuids, brokkel, week, kompos, niks, (18) geskep, klaar, vokaal, blaar (x4), bruin (x3), lob (x6), binne (x4), bly (x2), brokkel, verbrei, begin.

Monet se obsessiewe verkenning van lig & kleur word verbind met d- s- en v-klanke:

Monet het dieselfde mure, dieselfde hooimied,
altyd die sogenaamde dieselfde, deur
duisende verskuiwings van lig en seisoene met alles
in sy vorsende vermoë deursoek op soek na die kern,
die virginale essens wat lob binne lob binne lob
die verkenning bly ontwyk –

Die v-klank word egter verder deurgetrek: vlugtige, verwylende, verbrei, finaal, verste, vokaal. Wanneer Cussons kom by die twee soorte aandag, word “verwylende aandag” & die resultaat daarvan met w-klanke verbind: aktiwiteit, verskuiwings, ontwyk, verwylende, wórd, week, weg, oerwoud, woord, wegsterf.

Daar kan ook met vrug na die afwisseling van lang & kort vokale, die afspeel van ui-klanke teenoor ei-klanke (bruin, uit, duisende verskuiwings, kliphuids, ruim, ui / aktiwiteit, seisoene, eie, verbrei, oneindig), & nog vele meer, wat die vers tot digte eenheid verbind. Maar ek wil vervolgens kyk na ander vorme van herhaling.

1. Die herhaling van woorde: lob (x6), binne (x4), bly (x2), blaar (x4), bruin (x3), binne (x4), randjies (x2), aandag (x2), dieselfde (x3), eie (x2) & aard (x2);

2. die herhaling van frases: “lob binne lob binne lob” (x2), “'n blaar” (x2), “effens bruin aan die randjies” / “effens bruin om die randjies”, “eie aard” (x2);

3. die herhaling van sinskonstruksies of parallelismes: “Kirilof het hom” / “Monet het dieselfde” / “Stawrogin het gedink”, “aan die randjies” / “om die randjies”, “dieselfde mure” / “dieselfde hooimied”, “vlugtige aandag glip” / “verwylende aandag word”, “bly kliphuis heel”/ “brokkel week”, “nóg blaar nóg bruin”).

Herhaling vir die digter, soos vir Monet, het te doen met presisering, met 'n nader omskrywing, 'n strewe na finale segging. 'n Verdere faset hiervan is die gebruik van woorde met meer as een betekenis (lob, aard, klaar), die gebruik van herhaling met variasie, & die gebruik van teenstellings (vlugtig / verwylend, heel / brokkel, begin / wegsterf) waarby ek later sal uitkom.

Herhaling neem ook die gestalte aan van 'n voortdurende terugkeer na & verkenning van “die sogenaamde dieselfde” temas – sogenaamd, want nes Monet is dit telkens met subtiele klemverskuiwings, altyd 'n indringender “gerigter kyk”. By Cussons is daar van haar debuut met Plektrum 'n indringende, volgehoue besinning oor die skeppende aktiwiteit. (19)

Rouen Cathedral, Sunlight Effect

Binne bundelverband, byvoorbeeld, neem herhaling by Cussons in Die swart kombuis die vorm aan van woorde & motiewe: ou vrou, gans, werf, eiers, koek, melk; daar is die herhaling van kringe & sirkels, borde, skottels; van volkse mitologie & sprokies (sien byvoorbeeld “Die werf” waar sy die sprokiesmotiewe van Grimm & Anderson betrek, of die mitologie in “Tant Emily van Oom Naas”).

'n Vers soos ‘Bio-Christus’ suggereer dat vir die mens herhaling skering & inslag vorm van sy bestaan, & vir die kunstenaar die kern van sy aktiwiteit:

Herhaling is een
van die opvallendste kenmerke
van die biosfeer
ons beperkte woordeskat sal tot
aan die einde van die tyd
– tensy iets anders woorde vervang –
met telkens wisselende groeperinge
van dieselfde klanke
ons gewaarwordinge omtrent ons
omgewing steeds verrassend formuleer

(Die sagte sprong, 19)

Herhaling word vir die kunstenaar 'n poging tot al dieper vereenselwiging, tot nader presisering van wat waargeneem of beleef word. Dit lees ons al in Kirilof se beskrywing van die blaar: eers net “'n blaar”, dan meer akkuraat “'n groen blaar”, opgevolg deur 'n verdere presisering: “effens bruin aan die randjies”. By Monet word dit “dieselfde mure, dieselfde hooimied / altyd die sogenaamde dieselfde” in sy poging om met “alles / in sy vorsende vermoë” (wat impliseer die kombinasie van oog & intellek) die katedraal of die hooimiedens deur “duisende verskuiwings van lig en seisoene” weer te gee. By al drie figure is daar die begeerte om waarna hulle kyk asof vir die eerste keer, as’t ware met “virginale” oog, te sien, te verken deur “lob binne lob binne lob” – “lob” verwys hier nie net na die afskil van lae soos later opgevang deur die ui-beeld nie, maar ook na die lobbe van die brein, op die al dieper peiling ván & mét die intellek (20).

Die gebruik van teenstellings is 'n primêre digterlike procede by Cussons & in “Die blaar” vorm dit nogmaals skering & inslag van die gedig, beginnende by die openingsreël “Kuns en beskouing is êrens één aktiwiteit”.

In die eerste 5 reëls word Kirilof & Stawrogin teenoor mekaar gestel: Kirilof met sy mistieke déúrskouing van 'n eenvoudige blaar teenoor Stawrogin wat dink “hy is gek”. Gek is hy wel, maar dan in die sin van begeesterd wees, as resultaat van die feit dat hy hom aan 'n blaar “verkyk” (21) het, & dan ook “uit die tyd” uit, in 'n ander dimensie in waar tyd stilstaan.

Kirilof se blaar & Monet se skilderye verteenwoordig beide die “één aktiwiteit” waarvan daar in die openingsreël sprake is, maar staan ook teenoor mekaar in die relasie van natuurlike objek (beskouing/blaar) teenoor artefak (kuns/skildery).

Van groot belang vir Cussons is die manier van kyk, die “gerigter kyk” waarvan sy praat in “Die etser” (Plektrum, 25), die “ontvangende grenslose Aandag” waarna sy verwys in “Los” (Verwikkelde lyn, 29).

In “Die blaar” onderskei sy tussen twee soorte aandag: “vlugtige aandag” & “verwylende aandag”. Die een glip, “bly kliphuids heel”, die ander “brokkel, week, / syg weg, en stoot 'n oerwoud oë uit eie kompos op” – die enkele blaar het nou 'n “oerwoud” geword, & die stip kyk van die kunstenaar het 'n verhewigde sién geword met 'n veelheid van oë, 'n “oerwoud oë”. Die “vlugtige aandag” waarvan sy praat, is wat sy in een van haar briewe noem “vlugtige vereenselwiging”. (22)

Vir die digter, soos vir die skilder, is niks ooit “geskep en klaar” nie. Wat beide aandryf is juis dit wat “die verkenning bly ontwyk”. Kunswerk, sowel as beskouing, “verbrei oneindig / genuanseerd die eie aard om eie aard”: daar is altyd nog fýner kyk moontlik (“daar is geen / grens”); wáárna gekyk word, wát verken word, openbaar voortdurend nuwe nuanses, nuwe betekenisse, nuwe skakeringe: “nóg blaar nóg bruin is ooit finaal”. Weer herhaal die digter “lob binne lob binne lob”, wat 'n dieper delf, 'n “ín-toe duikel” (“Meridiaan”, Plektrum, 19) na die kern impliseer (“lob binne lob binne lob), maar nou word dit nie net die lobbe van die brein, die intellek nie, sy vergelyk dit nou ook met die afdop van 'n ui: die kunstenaar, die mens wat die skepping beskou & God daarin soek, of dan transmigrasie, sal nooit by 'n finale laag/lob uitkom nie: “die verste ruim is die ui nog nie”.

Maar hier keer sy die ui-beeld óm & beweeg van binne búitentoe, van iets klein, soos 'n blaar (of selfs die vokaal/klank “ui” opgeneem in “ruim”), na “die verste ruim”. Paradoksaal word die afskil van die ui, lob vir lob na die kern toe, tegelykertyd 'n uitkring na die “verste ruim”. Vir die digter kan “die woord, die sin” eweneens nooit finaal wees nie, want betekenis begin eers in die “wegsterf van die vokaal”, van die oop, durende, sigself verbreiende klank.

***

But you shall taste the true solitude of My anguish and My poverty and I shall lead you into the high places of My joy and you shall die in Me and find all things in My mercy which has created you for this end, and brought you from Prades to Bermuda to St. Antonin to Oakham to London to Cambridge to Rome to New York to Columbia to Corpus Christi and St Bonaventure to the Cistercian abbey of the poor men who labor in Gethsemani: that you may become the brother of God and learn to know the Christ of the burnt men.
Sit finis libri, non finis quaerendi. (23)
Thomas Merton


Voetnotas

1. Eybers, Elisabeth. 1990. Versamelde gedigte. Human & Rousseau ▪ Tafelberg, p. 337.

2. Snijman, F. J. (e.a.). 1976. WAT. Sesde deel. Die Staatsdrukker, Pretoria.

3. Reeds in “Die sagte sprong” (Die sagte sprong, 60) skryf sy van die “sagte sprong”, die gedagte, die insig wat uit so 'n beskouing voortkom & waarvan “die aandag nog lank daarna / die indruk behou”.

4. The Literary Encyclopedia, 05 August 2003. “Dostoevsky, Fyodor Mikhailovich (1821 - 1881)”. Beskikbaar by: ttp://www.litencyc.com/php/speople.php?rec=true&UID=1292

5. GradeSaver Inc, 1999-2003. “ClassicNotes Fyodor Dostoevsky”. Beskikbaar by:

6. Lindsay Reishman and Sandeep Oberoi, 05/02/2000. “Notes on Shatov & Kirilov”. Beskikbaar by:

7. Joyce Carol Oates. “Tragic rites in Dostoevsky’s The Possessed”. Beskikbaar by:

8. Dostoyevsky, Fyodor. 1962. The Possessed, trans. Andrew R. MacAndrew. New York, Signet edition.

9. Oates skryf: “So Kirilov in his mystical state not only knows himself happy, but believes that everyone is happy—man is unhappy, in fact, because he doesn't realize he is happy.”
Hierdie gedeelte het straks as inspirasie gedien vir Cussons se bekende “Henri Rousseau” waar die aanskoue van 'n pou meteens die spreker bewus maak van sy geluk, óf die gewaarwording van 'n gelukstaat by die spreker manifesteer in die metafoor van die pou, as “'n blou en koper floute”.
Dieselfde gedagte verwoord sy in “Besoeking” waarin sy die eweneens ‘n plotselinge gewaarwording van geluk beskryf:

Daar het so pas ‘n engel
deur my kop gegaan
terwyl ek op my rug gedink-lê het:
‘n straal versekering: ek is nie vergeet nie.

(Die heilige modder, 51)

10. Dostoyevsky, Fyodor. The Possessed. 2003. Beskikbaar by:

11. Ibid.

12. “Constance Garnett née Black born Dec. 19, 1861, Brighton, East Sussex, Eng. died Dec. 17, 1946, Edenbridge, Kent. English translator who made the great works of Russian literature available to English and American readers in the first half of the 20th century. The first to render Dostoyevsky and Chekhov into English, she also translated the complete works of Turgenev and Gogol and major works of Tolstoy.” [Encyclopædia Britannica, Inc., 2005. “Garnett, Constance (Clara)” [http://www.britannica.com/eb/article?tocId=9036099]

13. Gerondeau, Marc. “Claude Monet (1840 – 1926)”. Beskikbaar by:

14. Ibid.

15. Pioch, Nicolas. 19 Sep 2002,. “WebMuseum Monet, Claude Rouen Cathedral”.
http://www.ibiblio.org/wm/paint/auth /monet/rouen/.

16. Biography Resource Center © 2001 Gale Group. “The Impressionists”. Beskikbaar by:

17. Ibid.

18. Die omgekeerde van die sk-klank kom ook voor, soos byvoorbeeld in niks, kompos, kliphuids. Die twee klanke wat die kl-klank opmaak (ook die sk-klank onder andere) word ook herhaal, maar dan geskei deur ander klanke: kliphuids / klaar teenoor Kirilof / brokkel / vokaal. Die digte netwerk van klanke in hierdie vers is te uitgebreid om binne die omvang van hierdie artikel ten volle te ontgin.

19. Om net 'n paar te noem: “Henri Rousseau”, “Pêrel”, “Twee winter-akwarelle van Amsterdam”, “Japanse skildery op sy”, “Versoek”, “By ‘n landskap van Hercules Seghers”, en “jackson pollock” in Plektrum (1970); “Hercules Seghers by ‘De Breede Rivier’”, “Digter I”, “Skelet I”, “Skelet II”, “Woord”, “Seun wat teken”, “Herinnering en bespiegeling”, & “Die meester” in Die swart kombuis (1978); “Die inkvis” in Die sagte sprong (1979); “Akwaties”, & “Taal” in Die somerjood (1980); “Op ligte fantastiese toon”, & “Enkele observasies” in Die woedende brood (1981); “My outing” in Omtoorvuur (1982); “Die blaar”, “Teesuiker”, “Daad en beskouing” & “Sonkol op ‘n wingerdstam” in Verwikkelde lyn (1983); “Die druif” in Membraan (1984); “Die pruim”, & “Jag” in Die heilige modder (1988).

20. HAT: “ronderige, hangende of uitstekende, duidelik afgesnoerde gedeelte van lewer, longe of harsings.”

21. Volgens die HAT beteken “verkyk”: te veel kyk na; met verbasing aanstaar of aangaap; opgewonde kyk na.

22. “… kýk, kyk baie lank, tot jy vergeet van álles behalwe hierdie bepaalde ding: word die sonlig, word die klip. Dis meer as vlugtige vereenselwiging met, vir ‘n oomblik: dis empatie, transmigrasie byna.” (Brief gedateer 16 Junie 1981)

23. Let this be the end of the book, but not of the search.


Bibliografie

Biography Resource Center © 2001 Gale Group. “The Impressionists”. Beskikbaar by:
http://www.biography.com/impressionists/artists_monet.html

Encyclopædia Britannica, Inc., 2005. “Garnett, Constance (Clara)”. Beskikbaar by: http://www.britannica.com/eb/article?tocId=9036099

GradeSaver Inc, 1999-2003. “ClassicNotes Fyodor Dostoevsky”. Beskikbaar by:
http://www.gradesaver.com/ClassicNotes/Authors/about_fyodor_dostoevsky.html

The Literary Encyclopedia, 05 August 2003. “Dostoevsky, Fyodor Mikhailovich (1821 - 1881)”.
Beskikbaar by: http://www.litencyc.com/php/speople.php?rec=true&UID=1292

Cussons, Sheila. 1970. Plektrum. Tafelberg, Kaapstad
Cussons, Sheila. 1978. Die swart kombuis. Tafelberg, Kaapstad
Cussons, Sheila. 1978. Verf en vlam. Tafelberg, Kaapstad
Cussons, Sheila. 1979. Die sagte sprong. Tafelberg, Kaapstad
Cussons, Sheila. 1979. Die skitterende wond. Tafelberg, Kaapstad
Cussons, Sheila. 1980. Die somerjood. Tafelberg, Kaapstad
Cussons, Sheila. 1981. Die woedende brood. Tafelberg, Kaapstad
Cussons, Sheila. 1983. Verwikkelde lyn. Tafelberg, Kaapstad
Cussons, Sheila. 1984. Membraan. Tafelberg, Kaapstad
Cussons, Sheila. 1988. Die heilige modder. Tafelberg, Kaapstad

Dostoevsky, Fyodor. 1962. The Possessed, trans. Andrew R. MacAndrew. New York, Signet edition

Dostoevsky, Fyodor. The Possessed. 2003. Beskikbaar by: http://etext.library.adelaide.edu.au/d/dostoyevsky/d72p/chapter6.html

Eybers, Elisabeth. 1990. Versamelde gedigte. Human & Rousseau & Tafelberg, p. 337

Gerondeau, Marc. “Claude Monet (1840 – 1926)”. Beskikbaar by:
http://www.impressionniste.net/monet_claude.htm

Kannemeyer, J. C. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur Band II. Academica, Kaapstad, p. 207.

Oates, Joyce Carol. “Tragic rites in Dostoevsky’s The Possessed”. Beskikbaar by:
http://www.usfca.edu/fac-staff/southerr/tragic.html

Pioch, Nicolas. 19 Sep 2002,. “WebMuseum Monet, Claude Rouen Cathedral”. Beskikbaar by:
http://www.ibiblio.org/wm/paint/auth /monet/rouen/

Reishman, Lindsay & Oberoi, Sandeep, 05/02/2000. “Notes on Shatov & Kirilov”. Beskikbaar by:
http://community.middlebury.edu/~beyer/courses/previous/ru351/novels/devils/shatov.shtml

Snijman, F. J. (e.a.). 1976. WAT. Sesde deel. Die Staatsdrukker, Pretoria.


(c) Johann de Lange, 2010